Wednesday, September 8, 2021

Vir ouboet - geskryf op 5 Maart - net na sy afsterwe op 3 Maart 2021

Ek ken mans wat ontplof. Vulkane wat uitbars ... en afkoel.

Hy was anders. Totaal anders.

Dit het my bang gemaak. Ja, ek was bang vir hom. Bang, want ek kon hom nie lees nie. Kon nie sy emosie, sy gedagtes op sy gesig  sien nie.

Ek kon my soms sommer vervies as hy homself begin help in my huis, my kospotte oopmaak, 'n bord gaan haal en net aansit... 

Of, wanneer ons inkopies in die stad gaan doen het, ons kopies deurgaan, "maar hy het nou dit en dat gekoop, ons kan dus uitruil" ...

Of my vra, om sy tikwerk te doen, vorms in te vul, motiverings te skryf, notules dikteer ... dit alles wanneer die maan vir my ogies maak en my bed nie eens meer fluister nie, maar uitgil: Dis Slaaptyd!!

Maar, soos hy, wys ek selde emosie en sou nooit laat blyk presies hoe ek voel nie.

Tog, later, jare later, sou ek besef dat hy eerder 'n bondgenoot as 'n teenstander is. Dat sy weggesteekte emosies eerder 'n kwesbaarheid agter 'n skans wegsteek. Iets wat my kinders laaaaankal geweet het.


Ek was altyd jaloers. Jaloers op sy vrou wat soveel "vryheid" onder sy liefde kon geniet. Min weet mens dat daar maar 'n ander kant ook is. Veral jaloers op die feit dat sy enigiets kon vra, en hy sou haar dit gun... 

Ek het hom op 'n dag gekonfronteer: Hoekom kry sy en ander skoonsus dit reg om julle twee broers te beweeg om dinge te doen, maar ek? Ek vra en vra, maar niks gebeur nie. Hoekom? Wat doen hulle anders as ek...

Dit was op oukersdag.

Ek wou my man vroeg tuis hê, vroeg gereed maak, vroeg eet en vroeg die kinders om die kersboom laat sit om die kersverhaal te hoor. Vroeg, sodat hulle slaaptyd nie te veel ontwrig word en ons verseker die kerkdiens Kersdag sou kon bywoon. Maar net nooit sou dit realiseer nie. Altyd is die boerdery prioriteit en hulle sal plant tot die son die water opgeslurp het. 

Tog, as sy vrou vra, is hy die een wat die ander aanjaag: Kom, ons moet nou huis toe gaan.

Hy het my só aangekyk, skewekop en op sy stil manier geantwoord: Jy huil nie.

Die wind was uit my seile.

Ek huil nie.

Ek wys nie emosie nie.

Ek wou nog grap en vir geliefde sê, nou weet ek die geheim. Maar geliefde het my voorgespring: "Moenie dit eens probeer nie."

Ek was hartseer. Ek was seergemaak. Maar steeds geen trek op die gesig nie. Net maar omgedraai en huis toe gegaan. My gedagtes immer besig.


Hy het ons kinders bederf. Hy wat so verskriklik lief was vir kinders en self moes hulle hoe lank wag... Maar ons kinders (en later jare sy hondekinders) het hy bederf, geniet. Ook die gemeente se kinders.


Hoekom?

Die vraag bly maal en maal.

Die een lewensvraag met geen antwoord nie.


So besluit hulle om 'n planter (of was dit nou 'n stroper, ag, dit maak ook nie regtig saak nie) aan te koop. Suutjies-suutjies praat die drie (skoonpa was nog deel van die driemanskap) oor die aankoop en ek word ingesleep met groot waarskuwing: "Jy sê niks vir die ander twee vroue nie. Hulle kan dit sien as dit afgelaai word." 

Die aand gesels ek en geliefde oor hierdie verwikkeling. Miskien is ek noodgedwone ingetrek, omdat ek die admin moet doen en dus al hierdie goed vooraf weet, maar ek dink dis iets anders. Ek wys nie emosie nie. Nie seerkry nie, maar ook nie woede of ontsteltenis nie. My uitgangspunt ten opsigte van boerdery-aankope was nog altyd, dit is die besigheid en dit moet loop. My huis, my voorkoms, my begroting tel nie, as die boerdery nie daar is nie - dan het ook nie 'n huis, voorkoms of begroting nie. Wat my betref weet die manne wat hulle doen, dis tog hul verantwoordelikheid en sal hulle die gevolge van hul besluite dra.


-------------------------------------------------------------------------------------

Bygevoeg op 8 September 2021:

Dit was alles los gedagtes wat daardie dag, ses maande gelede, deur my gemaal het.

Die hele situasie was moeilik.

Omstandighede deurmekaar.

Ek met ons twee jongste seuns 1400km van die huis af, op die plaas in Botswana.

My man en ons oudste seun op die plaas in SA.

Ek en manlief het kwart oor nege daardie nag ons whatsapp-video-oproep afgelui. My lig was afgeskakel, ek was nog nie heeltemal weg nie. Jongste het geklop en ingekom. Ouboet het op sy foon gebel en wil met my praat. Oudste het gevra dat ek moet seker maak dat jongste nie kan hoor nie - toe het hy my die nuus meegedeel en raad gevra. My moederhart was só ontsteld, geskok. 'n Mens wil jou kind nie in so 'n situasie hê nie...

Op sy tante se versoek het hy na sy oom gaan soek, want dit was al byna 10-uur en hy was steeds nie tuis nie, sy kry hom ook nie op die foon nie. Seunskind het gery, sonder om sy pa te sê waarheen hy gaan... en sy oom in die bakkie langs die land gevind. Vreedsaam heengegaan. 

Steeds is die pyn vlak, steeds die verwagting dat hy sy opwagting gaan maak.

Dankie, Ouboet, dat jy vir ons kinders 'n ander-pa was. Dat jy vir ons almal 'n voorbeeld was.

Dankie, Here, vir die voorreg om hom te kon geken het, byna 30 jaar so saam te kon leef.

My lewe faseer ...

 ... of moet ek liewer sê migreer?

Dinge verander, verskuif enne ... ek dink ek hou daarvan!

Eers was dit net ek. My wêreld het om myself gedraai. Oudste kind wat nie graag deel nie wat sommer skelm eetgoed in my kamer wegsteek.

Toe kom hy in my lewe. Die ridder op 'n wit perd. Net, dit was 'n kortbak, linkerhandstuur, wynrooi Land Cruiser. Maar mensig, wat 'n impak het hy op my lewe gemaak...

Daarna die kinders, een na die ander, vier van hierdie wonderwerke uit God se vaderhand.

Meteens het die lewe bestaan uit ander. Ek het vêr, bitter vêr op die agtergrond verdwyn. My behoeftes, my drome, my wense  het negeer in die harwar van doeke, boeke, gimnastieksale en perdrykompetisies. Nie dat ek een enkele minuut daarvan wegwens nie. Dit was die fase van my lewe - toe.

In daardie tydvak het ek gelééf vir my kinders. Voluit, alles met hulle gedeel.

Maar, soos die lewe mos maar is, het hulle grootgeword...

Sus het getrou, boet het studeer en sy lewensmaat ontmoet (drome en planne vul hul oë), my jonger twee is nou al byna twee jaar alleen in Botswana - boere in die ware sin van die woord - maar ek voel so skuldig oor hulle twee...


Tog, die groei in my kinders is sigbaar.

En ek is God ewig dankbaar vir die wondervoorreg om in hul lewens te kon deel. 


Lank gelede, tydens 'n wyksbybelstudie, het 'n vriendin opgemerk dat haar huis nou leeg voel, dat sy wens dat iemand net die pen op 'n ander plek wil gaan neerplak - want alles is presies net waar sy dit gelos het. O, dit was die versugting van my hart, dat alles kan bly waar ek dit los.

En nou?

Nou is lank gelede hier, hier by my. Nou bly my penne waar ek dit neersit. Nou is my huis (soms) stil en elke ding presies op sy plek. Nou het ek tyd om minder te maak, reg te pak, weg te gooi, dinge te verander om mý te pas.

En ek hou daarvan. Dis vir my héérlik om my huis so te kan inruim. Om vir elke ding 'n pasplek te kan inrig. Om dinge te rangskik dat dit vir my sin maak - al maak die bediende my soms vies omdat sy nie dit presies pak soos ek dit wil hê nie (ek het nooit geweet dat ek 'n perfeksionisties is nie).


Maar soms, soms voel dit of my lewe emosies eerder ossileer. Ek wonder dikwels of ek nie dalk 'n gesplete persoonlikheid het nie. So het ek weer sommer Maandag weer uit my kassie geval. Terugskouend kry ek werklik skaam oor my optrede, soveel so dat ek in gebed voor God om verskoning en vergiffenis moes vra.

Uiteindelik het 'n heel nuwe getuienis in my lewe geopenbaar.

My man se absolute vergewensgesindheid.

Tekenend van God se vaderliefde wat allesomvattend is.

Meer as wat Andries my ooit kan vergewe, kan liefhê (en dis 'n ongelooflike mens hierdie man van my) is God se liefde vir my. As my man met hierdie chaotiese emosionele op-en-af mens kan liefhê, wat sê dit nie van God se Skeppersliefde, Verlossersliefde, Genadeliefde, Vaderliefde ...


Ek is in 'n nuwe fase wat my fassineer - ek is mal oor hierdie nuwe faset van my lewe, nog vele om te ontdek.

Friday, July 10, 2020

Om vaarwel te sê

Ek het my kuierwerf verlaat, afgeskeep, weggegooi ter wille van 'n mode, 'n nuutjie, 'n almal-doen-dit-ervaring. 

En nou is ek sommer behoorlik vies vir myself, skaamkwaad en ja, hartseer. Facebook het my baie dinge geleer, veral oor myself en verslawing. Nou weet ek, ek sal maklik aan enigiets anders seker ook verslaaf kan raak. Versigtig wees...

Ek wil opnuut aan my kuierwerf bou. Ek wil skryf, tik stories vertel, reflekteer oor my lewe, deel van myself en net my hart uitstort. Hier waar ek in 'n mate anoniem kan wees, maar tog ook effe blootgestel. 

Ek wil Facebook vaarwel toeroep, wat egter ook nie moontlik sal wees nie, omdat ek my wiskundeklasse steeds daar moet adverteer, omdat ek soveel wonderlike vriende daar ontmoet het, wat my regtig aangeraak en bemoedig het, wat my oor my lewe en veral my sielevrede laat dink. Maar ek is moeg, siek en sat van Facebook se uitbarstings. Moeg vir geweld, virusstories, moorde. 

Ek wil weer vir God leer ken, ja opnuut weer myself in sy Woord verdiep - weg van mooi storietjies, soetsappige aanhalings en mooiklinkende leuens.

Dit is tyd vir 'n vaarwel aan Facebook en 'n splinternuwe lewe op my kuierwerf.

Wie ookal lus het om hier te kom inloer en te lees - is welkom. En as jy lus het om 'n stukkie kommentaar te los, ook welkom. Ek gaan egter, soos in die verlede, alle kommentaar sif. Dis immers my kuierwerf....😉

Groetnis
Marelize

Saturday, June 8, 2019

Papierberge (gasskrywer)

{Hierdie is 'n eerste vir my - 'n inskrywing deur 'n gasskrywer. Die skrywer wil graag anoniem bly. Maar ek dink ons kan almal hiermee identifiseer. Groetnis!}


DIE PAPIERBERGE
Niemand sien my trane nie, want ek kyk weg van hulle.

My kantoor is so opgestel dat my baas enige oomblik my rekenaarskerm kan sien as hy in die gang verbyloop. My baas verkies dit so. Omdat ek op die rekenaar werk, kyk ek dus heeldag weg van die deur. Niemand glimlag of frons vir my nie, en ek maak nie oogkontak met iemand nie. Ek is 'n masjien – die konneksie tussen inligting op papier en inligting op rekenaar, die ene wat die syfertjies op die papier in kolomme op die rekenaar sit, waar ander departemente dit teoreties kan hergebruik.

Ek sê “teoreties”, want my baas herinner my dikwels dat niemand regtig na die data kyk wat ek heeldag en aldag intik nie. Nie dat ek sou vergeet nie. O, wel, dis waarvoor ek betaal word, dus tik ek maar oor en oor dieselfde soort goed in dieselfde kollometjies in. My drome lê begrawe onder 'n stapel papierwerk wat nooit klaar kom nie, en elke dag sus verveling my kreatiwiteit aan die slaap.
18 jaar van doodgaan, stukkie vir stukkie. Moenie aan die toekoms dink nie. Jy het nie die krag nou vir nog 20 jaar se werkskaarte nie. Ek tree oor 20 jaar af. 19 jaar en 5 maande, om presies te wees. 

Dink liewer net aan die volgende agt werkskaarte. Probeer hulle invoer voor nege. Dis sewe minute voor nege, en kyk - daardie agt is klaar. Begin met die volgende pakkie. Probeer hulle voor tien deursit. Dis een minuut voor tien, en kyk – daardie pakkie is klaar. Vat die volgende hopie. Probeer hulle voor elf deursit. Dis 20 oor elf, en kyk – daardie hopie is klaar. Vat die volgende hopie. 11h45, en hierdie hopie is nog nie halfpad nie.

Hoofpyn. Seer oë.

Ek staar voor my uit vir 'n paar minute. Ek probeer krag bymekaar kry om verder te werk. "Hoeveel werkskaarte het jy nog?" vra 'n skerp stem agter my. "Wat verstaan jy nie van eers klaarmaak, dan in die niet staar?" My kritikus sien wel nie my moeë gesig nie, maar sy sien hoe my vingers nie meer oor die rekenaar se sleutelbord vlieg nie.

Ek het al probeer wegkom, regtig! Probeer kyk vir ander goed om voor aansoek te doen, maar dit werk nie. Daar is net een manier van wegkom wat ek nog nie probeer het nie.
Dapperheid, so vertel een of ander wysgeer of wysneus, is om bang te wees om iets te doen, en dit nogtans te doen. Maar dwaasheid is dieselfde. En dis hoekom die lewe moeilik is. En dit bring my uit by die manier wat ek nog nie probeer het nie. Die metode is die eenvoudige woorde: “Ek bedank.”

Ek is bang dat ek nie 'n manier kry om myself aan die lewe te hou nie, bang dat ek nie sal kan eet en aantrek as ek ophou om sinlose data in kollometjies te tik nie. Maar dan, lewe ek nou? Ek gaan beslis nie my kollegas vir raad vra nie, want dit lyk nie of hulle lééf verstaan nie. Wat weet grys truie en grysblou oorpakke van lewe in volkleur? Wat weet reghoekige papiere op reghoekige tafels wat in netjiese reghoekige hopies gesorteer en in vaal reghoekige kabinette geliasseer word van 'n lewe met sterre en harte en die onreelmatige vorm van bome?

Maar dalk verstaan my kollegas meer as wat ek dink. Ek sal nie weet tensy ek met hulle praat nie. Maar ek sien meestal net die rekenaarskerm. En as ek links of regs kyk van die skerm, sien ek die muur verste van die deur, die muur met afdop-verf.

Intussen lê my idees, planne en energie onderin 'n inboks wat nooit leeg raak nie, sodat ek nooit sien wat op die bodem vir my wink nie.

Ek gaan op verlof vir 'n week. Teen dag drie het ek weer 'n idee vir iets om te skryf. Teen dag vier het ek idees vir wat om te teken. Teen dag ses is ek so positief, ek woon sommer die laaste lesing by van 'n produksiwiteitskursus by die kerk, die een waarop ek moed opgegee het oor dit eintlik net vir mense is wat ander kan beïnvloed, mense wat een of ander soort beheer oor hulle omstandighede het en kan kies om sinlose take te elimineer. Miskien gee God my vroeër of later 'n metode om my geld uit iets sinvol te kan maak, en dan kan ek werklik my produktiwiteit verhoog. (Om iets nutteloos vinniger te doen is nie verhoogde produktiwiteit nie.)

Nege dae weg van die werk af ('n week met twee naweke om dit) is verby, en ek gaan terug werk toe.
“Jy moet besef jou werk is nou 'n week agter, en dit was 'n besige week...”
Toe val 'n berg papier op my. Ek kan nie my pad uitgrawe nie. Ek kan probeer, maar heeltyd terwyl ek grawe val daar nog.

Hier rus [my naam]. Gebore 10 Oktober 1973. Begrawe in 2001. Het keer op keer moedig probeer opstaan, maar haar werk het haar weer en weer begrawe.

Thursday, June 14, 2018

Is dit die moeite werd om aan te gaan?

Ek het die stryd verloor.
Twee keer verloor.
En weet eerlik nie of dit die moeite werd is om voort te gaan nie.

Rou, eerlik, emosioneel.
Dis wat hierdie inskrywing gaan wees.

Ek kyk na Gretha Wiid se kort videos oor huwelik, kommunikasie en tegnologie... en ek weet - ek faal, ons faal.
Sy noem dat mens aan die huwelik moet werk.

Werk.
Ek sien nie meer kans nie.
Te veel konflik en onbegrip, wanverstaan. My onvermoë om my behoeftes, my vrese, my drome te kommunikeer sonder om konflik te wek.

Want elke enkele keer wat ek myself oopmaak, blootstel, is daar konflik - elke keer!

Waarskynlik word dit telkens as kritiek, 'n persoonlike aanval, 'n refleksie op sy persoon gesien.

Is dit dan, na 26 jaar, nog die moeite werd? Is dit?

In 26 jaar, geen geskenk - Kersfees of verjaardag - wat hy vir my gaan koop het nie. Sy verskoning is dat hy nie tyd het nie. Al wat dit vir my sê is dat ek onbelangrik is. So min werd dat hy nie van sy kosbare tyd aan my kan spandeer nie. Wanneer daar in planttyd (beide Kersfees en my verjaardag 2 weke later, val in planttyd) 'n hidroliese pyp bars, 'n skakelaar op 'n trekker groet, 'n band bars, dan is daar tyd om dorp toe te ry, met die eienaar van die besieid te ginnegaap, totdat die werkers klaar het... sy werk is belangriker as ek - die boodskap wat ék ontvang.

Moedersdag en Valentynsdag word totaal geïgnoreer - bloot 'n geldmaakfoefie van die Jode.... ek kry nie eens koffie in die bed of 'n blom uit die veld nie. Onbelangrik, niks werd.

Tyd.
Tyd saam.
Wel.... hy staan so half sewe soggens op (ek staan so vyfuur, half ses op om Bybelstudie te doen en kos voor te berei) en ons eet sewe uur. Half agt begin hulle werk.
Hulle werk tot, wel, tot die werk vir die dag klaar is. Amptelik tot half ses saans, maar letterlik tor maklik nege uur saans in spitstyd in die somer en tot ses uur, half sewe in die winter.

Ons eet elke middag tussen een en twee, alhoewel hulle dikwels eers half twee by die huis instap.

Ek moet teen nege uur gaan slaap om weer vyf uur te kan opstaan.
Tyd...

Maar die grootste veldslag wat ek verloor het is teen die oorfone, Youtube en wifi.

Dis al wat daar nou is.
Wanneer ek wil praat, moet ek die oorfone uit sy ore haal...
Selfs aan tafel...
En as ons kuiermense het...
En saans na donker in ons bed...

Na ek my bedlampie afgeskakel het, kruip hy net onder die lakens in, sodat die flikkerende skermlig my nie moet pla nie... (onthou kindertyd in die koshuis, hoe het ons met 'n flitslig in die bed boek gelees?)

En as ek hieroor praat...
Het ons net weer 'n uitval...
En ek sien nie meer kans nie!

Sy verweer is dat ek heeldag op die skerm is (en ek kan nie stry nie, wanneer hy by die huis kom, is ek op die skerm - of dit nou is om e-posse te lees, banksake te doen, die boekhouding te doen, op Facebook te wees, my wiskunde videos te redigeer of om my webwerf te probeer aan die gang kry) en dat hy nie bedags tyd het vir dit nie. Hy wil saans dit doen...die boodskap wat hy kry is dat ek hom niks gun nie.

Is dit die moeite werd?

Hoe praat ek met my man dat hy my hart sien, dat hy my emosie eerder as my woorde hoor?
Hoe praat ek dat hy dit nie as persoonlike aanval ervaar nie?

Ek is moeg.


Saturday, February 17, 2018

"Create a white space"

Dis nou al 'n ruk wat ek die facebookblad van "Becoming unbusy" volg.

Daar is soveel waarmee ek aanklank vind.

Een van die besondere idees is juis om minder goeters te hê sodat jy meer van jou kosbare tyd met geliefdes en die dinge waaroor jy passievol is, kan spandeer.

So is ek (voel of dit al járre is) besig om te sorteer, weg te gooi, reg te pak.

Een van die uitdagings was om 'n oop ruimte, "a white space" te skep.

My uitdaging is my slaapkamer.
Ek maak minder...
Geliefde vergader....

Maar ek het my helfte van die kamer nou getakel. Uitgegooi, reggepak (heelwat binne in die kaste, maar gaan nou nie dit op die blad plaas nie) en sodoende een bo-kas en een rak in my kas leeg gekry om dinge wat buite rondstaan, binne te pak.

En kyk:

Só het dit altyd maar gelyk.
Die plastiese houer links voor het my haarborsels, naelknippers, knyptangetjies en elke 
ding waarvoor Elisa 'n plek soek, ingehad.

Die blou houer daaragter is my "juwelekissie". Ek is egter glad nie 'n juwelemens nie
en gebruik dit slegs Sondae. Geen sin om dit hier te hou nie. Dieselfde geld die kleiner spieël.

In die houtkassie regs voor was altyd herlaaibare batterye, tasslotjies met sleutels... 
sulke fieterjasies.

En die osoonmasjien (een groot borrel - maar darem lekker vir 'n borrelbad!!)


Nadat ek die rak in die kas leeggemaak het, kon ek alles daarin pak.
Ek het net die inhoud van die plastiese bak en dié van die houtkassie omgeruil.

Skielik het ek 'n grote "white space" wat my sommer bangmaak....
Want dis darem erg wit...

Ek soek 'n "iets" daar... miskien 'n plant?
Maar potplante vrek onder my hande.



Toe takel ek maar die volgende kamer - die sitkamer.
Die foto het ek daar gaan "steel".
Ons lyk mos darem lankal nie meer so nie... 😉



Steeds pla dit.
Die wit van die foto-karton is nie meer wit nie...
Inteendeel, dit lyk of die spulletjie een of ander tyd water gekry het.

Om planne te maak met net dit wat in die huis is.... geen ekstra koste nie.

Die groen werk vir nou. Miskien as daar eendag 'n los randjie rondlê, 
kan ek 'n beter plan as hierdie maak.



En daarna...?
Het ek die ou hoëtroustel weggedra.
Ek mag dit nie weggooi nie....
maar dit werk lang jare nie meer nie.

Die asblik?
Tinktinkie, ons toypomeranian.
Sy snuffel in die asblikke, klim pens en pootjies daarin
op soek na iets om te knibbel en te knaag.

Daarom moes die asblik boontoe.

Groetnis

Thursday, August 10, 2017

Wat is daar vir middagete? AIP-dieet

Wanneer mens vir die eerste keer met die AIP ("autoimmune protocol) te doen kry, sien jy net die lang lys kosse wat jy nie mag eet nie.... en jou moed lê laer as laag.

Dan, wanneer jy meer gemaklik in die dieet inbeweeg het, leer jy om te fokus op dit wat jy wel mag eet.

In my vorige inskrywing het ek vertel van die nuwe facebookgroep waar ek lid van is.

Ek het gedink om vir so 'n paar dae die kos op ons tafel te deel... net om te wys dat dit nie só onmoontlik is nie.

Vanmiddag eet ons T-beenskywe, lemoenwortels, patat-en-blare en skorsies.

Die T-bene braai ek in my elektriese braaipan. Ek gebruik olyfolie daarvoor (nie die beste opsie nie, maar klapperolie en vleis werk nie so lekker saam nie). Om die vleis te geur gebruik ek ongejodeerde seesout en my tuisgemaakte mengsel kruie: tiemie, roosmaryn, basiliekruid, pietersielie, knoffel, salie, kerrieblare, origanum. Tiemie gebruik ek 3 dele, roosmaryn 2 dele en dienres elk een deel.

Die skorsies het ek net bloot in water gekook.

Die wortels het ek (gebrand!) in water gekook met die sap van 'n halwe lemoen daarby.

Die patats het ek ook gekook, maar 'n eetlepel klapperolie daarby gegooi. Daarna het ek kale-blare, spinasieblare en chinese koolblare gesnipper en bygegooi. Die spulletjie gaan ek nou almal megpng om 'n tipe "boontjie-en-aartappel" dis te maak.

En dis dit - 'n smaaklike bord vol kos!

Monday, August 7, 2017

Die AIP dieet vir onderaktiewe skildklier en Hashimoto's

Ek het by 'n nuwe groep op Facebook aangesluit.
Ja, 'n groep vir mense wat sukkel met onderaktiewe skildklier en / of Hashimoto's.

Hierdie inskrywing is vir daardie mense, daardie dierbare vriend(inn)e in verdrukking...

Die inskrywing is lank nie volledig nie, lees asb verder op, doen navorsing en bemagtig jouself.

Is die AIP die wonderkuur?

Ek wens ek kon sê: "Ja!"... maar ek kan nie. Nee, die AIP is nie 'n wonderkuur nie. Dit is slegs maar die eerste stap in 'n lang proses om lewensgehalte te verbeter.

Sunday, July 23, 2017

Hoe gaan dit met jou...?

Vanoggend se skermpreek (dis nou wanneer ons nie 'n aflos-predikant kon kry nie en na 'n opgeneemde video van 'n erediens kyk. Soveel beter as vroeër jare se leespreke, waar 'n ouderling 'n geskrewe preek voorgelees het.) het gehandel oor omgee. Die verbond wat God met ons gesluit het, sluit onder meer in dat ons as gelowiges vir mekaar moet omgee, vreugde, hartseer, laste, pyne, alles moet deel.

Friday, July 14, 2017

E-pos-etiket

Is daar só iets?

E-pos-etiket.

Veral in 'n besigheidsituasie.

Jy kan mos nie, wanneer jy namens 'n firma, onderneming, maatskappy 'n e-pos stuur dit hanteer soos jy 'n brief aan 'n kollega, vriend of familielid sou stuur nie?

Sekere beginsels kan eenvoudig nie prysgegee word nie.

So ontvang ons onderneming 'n e-pos.

Die naam van die versender is bloot 'n naam en van, kom ons sê maar Erna Groen. Die e-posadres vanwaar die brief kom is bloot 'n algemene e-posverskaffer, sê maar gmail.

Dus 'n brief van ene Erna Groen met adres ernagroen@gmail.com.

Die onderwerp lui bloot: Nuwe bankbesonderhede.

Die briefinhoud het geen verwysing na watter maatskappy dit gestuur het nie. Daar is ook geen briefhoof, maatskappy-embleem of enige prentjie wat mens leiding kan gee nie. Dit word bloot onderteken deur die Erna.

Die nuwe bankbesonderhede is per aanhangsel by die brief aangeheg.

Ek moet dus 'n aanhangsel oopmaak (waarteen antivirusprogramme waarsku) om uit te vind watter maatskappy se bankbesonderhede verander het en of dit enige invloed op ons onderneming het.

*********************************************

Wat sou dan 'n beter, meer korrekte voorstel vir so 'n brief wees?

1) Maak baie seker dat die "naam van versender" wat by die kliënt verskyn DUIDELIK en BESKRYWEND is. Groter maatskappye het hul eie webwerwe met 'n hul eie e-posopsie waaruit die naam afgelei kan word, bv navrae@telkom.co.za of ernagroen@sasol.co.za. Indien jou maatskappy van 'n gratis e-posdiens soos gmail gebruik maak, verander dan die versender naam na die maatskappy naam.

Dus - al is jou e-posadres ernagroen@gmail.com, is die versendernaam byvoorbeeld XYZ.


2) Skep 'n eenvoudige handtekening - dit hoef nie eens 'n prentjie te bevat nie - om die maatskappy te identifiseer. In gmail is die opsie beskikbaar onder die verstellings. Tik bloot die maatskappy se gegewens in. Byvoorbeeld: XYZ (Pty) Ltd, Posbus 123456, Lyttleton, 0154. BTW nr 456123789. Tel nr 015 248 5556. Jy hoef nie tierlantyntjies by te voeg as jy nie weet hoe nie. Die inligting is voldoende.


3) Indien bogenoemde twee punte nie vir jou moontlik lyk nie.... Asseblief, maak dan gebruik van die onderwerpveld om meer verduidelikende inligting te gee. Byvoorbeeld: XYZ (Pty) Ltd - Nuwe bankbesonderhede.


4) Moet onder geen omstandighede 'n e-pos stuur met bloot 'n aanhangsel sonder enige briefinhoud nie. Dit is darem baie swak... Selfs groot maatskappye doen dit.

Tik bloot iets soos: 
Goeie dag
Vind asseblief aangeheg u rekeningstaat vir Oktober.
Met dank

En laastens:
5) Moet nie té familiêr raaknie. Behou professionaliteit - jy tree namens die onderneming op. Selfs al ken jy die kliënt persoonlik, is dit nie nou 'n briefwisseling tussen julle persoonlik nie, maar tussen twee besigheidsentiteite.


Groetnis


Monday, June 5, 2017

Beste mamma van dogters

Hierdie brief skryf ek aan jou, mamma van dogters, as 'n mamma van seuns.

Jy sien, my seuns raak nou mooi groot (gans te vinnig na my sin) en dit lyk of die meisies nou sinnigheid in my jong manne kry. Wat natuurlik en reg is ook.

Ek het hulle immers grootgemaak met die een doel, wees 'n waardige man en pa wat jou eie huishouding goed kan regeer, jou kinders kan dissiplineer, na wie die samelewing kan opkyk. 'n Man met verantwoordelikheidsbesef, nie 'n drinker en 'n vloeker nie, opreg, eerlik, hardwerkend.

En, met die genade van die Here alleen, het hierdie jongmanne hierdie dinge ter harte geneem. Hier het een bietjie meer as daar. Maar alles in ag geneem, goeie manne. Maar, mánne. In die tradisionele sin van die woord. 'n Man wat alles vir sy vrou sal feil hê, sonder om verfynd te wees. 'n Man wat sal vasstaan in dit wat hy glo en sy gesin daarin sal lei.

'n Man.

Die een wat sal jag, die jong bokkie sal sien wat God na hom stuur en haar met taktiek die hof maak.

Maar nou, mamma van dogters, is dit opvallend dat jou dogters graag jagters wil wees. Sy vra na my seuns se nommers....? Sy reik uit, wil kontak maak, wil hom vang....?

en die reaksie is presies wat sy nié wou gehad het nie. Sy laat die seuns vlug. Letterlik vlug.

God het ons kinders verskillend gemaak. My seuns en jou dogters. Verskillend, met 'n baie spesifieke doel. Verskillend, om in die Godgegewe rolle in te pas.

Dit is wanneer ons as ouers, ons kinders buite hierdie natuurlike geskape rolle wil dwing, dat dinge skeefloop...

En daarom wil ek jou vandag vra, asseblief. Leer jou dogters om vroue te wees. Om hul vroulikheid te omhels. Om sag te wees, moeders te wees, die roeping wat God aan hulle gee ten volle uit te leef en, jammer, maar dit is nie 'n beroepsroeping nie. Die vrou is geskape as die man se hulp. Haar roeping is om hóm te ondersteun sodat hy in sy beroep kan uitstyg, man kan wees, volledig kan wees. Leer haar om hom te dra, sodat sy die volle vreugde daarvan kan pluk.

O, en leer haar dat sy nie agter hom aan moet bel, whatsapp boodskappies stuur of (goeie genade tog!) sy ma moet kontak om hom in die hande te probeer kry nie. Al wat ek vir hom sê is: Hardloop, boetie, hardloop!!!

Groete
Mamma van seuns


Monday, May 29, 2017

Om terug te staan ...

... en stil te bly.

Ek kon dit geredelik regkry om die kinders toe te laat om self besluite te neem.
Klein-kleintyd het ek bloot keuses aan hulle gegee ("wil jy die groen of die rooi hemp aantrek?") wat aan die kleinding die gevoel gee - ek het self besluit wat ek gaan aantrek.

Met grootword het dit relatief maklik gegaan, omdat ek glo dat elke mens deur eie ervaring beter en meer leer as deur waarneming of ouerlike "preke". Dus het ek die kinders sekere verantwoordelikhede gegee en tot 'n mate toegelaat om self keuses te maak.

In my eie lewe het die pad maar op- en afdraand geloop, wie van ons draf heelpad gelykpad? Tradisioneel swem ek stroomop. Rebels in byna alles, tog ook tradisievas in ander opsigte.

Soveel so dat ek nou onlangs in 'n Facebook-groep só daaroor skryf:
Eers was dit tuisonderwys....
Toe raak God my hart oor voorbehoeding, oor oorgawe, oor beheer... deur die tuisonderwys e-posgroep.
Daarna volg evolusie en skepping.
En nog later inentings, vroedvroue, organiese kos....
Ons elkeen se pad sal verskil, elkeen het ander plekke waar Vader aan ons snoei, timmer, beitel. Maar Hy is voortdurend met ons besig.
Oor sommige goed was ek al bitterspyt, hoekom het Hy my nie vroeër al hierdie dinge gewys nie, dan kon ek ook mos...?? Waarop my dierbare ander helfte antwoord: "Jy sou nie toe geluister het nie." Eina! Dis so waar!!!
Dan wens ek, hoop ek, bid ek dat my kinders vroeër oopkop sal wees, gouer sal luister en gehoorsaam.
Maar, meteens staan ek voor 'n struikelblok, 'n groot rots, 'n berg...
Iets wat ek nooit in my dag des lewens gedink het vir my so moeilik sou wees nie.
Om my kinders toe te laat om hul eie besluite te neem, hul eie lewe te leef, hul eie foute te maak en bowenal hul eie drome te realiseer.

Dikwels lees mens en hoor mens dat ouers hul drome deur hul kinders probeer verwesenlik. Ek het my bes probeer om dit nie in my kinders se kinderjare te doen nie.

Ek vermoed die feit dat my kinders tuisopvoeding gehad het en nie in 'n hoofstroomskool was nie, dalk veroorsaak het dat ek in elk geval nie my drome op hulle kon afdruk nie.

Maar, daar is grootmensdrome, goed wat ek, sou ek my lewe kon oorleef, anders sou doen...

Is ek dan nou besig om dáárdie drome, daardie "spytwees" op hulle af te dwing....?
Mag ek daarvan behoed word, maar ek vang myself dat ek nie wil toesien dat hulle dieselfde foute as ek maak nie, nie met dieselfde spyt en letsels loop nie...

Wees tog oopkop, my kind. Lees oor alles en bedink alles wat jy lees. Moenie net volg waar ander getrap het nie, trap jou eie spore...

Groetnis

Sunday, May 14, 2017

Vandat ek haar geken het, was sy in die rolstoel.

Dit was deel van wie sy was.

Ons was lief vir haar - baie.

Wanneer sy bietjie laat gelê het die dag, het ons mekaar in haar rolstoel rondgestoot.

Haar hande... reguit vingers wat nie meer 'n breinaald kon hanteer nie.

Min kon ek verstaan, wie as kind dink tog ooit daaraan, hoe en hoekom dit gebeur het. Dit was maar net só, ouma Frieda was in die rolstoel.

Ouma Frieda het altyd Wilson's Cream Caramels in die laai langs haar bed gehad. En pakke vol van daardie deurmekaar lekkers wat jy per kg by die kiosk in die groot winkels kon koop. O lekkerte wanneer sy sê:  "Trek gou oop die laai."

My herinneringe aan ouma begin op die plaas, ons grootwordplaas, in die Memel distrik. Ouma het tussen haar sewe kinders geswerf, dan drie maande by die een dan by die ander gebly. Dit was vir ons kinders lekker om ouma sulke tydjies by ons te hê. Maar ons gaan skool, ons weet nie van skoonfamilie en allerhande sulke dinge nie.

Op 'n dag, ek weet nie wie die besluit geneem het nie, het ouma 'n woonstel in Pretoria gekoop. Naby Burgerspark - dit onthou ek. Ons kon park toe stap en ons kon by die museum ook gaan draai - daar was 'n groot dinosourusgeraamte in die tuin van die museum.

Ouma het gemaklik en regtig gelukkig in haar woonstel gewoon. Sy was op die derde (as ek reg onthou) vloer en die hysbak het twee stelle deure gehad. So 'n traliegedoente en die eintlike glasdeure. Ek dink dit was dalk die tyd wat sy op haar gelukkigste was - totaal onafhanklik.

Maar, soos die jare aanstap, het ook die ouderdom haar gevang en kon die kinders haar nie meer alleen in die stad laat bly nie. My oom-hulle het 'n woonstel aan hul plaashuis gebou en ouma het 'n hele ruk by hulle op die plaas gewoon.

Kort daarna het Memel 'n eie dienssentrum vir bejaardes gekry. Ouma het 'n woonstelletjie daar gekry. Selfversorgend en gelukkig. Sy het die Bybelstudiegroep gelei. Memel se NG Kerk gemeente het 'n direkte uitsending van hul Sondageredienste na die ouetehuis en so kon hulle die erediens op hul televisieskerms sien. Ek was as getroude vrou ook by ouma in dié woonstel. Hier het sy die suiker in die yskas gebêre omdat die miere dit betrek. Ons het elke liewe keer wanneer na my ouers in Newcastle is, by ouma gaan koffie drink. Goeie en lekker tye.

Een dag kry ek die oproep. Ouma het uit haar bed geval. Hulle vermoed sy het 'n beroerte gehad. Sy gaan na Avondvrede op Vrede. Hier het ouma versorging gehad en tot met haar afsterwe in 2000 daar gewoon - sy was 80.


Maar, waar ek vandag by ouma ronddwaal.
Gewrigspyne.
Polse, enkels.
Elmboë, heupe, skouers.
Ja, selfs my rug....

'n Groot deel van die vrees rondom outo-immuniteitsiektes is dat 'n tweede en 'n derde siekte jou kan beetvat. Dis asof jou immuniteitstelsel 'n vernietigingspad vat en nie van koers af gaan nie.

Rumatoïede Artritis.
Anders as osteoartritis, anders as gewone rumatiek.
Die immuniteitstelsel val die gewrigte aan.

En dit was wat ouma Frieda in haar rolstoel geknel het.

Hierdie pyne wat my vasvat, maak my soms bang... ek sien vir ouma.

Hoeveel seer het sy gehad wat ons niks van geweet het nie? Hoeveel?

Sy was maar 44 toe haar man aan 'n hartaanval gesterf het.
Sy was meteens alleen met 'n skuldlas groter as wat hul eiendomme kon delg.
Alleen met sewe kinders, waarvan die oudste 24 en die jongste 11.
Alleen met 'n seun as tokkelok-student op Maties, die jongste drie nog op skool...


Die liggaam se immuniteitstelsel val nie net sommer die liggaam aan nie. Daar is eerstens 'n paar faktore wat teenwoordig moet wees (genetiese komponent, spanning en uitwendige faktore - voeding en blootstelling aan gif) en tweedens 'n sneller. Die sneller kan trauma, skok of langdurige (kroniese) stres wees.

Die sneller in ouma se geval was haar man se afsterwe.

Ek is 45.
Die enigste iets wat ek as sneller kan sien is kroniese stres...

Maar, wanneer ek in die bed lê en my gewrigte so seer is. Wanneer ek iets wil optel en my hand rebelleer, dan dink ek aan ouma... vir 35 jaar het sy met soveel pyn saamgeleef, en ons het nooit daarvan gehoor nie.

Gewrig- en spierpyne is deel van Hashimoto's, alhoewel Rumatoïede Atritis dikwels ook op Hashimoto's se spore volg.

Daarom is dit so belangrik om reg te eet, om die immuniteitstelsel se vernietigingspad te stuit.

Saturday, May 6, 2017

Oor 'n pad en 'n kruis....

Uiteindelik probeer ons elkeen om met die realiteite van ons lewe te oorleef.

Ek het my kwota moeilikheid en probleme, met dit in my agterkop kyk ek rond en sien 'n ander wat klaarblyklik nie dieselfde probleme as ek deurworstel nie. Dan dink ek, wat weet jy? Jy wat gemaklik deur die lewe sweef? Wat weet jy van my pyn, my swaarkry, my worstelstryd?

Maar ek sien nie dat die ander ook maar sy eie worsteling en wroeging deurwerk nie...

Finansies is seker elke enkele persoon in hierdie land of straks nog op hierdie ondermaanse, se grootste hoofpyn en nagmerrie. Daardie nagte se wakkerlê en rondrol... hoe gaan ek al die punte bymekaar bring...?

So bekla ek my lot op 'n dag by my dokter. "Lyk my 'n mens moet skatryk wees om siekte te kan bekostig!" Sy het lekker gelag. Maar dis so waar... Veral vir ons wat nie van doktersbesoeke gewoonte maak nie. Inteendeel - daar gaan maklik twee tot drie jaar verby voor die huisdokter een van ons sien. Miskien het die feit dat ons privaatpasiënte is iets daarmee te doen.

Maar sedert die Hashimoto's diagnose het dinge verander en is my maandelikse medisynerekening astronomies! Ek is dit glad nie gewoond nie en word letterlik siek elke keer wanneer die rekening kom. Hoe kan ek my man se swaarverdiende geld so uitmors?

Tydens 'n ander doktersbesoek, 'n funksionele dokter wat 'n hele uur lank konsulteer en meer bloedtoetse as fisiese ondersoeke doen, gesels ek met hom oor die koste van hul medisyne (als ingevoer want in SA is die "alternatiewe praktisyns" mos byna uit die bose). Die gesprek het uiteindelik 'n heel ander wending geneem. Hy het vertel van sy ondervinding en bankrotskap... hoe God hom deur dit gedra en laat groei het.

En ek het gedink hy het dit gemaklik. Mos 'n dokter.... konsultasie van R1000 / uur. (Wat egter baie goedkoper uitwerk as die huisdokter se R350 / kwartier!) Hoe sou ek ooit kon raai?

Mense kyk na die plaas, die trekkers, die implemente en dink: julle sit daar goed in....
Helaas nie.
Want sien, dis soos die dokter se spreekkamer, sy instrumente, die kardiomasjien, die sonarmasjien en al die ander doktorsgereedskap. Of soos die ingenieur se draaibank, freesmasjien, bore. Of soos die padbouer se padskraper, vragmotors, teervretermasjien en andere. "Tools of the trade" sê die rooitaal.

Dis alles masjienerie, gereedskap wat in stand gehou moet word, gebruik moet word in die alledaagse werksaamhede om geld te genereer. Peperduur masjinerie daarby, meestal op skuld gekoop.

Dit beteken nie dat die dokter, ingenieur of padbouer superryk is nie. Inteendeel... soms vreet daardie skuld al jou leef en asemhaalgeld ook op. Want masjiene het die geneigdheid om te breek juis wanneer die bankbestuurder knaend bel.

Wanneer mense dan vir my kwalik neem omdat my kinders nie  deelneem aan  buitemuurse aktiwiteite nie, nie universiteit toe gaan nie, omdat ek sommer 'n gewone kerkrok bietjie opdollie vir my enigste dogter se troue, ons die troue sovêr moontlik self gereël en hanteer het, omdat my huis in 25 jaar nog net een lagie verf gehad het, ek dankbaar bid vir elke tweedehandse kledingstuk wat ek en my kinders ontvang....
Dan wil ek uitroep - kom loop my pad!

Leef my lewe, nie net een dag nie, maar ten minste 'n jaar.

En dan, ja dan, dan kan jy kritiek lewer.

Wanneer my kruis te swaar raak
en ek om my kyk
na ander kruisdraers wat
selfs met 'n glimlag hul kruise dra,
dan wil ek na die Uitgewer van kruise gaan
en vra: Hoekom is my kruis so swaar?

Maar wanneer Hy dan ander
op die oog af ligter, gemakliker
gladgeskuurde kruise aan my uitwys
en uitnooi: Neem enigeen.

Dan kyk ek met nuwe oë...
Sien die kruis wat San, Jan en Gert
so gemaklik dra, sal my skouers
stukkend vreet,
Sien die kruis wat Piet, Linda en Marie
glimlaggend kon dra,
sal my rug breek
Sien dan 'n kruis, oud, versplinterd
maar bekend... so bekend...
dan lig ek my kruis met sy splinterlyf
en dra dit met nuwe krag,
met 'n glimlag en
dankbaarheid.







Friday, May 5, 2017

Hoofpyn of hartseer?



Hierin lê soveel waarheid.

Na jare, wel, dit voel soms soos 'n ewigheid,, van kinders lei na volwassenheid - en dikwels faal en val, het ek dit soveel kere gesien.


Die hartseer wat ouers in later jare ervaar is meerendeels hul eie skade... Toe hulle moes optree, toe daardie twee-jarige die vloermoer gegooi het, die drie-jarige die gilkompetisie in die supermark gewen het, die tiener huisvensters laat ratel het, deurkosyne uitgegooi en in woede die huis uitgestorm het.... Toe het hulle moedeloos hul skouers opgetrek en verwys na "die stadium" en hul oë gerol, so asof ék moes verstaan waarvan hulle praat.


Wel, ek het nie.

Want in ons huis is ek en Andries die ouers. Hier lê ons die reëls neer, is die gesag in ons gesentreer en moet die kinders daarby aanpas en inval. As hulle nie wil nie, moet hulle die gevolge dra.

As jong kinders, kleuters ("haai siestog, die arme bloedjies!"), het hulle baie kere elke dag van die week pak gekry. Ons het van die heel begin af gesê: Ons praat een keer, net een keer.


Maar, dan moet ek as ouer seker wéét die kind het my gehoor en verstaan wat ek gesê het. Ek moet grond toe sak, na sy hoogte toe, hom in die oë kyk en die opdrag duidelik gee: "Henry, gaan bad." "Leticia bêre jou speelgoed." "Johan eet jou pap." "André trek jou klere aan."


Die opdrag is duidelik, nie verwarrend nie. Een opdrag op 'n slag. Oogkontak. En onmiddellike gehoorsaamheid word verwag. - Ek praat van kleuters en jong kinders, ouderdom 2 tot seker so 8-9 jaar.


'n Vloermoer het ons seker twee keer beleef, kom ons maak dit maar drie keer... Leticia het een keer haar lyfie op die grond gegooi en gegil. Ek het haar opgetel en haar 'n "oor-dentelike" loesing gegee. Haar daarna vasgehou en gesê: "As jy dit ooit weer doen, gaan ek saam met jou skree." Die tweede keer wat dit gebeur het, het ek ook op die grond gaan lê, gegil, my voete gestamp en lyf rondgegooi. Dit was die allerlaaste keer. Of sy die boeties iets in die oor gefluister het, weet ek nie, maar ons het nooit probleme gehad met tipiese tweejaar-tantrums nie.


Soms het ek so gelag, dat ek myself moes inhou, die kind pak gee en daarna kamer toe hol om te loop lag. Veral wanneer dit my lipstiffie ingesluit het... Foto's van betraande gesiggies besmeer met lipstif getuig daarvan.


Feit is, jy as ouer mag nie afwyk van jou dissiplinêre kode nie. Jy dra die gesag, wat jy van die Koning van die Heelal verkry het, en jy moet dit ten alle tye waardig wees. Jy is uiteindelik die een wat verantwoording aan Hom moet doen oor hierdie gesag wat jou toevertrou was.


Moenie dreig as jy nie jou dreigemente kan deurvoer nie 

"Ek gaan jou vir die wolwe voer" is belaglik, maar "ek gaan jou pak gee as jy nie nou stop nie" is uitvoerbaar.
So het 'n ouer op 'n dag vir my as die "heks in die verhaal" gebruik deur aan haar kind te sê: "Stop dit. Tannie Marelize gaan haar 'belt' haal." Ek het in my enigheid gewonder, gaan dit die kind laat stop...? Toe die kind ten spyte van die dreigement dit vir die derde keer doen, die dreigement vir die derde keer herhaal word, het ek opgestaan en Andries se gordel gaan haal. Ek weet nie wie se oë die grootste gesper was, die ma of die kind s'n nie.... Feit is - jy het vir die kind iets beloof... hoekom sien jy dit nie deur nie?

Moet nooit ooit ooit toegee nie

... As jy dit eenmaal gedoen het, gaan die kind dit elke keer probeer.

O, ek het dit gesien - male sonder tal.


My kinders het nooit in die winkels gekerm en gesanik oor lekkers en roomys, skyfies of koeldrank nie. Ek ken dit eenvoudig nie. As ek nee gesê het, was dit nee -  klaar. Nee het nooit in 'n ja verander nie. Dus was kerm uit. Hoeveel male sien ek ouers, veral in die vakansieseisoen hier op ons dorp, wat spartel met die kinders se gesanik.... en dan maar toegee.


Op 'n dag het 'n pa van drie dogters vir my gesê: "Maar as hulle huil...? Ek kan dit nie oor my hart kry as hulle huil nie. Dan gee ek liewer...."


Wat bereik jy, pappie? Watter boodskap stuur jy uit? Wanneer haar man op 'n dag in geldnood vir haar moet nee sê, gaan sy dan die tranekrane oopdraai? En as hy steeds nee sê....?


Nee, kry nou die hoofpyne, dra nou die moeilikheid, want later se hartseer, later se seerkry is groot, enorm groot...


Verantwoordelikheid - takies

Op 'n heel klein ouderdom kan kinders al heelwat takies doen. Hulleself aantrek, bed opmaak, tafel dek, opruim... Gee hulle daardie verantwoordelikheid en jy lei jong volwassenes op.

Ek het 'n niggie wat net nooit verantwoordelikheid geleer het nie. Nooit haar eie bed opgemaak, haar eie bad gewas, haar eie tas gepak, haar eie toebroodjie gemaak nie. Mammie was altyd daar....Nou is sy self 'n ma - o gonnatjie piet! Dis 'n nagmerrie.


Dissipline - Regverdig, altyd geldend, konsekwent toegepas (nie na jou gevoel nie)

Verantwoordelikheid - vir sekere huistake maar ook vir wat hy sê en doen.


Lyfstraf

Ons kinders het pak gekry. Nie mishandeling nie. Slegs op die boude.
'n Pak slae was die gevolg van direkte ongehoorsaamheid, want Satan is die vader van die leuen.

Toe ons vier elk so ouderdom 4-5 jaar was, het ek altyd gesê hulle kry meer pak as kos. Daar is so 'n jaar of twee wat dit regtig so voel.


Maar ek het nie tieners gehad nie. Die oudste twee is beide in hul twintigerjare en die jongste twee nou 13 en 15. Ek ken nie woedebuie, neerslagtigheid en tipiese tienernukke nie.

Ons kinders is jong volwassenes, omdat hulle as kinders dissipline geken het.


Groetnis







Friday, April 28, 2017

'n Bosveldse Bos-troue (deel 9)

Foto's.....

So lank gewag vir die Fotograwe se amptelike foto's.

Hier is die eerste fotograaf se foto's 
(en ek gaan nie almal deel nie.... sommiges gaan ons darem net vir onsself hou.)

Geniet dit.

Wednesday, April 26, 2017

Afwagting

Ai, dit is darem maar lekker.

Een groot lekkerte om hier te kan sit en net dinge te beluister, te bekyk en jou eie dinke te dink.

Ek is darem maar só-ó bly dat ons nie mekaar se gedagtes kan lees nie (alhoewel sommige van ons se gedagtes al te dikwels op ons gesigte geskrywe staan).

Om net te kan dink oor alles en nog wat. Die samelewing te bekyk en te wonder wat elke mens laat "tick."

Monday, April 24, 2017

Facebook - 'n liefde/haat-verhouding

~~~~~ {sug} ~~~~~

"Alweer!"

Ja, sowaar, alweer.

Facebook boelie my... 'n regte liefde-haatverhouding, dis wat ek en "die ding" het. Dit verslaaf my en ry my.

Dit moet end kry.
Vinnig.
Sekuur.
Finaal.

Maar dis nie so maklik nie.

Saturday, April 8, 2017

'n Bosveldse Bos-troue (Deel 8)

In hierdie inskrywing is heelwat
skyfievertonings en videos.

Kliek asb op die speelteken (►)
by beide om te kyk.

Jy kan dit ook op die volskerm kyk, kyk maar na die kleiner tekentjies watter een dit is.

Huweliksbevestiging

Die lang wag het sy merk gelaat...
Nie net op die gaste nie, maar die arme bruidegom het goed gesweet:

The wait was very long, the poor groom....

Wednesday, April 5, 2017

'n Bosveldse Bos-troue (deel 7)

Kampvuur en Dans

Leticia wou 'n kampvuur hê.
Iets waarteen haar pa vasgeskop het,
maar 'n mens se enigste dogter....

Soos in 'n vorige inskrywing genoem, was die groot gevaar van die kampvuur
nie soseer die moontlikheid van brand nie, maar
die tambotiebome.