Thursday, August 28, 2014

Prioriteite Verskil

Prioriteite verskil.
Dit verskil totaal van mens tot mens.

Maar die feit dat dit verskil beteken nie dat ek reg en jy verkeerd is nie.
Dit beteken bloot dat ons die lewens vanuit verskillende hoeke benader.

Sekere goed is net nie vir my belangrik nie. Dit hinder my nie in die minste nie.
Soos:

  • Skurwe hakskene
  • Grys hare
  • Klere
  • Skoene 
  • Skoonheidsmiddels
Skynbaar hinder dit ander mense.... die feit dat dit my nie hinder nie.... of so vermoed ek ;-)

Ek is 'n kaalvoetloper. Van kleins af. 
Ek verkies om stewig vas te trap met my tone en hakke, om die gras te voel, die sand, die gruis; om die hitte van die warmgebakte turf te voel, die koel van 'n geteëlde vloer. Die bosveld het egter uitdagings aan my kaalvoete gestel, papierduwweltjies groei in plate en steek seer, so ook die groot apiesdoring in ons tuin.

Aan die einde van elke winter neem ek my opnuut voor: Hierdie keer gaan ek aanhou skoene dra. My voete is nou mooi sag na die winter se skoendraery, ek moet net volhou.... tot die eerste warm Augustus-dag... dan ruk die hitte my baadjie af en skoene uit! Salig. Heerlik om weer te kan asem haal deur my voete.

Maar ek kry nogal gereeld 'n afskuurder en hakke-salf vir 'n verjaardaggeskenk. 'n Bedekte boodskap? 

Die dag waarop ek die eerste spierwit haar op my kop ontdek het, was 'n skok, wat gelukkig gou verbygegaan het. Vandag is daar al soveel dat uitpluk en ontslae raak van 'n swak opsie is wat moontlik 'n bles tot gevolg kan hê.

Ek is egter glad nie ontsteld daaroor nie. Inteendeel, ek mag erken dat ek trots voel op my gryserwordende kroon. 'n Stille getuienis van jare se ondervinding, jare goed spandeer. 

Ons jongste se opmerking: "Maar mamma, die haar is nie grys nie! Dis dan spierwit!!" was vir my kosbaar. Ja, my kind, dis nie grys nie, dis spierwit. Soos 'n nuwe kleed. 

Persoonlik stem ek met my moeder saam - die witter harekleed werk sagkens met die beplooide tronie wat daarmee saamgaan. Dit versag die rimpels en vorm 'n lieflike agtergrond. 

Geliefde sê op 'n dag: "Sjoe, maar jou kuif is darem nou regtig wit." Waarop ek net skalks lag en antwoord: "As ek my hare moet kleur, koop ek vir jou 'n pruik." 

Klere was nog altyd vir my bloot 'n noodsaaklikheid. Definitief nie iets om 'n jaar se salaris op te spandeer nie. Solank dit gemaklik sit en alles bedek wat bedek moet wees (wat weer 'n kwessie van persoonlike smaak is), is ek tevrede.

O, kyk, ek vrek oor 'n mooi rok en sal by 'n winkelvenster stilstaan, my oë vasgenael op die winkelpop, maar sodra ek die RRRR sien, word die rok sommer 'n stuk lap. Ek kan maar net nie vatkry aan die prys van klere nie.!

Ek dra langbroek in die winter, bloot omdat ek koud kry, maar kom somer, kan ek nie wag om my rokke uit te hang nie. Heerlikheid! Tog is dit nie 'n voorkeur-aankoop nie. Ek sal nie 'n rok koop net omdat dit mooi is nie - ek moet 'n rok nodig hê, voor ek koop.

Dieselfde geld skoene. Hoe op dees aarde mense skoene vir elke uitrusting kan regverdig.... 

Kry ek so lag.... ek het mos vertel van die nuwe uitdaging. Een van die opdragte is om jou skoene deur te gaan en ontslae te raak van die onnodiges. O, aarde, ek het gaan tel - ek het net ses pare skoene. Vir winter is daar: 'n paar vellies, stewels vir kerk en my pantoffels; vir somer het ek: 'n paar sandale vir dorpdae, 'n paar sandale vir kerk en 'n paar plakkies vir op die plaas dra.... want sien, ek loop meestal kaalvoet en skoene is regtig nie op my lys van prioriteite nie. Buitendien om meer as R150 vir 'n paar skoene te betaal laat my skoon arig voel.

Die aanloop vir hierdie inskrywing lê egter by die laaste van my minste-prioriteitslysie. Skoonheidsmiddels.

Was dit nie vir ons son en warm wind nie, was dit nie vir die dordroë winters nie, sou ek seker geen room ooit aan my gesig gesmeer het nie.

My Lübbe-ouma het die mooiste-mooiste vel gehad.
Op 80 was sy byna plooi-loos. 'n Sagte byna deurskynende pienk vel. Ek het haar op 'n keer gevra na haar skoonheidsgeheime. "My kind, ek het nooit enige grimering gedra nie, nooit. En al die jare my gesig met gewone groen Sunlight-seep - koekieseep - gewas."

Is al ons roompies en dinge nodig?

Ekself gebruik 'n gesigseep, 'n verfrisser en 'n dagroom - een keer per dag. Geen verdere iets nie.
En hierdie volslae aankoop doen ek sommer by Clicks. Hul eie handelsmerk. Want dit kan ek bekostig.

Ek kan helaas nie spog met ouma se vel nie, maar ek dra darem so 'n ietsie van haar gene. My vel voel goed en gevoed. 

Maar, dan kry ek hierdie oproepe van tele-bemarkers.... Hierdie en daardie produk, net so 'n paar vrae (waarvan een is hoe groot is jou maandelikse inkomste voor aftrekkings - wonder hoekom?) en dan 'n pakkie in die pos. 

Nee, dankie.

Wanneer ek oor dit alles nadink, alles in ag neem, dan wonder ek - nou wat is vir my prioriteit?
Klaarblyklik kan ek nie geld op myself spandeer nie - een of ander sielkundige mag dalk 'n teorie hê oor die hoekom daarvan, maar dis van geen belang nie. Ek kan nie geld spandeer op my hare, klere, skoene of skoonheidsroetine nie - dis alles ék-gerig en ek is nie gemaklik daarmee nie.

Iemand anders sal totaal anders daaroor voel - en ek gun elkeen dit.

My prioriteite? Dinge waarvoor ek selfs broodgeld sal gebruik....?
  • Gesonde kos
  • Boeke
Ek sal, ongeag die koste, nie huiwer om rogmeel, 7.5-aanvullings, heuning, vars groente en vrugte, vars vis en vleis te koop nie. Ons probeer sover moontlik die bloedgroep-dieet te volg en sny gevolglik koring en alle koringprodukte uit - dis verbasend hoe jou winkelwaentjie krimp wanneer jy MSG, koring en ander bygevoegde geur- en kleurstowwe verny. Ek koop ook deesdae net seesout en nie meer gewone tafelsout nie.

Boeke, o boeke. Goeie Afrikaanse boeke, reisverhale, biografieë. Genadiglik het ons dorpie 'n pragtig toegeruste biblioteek.... maar ek kan steeds nie 'n boekwinkel, veral nie 'n tweedehandse boekwinkel, verbyloop nie.

Laastens videos. Maar ek is versigtig om hierdie op my lys te plaas - ek is nie baie lief vir videos kyk nie. Ek verkies dokumentêre programme en videos met 'n geestelike boodskap. Ek sal egter nie broodgeld gebruik om videos te koop nie.

Hoe lyk jou prioriteitslys? Wat sal jy nooit koop nie en waarsonder kan jy nie gaan nie?

Groetnis






Wednesday, August 27, 2014

Uitdaging (alweer :-) )

Ek kan maar nie 'n uitdaging weerstaan nie.
Hier het ek al weer pens en pootjies geval....

Dalk is dit 'n bedekte seën dat ek nie 'n baie sosiale mens is nie. Dat ek eerder my gesinstyd koester as om die huis se deure wyd oop te gooi.

Want ek sukkel bietjie met orde, met chaos, met deurmekaar.
Eintlik baie.
Eerder, as ek werklik eerlik is, oorweldig my chaos my.

Dan kom daar dae wat ek radeloos raak, vlug uit my deurmekaar huis na die ewe deurmekaar skool en ontvlugting op die internet kry. Met soekfrases soos "How to declutter" of "How to organise your life" goegeloer ek dan rond.

So kom ek op 'n webwerf af wat my nadertrek,
                                               wat my bekoor,
                                                   soms selfs irriteer, want sy is perfeksionisties netjies......
                                  ...terwyl ek lyk en voel soos Einstein, woeste hare, deurmekaar verstrooide professor.

Kat het egter 'n uitdaging, 'n stap-vir-stap-plan na orde.
My droom.

Net 'n droom.
Want ek het nog nie een van die daaglikse takies uitgevoer nie.

Wat ek wel kan getuig is dat dit my 'n oopkop gee om na probleemareas te kyk, planne te bedink.

Miskien kan ek hier, op my eie kuierwerf, deel oor my "vordering". So dan en wan 'n foto van die voor en na wys, planne deel (want ek kan nie soos Kat, kort-kort winkels besoek en geld bestee nie - ek het dit nie.) As 'n boer 'n plan kan maak, dan moet boer se vrou twee planne hê.

My eerste poging (dis altyd my eerste poging!), was die badkamer.
Wel, dis nog nie afgehandel nie, maar dis die kleinste vertrek en dikwels die deurmekaarste en wanordelikste. Die bevrediging van 'n gedane taak, sonder dat dit my moedeloos maak weens die omvang daarvan, word die maklikste bereik in klein treetjies.

Ek sou graag wou vernuwe, verf, nuwe gordyne, en dies meer, maar vir eers is net 'n regpak en regskud genoeg.

Nou gou die kamera gaan haal en 'n paar foto'tjies neem van die eerste tree op 'n nuwe pad (ai-jai-jai - hoe lank ek op die pad gaan bly weet ek nie!)

Groetnis

Tuesday, August 26, 2014

Hoekom skryf jy nie?

Die vraag kom dikwels na my toe.

Inderdaad - hoekom skryf jy nie 'n boek nie?

Hoekom publiseer jy nie?
Jy het so lekker skryfstyl, gemaklike geselstrant en wat nog.

Ek het al baie daaroor gewonder.
Maar.... buiten vir die vraag of enigiemand dit sal wil lees, bly die grootste kwessie: Waaroor?

Waaroor sou mens skryf?

Want ek het nie 'n rype verbeelding nie, kan nie kinder- en skinderstories skryf nie. Tieners sal my taalgebruik uiters wantrouig bekyk en 'n woordeboek uit die oudedoos gaan soek. Oupas en oumas sal my skryfstyl dalk geniet, maar het ek iets om vir die wyse gryses te vertel?

Met al die inskrywings op my vorige kuierwerf (wat deur die gasheer vernietig is), het my ma 'n boek saamgestel, laat druk en bind en ek het 'n paar eksemplare verkoop, weggegee en geskenk.


Ek was so opgewonde oor hierdie "boek"...
By NAMPO een jaar, keer vriende van Naboom ons voor, vertel dat sy letterlik die boek opgetel het, begin lees het en eers drie-uur die volgende oggend die boek weer neergesit het.

Dit het my so lekker warm gevoel om die hart gegee.

'n Mede-tuisopvoeder en 'n boekuitgewer-vriendin op fb, merk een dag op dat haar man haar klankbord is vir al haar skryferasies. As hy lag, huil, opgewonde vra na die res - dan weet sy: Hier is 'n wenner. In reaksie op haar inskrywing merk ander skrywers ook op: Dis die groot kriterium vir publikasie.

Die klankbord.
Die naaste aan jou hart.
Hulle wat jou ken.

Miskien is dit hoekom ek nooit 'n boek sal skryf nie.

My naastes stel nie belang nie.

Ek moet erken, ek probeer tans werk aan 'n biografiese werk ook ons tuisopvoedingspad. Maar dit put my skoon uit. Daar is te veel om te sê, te veel wat ek wil deel, ek val myself voortdurend in die rede en op hierdie stadium lyk dit vir my deurmekaar.

Ek wou oorspronklik dit teen die einde van die jaar beskikbaar stel vir proeflees, maar....

Alle geval!
Groetnis... :-)





'n Getuienis

Dis al so lank gelede...
Die seun gaan al amper hoërskool toe.


Ek was blinkoog en vol drome toe ek op 21 met my droomman trou.
 'n Lewe vol liefde en belofte het op ons gewag.

Nog verder terug in die verlede. 
'n Dogtertjie van so 13.
'n Vraag: "En hoeveel kinders sou jy eendag wou hê?"
My antwoord was 'n definitiewe "Vier, tannie. Of ses."
Want sien, ek is een van net twee kinders
en my tannie had vier.
Dit het net so lekker gelyk - vier kinders.
Altyd maats.
Altyd beweging.

~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~

Ek was student.
Hy 'n dienspligtige.
Ons het mekaar op 'n kerkkamp ontmoet
en dadelik aangetrokke gevoel.

Daardie naweek, sommer so in die loop van die aand se gesels,
vra hy my: "Hoeveel kinders sal jy eendag wil hê?"
En ek antwoord: "Vier."
Hy glimlag en sê: "Ek ook."
Hy was een van vier.

~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~

Sy het by my geliefde se ouboet gekuier.
Sommige naweke was ons saam op die plaas 
en het 'n kamer gedeel.

Een aand vra ek terloops: "Hoeveel kinders sou jy eendag wou hê?"

~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~

Dinge was so mooi beplan.
Ons sou twee jaar wag (ons het immers die jeug aan ons kant)
en dan met 'n gesin begin.
Vir twee jaar sluk ek die Pil.
Maar my gemoedskommelinge,
my woedebuie, ontstel myself ook.

Uiteindelik die dag wat ek die goed kan weggooi.
Ons het nie lank gewag nie, ek dink dit was binne diie eerste maand,
toe ons opgewonde die toetspen dophou....
en twee strepies sien.

O, hoe genadig is die Vader, hoeveel seën is daar nie.
Ons dogter word nege maande later gebore.
Welgeskape, gesond, pragtig.


Te midde van min slaap, 
nageboortelike depressie,
aanpassings met borsvoeding,
vreugde en verwarring...

sou ons die eerste keer hoor
dat hulle al drie jaar lank sukkel.

Ek het nie geweet nie.
Vader, ek het nie geweet nie!

So begin 'n gebedsreis....
daaglikse gebed om 'n wonderwerk,
'n Goddelike ingryping - 
maar dit bly uit.

Alles, behandelings, doktersbesoeke, 
boererate, alternatiewe medisyne,
nog behandelings....
en gebed.

Twee jaar na ons dogter se geboorte,
word ons 'n seun ryker.
Midde-in die vreugde ervaar ons ook
die hartseer, die pyn.
En ons wonder: Hoekom, Here?

~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~

Met ons dogter op pad na vyf en boeta byna drie
is daar opgewondenheid in die lug.
Vreugde en jubeling, 
want 'n nefie of 'n niggie word verwag.

Met stomheid, verslaentheid staan ons 'n skrale drie maande later
voor die leë droom,
die droom met baie vrae.... wat weer en weer terugwentel na
Hoekom?

Hier. Net hier het my worstelpad met God begin.
Hier het ek werklik ervaar wat dit is om met God te pleit,
jou hart en siel voor Hom uit te stort, 
jou gebrokenheid, jou totale afhanklikheid van Hom te bely.

Oggend na oggend in my persoonlike Bybelstudie
telkens weer in Huisgodsdiens, 
tydens wyksbybelstudies 
is daar hierdie een gebedwens....
Ag, Here, voorsien.
Open U die moederskoot.

Op 'n dag in Augustus 1999, my Bybelstudie is uit Mattheus,
worstel ek weer met God oor 'n wonderwerk vir my geliefde skoonsuster en swaer.
Waarlikwaar, vir my, die een wat nie emosie wys nie, was dit 'n ween-gebed.
Meteens, duidelik hoorbaar, praat 'n stem: "Volgende jaar, hierdie tyd sal sy swanger wees."
Ek ruk omtrent my nek uit sy werwels los.
Wié het gepraat?
Maar dis net ek in die vertrek.

Ek reik na my Bybel en soek die betrokke teksvers:
Gen 18:14 "Is iets te buitengewoon vir die Here? Op die vasgestelde tyd
sal Ek terugkom. Volgende jaar hierdie tyd sal Sara 'n seun hê."

In stille verwondering het ek seker 'n volle vyf minute doodstil gesit.
Daarna my dagtaak aangepak.
Maar my gedagtes bly spook met hierdie vers,
hierdie Stem, hierdie Woord.

Die volgende oggend is ek vertwyfeld.
"Aag, dis maar net jou eie gedagtes. 
Dis omdat jy so graag wil hê dit moet so wees, dat jy nou al stemme hoor."
Met twyfel slaan ek my Bybel by die gedeelte in Mattheus oop.
Ek lees immers met 'n plan en is hier besig.

Daar, in die perikoop waar ek lees, staan dit duidelik, asof in dubbel-swart gedruk:
"Toe raak Hy aan hulle oë en sê: 'Wat julle glo, sal gebeur." - Matt 9:29
Wat jy glo....
Ek roep uit saam met die vader in Mark 9:24 "Ek glo Here, help my waar ek nog ongelowig is."
Nou glo ek seker dat dit wat ek die vorige dag gehoor het, 
van God self is. My gebed word 'n lof- en dankoffer.

Net om die volgende dag weer te twyfel.
Is dit, of is dit nie? Wat moet ek glo?
Wat is waarheid?
Vir sewe jaar bid ons al.
Vir sewe jaar "verniet"....
Wat maak vandag anders?

Dan spreek die Here weer deur sy Woord tydens my Bybelstudie:
"En gelukkig is elkeen wat nie aan My begin twyfel nie." - Matt 11:6

Drie keer het God dit bevestig.
Durf ek nog twyfel?

Soos 'n Gideon met sy skaapvliesie, het ek meer as genoeg bevestiging gekry.

Nou was dit die wag.
Wag op God.
Gelowig.

Augustus gaan verby - niks.
September gaan verby - niks.
Oktober en November gaan die paartjie vir behandeling - miskien is dit hoe God wil werk?
Nege maande van November af, bring jou immers by Augustus, dan nie? En dis mos wat God gesê het?

Ek hou, nee, ek klou hieraan vas.
Almal bid.
My Bybelstudie neem my deur tekste soos:

Matt 17:20 "En Jesus antwoord hulle: Deur julle ongeloof; want, voorwaar Ek sê vir julle, as julle geloof het soos ’n mosterdsaad sal julle vir hierdie berg sê: Gaan weg hiervandaan daarnatoe! en hy sal weggaan, en niks sal vir julle onmoontlik wees nie."

Matt 18:3 "en Hy sê: Voorwaar Ek sê vir julle, as julle nie verander en soos die kindertjies word nie, sal julle nooit in die koninkryk van die hemele ingaan nie!"

Matt 21:22 "En alles wat julle in die gebed vra, sal julle ontvang as julle glo."

Dan, die seerkry - weer geen resultate nie.
Wanhoop laat my roep: "Here??"
Maar ek hou aan glo, om drie dae na mekaar so versterk te word is reeds 'n wonderwerk.
Tog bly dit moeilik, my emosies ry wipplank. Desember, Januarie, Februarie...
Soms is ek vol geloof en moed, soos blyk uit 'n brief aan my niggie: 
"Ek sal bly glo tot ek in Julie of Augustus verkeerd bewys word."
Ander kere wil ek uitroep: "Here, was ek dan so verkeerd? Het ek verkeerd verstaan?"

6 Julie 2000
Blye dag.
Sy is reeds nege weke swanger!
Sonder enige mediese hulp
Slegs deur God se genadige ingryping!
Prys die Here, o my siel!

~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~

Terugskouend.
Ek het gehoor.
Ek het opgevolg en bevestiging gekry.

Maar ek wou Sara se belofte myne maak.
Ek wou binne 'n jaar 'n seun sien.
Terwyl Hy swangerskap beloof het.

~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~

Agtien maande na hierdie "Samuel"-nefie se geboorte
het ons weer 'n seun ryker geword - waarlik 'n geskenk van God.
En twintig maande daarna, 'n laaste seëning uit God se hand.
Nou het ons vier kinders gehad.


~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~

Dis baie jare later.
Ek het soveel geleer in hierdie jare.
Geleer om God te vertrou - met alles.
Geleer dat kinders uit en uit 'n geskenk, 'n gawe,
'n SEËN uit God se hand is.
Geleer dat wanneer ek beheer aan God gee,
dit ook beheer oor my liggaam insluit.
Dat my gesinsgrootte van God afhang, nie van 'n voorbehoedmiddel,
'n sterilisasie, 'n finansiële voorspelling nie.

Groetnis








Friday, August 1, 2014

Musiek- 'n terugblik

Musiek
Waarna luister jy?
Watter musiek laat jou goedvoel, teneergedruk, opgeruimd, energiek nadat jy geluister het?

smake....soveel verskillende smake.

Ek het nog altyd die teorie gehad dat kinders so 'n graad of drie afwyk van hul ouers se musieksmaak. Net so effens wilder as dit waarna die ouers luister.

In ons grootwordjare was daar streekradiostasies. So het Radio Jakaranda (ja, dit was werklik 'n Afrikaanse stasie, met Afrikaanse aanbieders, Afrikaanse advertensies en  ook Afrikaanse musiek met so dan en wan 'n Engelse iets tussenin), Radio Hoëveld (dit was meer Johannesburg se stasie, meer Engels in musiekstyl, in aanbieding ensovoorts), Radio Oranje en andere ontstaan.

My ouma-hulle het na die Afrikaanse Radio geluister (deesdae RSG). Ons het kleintyd grootoog gehoor hoe oud sommige omies en tannies geword, daar is Psalms en Gesange vir hulle gesing en net daarna was dit die oggend-oordenking (geen Moslem- of ander gelowe nie, net kerk). Ons moes stilsit deur elke nuusbulletin en weerberig. Geen dood en korrupsie, geen moord en verkragting nie.... nee, net nuus.

My pa het graag Jakaranda geluister, maar vir nuus en weerberig teruggeskakel na die Afrikaanse Radio. Hy het nie van die baie praat-programme op Afrikaans gehou nie, eerder musiek geluister op Jakaranda.

My ma het stilte verkies.

Daar was Radio5, Radio 702 en andere ook, maar ek het hulle nie geken nie. Nie eens geweet waar om hulle op die radio te vind nie. Want tieners luister mos na hul eie musiek, na "tapes".

My eerste "radio" was 'n blote kassetspeler.

en ek het net kassette geluister....

Meestal opgeneemde musiek vanaf die radio (op die hoëtroustel in die sitkamer) of van maats se plate. Want geld vir nuwe plate het ek nooit gehad nie. Ek sou in elk geval nie plate van die gewilde sangers van die era gekoop het nie. Die probleem met 'n plaat is dat een of miskien twee liedjies mooi en luisterbaar is, maar die res.....ai!

As tiener in die koshuis was almal se musiek, wel, almal s'n. Oral in die gang het radio's geblêr. Dikwels teen mekaar ook! Sommige dogters het erge "underground" musiek geluister, ander bietjie meer rockmusiek en die meeste maar net die popliedjies. Die liedjies wat vir 'n week of ses op die Top-10 was.

Ekself het egter tien jaar in die verlede vasgesteek. Abba, BoneyM.... hulle wat in die 70's gewild was, was die sangers na wie ek in die 80's geluister het. O, en dan! Modern Talking. Die twee het my knieë lam gesing.


Nou het ek self tieners.
Genadiglik tuisskolers..... :-)

En ek hoor hul musiek.
Mý musiek, my tienertydse musiek....

Bonny Tyler se Total Eclipse en BitterBlue, It's a heartache
Survivor - Eye of the Tiger
Berlin - Take my breath away.
Europe - It's the final countdown....

en so neem hulle my terug. Op 'n herinneringspad, 'n wandeling na 'n verlede....wat weliswaar sonder die internet en Youtube nie moontlik sou wees nie.

En ek gaan soek hulle.
Een na die ander....

dan onthou ek van Rod Stewart. Ek het nooit na sy musiek geluister nie, maar een video het vasgesteek en ek moes dit net vanoggend gaan kry:


Die lirieke het ek vanoggend vir die eerste keer deurgelees - en dis so so mooi!

Forever Young Lyrics
Artist(Band):Rod Stewart 

(R. Stewart/J.Cregan/K.Savigar)

May the good Lord be with you
Down every road you roam
And may sunshine and happiness
surround you when you're far from home
And may you grow to be proud
Dignified and true
And do unto others
As you'd have done to you
Be courageous and be brave
And in my heart you'll always stay
Forever Young, Forever Young
Forever Young, Forever Young

May good fortune be with you
May your guiding light be strong
Build a stairway to heaven
with a prince or a vagabond

And may you never love in vain
and in my heart you will remain
Forever Young, Forever Young
Forever Young, Forever Young
Forever Young
Forever Young

And when you finally fly away
I'll be hoping that I served you well
For all the wisdom of a lifetime
No one can ever tell

But whatever road you choose
I'm right behind you, win or lose
Forever Young, Forever Young
Forever Young ,Forever Young
Forever Young, Forever Young
For, Forever Young, Forever Young

Dit is net so, daar was sangers en liedjieskrywers wat net 'n merk laat en ander wat verdwyn.

Audrey Landers, Geraldine, Jennifer Rush, Kylie Minogue, Air Supply,  OMD. Of Aha, wat net weggeraak het.

Maar ek kan nie vandag meer na net hulle luister nie. Vandag is ek rustiger, meer daar waar my ouers destyds was. Vandag luister ek na Duitsers (Heino, Ronny, Freddie Breck), ou SA sangers (Janita Claassen, Gé Korsten, Laurika Rauch) en van die rustiger nuweres (Helene Bester, Stef Kruger) met so hier en daar afgewissel met een van "my tyd" se liedjies.

Aan die moderne Suid-Afrikaanse sangers kan ek egter nie vat kry nie....

Dit was egter lekker om net so bietjie in youtube se argiewe te gaan krap vanoggend.