Sunday, July 23, 2017

Hoe gaan dit met jou...?

Vanoggend se skermpreek (dis nou wanneer ons nie 'n aflos-predikant kon kry nie en na 'n opgeneemde video van 'n erediens kyk. Soveel beter as vroeër jare se leespreke, waar 'n ouderling 'n geskrewe preek voorgelees het.) het gehandel oor omgee. Die verbond wat God met ons gesluit het, sluit onder meer in dat ons as gelowiges vir mekaar moet omgee, vreugde, hartseer, laste, pyne, alles moet deel.


Na die erediens, was dit ons wyk se skinkbeurt. 'n Dierbare vriendin kom staan by my en vra: "Hoe gaan dit met jou? Ek sien net jou Facebook-inskrywings {meestal maar filosofies en vol retoriese vrae}, maar hoe gaan dit regtig met jou?"

Ek het gewonder hoe antwoord mens nou so 'n vraag. Ek meen, ons het almal heelwat om oor te kla. Aan spanning in hierdie piesangrepubliek van ons, ontbreek dit nie.

Maar, te midde van al die spanning, van al die onbeantwoorde vrae, die onopgeloste (en dikwels onoplosbare) probleme, is ons so ryklik geseënd! Ons het soveel genade wat oor ons uitgestort word.

Hoe antwoord mens 'n ware omgee vraag - eerlik?


****************************************************************************

Maar, ek wil tog vertel...

Dit gaan met my persoonlik regtig goed. My gesondheid het soveel verbeter dat ek eintlik stom staan voor die besef - hoe siek was ek dan gewees?

Ek is in September 2015 gediagnoseer met Hashimoto's Thyroiditis. Dit is 'n outoimmuniteitsiekte waar my eie immuniteitstelsel my skildklier aanval. Dit moes al jare aan die gang gewees het - ek is in 2000 al gediagnoseer met onderaktiewe skildklier...

In Oktober 2015 het ek die AIP ("autoimmune paleo protocol") begin volg. Streng, absoluut streng.

Binne die eerste week of twee het ek al simptomatiese verligting gekry!!

* My koue hande en voete het warmer geword.
* My chroniese sinus het gelig.
* My hardlywigheid het begin verminder.
* In die derde week het ek gemenstrueer. gewoonlik gepaard met ongelooflike pyne (drie dae op medikasie is nie vreemd nie, maar op die AIP mag ek nie pynstillers gebruik nie). Ek was angsbevange vir hierdie eerste sonder pynstillers. Groot was my verbasing toe ek bykans geen pyn, slegs 'n ligte ongemak in die buik, ervaar het! Ek is eerlik... my reaksie was: "Is dit hoe ander vrouens dit ervaar??"

Na 'n maand of twee het meer veranderinge, sommige subtiel en ander dramaties, plaasgevind.
* Ek het binne 6 weke 18kg verloor!
* Die ongelooflike tamheid (Afrikaans het nie 'n woord om daardie moegheid te beskryf nie - "fatigue" noem die Engelse dit) het gewyk.
* My brein, my gedagtes, my denkvermoë en aandag (fokus)! Genugtig... was ek só ver heen?? Dit was letterlik of die gevoel van zombie, daardie een as jy vir twee aande nie geslaap het nie, oplig en my los.
* Praat van slaap... Ek kon weer slaap.

Behandeling sluit nie net dieetveranderings (sommige lewenslange veranderings) in nie, maar ook lewenstylveranderings. Stres moet drasties verminder word. Ek het vir 'n jaar alle buite-my-gesin-verpligtinge gekanselleer. Niks, maar niks wat my onder selfs net ligte spanning sou sit nie. Ek het nie eens gaan inkopies doen sonder my wederhelfte nie. Nie bestuur nie...beslis geen wiskunde, geen lang rye by lisensiekantore en die bank nie.

Dan ook... slaap. Ten minste 8 ure per nag. Ek gaan slaap nou tussen 20:30 en 21:00. My wekker gaan soggens 05:00 af. En dan voel ek sommer uitgerus.

Maar, dalk die beste van alles, die donker depressie. Daardie wolk van mistroostigheid, daardie pikswart kolkgat wat jou wil inslurp.... dit het so gelig, so verhelder... O, wat 'n vreugde!


Vandag, byna 2 jaar op die AIP dieet, voel ek mens. Lyk ek vir myself goed.... - wie sou nou nie glimlag as jy van 'n amper 38 na 'n 32 gekrimp het nie!!  Ek voel goed... en dis vir my 'n genadegawe uit God se hand.


******************************************************************************

Webwerwe waar ek my ondersteuning kry sluit in (maar is nie beperk nie):

www.autoimmunewellness.com
www.phoenixhelix.com
www.thyroidpharmacist.com
www.drhyman.com


Groetnis

1 comment:

  1. Sjoe, ek het ook nie besef hoe groot die uitwerking van die lewensstyl- en eetveranderings vir jou was nie. Ek is baie bly om te hoor dat dit regtig soveel beter gaan en dat jy so goed voel. Prys die Here!

    ReplyDelete