Om 'n kêrel te hê.
Klaarblyklik 'n baie belangrike kwessie vir sommige (meeste?) van die jong dames met wie ek te doen kry.
Vir die jong manne ook, hmm ...... om 'n meisie te hê.
Wonder tog hoekom die jonger klomp dit so belangrik ag.
Want dis nie regtig nodig nie.
Glad nie nodig nie.
Ons "grootmense" was ook kinders, selfs babas (wat 'n gedagte!), en wel, tieners {Mag ek 'n geheimpie deel? Hierbinne is ek maar steeds 'n tiener - sukkel om uit die "stadium" te kom :-)} en ons het ook gesmag daarna dat 'n kêreltjie ons tog sou raaksien (of 'n meisie vir die manne).
Te dikwels het dié een wat jou oog gevang het, jou nie eens raakgesien nie!
So het ekself uiteindelik as tiener sonder enige vaste kêrel my hoërskoolloopbaan voltooi. Oor my ore verlief, maar heel.
Net om in my eerstejaar die man van my drome, die man van my lewe, te ontmoet.
Ek wens ek kan elke dogter oortuig dat God vir jou 'n baie baie spesiale persoon in gedagte het. Dat Hy jou suiwer en skoon - heel - vir daardie besondere, met die hand uitgesoekte man wil gee.
Want as jy daaroor nadink elke keer wat jy wil kopverloor oor 'n beeld van 'n vleispaleis, sal jy moontlik jou hart kan vasketting om nie op loop te gaan vir 'n tydelike ontvlugting nie, maar eerder geduldig te raak, te wag, rustig te wees en jouself splinternuut, ongebroke te hou vir die "special" outjie wat jou Liefdevolle Pappa-Vader vir jou bewaar.....
Maar ek dwaal (soos gewoonlik) weer vêr af, baie vêr.
Sien, ek wou skryf van die "nuwe vreemdeling" in my lewe.....
Ek het my liefste ontmoet toe ek 'n eerstejaartjie was. En net na ek klaar studeer het, is ons getroud.
Ek totaal onkundig oor hierdie "liefde"-ding...
Liefding het wel 'n meisie gehad en my van haar vertel - vroeg al.
Want sien, hy het seergekry na hulle uitgemaak het. Baie.
En hy het gebid dat die volgende meisie wat Vader op sy pad sou bring, sy trouvrou sou wees.
Hy vertel met so 'n klein glimlaggie, dat hy gevra het vir 'n donkerkop met blou oë - en bo verwagting het God hom dit alles gegee!! - dan terg ek terug, want ek was maar "vaalblond" sien, g'n donkerkop nie!
Maar ek het gewonder oor "daardie meisie". Jy weet, daardie een wat hom seergemaak het. Daardie een van wie hy my vertel het.
Mag ek erken? Ek was jaloers.... Ék wat met die beste man getroud is, was jaloers op 'n vreemdeling in sy verlede. Ék, die een wat hy verkies het, kon nie vrede maak nie.
Soms, by funksies, sou 'n wildvreemde vrou my skoonma groet, wanneer ek dan later na die vrou vra, is die antwoord dat dit sy is.... En glo vir my, op 'n plattelandse dorp is raakloop maklik. Maar verniet, ek kon haar gesig nie onthou nie. Nooit.
Vreemd, maar dis tog asof my brein die beeld uitgesny het.
Tot so 2-3 jaar gelede...
En vandag kry ek so lag vir myself, my "ou" self.
Want vandag kan ek sien en weet dat sy 'n pragtige mensie is. Dat sy dinge baie soos ek beleef. Kon seker ook nie anders nie, hoe sou manlief dan op haar verlief kon geraak het as sy nie 'n pragtige mens was nie?
Nou sien ons mekaar gereeld, baie gereeld.
En ons gesels al meer.
En ek wonder oor verspeelde tyd. Tyd wat ek kon uitreik, maar net wou terugtrek....
Sy is gelukkig getroud en het twee pragseuns. Regtig PRAG-kinders.