Thursday, October 16, 2014

'n Droom word waar (deel 2 - vakansie in NZ)

In die maande se aanloop tot ons uiteindelike droom-vakansie het ons ook 'n kwota wonderwerke en frustrasies beleef. Die een wat die meeste my kop omgedolwe het, was die volledige geboortesertifikaat wat vir elke minderjarige kind vereis word. Dis nuwe wetgewing wat eers Julie, later na September en uiteindelik na 2015 uitgestel is.

Maar ek moes na binnelandse sake, ek kon nie wag op uitstel-datums nie... Van die drie wat ek nodig had, het net een opgedaag voor ons gevlieg het - die ander is steeds nie hier nie!

Die laaste week voor vertrek is dol.
Buiten al die tasse wat gepak moet word, is daar twee boerderye waarvan die administrasie en moontlike rekeninge afgehandel moet word.

~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~

Om tasse te pak vir 'n kuier in Nieu-Seeland vanaf Noord-Transvaal se Bosveld is nogal 'n uitdaging. Hier staan ek in 'n sonrok, kaalvoet en moet wintersklere in tasse kry. Regtig warm baadjies, ekstra kouse, wollerige flennie-nagklere, dun komberse, denims en denims en denims. Nog 'n baadjie, net vir die wis en die onwis - terwyl die kraaie buite gaap.

Ekonomiese klas word tot twee tasse met 30kg totale gewig in die vragruim en twee stukke handbagasie met 'n totale gewig van 10kg beperk. My ma het gevra dat ons twee tasse vir hulle ook by ons gewig moet inreken (ons het immers 12 tasse en 180kg tussen ons ses!)

Ek het by Homemark vakuumsakke gekoop. Dit seël met 'n dubbele seël en dan suig jy met 'n stofsuier al die lug uit die sak. So kan jy heelwat meer klere in 'n koffer gepak kry (en uiteindelik 'n baie, baie swaar tas hê om te dra!)

So lyk die pakkie


                                  
                                            'n Uitgesuigde sak klere.












Die een ding wat my hoofbrekings besorg het, was hoe om by die lughawe te kom. Ons het allerhande opsies oorweeg en afgekeur. Om ons kar in die parkade te los was net buite die kwessie - die versoeking in SA is net te groot. Voeg daarby dat ons met 'n waentjie móét saamry om al ons bagasie in te kry - ons het sewe stukke bagasie vir die vragruim en sewe stukke handbagasie gehad.

My swaer sou ons moes stad toe neem, ons moet 15:00 op die lughawe wees (vlug vertrek eers 18:15, maar om bymekaar te kon sit, moes ons vroeg inweeg). Ons motor kan sewe mense met gemak vervoer, agt begin styf sit. Skoonma sou dus alleen tuis moes bly.... Dit kwel my. Jan Smuts lughawe (ek kan die nuwe name nie gewoond raak nie), is so drie ure se ry van ons af - mits die verkeer dit toelaat - en dan moet swaer nog terug huis toe in die laatmiddag, Vrydagmiddag, verkeer. (Almal aan die Rand dink mos Vrydag is gemaak om noord te ry!)

Uiteindelik besluit ons om met die Gautrein na Sandton en dan na Jan Smuts te ry. Ja, met sewe stukke bagasie en sewe stukke handbagasie....

~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~
Vrydag 26 September 2016

Na 'n nag waarin ek bykans niks geslaap het nie, is dit uiteindelik die groot dag.

My geliefde en ons jonger kinders se heel eerste vliegtuigrit.

Ons is so 11:00 in die kar en gereed om te ry. Waentjie gehaak, tasse ingepak, paspoorte en kaartjies weer en weer gesoek, net om dubbel seker te wees dit is wel in.

In die parkeerarea van die Gautrein by Hatfieldstasie. Tyd om te groet.

Ek en André

Leticia en Johan

Henry















Andries, André en Johan

















Die rit het goed afgeloop, die trein was relatief leeg en ons het gemaklik gesit. Almal opgewonde oor hierdie heerlike nuwe avontuur. By Sandton moes ons een vloer verder die grond in (Sandton-stasie is alreeds ondergronds) om die platform vir treine na die lughawe te kry. Trappe af met tasse van gemiddeld 15kg elk....

Ons nader Johannesburg se lughawe

Hou boet! Die wa wil af....

Ons vliegtuig word gereed gemaak.

Om te staan en beweeg....
Vanaf die Gautrein se stasie tot in die lughawe gebou - gerieflik onderdak. Maar dan moet jy trappe af - ons het nie dadelik die hysbak gesien nie en die roltrappe met die swaar bagasie het hard op die seuns se arms gewerk!

In die lughawe moes ons inweeg, ons opstap-kaartjies kry en wag, geduldig ure omkry...

Ek moet tog die staaltjie deel.

Met die inweeg van ons vragruim-bagasie, is ons hulp 'n Kleurling. Ons praat Engels. Ek vra vir hoom of ons asseblief al ses bymekaar kan sit, omdat ons 'n gesin is en dit ons eerste vlug is. Dit was bietjie van 'n probleem, want die kaartjies was ingedeel 3-2-1 en daarvolgens word die sitplekke toegedeel. Ons kry wel op die aansluitingsvlug vanaf Sydney na Auckland (in 'n Boeing 737) al ses bymekaar sitplek, maar vir die lang vlug vanaf Johannesburg na Sydney ('n Boeing 747) moes hy 'n senior roep - saam is hulle daar weg en later weer terug.

Hulle kon nie vir al ses bymekaar nie, maar ons kon darem drie en drie bymekaar sit.

Ons opstap-kaartjies
By die ingang waardeur ons beweeg na ons vliegtuig, sit ons en wag. Totdat daar uiteindelik 'n hele paar sekuriteitsbeamptes opdaag, ons almal opjaag om in 'n ry te gaan staan (regtig!). Nou word ons handbagasie deursoek. Dit is nie soseer die lughawe as wat dit Qantas self is nie. Hulle het 'n 90-jaar lange skoon rekord en wil dit so behou. 

Nadat die handbagasie wat ek dra, deursoek is, beweeg ons na die waglokaal, weer deur beamptes wat eers jou instap-kaart bekyk. En sowaar, dis weer dieselfde man. Ek vra hom of ek moet wag vir die res van my gesin. Hy lag en sê nee, hy ken ons mos... Vir al die ander beamptes sê hy: "I know these people, they are my family."

Nou kyk, vir my gesin was dit ietwat van 'n skok, maar ons weet mos. En hierdie keer het dit voordele ingehou :-).

Ek gaan nou net 'n paar foto's deel van die vlug en aankoms in Auckland. Vandat ons 18:15, Vrydag 26 Sept (RSA tyd) opgestyg het totdat die laaste foto geneem is, het 17 ure en 35 minute verloop. Maar volgens die oorlosie het ons 20:50, Saterdag 27 Sept (NZ tyd) geland - dus meer as 26 uur...



Die drie oudste kinders het so 5 rye voor ons gesit - gelukkig almal langs die venster sodat elkeen 'n beurt kon kry om uit te kyk. Te heerlik die moderne vliegtuie waar elke persoon sy eie skermpie het en self kan kies waarna jy wil kyk.
Vasgegordel en gereed vir opstyg. Op Johan se skoot is sy kombersie - vir later se slaap.  Elke passasier kry 'n kombersie en 'n kussing. Na ete word die kajuit se ligte gedomp en kan mense gemaklik (?) slaap.

Hoog bo die wolke!!
Die vlugroete. Interessant genoeg vlieg die rederye nie in reguit lyne nie, maar probeer om lugstrome "te ry". Ons het hierdie inligting baie waardeer.


Die wag vir ons aansluitingsvlug op Sydney. Met die gaan-slag was ons gelukkig, ons het net 'n uur gehad tussen land en weer opstyg. Met die terugkom moes ons drie ure omkry.
Ons is reeds in die vliegtuig, maar ons tasse moet nog gelaai word.....


'n Veel moeër groepie - nou die laaste been, die aand binne.


Dis na nege-uur, Saterdagaand, 'n redelik muwwe, moeë klomp reisigers moet nog die uur en 'n half rit na Orewa deursit.... Maar ons is so opgewonde! Môre, net môre, sien / ontmoet ons ons familie, neefs en niggies.






Tuesday, October 14, 2014

Hoeveel slapies kan jy tel? (deel 1 - vakansie in NZ)

Vyfhonderd-agt-en-dertig.

Gedurende April 2013 is die gedagte uitgespreek, 'n vraag gestel en 'n datum bepaal.
'n Geskenk groter as groot.
'n Verrassing beter as enige droom of fantasie.

As, indien, miskien en dalk....

My ma het gewens en my pa het gesê.
~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~

In Julie 1997 het my broer na Nieu-Seeland vertrek. In Suid-Afrika was sy vel te lig en sy taal te Europees. Hier was geen werk en geen toekoms vir 'n Afrikaanssprekende, blanke ingenieur nie.

Ons is net twee kinders - ek en hy. Skielik is dit net ek - en hy doer vêr..... Ons eie kinders (daar was toe net twee) was maar 30 maande en 7 maande oud. Sou ons ooit weer sien?

Christiaan, Leticia en Henry in 1997
~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~

In Januarie 2001 trou hy. Daar is nie regtig geld nie, maar ons koop kaartjies om die geleentheid by te woon. Leticia en Henry is bruidsmeisie en -jonker. My skoonsus (in Suid-Afrika op die plaas) is swanger met hul enigste - ons sou graag ook hier wou bly vir hulle.... Uiteindelik bly manlief agter en vlieg net ek en die twee kinders saam met my ouers oor.
Ek, Leticia en Henry in 2001, Nieu-Seeland
Saam-saam is ek en die nuwe Kiwi-skoonsus later swanger - wêrelde van mekaar verwyder. Die niggie en nefies sou mekaar eers jare later ontmoet.

Na drie jaar is die huwelik op die rotse.

~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~

Dan ontmoet hy sy droomvrou. 'n Suid-Afrikaner in Kiwi-land. Ek ontmoet haar wanneer ek in November 2008 alleen saam met my ma gaan kuier. Hulle trou in 2009.

Christiaan se troue in 2009
Nou het my ouers nege kleinkinders. Vier in Suid-Afrika en vyf in Nieu-Seeland. 

~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~

In die 17 jaar wat my broer al in Nieu-Seeland woon, was hy vier keer (alleen) in Suid-Afrika op besoek en ek was twee keer daar.

In 2013 word my pa 70; 2014 volg ma in sy spoor. En die besef is helder, tyd gaan verby. Daarom vra ma, sy vra nooit veel nie, maar die één ding wil sy van pa vra: Dat hul kleinkinders mekaar een maal mag ontmoet. Om een keer die hele uitgebreide gesin onder een dak te mag saamgooi.

Vanweë die komplikasies wat in hersaamgestelde gesinne ervaar word, is dit makliker om ons gesin van ses na Nieu-Seeland te neem as om hul gesin van sewe hierheen te bring. Makliker, nie goedkoper nie.

Dis die droom.
Maar hoe verwerklik mens dit?
Hoe lyk jou begroting?
Hoe koördineer jy twee boerderye, 'n gimnastiekklub en 'n student se tye ten einde 'n datum te kry wat sal werk? Terselfdertyd moet jy in gedagte hou dat die ander ouers ook toegang tot hul kinders oor vakansietye het, maar vakansietyd is die engiste wat die kinders saam kan kuier...

So word die gedagte gebore, word ons stilweg gevra na datums en begin 'n opgewondenheid smeul. Die internet word ingespan en die slapies getel: 538 slapies tot 'n droom.

My ma is die een wat beplan, droom, begroot, skaaf, aansny en uithaal. Hier besnoei, daar bespaar. 
Op 'n dag bel sy - sy is jammer, maar dit gaan nie moontlik wees nie. Die koste is net te groot. My kinders se gesiggies, die teleurstelling in my eie hart. Self kan ons nie bydra nie. Die oesjaar is bitter droog en spaargeld bestaan nie.

Uiteindelik het ons berus. As dit dan so moet wees, dan is dit so.

~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~

'n Ruk later het dinge verander. 
Ons kon weer hoop.
Ons kon beplan en droom.

In my e-posbus het die vliegkaartjies een-een aangeland.
 

Dinge het algou op 'n drafstap gegaan en ons het opgewonde die dae afgetel.

Dag 14 (Vrydag) kry ek 'n oproep van my pa. Ma het 'n baie slegte nag gehad. Haar hart is nie lekker nie, sy gaan dokter toe. As dinge so verloop, moet ons gesin maar alleen gaan. - Hoe op aarde dink hy.....
Ek bel later my ma om by haar self te hoor. Sy is vasbeslote, maak nie saak wat gebeur nie, vlieg vlieg sy. Die dokter en my pa is sommer laf, sy het te lank beplan, te veel uitgesien, te hard gespaar om nou op te gee. Nie eens haar hart wat sy pas tot gekkigheid versnel, sal haar van die vliegtuig afhou nie. Maar sy gedra haar rustig en drink haar pille soos voorgeskryf. Dinsdag besoek sy die dokter vir 'n opvolg en hy verklaar haar gesond.

So vertrek my ouers 'n week voor ons. My broer-hulle verwag my ouers, maar beslis nie vir ons nie....

*********************************************
Ek vertel môre meer..... :-)













Thursday, August 28, 2014

Prioriteite Verskil

Prioriteite verskil.
Dit verskil totaal van mens tot mens.

Maar die feit dat dit verskil beteken nie dat ek reg en jy verkeerd is nie.
Dit beteken bloot dat ons die lewens vanuit verskillende hoeke benader.

Sekere goed is net nie vir my belangrik nie. Dit hinder my nie in die minste nie.
Soos:

  • Skurwe hakskene
  • Grys hare
  • Klere
  • Skoene 
  • Skoonheidsmiddels
Skynbaar hinder dit ander mense.... die feit dat dit my nie hinder nie.... of so vermoed ek ;-)

Ek is 'n kaalvoetloper. Van kleins af. 
Ek verkies om stewig vas te trap met my tone en hakke, om die gras te voel, die sand, die gruis; om die hitte van die warmgebakte turf te voel, die koel van 'n geteëlde vloer. Die bosveld het egter uitdagings aan my kaalvoete gestel, papierduwweltjies groei in plate en steek seer, so ook die groot apiesdoring in ons tuin.

Aan die einde van elke winter neem ek my opnuut voor: Hierdie keer gaan ek aanhou skoene dra. My voete is nou mooi sag na die winter se skoendraery, ek moet net volhou.... tot die eerste warm Augustus-dag... dan ruk die hitte my baadjie af en skoene uit! Salig. Heerlik om weer te kan asem haal deur my voete.

Maar ek kry nogal gereeld 'n afskuurder en hakke-salf vir 'n verjaardaggeskenk. 'n Bedekte boodskap? 

Die dag waarop ek die eerste spierwit haar op my kop ontdek het, was 'n skok, wat gelukkig gou verbygegaan het. Vandag is daar al soveel dat uitpluk en ontslae raak van 'n swak opsie is wat moontlik 'n bles tot gevolg kan hê.

Ek is egter glad nie ontsteld daaroor nie. Inteendeel, ek mag erken dat ek trots voel op my gryserwordende kroon. 'n Stille getuienis van jare se ondervinding, jare goed spandeer. 

Ons jongste se opmerking: "Maar mamma, die haar is nie grys nie! Dis dan spierwit!!" was vir my kosbaar. Ja, my kind, dis nie grys nie, dis spierwit. Soos 'n nuwe kleed. 

Persoonlik stem ek met my moeder saam - die witter harekleed werk sagkens met die beplooide tronie wat daarmee saamgaan. Dit versag die rimpels en vorm 'n lieflike agtergrond. 

Geliefde sê op 'n dag: "Sjoe, maar jou kuif is darem nou regtig wit." Waarop ek net skalks lag en antwoord: "As ek my hare moet kleur, koop ek vir jou 'n pruik." 

Klere was nog altyd vir my bloot 'n noodsaaklikheid. Definitief nie iets om 'n jaar se salaris op te spandeer nie. Solank dit gemaklik sit en alles bedek wat bedek moet wees (wat weer 'n kwessie van persoonlike smaak is), is ek tevrede.

O, kyk, ek vrek oor 'n mooi rok en sal by 'n winkelvenster stilstaan, my oë vasgenael op die winkelpop, maar sodra ek die RRRR sien, word die rok sommer 'n stuk lap. Ek kan maar net nie vatkry aan die prys van klere nie.!

Ek dra langbroek in die winter, bloot omdat ek koud kry, maar kom somer, kan ek nie wag om my rokke uit te hang nie. Heerlikheid! Tog is dit nie 'n voorkeur-aankoop nie. Ek sal nie 'n rok koop net omdat dit mooi is nie - ek moet 'n rok nodig hê, voor ek koop.

Dieselfde geld skoene. Hoe op dees aarde mense skoene vir elke uitrusting kan regverdig.... 

Kry ek so lag.... ek het mos vertel van die nuwe uitdaging. Een van die opdragte is om jou skoene deur te gaan en ontslae te raak van die onnodiges. O, aarde, ek het gaan tel - ek het net ses pare skoene. Vir winter is daar: 'n paar vellies, stewels vir kerk en my pantoffels; vir somer het ek: 'n paar sandale vir dorpdae, 'n paar sandale vir kerk en 'n paar plakkies vir op die plaas dra.... want sien, ek loop meestal kaalvoet en skoene is regtig nie op my lys van prioriteite nie. Buitendien om meer as R150 vir 'n paar skoene te betaal laat my skoon arig voel.

Die aanloop vir hierdie inskrywing lê egter by die laaste van my minste-prioriteitslysie. Skoonheidsmiddels.

Was dit nie vir ons son en warm wind nie, was dit nie vir die dordroë winters nie, sou ek seker geen room ooit aan my gesig gesmeer het nie.

My Lübbe-ouma het die mooiste-mooiste vel gehad.
Op 80 was sy byna plooi-loos. 'n Sagte byna deurskynende pienk vel. Ek het haar op 'n keer gevra na haar skoonheidsgeheime. "My kind, ek het nooit enige grimering gedra nie, nooit. En al die jare my gesig met gewone groen Sunlight-seep - koekieseep - gewas."

Is al ons roompies en dinge nodig?

Ekself gebruik 'n gesigseep, 'n verfrisser en 'n dagroom - een keer per dag. Geen verdere iets nie.
En hierdie volslae aankoop doen ek sommer by Clicks. Hul eie handelsmerk. Want dit kan ek bekostig.

Ek kan helaas nie spog met ouma se vel nie, maar ek dra darem so 'n ietsie van haar gene. My vel voel goed en gevoed. 

Maar, dan kry ek hierdie oproepe van tele-bemarkers.... Hierdie en daardie produk, net so 'n paar vrae (waarvan een is hoe groot is jou maandelikse inkomste voor aftrekkings - wonder hoekom?) en dan 'n pakkie in die pos. 

Nee, dankie.

Wanneer ek oor dit alles nadink, alles in ag neem, dan wonder ek - nou wat is vir my prioriteit?
Klaarblyklik kan ek nie geld op myself spandeer nie - een of ander sielkundige mag dalk 'n teorie hê oor die hoekom daarvan, maar dis van geen belang nie. Ek kan nie geld spandeer op my hare, klere, skoene of skoonheidsroetine nie - dis alles ék-gerig en ek is nie gemaklik daarmee nie.

Iemand anders sal totaal anders daaroor voel - en ek gun elkeen dit.

My prioriteite? Dinge waarvoor ek selfs broodgeld sal gebruik....?
  • Gesonde kos
  • Boeke
Ek sal, ongeag die koste, nie huiwer om rogmeel, 7.5-aanvullings, heuning, vars groente en vrugte, vars vis en vleis te koop nie. Ons probeer sover moontlik die bloedgroep-dieet te volg en sny gevolglik koring en alle koringprodukte uit - dis verbasend hoe jou winkelwaentjie krimp wanneer jy MSG, koring en ander bygevoegde geur- en kleurstowwe verny. Ek koop ook deesdae net seesout en nie meer gewone tafelsout nie.

Boeke, o boeke. Goeie Afrikaanse boeke, reisverhale, biografieë. Genadiglik het ons dorpie 'n pragtig toegeruste biblioteek.... maar ek kan steeds nie 'n boekwinkel, veral nie 'n tweedehandse boekwinkel, verbyloop nie.

Laastens videos. Maar ek is versigtig om hierdie op my lys te plaas - ek is nie baie lief vir videos kyk nie. Ek verkies dokumentêre programme en videos met 'n geestelike boodskap. Ek sal egter nie broodgeld gebruik om videos te koop nie.

Hoe lyk jou prioriteitslys? Wat sal jy nooit koop nie en waarsonder kan jy nie gaan nie?

Groetnis






Wednesday, August 27, 2014

Uitdaging (alweer :-) )

Ek kan maar nie 'n uitdaging weerstaan nie.
Hier het ek al weer pens en pootjies geval....

Dalk is dit 'n bedekte seën dat ek nie 'n baie sosiale mens is nie. Dat ek eerder my gesinstyd koester as om die huis se deure wyd oop te gooi.

Want ek sukkel bietjie met orde, met chaos, met deurmekaar.
Eintlik baie.
Eerder, as ek werklik eerlik is, oorweldig my chaos my.

Dan kom daar dae wat ek radeloos raak, vlug uit my deurmekaar huis na die ewe deurmekaar skool en ontvlugting op die internet kry. Met soekfrases soos "How to declutter" of "How to organise your life" goegeloer ek dan rond.

So kom ek op 'n webwerf af wat my nadertrek,
                                               wat my bekoor,
                                                   soms selfs irriteer, want sy is perfeksionisties netjies......
                                  ...terwyl ek lyk en voel soos Einstein, woeste hare, deurmekaar verstrooide professor.

Kat het egter 'n uitdaging, 'n stap-vir-stap-plan na orde.
My droom.

Net 'n droom.
Want ek het nog nie een van die daaglikse takies uitgevoer nie.

Wat ek wel kan getuig is dat dit my 'n oopkop gee om na probleemareas te kyk, planne te bedink.

Miskien kan ek hier, op my eie kuierwerf, deel oor my "vordering". So dan en wan 'n foto van die voor en na wys, planne deel (want ek kan nie soos Kat, kort-kort winkels besoek en geld bestee nie - ek het dit nie.) As 'n boer 'n plan kan maak, dan moet boer se vrou twee planne hê.

My eerste poging (dis altyd my eerste poging!), was die badkamer.
Wel, dis nog nie afgehandel nie, maar dis die kleinste vertrek en dikwels die deurmekaarste en wanordelikste. Die bevrediging van 'n gedane taak, sonder dat dit my moedeloos maak weens die omvang daarvan, word die maklikste bereik in klein treetjies.

Ek sou graag wou vernuwe, verf, nuwe gordyne, en dies meer, maar vir eers is net 'n regpak en regskud genoeg.

Nou gou die kamera gaan haal en 'n paar foto'tjies neem van die eerste tree op 'n nuwe pad (ai-jai-jai - hoe lank ek op die pad gaan bly weet ek nie!)

Groetnis

Tuesday, August 26, 2014

Hoekom skryf jy nie?

Die vraag kom dikwels na my toe.

Inderdaad - hoekom skryf jy nie 'n boek nie?

Hoekom publiseer jy nie?
Jy het so lekker skryfstyl, gemaklike geselstrant en wat nog.

Ek het al baie daaroor gewonder.
Maar.... buiten vir die vraag of enigiemand dit sal wil lees, bly die grootste kwessie: Waaroor?

Waaroor sou mens skryf?

Want ek het nie 'n rype verbeelding nie, kan nie kinder- en skinderstories skryf nie. Tieners sal my taalgebruik uiters wantrouig bekyk en 'n woordeboek uit die oudedoos gaan soek. Oupas en oumas sal my skryfstyl dalk geniet, maar het ek iets om vir die wyse gryses te vertel?

Met al die inskrywings op my vorige kuierwerf (wat deur die gasheer vernietig is), het my ma 'n boek saamgestel, laat druk en bind en ek het 'n paar eksemplare verkoop, weggegee en geskenk.


Ek was so opgewonde oor hierdie "boek"...
By NAMPO een jaar, keer vriende van Naboom ons voor, vertel dat sy letterlik die boek opgetel het, begin lees het en eers drie-uur die volgende oggend die boek weer neergesit het.

Dit het my so lekker warm gevoel om die hart gegee.

'n Mede-tuisopvoeder en 'n boekuitgewer-vriendin op fb, merk een dag op dat haar man haar klankbord is vir al haar skryferasies. As hy lag, huil, opgewonde vra na die res - dan weet sy: Hier is 'n wenner. In reaksie op haar inskrywing merk ander skrywers ook op: Dis die groot kriterium vir publikasie.

Die klankbord.
Die naaste aan jou hart.
Hulle wat jou ken.

Miskien is dit hoekom ek nooit 'n boek sal skryf nie.

My naastes stel nie belang nie.

Ek moet erken, ek probeer tans werk aan 'n biografiese werk ook ons tuisopvoedingspad. Maar dit put my skoon uit. Daar is te veel om te sê, te veel wat ek wil deel, ek val myself voortdurend in die rede en op hierdie stadium lyk dit vir my deurmekaar.

Ek wou oorspronklik dit teen die einde van die jaar beskikbaar stel vir proeflees, maar....

Alle geval!
Groetnis... :-)





'n Getuienis

Dis al so lank gelede...
Die seun gaan al amper hoërskool toe.


Ek was blinkoog en vol drome toe ek op 21 met my droomman trou.
 'n Lewe vol liefde en belofte het op ons gewag.

Nog verder terug in die verlede. 
'n Dogtertjie van so 13.
'n Vraag: "En hoeveel kinders sou jy eendag wou hê?"
My antwoord was 'n definitiewe "Vier, tannie. Of ses."
Want sien, ek is een van net twee kinders
en my tannie had vier.
Dit het net so lekker gelyk - vier kinders.
Altyd maats.
Altyd beweging.

~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~

Ek was student.
Hy 'n dienspligtige.
Ons het mekaar op 'n kerkkamp ontmoet
en dadelik aangetrokke gevoel.

Daardie naweek, sommer so in die loop van die aand se gesels,
vra hy my: "Hoeveel kinders sal jy eendag wil hê?"
En ek antwoord: "Vier."
Hy glimlag en sê: "Ek ook."
Hy was een van vier.

~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~

Sy het by my geliefde se ouboet gekuier.
Sommige naweke was ons saam op die plaas 
en het 'n kamer gedeel.

Een aand vra ek terloops: "Hoeveel kinders sou jy eendag wou hê?"

~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~

Dinge was so mooi beplan.
Ons sou twee jaar wag (ons het immers die jeug aan ons kant)
en dan met 'n gesin begin.
Vir twee jaar sluk ek die Pil.
Maar my gemoedskommelinge,
my woedebuie, ontstel myself ook.

Uiteindelik die dag wat ek die goed kan weggooi.
Ons het nie lank gewag nie, ek dink dit was binne diie eerste maand,
toe ons opgewonde die toetspen dophou....
en twee strepies sien.

O, hoe genadig is die Vader, hoeveel seën is daar nie.
Ons dogter word nege maande later gebore.
Welgeskape, gesond, pragtig.


Te midde van min slaap, 
nageboortelike depressie,
aanpassings met borsvoeding,
vreugde en verwarring...

sou ons die eerste keer hoor
dat hulle al drie jaar lank sukkel.

Ek het nie geweet nie.
Vader, ek het nie geweet nie!

So begin 'n gebedsreis....
daaglikse gebed om 'n wonderwerk,
'n Goddelike ingryping - 
maar dit bly uit.

Alles, behandelings, doktersbesoeke, 
boererate, alternatiewe medisyne,
nog behandelings....
en gebed.

Twee jaar na ons dogter se geboorte,
word ons 'n seun ryker.
Midde-in die vreugde ervaar ons ook
die hartseer, die pyn.
En ons wonder: Hoekom, Here?

~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~

Met ons dogter op pad na vyf en boeta byna drie
is daar opgewondenheid in die lug.
Vreugde en jubeling, 
want 'n nefie of 'n niggie word verwag.

Met stomheid, verslaentheid staan ons 'n skrale drie maande later
voor die leë droom,
die droom met baie vrae.... wat weer en weer terugwentel na
Hoekom?

Hier. Net hier het my worstelpad met God begin.
Hier het ek werklik ervaar wat dit is om met God te pleit,
jou hart en siel voor Hom uit te stort, 
jou gebrokenheid, jou totale afhanklikheid van Hom te bely.

Oggend na oggend in my persoonlike Bybelstudie
telkens weer in Huisgodsdiens, 
tydens wyksbybelstudies 
is daar hierdie een gebedwens....
Ag, Here, voorsien.
Open U die moederskoot.

Op 'n dag in Augustus 1999, my Bybelstudie is uit Mattheus,
worstel ek weer met God oor 'n wonderwerk vir my geliefde skoonsuster en swaer.
Waarlikwaar, vir my, die een wat nie emosie wys nie, was dit 'n ween-gebed.
Meteens, duidelik hoorbaar, praat 'n stem: "Volgende jaar, hierdie tyd sal sy swanger wees."
Ek ruk omtrent my nek uit sy werwels los.
Wié het gepraat?
Maar dis net ek in die vertrek.

Ek reik na my Bybel en soek die betrokke teksvers:
Gen 18:14 "Is iets te buitengewoon vir die Here? Op die vasgestelde tyd
sal Ek terugkom. Volgende jaar hierdie tyd sal Sara 'n seun hê."

In stille verwondering het ek seker 'n volle vyf minute doodstil gesit.
Daarna my dagtaak aangepak.
Maar my gedagtes bly spook met hierdie vers,
hierdie Stem, hierdie Woord.

Die volgende oggend is ek vertwyfeld.
"Aag, dis maar net jou eie gedagtes. 
Dis omdat jy so graag wil hê dit moet so wees, dat jy nou al stemme hoor."
Met twyfel slaan ek my Bybel by die gedeelte in Mattheus oop.
Ek lees immers met 'n plan en is hier besig.

Daar, in die perikoop waar ek lees, staan dit duidelik, asof in dubbel-swart gedruk:
"Toe raak Hy aan hulle oë en sê: 'Wat julle glo, sal gebeur." - Matt 9:29
Wat jy glo....
Ek roep uit saam met die vader in Mark 9:24 "Ek glo Here, help my waar ek nog ongelowig is."
Nou glo ek seker dat dit wat ek die vorige dag gehoor het, 
van God self is. My gebed word 'n lof- en dankoffer.

Net om die volgende dag weer te twyfel.
Is dit, of is dit nie? Wat moet ek glo?
Wat is waarheid?
Vir sewe jaar bid ons al.
Vir sewe jaar "verniet"....
Wat maak vandag anders?

Dan spreek die Here weer deur sy Woord tydens my Bybelstudie:
"En gelukkig is elkeen wat nie aan My begin twyfel nie." - Matt 11:6

Drie keer het God dit bevestig.
Durf ek nog twyfel?

Soos 'n Gideon met sy skaapvliesie, het ek meer as genoeg bevestiging gekry.

Nou was dit die wag.
Wag op God.
Gelowig.

Augustus gaan verby - niks.
September gaan verby - niks.
Oktober en November gaan die paartjie vir behandeling - miskien is dit hoe God wil werk?
Nege maande van November af, bring jou immers by Augustus, dan nie? En dis mos wat God gesê het?

Ek hou, nee, ek klou hieraan vas.
Almal bid.
My Bybelstudie neem my deur tekste soos:

Matt 17:20 "En Jesus antwoord hulle: Deur julle ongeloof; want, voorwaar Ek sê vir julle, as julle geloof het soos ’n mosterdsaad sal julle vir hierdie berg sê: Gaan weg hiervandaan daarnatoe! en hy sal weggaan, en niks sal vir julle onmoontlik wees nie."

Matt 18:3 "en Hy sê: Voorwaar Ek sê vir julle, as julle nie verander en soos die kindertjies word nie, sal julle nooit in die koninkryk van die hemele ingaan nie!"

Matt 21:22 "En alles wat julle in die gebed vra, sal julle ontvang as julle glo."

Dan, die seerkry - weer geen resultate nie.
Wanhoop laat my roep: "Here??"
Maar ek hou aan glo, om drie dae na mekaar so versterk te word is reeds 'n wonderwerk.
Tog bly dit moeilik, my emosies ry wipplank. Desember, Januarie, Februarie...
Soms is ek vol geloof en moed, soos blyk uit 'n brief aan my niggie: 
"Ek sal bly glo tot ek in Julie of Augustus verkeerd bewys word."
Ander kere wil ek uitroep: "Here, was ek dan so verkeerd? Het ek verkeerd verstaan?"

6 Julie 2000
Blye dag.
Sy is reeds nege weke swanger!
Sonder enige mediese hulp
Slegs deur God se genadige ingryping!
Prys die Here, o my siel!

~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~

Terugskouend.
Ek het gehoor.
Ek het opgevolg en bevestiging gekry.

Maar ek wou Sara se belofte myne maak.
Ek wou binne 'n jaar 'n seun sien.
Terwyl Hy swangerskap beloof het.

~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~

Agtien maande na hierdie "Samuel"-nefie se geboorte
het ons weer 'n seun ryker geword - waarlik 'n geskenk van God.
En twintig maande daarna, 'n laaste seëning uit God se hand.
Nou het ons vier kinders gehad.


~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~

Dis baie jare later.
Ek het soveel geleer in hierdie jare.
Geleer om God te vertrou - met alles.
Geleer dat kinders uit en uit 'n geskenk, 'n gawe,
'n SEËN uit God se hand is.
Geleer dat wanneer ek beheer aan God gee,
dit ook beheer oor my liggaam insluit.
Dat my gesinsgrootte van God afhang, nie van 'n voorbehoedmiddel,
'n sterilisasie, 'n finansiële voorspelling nie.

Groetnis








Friday, August 1, 2014

Musiek- 'n terugblik

Musiek
Waarna luister jy?
Watter musiek laat jou goedvoel, teneergedruk, opgeruimd, energiek nadat jy geluister het?

smake....soveel verskillende smake.

Ek het nog altyd die teorie gehad dat kinders so 'n graad of drie afwyk van hul ouers se musieksmaak. Net so effens wilder as dit waarna die ouers luister.

In ons grootwordjare was daar streekradiostasies. So het Radio Jakaranda (ja, dit was werklik 'n Afrikaanse stasie, met Afrikaanse aanbieders, Afrikaanse advertensies en  ook Afrikaanse musiek met so dan en wan 'n Engelse iets tussenin), Radio Hoëveld (dit was meer Johannesburg se stasie, meer Engels in musiekstyl, in aanbieding ensovoorts), Radio Oranje en andere ontstaan.

My ouma-hulle het na die Afrikaanse Radio geluister (deesdae RSG). Ons het kleintyd grootoog gehoor hoe oud sommige omies en tannies geword, daar is Psalms en Gesange vir hulle gesing en net daarna was dit die oggend-oordenking (geen Moslem- of ander gelowe nie, net kerk). Ons moes stilsit deur elke nuusbulletin en weerberig. Geen dood en korrupsie, geen moord en verkragting nie.... nee, net nuus.

My pa het graag Jakaranda geluister, maar vir nuus en weerberig teruggeskakel na die Afrikaanse Radio. Hy het nie van die baie praat-programme op Afrikaans gehou nie, eerder musiek geluister op Jakaranda.

My ma het stilte verkies.

Daar was Radio5, Radio 702 en andere ook, maar ek het hulle nie geken nie. Nie eens geweet waar om hulle op die radio te vind nie. Want tieners luister mos na hul eie musiek, na "tapes".

My eerste "radio" was 'n blote kassetspeler.

en ek het net kassette geluister....

Meestal opgeneemde musiek vanaf die radio (op die hoëtroustel in die sitkamer) of van maats se plate. Want geld vir nuwe plate het ek nooit gehad nie. Ek sou in elk geval nie plate van die gewilde sangers van die era gekoop het nie. Die probleem met 'n plaat is dat een of miskien twee liedjies mooi en luisterbaar is, maar die res.....ai!

As tiener in die koshuis was almal se musiek, wel, almal s'n. Oral in die gang het radio's geblêr. Dikwels teen mekaar ook! Sommige dogters het erge "underground" musiek geluister, ander bietjie meer rockmusiek en die meeste maar net die popliedjies. Die liedjies wat vir 'n week of ses op die Top-10 was.

Ekself het egter tien jaar in die verlede vasgesteek. Abba, BoneyM.... hulle wat in die 70's gewild was, was die sangers na wie ek in die 80's geluister het. O, en dan! Modern Talking. Die twee het my knieë lam gesing.


Nou het ek self tieners.
Genadiglik tuisskolers..... :-)

En ek hoor hul musiek.
Mý musiek, my tienertydse musiek....

Bonny Tyler se Total Eclipse en BitterBlue, It's a heartache
Survivor - Eye of the Tiger
Berlin - Take my breath away.
Europe - It's the final countdown....

en so neem hulle my terug. Op 'n herinneringspad, 'n wandeling na 'n verlede....wat weliswaar sonder die internet en Youtube nie moontlik sou wees nie.

En ek gaan soek hulle.
Een na die ander....

dan onthou ek van Rod Stewart. Ek het nooit na sy musiek geluister nie, maar een video het vasgesteek en ek moes dit net vanoggend gaan kry:


Die lirieke het ek vanoggend vir die eerste keer deurgelees - en dis so so mooi!

Forever Young Lyrics
Artist(Band):Rod Stewart 

(R. Stewart/J.Cregan/K.Savigar)

May the good Lord be with you
Down every road you roam
And may sunshine and happiness
surround you when you're far from home
And may you grow to be proud
Dignified and true
And do unto others
As you'd have done to you
Be courageous and be brave
And in my heart you'll always stay
Forever Young, Forever Young
Forever Young, Forever Young

May good fortune be with you
May your guiding light be strong
Build a stairway to heaven
with a prince or a vagabond

And may you never love in vain
and in my heart you will remain
Forever Young, Forever Young
Forever Young, Forever Young
Forever Young
Forever Young

And when you finally fly away
I'll be hoping that I served you well
For all the wisdom of a lifetime
No one can ever tell

But whatever road you choose
I'm right behind you, win or lose
Forever Young, Forever Young
Forever Young ,Forever Young
Forever Young, Forever Young
For, Forever Young, Forever Young

Dit is net so, daar was sangers en liedjieskrywers wat net 'n merk laat en ander wat verdwyn.

Audrey Landers, Geraldine, Jennifer Rush, Kylie Minogue, Air Supply,  OMD. Of Aha, wat net weggeraak het.

Maar ek kan nie vandag meer na net hulle luister nie. Vandag is ek rustiger, meer daar waar my ouers destyds was. Vandag luister ek na Duitsers (Heino, Ronny, Freddie Breck), ou SA sangers (Janita Claassen, Gé Korsten, Laurika Rauch) en van die rustiger nuweres (Helene Bester, Stef Kruger) met so hier en daar afgewissel met een van "my tyd" se liedjies.

Aan die moderne Suid-Afrikaanse sangers kan ek egter nie vat kry nie....

Dit was egter lekker om net so bietjie in youtube se argiewe te gaan krap vanoggend.











Friday, March 7, 2014

Droogte tot Vloede

Foto geneem op 9 Februarie 2014
Ons het die beeste reeds hiervandaan geskuif na 'n ander plaas toe,
vir beter weiding. Maar die ander plaas is veronderstel ons winterweiding te wees.
Ons reënval van die begin van die seisoen tot op 8 Februarie was 297 mm
 (eerste reën op 08 Okt 2013 - 2 mm)

Ooreenkomstige tyd 2012-2013 : 520 mm (eerste reën op 07 Sept 2012 - 90 mm); totaal vir 2012-2013 - 695 mm (laaste reën op 21 Apr 2013)

Ooreenkomstige tyd 2011-2012 : 441 mm (eerste reën op 16 Aug 2011 - 10 mm); totaal vir 2011-2012 - 562 mm (laaste reën op 24 Apr 2012)

Ooreenkomstige tyd 2010-2011 : 536 mm (eerste reën op 09 Okt 2010 - 18 mm); totaal vir 2010-2011 - 773.5 mm (laaste reën op 19 Mei 2011).

Uit 'n totale byna 1200ha droë land kon ons net 200ha beplant.
En die manne se gemoedere het dikwels baie laag gelê.
Ons moes die beeste voer - die lang wintermaande lê nog voor...

Mens verstaan nie altyd nie.

Op Woensdag 26 Februarie 2014 hou ons gemeente 'n ope biddag vir reën.

Saterdag 1 Maart 2014 het ons tuisskolers 'n funksie digby die dorp en val daar 'n stortbui.
Toe ons by die huis kom had ons net 10mm - die dorp 25mm....

Sondag gaan sonder 'n druppel op die plaas verby.
Maandag val 12mm.
Dinsdag begin dit val, maar nie wyd nie. Buurvrou kom haal haar dogter na wiskundeklas 
en sê hulle het sopas 24mm gehad. Ek stap reënmeter toe - net 6mm.
Ons woonhuise is skaars 800m van mekaar af...

En meteens gaan die sluise van die hemel oop!!!!

Woensdagoggend halfvyf word ek wakker - is dit wind, is dit reën? Maar die geute raas nie.....tog....
die klimraam klap-klap ook nie vanweë wind nie....
Durf mens hoop?

En dan begin die geute en daarmee saam borrel 'n lied deur my hart.
Toe ons uiteindelik, 11-uur dorp toe moet ry - is dit hoe die wêreld om ons lyk:

In die spieëltjie is die sekuriteitshek , voor is die koei- en perdekampie....
Daar voor is die tweede hek....die kamera nou bietjie na links geswaai.

En so lyk die oprit.... :-)
Aan die linkerkant is die landerye - onder hierdie dam water is sojaboontjies geplant.

Die hoof-grondpad na links. Ons normale dorp-toe-gaan-roete.
Die mans het aanbeveel dat ek die ompad na regs moet neem....
Tussen ons en die bure is 'n yslike gat in die pad en daar het reeds,
voor ek gery het, 'n voertuig vasgeval.
Trekker moes hom gaan uitsleep.
Kan enigeen dan wonder hoekom ons met groot voertuie móét ry?
Die aanbevole roete na regs.... Nie noodwendig minder water nie, net minder gate.....
'n Aflooppunt by 'n sementbruggie. Omdat ons nie meer ordentelike paaie-administrasie in Suid-Afrika het nie, word die grondpad nie rond geskraap nie, maar letterlik hol.
 Langs die drade word walle geskep waardeur die water
nie kan breek nie en sit ons met hierdie gemors.

En dis die pad....
dalk 'n kar soos dié in Chitty-Chitty-Bang-Bang nodig?


Die kinders geniet die vloede baie!

Ons is die Here innig dankbaar vir sy voorsiening. Nog nooit het Hy ons verlaat of in die steek gelaat nie. Nog nie een jaar het verbygegaan waarin ons nie in diepe nederigheid ons afhanklikheid aan Hom moes erken nie.
Geloofd sy die Here!! Prys Hom want Hy is goed.