Sondag was geen uitsondering nie. Verskil was net, van die beeste loop nou ook op die sandplaas en daar is 'n groot geboude sementdam met 'n krip daarnaas. Op die turfgronde kan ons nie met steen en sement bou nie en word die water na tenks gepomp vanwaar dit na die krippe loop.
Rustig ry ons van die huis na Kalkfontein. Pomp die tenks aldaar vol water (en ek ervaar eerstehands hoe swak die weiding is, hoe droog dit regtig is!) voordat ons na Blinkwater ry.
Die eerste maroelaboom se drag was goed, hoewel die vrugte maar klein is. Die tweede boom met lieflike vrugte, het ons byna te laat besoek. Die meeste vrugte sou verlede week perfek gewees het.. Maar ons tel twee 20 liter-emmers vol vrugte op.
Uiteindelik wen die son ons en raak die skemer te donker om verder te buk en soek na vrugte in die gras. In die verte bulk-bulk-bulk 'n kalf.
Oppad terug hek toe, ry ons by die sementdam om om die watervlak na te gaan. Skielik roep Johan iets van agterop die bakkie. Dit moet ernstig wees, want Andries stop dood, skakel nie eens die enjin af nie, maar spring uit en hardloop dam toe. Wat op aarde sou die kind gesien het? Ek wag 'n paar tellings, maar hulle kom nie terug nie, inteendeel, Johan loop al op die wal van die dam om.
Uit die bakkie, trappe op en toe sien ek die kalf.... binne in die dam! (ongelukkig geen foto's nie - nie daaraan gedink nie)
(Hierdie foto is in Desember 2009 geneem)
Daardie dam is diep. Wanneer dit een keer 'n jaar leeggetap en skoongeskrop word, is dit 'n heerlike swemplek. Ek kan nie die bodem raak en kop bo water hou nie. (Toegegee, ek is 1,68m, maar die dam is seker 1.8m diep). My eerste reaksie was rok oor die kop, ringe af en .....
..... "Vergeet dit, daar is nie 'n manier dat ek hier inspring vir 'n bees nie."
Vir 'n mens sou ek sekerlik nie gehuiwer het nie, maar vir 'n bees trotseer ek voorwaar nie al daardie "paddaslyk", alge, beeskwyl en wie weet wat nog alles nie!
(byna soos hierdie krip in Maart 2010 gelyk het met al die alge... nee regtig, toe ek 'n kind was het ek in modderdamme geswem, in 'n sementdam met einste die drywende groen en alggroei teen die kante, maar "been there, done that" - nie nou meer nie!)
Onder sy ma se instruksie, waai Johan se klere ook en is hy met sy groen lewensredder-speedo daardie water in. Eers probeer die kalf (hou in gedagte dit is wilde plaasdiere, Brahman-kruisings, draadspringers wat vlug wanneer die bakkie die kamp inry) wegswem, maar dan is dit asof sy besef, hier is hulp.
Sy laat hom toe om haar die nekvel saam te sleep wal toe, maar sodra Andries haar aan die ore (ek het nog altyd gewonder hoekom teel ons beeste met sulke groot ore! Nooit gedink dis vir lewensredding uit damme nie) beetkry, ruk sy weg en swem na die anderkant. André is later saam met Johan in die water, ma doen steeds bikini-parade al op die damwal, maar kalfie weier om haar samewerking te gee.
Uitgeput vra Johan of daar nie tou in die bakkie is nie. Ek het gaan kyk en met 'n yslike rol platiese skitou weer die damtrappies uitgeklim. Andries het 'n lus aan die los punt geknoop en Johan swem weer na die kalf, dié keer met die tou. Dit blyk egter 'n onbegonne taak vir een mens te wees. André self is nie van veel hulp nie, want kalf trap water vir 'n vale en die kinders moet self ook watertrap.
Uiteindelik het Johan die kalf na die kant van die dam gestuur, Andries staan op die wal, ek het die luspunt van die tou in my hand gevat en Johan die rol. So stoot hy toe die rol onder die kalf se bors deur terwyl Andries die kalf aan die ore hou, ek kry die rol en maak die skuifknoop klaar.
Nou kan ons die kalf beter beheer. Johan swem saam met haar, ek loop op die wal met die tou soos 'n leiband en Andries is aan die anderkant om. By die trappe gekom, trek ons weer die kalf nader, maar sodra ons haar aan die kop wil lig, ruk sy weg. Op 'n keer is sy geheel onder water. Toe weer sommer meteens pap. Ek het my koud geskrik - het sy nou gevrek?
Eintlik was dit 'n stuk genade, dié slapword van haar lyf. Toe kon ons haar pote gryp. Andries het die voorpote uitgelig en ek kort die tou in. Daarna lig hy haar agterpote. Nou moet ons daardie lyf uitlig....
Ek het die tou en staan op die vlakker trappies. Andries is in die middel en probeer om die voorpote te gebruik om haar borskas te lig, Johan, aan die diepste trappies se kant, hou haar aan die agterpote en balanseer homself op die wal.
Uiteindelik, dis al donker, toe is die lyf uit die dam gerol, maar die damwal is 'n skrale 20-25cm breed en sy rol sommer dadelik deur, trappies toe. Kop by boonste trappies, boude na onder. 'n Agterpoot steek vas...ek sien al hoe skeur sy haar agterlyf oop....
Los! en daar gly sy die trappies af om onder doodstil te lê. Het sy nou 'n been gebreek? Wat is fout met haar? 'n Kopskud en daar, bulkende, storm sy weg - ma toe!!
Nat, koud en "kry jou klere", stap ons bakkie toe. Ek is so dankbaar dat my kinders swemles geneem het by sulke goeie instruktrises.
Hoe kom die bees in die dam?
Kyk op die foto hieronder...
Foto geneem in Okt 2010
Ons vermoed dat die kalf daar op is om te gaan water suip.
Maandag.
Ek en die kroos is dorp toe vir buitemuurse aktiwiteite, kruideniers en wiskunde klasse. Dis juis tydens een van die klasse wat Andries my bel. Daar was weer 'n bees in die dam. Dié keer 'n speenkalf-bulletjie. Groot.
En dis net hy en drie arbeiders. Geeneen kan swem nie.
Met 'n gespook het hulle hom kant toe gelok en weldra uitgekry.
Maar hoekom?
In die daglig kon hulle die fout opspoor. Die krip is dolleeg. Iets moes die toevoerpyp verstop het.
En daardie "iets" was 'n dooie miskruier....
Nou is die trappies toegemaak - met ysterlatte - sodat geen bees weer sy swemstyle en oorlewing kan toets nie.