Ek dink nie 'n mens kan ooit volledig voorbereid wees nie.
Gereed vir enige gebeurlikheid. Gereed vir die toets, gereed vir die eksamen, gereed om te trou, gereed vir ouerskap.
Ek was as kind in 'n nuwe skool, baie gespanne. Eksamenstres het my klaar gemaak. In my st 5 (graad 7) jaar was ek letterlik siek aan maagontsteking en het 'n hele paar vraestelle nie geskryf nie.
Later het ek hierdie eksamenvrees in 'n mate oorwin en kon beheer - op skool.
Universiteit was 'n gruwelike nagmerrie. Ek kon nie leer nie - ek het dit op skool maklik gehad, wat in die klas gesê was, het ek verstaan en studeer was net 'n opskerp van dit wat ek geweet het. Maar op universiteit het ek meestal nie kop of stert kon uitmaak uit die verduidelikings nie...
Ek het nie gemaklik gevoel in die klasse nie, ken nie die dosente of studente genoegsaam om raad of hulp te vra nie, is te skaam om eerste tree te gee... spanning op spanning.
Oggendvraestelle kon ek skryf, dit was bloot 'n kwessie van opstaan, aantrek en gaan skryf, maar 'n middag-, of nog erger 'n aandvraestel het my maagwand in 'n permanente kramp getrek.
Een vriendin wat twee vakke met my gedeel en op dieselfde gangvloer as ek gewoon het, het my in my derde jaar gehelp om die feite-kennis van besigheids- en personeelbestuur in te studeer. Sy het besef dat my senuwees my voor die aand in 'n totale histerie sou hê.
Wiskunde het ek tot tweedejaarsvlak gehad en elke liewe semester 'n her gekry.
As volwassene is hierdie stressituasies gelukkig heelwat minder, maar....
Hier sit ek vanoggend met my maag in 'n knop getrek, spanning lê my speekselkliere lam, ek het geen begeerte na kos nie en wil beslis nie na die toetsgronde kyk waar my meisiekind getoets word vir haar bestuurslisensie nie.
Gaan 'n mens dan nooit genoegsaam leer vertrou, genoegsaam voorbereid wees om nie hierdie aaklige spanning te hoef deurstaan nie?