Tuesday, August 26, 2014

Hoekom skryf jy nie?

Die vraag kom dikwels na my toe.

Inderdaad - hoekom skryf jy nie 'n boek nie?

Hoekom publiseer jy nie?
Jy het so lekker skryfstyl, gemaklike geselstrant en wat nog.

Ek het al baie daaroor gewonder.
Maar.... buiten vir die vraag of enigiemand dit sal wil lees, bly die grootste kwessie: Waaroor?

Waaroor sou mens skryf?

Want ek het nie 'n rype verbeelding nie, kan nie kinder- en skinderstories skryf nie. Tieners sal my taalgebruik uiters wantrouig bekyk en 'n woordeboek uit die oudedoos gaan soek. Oupas en oumas sal my skryfstyl dalk geniet, maar het ek iets om vir die wyse gryses te vertel?

Met al die inskrywings op my vorige kuierwerf (wat deur die gasheer vernietig is), het my ma 'n boek saamgestel, laat druk en bind en ek het 'n paar eksemplare verkoop, weggegee en geskenk.


Ek was so opgewonde oor hierdie "boek"...
By NAMPO een jaar, keer vriende van Naboom ons voor, vertel dat sy letterlik die boek opgetel het, begin lees het en eers drie-uur die volgende oggend die boek weer neergesit het.

Dit het my so lekker warm gevoel om die hart gegee.

'n Mede-tuisopvoeder en 'n boekuitgewer-vriendin op fb, merk een dag op dat haar man haar klankbord is vir al haar skryferasies. As hy lag, huil, opgewonde vra na die res - dan weet sy: Hier is 'n wenner. In reaksie op haar inskrywing merk ander skrywers ook op: Dis die groot kriterium vir publikasie.

Die klankbord.
Die naaste aan jou hart.
Hulle wat jou ken.

Miskien is dit hoekom ek nooit 'n boek sal skryf nie.

My naastes stel nie belang nie.

Ek moet erken, ek probeer tans werk aan 'n biografiese werk ook ons tuisopvoedingspad. Maar dit put my skoon uit. Daar is te veel om te sê, te veel wat ek wil deel, ek val myself voortdurend in die rede en op hierdie stadium lyk dit vir my deurmekaar.

Ek wou oorspronklik dit teen die einde van die jaar beskikbaar stel vir proeflees, maar....

Alle geval!
Groetnis... :-)





'n Getuienis

Dis al so lank gelede...
Die seun gaan al amper hoërskool toe.


Ek was blinkoog en vol drome toe ek op 21 met my droomman trou.
 'n Lewe vol liefde en belofte het op ons gewag.

Nog verder terug in die verlede. 
'n Dogtertjie van so 13.
'n Vraag: "En hoeveel kinders sou jy eendag wou hê?"
My antwoord was 'n definitiewe "Vier, tannie. Of ses."
Want sien, ek is een van net twee kinders
en my tannie had vier.
Dit het net so lekker gelyk - vier kinders.
Altyd maats.
Altyd beweging.

~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~

Ek was student.
Hy 'n dienspligtige.
Ons het mekaar op 'n kerkkamp ontmoet
en dadelik aangetrokke gevoel.

Daardie naweek, sommer so in die loop van die aand se gesels,
vra hy my: "Hoeveel kinders sal jy eendag wil hê?"
En ek antwoord: "Vier."
Hy glimlag en sê: "Ek ook."
Hy was een van vier.

~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~

Sy het by my geliefde se ouboet gekuier.
Sommige naweke was ons saam op die plaas 
en het 'n kamer gedeel.

Een aand vra ek terloops: "Hoeveel kinders sou jy eendag wou hê?"

~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~

Dinge was so mooi beplan.
Ons sou twee jaar wag (ons het immers die jeug aan ons kant)
en dan met 'n gesin begin.
Vir twee jaar sluk ek die Pil.
Maar my gemoedskommelinge,
my woedebuie, ontstel myself ook.

Uiteindelik die dag wat ek die goed kan weggooi.
Ons het nie lank gewag nie, ek dink dit was binne diie eerste maand,
toe ons opgewonde die toetspen dophou....
en twee strepies sien.

O, hoe genadig is die Vader, hoeveel seën is daar nie.
Ons dogter word nege maande later gebore.
Welgeskape, gesond, pragtig.


Te midde van min slaap, 
nageboortelike depressie,
aanpassings met borsvoeding,
vreugde en verwarring...

sou ons die eerste keer hoor
dat hulle al drie jaar lank sukkel.

Ek het nie geweet nie.
Vader, ek het nie geweet nie!

So begin 'n gebedsreis....
daaglikse gebed om 'n wonderwerk,
'n Goddelike ingryping - 
maar dit bly uit.

Alles, behandelings, doktersbesoeke, 
boererate, alternatiewe medisyne,
nog behandelings....
en gebed.

Twee jaar na ons dogter se geboorte,
word ons 'n seun ryker.
Midde-in die vreugde ervaar ons ook
die hartseer, die pyn.
En ons wonder: Hoekom, Here?

~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~

Met ons dogter op pad na vyf en boeta byna drie
is daar opgewondenheid in die lug.
Vreugde en jubeling, 
want 'n nefie of 'n niggie word verwag.

Met stomheid, verslaentheid staan ons 'n skrale drie maande later
voor die leë droom,
die droom met baie vrae.... wat weer en weer terugwentel na
Hoekom?

Hier. Net hier het my worstelpad met God begin.
Hier het ek werklik ervaar wat dit is om met God te pleit,
jou hart en siel voor Hom uit te stort, 
jou gebrokenheid, jou totale afhanklikheid van Hom te bely.

Oggend na oggend in my persoonlike Bybelstudie
telkens weer in Huisgodsdiens, 
tydens wyksbybelstudies 
is daar hierdie een gebedwens....
Ag, Here, voorsien.
Open U die moederskoot.

Op 'n dag in Augustus 1999, my Bybelstudie is uit Mattheus,
worstel ek weer met God oor 'n wonderwerk vir my geliefde skoonsuster en swaer.
Waarlikwaar, vir my, die een wat nie emosie wys nie, was dit 'n ween-gebed.
Meteens, duidelik hoorbaar, praat 'n stem: "Volgende jaar, hierdie tyd sal sy swanger wees."
Ek ruk omtrent my nek uit sy werwels los.
Wié het gepraat?
Maar dis net ek in die vertrek.

Ek reik na my Bybel en soek die betrokke teksvers:
Gen 18:14 "Is iets te buitengewoon vir die Here? Op die vasgestelde tyd
sal Ek terugkom. Volgende jaar hierdie tyd sal Sara 'n seun hê."

In stille verwondering het ek seker 'n volle vyf minute doodstil gesit.
Daarna my dagtaak aangepak.
Maar my gedagtes bly spook met hierdie vers,
hierdie Stem, hierdie Woord.

Die volgende oggend is ek vertwyfeld.
"Aag, dis maar net jou eie gedagtes. 
Dis omdat jy so graag wil hê dit moet so wees, dat jy nou al stemme hoor."
Met twyfel slaan ek my Bybel by die gedeelte in Mattheus oop.
Ek lees immers met 'n plan en is hier besig.

Daar, in die perikoop waar ek lees, staan dit duidelik, asof in dubbel-swart gedruk:
"Toe raak Hy aan hulle oë en sê: 'Wat julle glo, sal gebeur." - Matt 9:29
Wat jy glo....
Ek roep uit saam met die vader in Mark 9:24 "Ek glo Here, help my waar ek nog ongelowig is."
Nou glo ek seker dat dit wat ek die vorige dag gehoor het, 
van God self is. My gebed word 'n lof- en dankoffer.

Net om die volgende dag weer te twyfel.
Is dit, of is dit nie? Wat moet ek glo?
Wat is waarheid?
Vir sewe jaar bid ons al.
Vir sewe jaar "verniet"....
Wat maak vandag anders?

Dan spreek die Here weer deur sy Woord tydens my Bybelstudie:
"En gelukkig is elkeen wat nie aan My begin twyfel nie." - Matt 11:6

Drie keer het God dit bevestig.
Durf ek nog twyfel?

Soos 'n Gideon met sy skaapvliesie, het ek meer as genoeg bevestiging gekry.

Nou was dit die wag.
Wag op God.
Gelowig.

Augustus gaan verby - niks.
September gaan verby - niks.
Oktober en November gaan die paartjie vir behandeling - miskien is dit hoe God wil werk?
Nege maande van November af, bring jou immers by Augustus, dan nie? En dis mos wat God gesê het?

Ek hou, nee, ek klou hieraan vas.
Almal bid.
My Bybelstudie neem my deur tekste soos:

Matt 17:20 "En Jesus antwoord hulle: Deur julle ongeloof; want, voorwaar Ek sê vir julle, as julle geloof het soos ’n mosterdsaad sal julle vir hierdie berg sê: Gaan weg hiervandaan daarnatoe! en hy sal weggaan, en niks sal vir julle onmoontlik wees nie."

Matt 18:3 "en Hy sê: Voorwaar Ek sê vir julle, as julle nie verander en soos die kindertjies word nie, sal julle nooit in die koninkryk van die hemele ingaan nie!"

Matt 21:22 "En alles wat julle in die gebed vra, sal julle ontvang as julle glo."

Dan, die seerkry - weer geen resultate nie.
Wanhoop laat my roep: "Here??"
Maar ek hou aan glo, om drie dae na mekaar so versterk te word is reeds 'n wonderwerk.
Tog bly dit moeilik, my emosies ry wipplank. Desember, Januarie, Februarie...
Soms is ek vol geloof en moed, soos blyk uit 'n brief aan my niggie: 
"Ek sal bly glo tot ek in Julie of Augustus verkeerd bewys word."
Ander kere wil ek uitroep: "Here, was ek dan so verkeerd? Het ek verkeerd verstaan?"

6 Julie 2000
Blye dag.
Sy is reeds nege weke swanger!
Sonder enige mediese hulp
Slegs deur God se genadige ingryping!
Prys die Here, o my siel!

~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~

Terugskouend.
Ek het gehoor.
Ek het opgevolg en bevestiging gekry.

Maar ek wou Sara se belofte myne maak.
Ek wou binne 'n jaar 'n seun sien.
Terwyl Hy swangerskap beloof het.

~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~

Agtien maande na hierdie "Samuel"-nefie se geboorte
het ons weer 'n seun ryker geword - waarlik 'n geskenk van God.
En twintig maande daarna, 'n laaste seëning uit God se hand.
Nou het ons vier kinders gehad.


~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~

Dis baie jare later.
Ek het soveel geleer in hierdie jare.
Geleer om God te vertrou - met alles.
Geleer dat kinders uit en uit 'n geskenk, 'n gawe,
'n SEËN uit God se hand is.
Geleer dat wanneer ek beheer aan God gee,
dit ook beheer oor my liggaam insluit.
Dat my gesinsgrootte van God afhang, nie van 'n voorbehoedmiddel,
'n sterilisasie, 'n finansiële voorspelling nie.

Groetnis