Sunday, May 14, 2017

Vandat ek haar geken het, was sy in die rolstoel.

Dit was deel van wie sy was.

Ons was lief vir haar - baie.

Wanneer sy bietjie laat gelê het die dag, het ons mekaar in haar rolstoel rondgestoot.

Haar hande... reguit vingers wat nie meer 'n breinaald kon hanteer nie.

Min kon ek verstaan, wie as kind dink tog ooit daaraan, hoe en hoekom dit gebeur het. Dit was maar net só, ouma Frieda was in die rolstoel.

Ouma Frieda het altyd Wilson's Cream Caramels in die laai langs haar bed gehad. En pakke vol van daardie deurmekaar lekkers wat jy per kg by die kiosk in die groot winkels kon koop. O lekkerte wanneer sy sê:  "Trek gou oop die laai."

My herinneringe aan ouma begin op die plaas, ons grootwordplaas, in die Memel distrik. Ouma het tussen haar sewe kinders geswerf, dan drie maande by die een dan by die ander gebly. Dit was vir ons kinders lekker om ouma sulke tydjies by ons te hê. Maar ons gaan skool, ons weet nie van skoonfamilie en allerhande sulke dinge nie.

Op 'n dag, ek weet nie wie die besluit geneem het nie, het ouma 'n woonstel in Pretoria gekoop. Naby Burgerspark - dit onthou ek. Ons kon park toe stap en ons kon by die museum ook gaan draai - daar was 'n groot dinosourusgeraamte in die tuin van die museum.

Ouma het gemaklik en regtig gelukkig in haar woonstel gewoon. Sy was op die derde (as ek reg onthou) vloer en die hysbak het twee stelle deure gehad. So 'n traliegedoente en die eintlike glasdeure. Ek dink dit was dalk die tyd wat sy op haar gelukkigste was - totaal onafhanklik.

Maar, soos die jare aanstap, het ook die ouderdom haar gevang en kon die kinders haar nie meer alleen in die stad laat bly nie. My oom-hulle het 'n woonstel aan hul plaashuis gebou en ouma het 'n hele ruk by hulle op die plaas gewoon.

Kort daarna het Memel 'n eie dienssentrum vir bejaardes gekry. Ouma het 'n woonstelletjie daar gekry. Selfversorgend en gelukkig. Sy het die Bybelstudiegroep gelei. Memel se NG Kerk gemeente het 'n direkte uitsending van hul Sondageredienste na die ouetehuis en so kon hulle die erediens op hul televisieskerms sien. Ek was as getroude vrou ook by ouma in dié woonstel. Hier het sy die suiker in die yskas gebêre omdat die miere dit betrek. Ons het elke liewe keer wanneer na my ouers in Newcastle is, by ouma gaan koffie drink. Goeie en lekker tye.

Een dag kry ek die oproep. Ouma het uit haar bed geval. Hulle vermoed sy het 'n beroerte gehad. Sy gaan na Avondvrede op Vrede. Hier het ouma versorging gehad en tot met haar afsterwe in 2000 daar gewoon - sy was 80.


Maar, waar ek vandag by ouma ronddwaal.
Gewrigspyne.
Polse, enkels.
Elmboë, heupe, skouers.
Ja, selfs my rug....

'n Groot deel van die vrees rondom outo-immuniteitsiektes is dat 'n tweede en 'n derde siekte jou kan beetvat. Dis asof jou immuniteitstelsel 'n vernietigingspad vat en nie van koers af gaan nie.

Rumatoïede Artritis.
Anders as osteoartritis, anders as gewone rumatiek.
Die immuniteitstelsel val die gewrigte aan.

En dit was wat ouma Frieda in haar rolstoel geknel het.

Hierdie pyne wat my vasvat, maak my soms bang... ek sien vir ouma.

Hoeveel seer het sy gehad wat ons niks van geweet het nie? Hoeveel?

Sy was maar 44 toe haar man aan 'n hartaanval gesterf het.
Sy was meteens alleen met 'n skuldlas groter as wat hul eiendomme kon delg.
Alleen met sewe kinders, waarvan die oudste 24 en die jongste 11.
Alleen met 'n seun as tokkelok-student op Maties, die jongste drie nog op skool...


Die liggaam se immuniteitstelsel val nie net sommer die liggaam aan nie. Daar is eerstens 'n paar faktore wat teenwoordig moet wees (genetiese komponent, spanning en uitwendige faktore - voeding en blootstelling aan gif) en tweedens 'n sneller. Die sneller kan trauma, skok of langdurige (kroniese) stres wees.

Die sneller in ouma se geval was haar man se afsterwe.

Ek is 45.
Die enigste iets wat ek as sneller kan sien is kroniese stres...

Maar, wanneer ek in die bed lê en my gewrigte so seer is. Wanneer ek iets wil optel en my hand rebelleer, dan dink ek aan ouma... vir 35 jaar het sy met soveel pyn saamgeleef, en ons het nooit daarvan gehoor nie.

Gewrig- en spierpyne is deel van Hashimoto's, alhoewel Rumatoïede Atritis dikwels ook op Hashimoto's se spore volg.

Daarom is dit so belangrik om reg te eet, om die immuniteitstelsel se vernietigingspad te stuit.