Saturday, May 28, 2011

Winter op die plaas.

Wintertyd.

Strooptyd.

Komberse en warm poedings.

Lemoene, pomelo's en nartjies.

Loopneuse, lang aande.

Nie noodwendig 'n lekker tyd van die jaar nie. Glad nie my gunstelingtyd nie. O, nee, ek sal veel eerder die somer en herfs neem, dankie!

Stof en droë lug irriteer gevoelige neusgange en slymvliese. Dikkop, toeneus moet ek vroeg-oggend op om pap op die stoof te sit. Pa en die oudste twee seuns trotseer die vroeg-frisheid om kanonne te gaan aktiveer en met die haelgeweer die klein verpestings uit die oeste te verjaag. Ousus en kleinboet geniet 'n laaste inlê...

So verloop 'n wintersoggend, elke oggend op die Vlakte. Wanneer geliefde weer op die werf terugkom, is die arbeid hier en moet die werk begin loop. Dus geen ontbyt as gesin om die tafel nie. Ek hou nie daarvan nie.

Sodra die son al die dou opgedroog het, word die stroper se neus lande toe gedraai en weerklink die dreuning heeldag oor die werf. Tussendeur word gesif en ge-sak, of in die graandamme gestort.

Vanaand, skuins voor skemer, word die proses omgekeer. Vragmotor en stroper kom terug huis toe. Die seuns help vir pa om die vinke weer uit die lande te weer met haelgeweer en die kanonne word onskadelik gestel, teruggevat huis toe om môre weer opgestel te word.

Vinnig deur 'n bad, aandete nuttig en na huisgodsdiens, word die moeë lyfies bedwaarts gesleep.

Sou wat wou gee vir 'n kaggelvuur. Maar die asbeshuis leen hom nou nie daartoe nie...

Monday, May 23, 2011

Impak Kongres

Die afgelope naweek het die kurrikulum-verskaffer, Impak, hul jaarlikse kongres gehad. Hierdie kongres was op 'n plaas net hierbuite Naboomspruit aangebied en het die vorm van 'n familie-naweek en avontuurkamp aangeneem.

Die ouers het "lesings" gehad en verskillende sprekers het verskillende aspekte van tuisonderwys aangeraak. Dit was van halfnege soggens tot laat-laat aand. Intussen het die kinders op die plaas rondgeloop, die Waterberg leer ken en die bosveld in die vroeg-winter ervaar. Daar is perdgery en speletjies gespeel.

Omdat dit so naby is en ook omdat my ouers hier by ons gekuier het, het ek net as dagbesoeker hierdie kongres bygewoon. Ek het soveel gedagtes wat in my kop rondwarrel wat ek met TO-lesers wil deel. Maar intussen roep die kinders, pa soek ontbyt en die huishouding wag vir niemand nie. Voeg daarby dat ons nie water het nie, die pomp se motor is beskadig weens Eskom se voortdurende kragonderbrekings - dan is hierdie Maandag mooi BLOU.

Groetnis van huis tot huis

Saturday, May 14, 2011

Weer Begin

So op 'n manier - stukkie vir stukkie - sal ek maar weer begin.
Maar nou is dit laat en hierdie is net 'n proeflopie.

Die kinders is alleen in die huis en moet gebad kom, môre is Sondag, kerk en verbondsonderrig. Ek moet nog gaan voorberei.

Dus, kom ons beskou hierdie maar net as 'n toets - ek wil sien hoe dit gaan lyk as daar iets geskryf staan.

Mooi aand en soet slaap