Ysig koue voete.
Rêrig koud.
Al is hulle in pantoffels en in kouse.
Word jou voete ooit warm? Myne nie. Ek ly werklik aan koue voete. As ek nie saans voor ek in die bed klim hierdie ysblokke in 'n warm bad ontdooi en dan dadelik in die bed hop nie, sal hulle sowaar nie deur die nag ontdooi nie.
En my arme man moet dit ontgeld. Ek kry hom werklik jammer. Om met so 'n vrieskas in die bed te klim kan wraggies nie maklik wees nie en om steeds vir my lief te bly - voorwaar 'n wonderwerk ;) .
Maar ek het ook koue voete wanneer dit by ander dinge kom. Ek kry soms koue voete wanneer ek hoor hoe die werkende brigade te velde kan trek teen ons niksdoenende huisvroutjies. Kyk, ek hou nie van argumente en konflik nie. Ek sal eerder vermy as instorm en dis presies wat ek dan doen. Koue voete slaan die hasepad.
Tog het ek my eie idees - ek sal dit nie op jou afdwing nie, maar moenie my idees as ongeldig, minderwaardig en simpel afmaak nie. Ek mag dalk net dink joue is ongeldig, minderwaardig en simpel weet jy?
So maak iemand 'n opmerking: "Ek kan net soveel kaste regpak, waarmee sal ek myself die heeldag besig hou." My binne-reaksie was: "Né? Is dit wat jou definisie van 'n goeie huisvrou is? Pak kaste reg? Gmf!" My buite-reaksie - doodse stilte.
Dikwels hoor ek "Oe, ek sal my doodverveel." En ek dink: "Ag, shame. Asof jou vreeslik interessante lewe nie vir my uiters vervelend voorkom nie."
My vervelige, kas-reg-pakkende, eenvoudige daaglikse lewe is vir my 'n wonderbare voorreg, 'n diensbaarheid, 'n seën en 'n vreugde. Om daar te wees vir my man en kinders is 'n genadegawe. Om hulle tot diens te wees 'n voorreg. Verveling is nie deel daarvan nie.
Koue voete kry ek egter by die blote gedagte aan 'n 8 tot 5 werk, daaglikse spitsverkeer, sperdatums, base oor my skouers...... Nee, dankie!!