Monday, January 5, 2015

Nuwejaarsvoornemens / Uitdaging: Orde Skep (1)

Wat is nou eintlik die sin in nuwejaarsvoornemens, net om dit na twee weke in die weer te laat?

Maar ek gaan tog probeer.

Het eintlik verlede jaar al begin...

Orde skep

Dis nie maklik nie, veral nie vir my nie.
Ek begin baie dinge, maar voltooi weinig.
Want ek verloor moed en spoed, die drang, die lus raak weg en dan laat ek los.

So gebeur dit dat ek omring is met halwe projekte. Letterlik honderde daarvan.




Die grootste uitdaging is waarskynlik die skool-rekenaar-naaldwerk-kamer. Dis 'n groot vertrek wat baie gou die p(l)akplek vir alles word.



 En waarvan die kaste en rakke altegou oorloop.
Ek sukkel om boeke weg te gooi, sal maklik van ander goed ontslae raak, maar boeke....


Alle geval, ek loop gedurende 2014 'n Australiese kuierwerf raak met 'n heerlike uitdaging: Ruk jou huis reg!

Kat het fantastiese idees waarvan ek 'n hele paar kon gebruik. Ek hou van haar styl en haar manier van skryf. Haar kuierwerf oorweldig 'n mens nie met 'n klomp inligting, massas onnodige skakels en advertensies nie. Dit is soos haar huis, netjies en georden.

Sy het in 2014 'n uitdaging geloods om van gemors, "clutter", ontslae te raak.  Ek het bietjie laat in die jaar ingeskakel en in elk geval nie die daaglikse take voltooi soos wat sy dit aanbeveel nie, maar ek het geweldige motivering en inspirasie in haar inskrywings gevind.

Dus het ek die kleinste vertrek in die huis getakel. (Altyd vir my makliker om in die badkamer te begin - resultate is vinnig daar).

Badkamer

In ons badkamer is 'n ou houtkassie van Geliefde se ouma af. Die kassie het 'n laai en 'n kasgedeelte daaronder.
Ek het maar altyd die medikasie in die laai en kas gebêre, met iewers tussenin die "muskiete-goed", sonbrandmiddels, ekstra seep en tandepasta, badsakkies en dies meer. Die inhoud het gewoonlik op jou getuimel wanneer jy die deur oopmaak.

In die laai het ek vierkantige 2-liter roomysbakke gehad met medisyne vir maag, verkoues en pyn daarin.

Ekself probeer al meer wegbeweeg van konvensionele medisynes na natuurlike en kruiemiddels toe, dus was die uitsorteer van medisyne verby hul vervaldatum relatief maklik. Ek het uiteindelik die medisyne uitgeskuif na ons slaapkamer toe.

Ek het ook 'n rak in die kasgedeelte ingesit, sodat ek die toiletpapier (wat altyd in ons slaapkamer was) daarin kon bêre.

Ek het ongelukkig nie vooraf foto's geneem nie, maar die resultaat werk vir ons:





My droom is 'n marmerblad vir die kassie.... Maar dit sal nie in my leeftyd gebeur nie.

Die kinders se tandeborsels en -pasta was altyd bo-op die kassie, maar ek het nou 'n beter plan gehad - 'n werkbare plan!




Elkeen het sy eie 2l roomysbak (die keer langwerpiges) waarin hy / sy hul tandborsel, tandepasta, haarborsel en room en enige ander toiletware kan bêre. In die middelste roomysbak voor het ek badsakkies klein opgevou en in plastieksakkies gesit. Die reghoekige badsakkie agter bevat my persoonlike goedjies.

En dit het my net die hardboard vir die rak gekos! Al die ander goed was in die huis.

Ons woon in 'n asbeshuis met 'n staalstruktuur. Water is dus 'n groot vyand. Voeg daarby dat ons 'n ou ysterbad het.

Ek het vroeër van die plastiese hake teen die muur geplak vir waslappe en badblomme, maar die gedrup op die bad het moeilikheid veroorsaak. My nuwe plan was 'n plantmandjie:



Ek het sommer badketting by die hardeware-winkel gekoop en daarmee die mandjie opgehang.. Wanneer ons bad en die mandjie uit die pad wil hê, haak ons die punt van die badketting aan die diefwering by die venster.

'n Ander goedkoop plan wat vir ons baie help in ons 2 x 3m badkamer (net een vir 'n gesin van ses) is 'n plastiese groente-rak:


Nou hoef daar geen bottels op die bad se rand te staan nie.

Die groen badmatjie het ons bediende van ou baaltou gehekel en een kersfees vir my gegee.

Wat ek dalk net hier moet noem is dat ons kinders elkeen 'n "salaris" kry en hul eie toiletware aankoop, dus het elkeen sy eie seep, tandepasta en sjampoe.

~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~

Hoofslaapkamer

Ons kamer is en bly maar 'n nagmerrie. Te veel goed, te veel tydskrifte, boerdery-fieterjasies, my leeswerk en boeke - immer boeke.

Wat ek tog hier wil deel, is die medisyne wat nou na my kamer geskuif het. Die rak wat die toiletpapier in die kas beslaan het, is nou die medisyne-rak:



Weer is roomysbakke handig ingespan. In die vyfliter-bakke is daar sinus-en-verkoue-medikasie, pynstillers, ontsmetmiddel, watte, pleisters en ontsmetsalf en die agterste een het al die diverse goedjies - spiermiddels, kontaklens-middels ens in. Die tweeliter-bak voor links het die maagmedikaasie in.

Ek is nie groot op allerhande vrouens-fieterjasies nie, gebruik bloot 'n deodorant en soms bietjie naellakverwyderaar. Dit staan sommer ook op hierdie rak.



Na aanleiding van Kat se inskrywing oor haar dogters se kaste, het ek besluit my persoonlike laai kort aandag. Dis groot en diep laaie, maar veroorsaak dat die fyn goedjies deurmekaar eindig. 

Toe ek dus hierdie heerlike mandjies by PEP raakloop, moes ek net 'n paar aanskaf - my verjaarsdag was 'n heerlike verskoning vir die mildadigheid. En nou pas die fyn goed netjies elkeen op sy plekkie.

~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~

Van Australië na Amerika

Met die aanbreek van 'n nuwe jaar het ek ook 'n nuwe uitdaging raakgeloop, die keer een uit Amerika. Maar ek byt nog nie so lekker aan haar manier van doen nie. Juis omdat Kat so 'n netjiese, skoon, rustige bladuitleg het, is Taylor se blad vir my baie besig en die inligting te veel.

Ek wil tog probeer om hier en daar te volg en raad in te win.


Die eerste week gaan oor die kombuis en spesifiek die kombuis-oppervlaktes.
Net een blik in my kombuis sal jou gou laat raai, dis my Achilleshiel.

Daar is net te veel goed - oral.

Ek gebruik glad nie meer my konvensionele stoof nie, die plank is bo-oor gesit om meer pakplek te hê.

Ek dink mens moet met hierdie uitdagings ook in gedagte hou dat die dames in Australië en die VSA sonder bediendes werk en ek het 'n voldag 6-dae van die week bediende.

Verder kan ek nie die hand-broodsnyer te diep bêre nie, want Eskom is so betroubaar soos die water op Naboomspruit.
 Maar oral staan botteltjies goed.
Goed wat ek nog nie plek voor het nie.
Ander goed is die elektriese bliksnyer, die elektriese broodsnyer...

Ai, soms wens ek iemand kan vir my die planne maak....
Ek gebruik daagliks 8 eiers net vir die rogbrood wat ek bak. Dus vloog ons deur eiers.

Ek koop gewoonlik 5 dosyn en het nie plek in die yskas daarvoor nie. Dus - ook op die kombuisvlakke.
 Hier op die "eiland" is my twee Snappy Chef-plate, my gebruikstoof. Die multi-sok teen die kas dra die twee plate, die ketel en soms die braaipan of elektriese stoompot.

Maar selfs op die vloer - orals is goed...
 Die ruimte bo-op die kaste is ook opgebruik met nog goeters.





Wel, hierdie week is die kombuis-oppervlakte my uitdaging.
Ek weet nie waarheen ek met die goed gaan nie, maar ek sal beslis moet gaan diep nadink en beplan.