Friday, July 22, 2011

'n Nuwe "mat" word deel van "skool".

Die hele ding het begin met 'n verstopte drein...

Ons woon op swaar turfgrond wat gou versadig word. Wanneer ons sulke lekker reënjare kry soos die afgelope vier vyf jaar, dan swel die turf en skuif alles wat in hom geanker is (soos onder meer pype en pale) lekker rond. Wel, dreinpype is nie mal hieroor nie.

Voeg nou hierby 'n uitgegroeide jakarandaboom, 'n apiesdoring wat nie verstaan dat akasias in die winter hul blare verloor nie en 'n witstinkhout wie se werk dit is om die dreineringsdeel se water te help absorbeer - dit spel sekerlik moles.

So sukkel ek nou al 'n hele klompie maande met die toilet wat opstoot wanneer dit gespoel word. Pa-goed word naar wanneer hy die werkie moet verrig, dus probeer ek sy las verlig. Ek het mettertyd al heel handig geraak met 'n tuinslang in 'n toiletpyp op. Elke dan en wan word die waterwerke van ons huishouding weer oopgespoel.

So 'n paar naweke gelede spook ek een Saterdag weer met dieselfde spookstorie. Saterdagaand is alles reggestel en terug na normaal. Sondagoggend is gevul met die gewone gejaag om almal betyds in die kar te kry sodat ons darem die preek kan hoor. Na die erediens word 'n gemeentelike bring-en-braai gehou, maar Liefde het reeds Saterdag gesê ons gaan nie. By die kerk, onder vele navrae, oorweeg ons dit, maar kom op die ou end liewer terug huis toe (ook maar goed.....)

Ek en Andries sit rustig in die kar en luister na 'n laaste lied op die CD, kinders is reeds met die sleutels weg om die huis oop te sluit, toe sus gil.
"Die water loop uit die huis uit."

'n Asbeshuis is nie geseël nie, die water het letterlik onder die huis se mure uitgeloop.
Kombuis onder water.
Gang onder water.
Badkamer onder water.
En die bewysstuk troon wit...

Na die laaste draai vroegdag voor kerk, geloop is en die toilet die laaste keer gespoel is, het die water opgestoot én die seël vanuit die tenkie nie gesluit nie. Genadiglik was dit net water....

So het ons dan die Sondagmiddag met "stof"suiers spandeer en water opgesuig, opgesuig en opgesuig. Daarna is waaiers en verwarmers gebruik om sover menslik moontlik al die water en vog te probeer uitdroog. MAAR

My matte is gevlek, liederlik gevlek, watervlekke. Want 'n volvloer mat met ondervelt is nooit-ooit werklik skoon nie en al hierdie vuil (veral in die gang) is nou modderige neerslag.

Genoeg is genoeg, besluit ek, nou is dit tyd vir Novilon. Vind uit, hoor by ma wat haar huis nou onlangs ook oorgemat en -verf het. Aankope is gedoen en die novilon is bestel.

Maar, voordat die nuwe novilon gelê kan word (en nee, ek gaan dit sowaar nie self doen nie, daar is professionele ouens wat dit kan doen!), moet die mat uitgehaal word.

So het ons skooldag vandag dan in operasie mat-uithaal verander. Eers moes al die meubels verskuif word. Die sitkamer het skool toe geskuif, die eetkamer sitkamer toe. Dit sluit in swaar hout-en-leer stel, 'n groot (10 - 12 sitplek) eetkamerstel, 'n soliede houtbuffet en die klavier....

Die kinders het geleer. Want die kwartrond moes uit (sonder om te breek, sodat ons dit weer kan gebruik) en die mat moes gelig word - interessante goed onder so 'n mat hoor!) sodat ons kon sien of die vloerlyste ook moet af.

So het hierdie dag moeg-moeg ten einde geloop, maar met bevrediging.