Thursday, August 28, 2014

Prioriteite Verskil

Prioriteite verskil.
Dit verskil totaal van mens tot mens.

Maar die feit dat dit verskil beteken nie dat ek reg en jy verkeerd is nie.
Dit beteken bloot dat ons die lewens vanuit verskillende hoeke benader.

Sekere goed is net nie vir my belangrik nie. Dit hinder my nie in die minste nie.
Soos:

  • Skurwe hakskene
  • Grys hare
  • Klere
  • Skoene 
  • Skoonheidsmiddels
Skynbaar hinder dit ander mense.... die feit dat dit my nie hinder nie.... of so vermoed ek ;-)

Ek is 'n kaalvoetloper. Van kleins af. 
Ek verkies om stewig vas te trap met my tone en hakke, om die gras te voel, die sand, die gruis; om die hitte van die warmgebakte turf te voel, die koel van 'n geteëlde vloer. Die bosveld het egter uitdagings aan my kaalvoete gestel, papierduwweltjies groei in plate en steek seer, so ook die groot apiesdoring in ons tuin.

Aan die einde van elke winter neem ek my opnuut voor: Hierdie keer gaan ek aanhou skoene dra. My voete is nou mooi sag na die winter se skoendraery, ek moet net volhou.... tot die eerste warm Augustus-dag... dan ruk die hitte my baadjie af en skoene uit! Salig. Heerlik om weer te kan asem haal deur my voete.

Maar ek kry nogal gereeld 'n afskuurder en hakke-salf vir 'n verjaardaggeskenk. 'n Bedekte boodskap? 

Die dag waarop ek die eerste spierwit haar op my kop ontdek het, was 'n skok, wat gelukkig gou verbygegaan het. Vandag is daar al soveel dat uitpluk en ontslae raak van 'n swak opsie is wat moontlik 'n bles tot gevolg kan hê.

Ek is egter glad nie ontsteld daaroor nie. Inteendeel, ek mag erken dat ek trots voel op my gryserwordende kroon. 'n Stille getuienis van jare se ondervinding, jare goed spandeer. 

Ons jongste se opmerking: "Maar mamma, die haar is nie grys nie! Dis dan spierwit!!" was vir my kosbaar. Ja, my kind, dis nie grys nie, dis spierwit. Soos 'n nuwe kleed. 

Persoonlik stem ek met my moeder saam - die witter harekleed werk sagkens met die beplooide tronie wat daarmee saamgaan. Dit versag die rimpels en vorm 'n lieflike agtergrond. 

Geliefde sê op 'n dag: "Sjoe, maar jou kuif is darem nou regtig wit." Waarop ek net skalks lag en antwoord: "As ek my hare moet kleur, koop ek vir jou 'n pruik." 

Klere was nog altyd vir my bloot 'n noodsaaklikheid. Definitief nie iets om 'n jaar se salaris op te spandeer nie. Solank dit gemaklik sit en alles bedek wat bedek moet wees (wat weer 'n kwessie van persoonlike smaak is), is ek tevrede.

O, kyk, ek vrek oor 'n mooi rok en sal by 'n winkelvenster stilstaan, my oë vasgenael op die winkelpop, maar sodra ek die RRRR sien, word die rok sommer 'n stuk lap. Ek kan maar net nie vatkry aan die prys van klere nie.!

Ek dra langbroek in die winter, bloot omdat ek koud kry, maar kom somer, kan ek nie wag om my rokke uit te hang nie. Heerlikheid! Tog is dit nie 'n voorkeur-aankoop nie. Ek sal nie 'n rok koop net omdat dit mooi is nie - ek moet 'n rok nodig hê, voor ek koop.

Dieselfde geld skoene. Hoe op dees aarde mense skoene vir elke uitrusting kan regverdig.... 

Kry ek so lag.... ek het mos vertel van die nuwe uitdaging. Een van die opdragte is om jou skoene deur te gaan en ontslae te raak van die onnodiges. O, aarde, ek het gaan tel - ek het net ses pare skoene. Vir winter is daar: 'n paar vellies, stewels vir kerk en my pantoffels; vir somer het ek: 'n paar sandale vir dorpdae, 'n paar sandale vir kerk en 'n paar plakkies vir op die plaas dra.... want sien, ek loop meestal kaalvoet en skoene is regtig nie op my lys van prioriteite nie. Buitendien om meer as R150 vir 'n paar skoene te betaal laat my skoon arig voel.

Die aanloop vir hierdie inskrywing lê egter by die laaste van my minste-prioriteitslysie. Skoonheidsmiddels.

Was dit nie vir ons son en warm wind nie, was dit nie vir die dordroë winters nie, sou ek seker geen room ooit aan my gesig gesmeer het nie.

My Lübbe-ouma het die mooiste-mooiste vel gehad.
Op 80 was sy byna plooi-loos. 'n Sagte byna deurskynende pienk vel. Ek het haar op 'n keer gevra na haar skoonheidsgeheime. "My kind, ek het nooit enige grimering gedra nie, nooit. En al die jare my gesig met gewone groen Sunlight-seep - koekieseep - gewas."

Is al ons roompies en dinge nodig?

Ekself gebruik 'n gesigseep, 'n verfrisser en 'n dagroom - een keer per dag. Geen verdere iets nie.
En hierdie volslae aankoop doen ek sommer by Clicks. Hul eie handelsmerk. Want dit kan ek bekostig.

Ek kan helaas nie spog met ouma se vel nie, maar ek dra darem so 'n ietsie van haar gene. My vel voel goed en gevoed. 

Maar, dan kry ek hierdie oproepe van tele-bemarkers.... Hierdie en daardie produk, net so 'n paar vrae (waarvan een is hoe groot is jou maandelikse inkomste voor aftrekkings - wonder hoekom?) en dan 'n pakkie in die pos. 

Nee, dankie.

Wanneer ek oor dit alles nadink, alles in ag neem, dan wonder ek - nou wat is vir my prioriteit?
Klaarblyklik kan ek nie geld op myself spandeer nie - een of ander sielkundige mag dalk 'n teorie hê oor die hoekom daarvan, maar dis van geen belang nie. Ek kan nie geld spandeer op my hare, klere, skoene of skoonheidsroetine nie - dis alles ék-gerig en ek is nie gemaklik daarmee nie.

Iemand anders sal totaal anders daaroor voel - en ek gun elkeen dit.

My prioriteite? Dinge waarvoor ek selfs broodgeld sal gebruik....?
  • Gesonde kos
  • Boeke
Ek sal, ongeag die koste, nie huiwer om rogmeel, 7.5-aanvullings, heuning, vars groente en vrugte, vars vis en vleis te koop nie. Ons probeer sover moontlik die bloedgroep-dieet te volg en sny gevolglik koring en alle koringprodukte uit - dis verbasend hoe jou winkelwaentjie krimp wanneer jy MSG, koring en ander bygevoegde geur- en kleurstowwe verny. Ek koop ook deesdae net seesout en nie meer gewone tafelsout nie.

Boeke, o boeke. Goeie Afrikaanse boeke, reisverhale, biografieë. Genadiglik het ons dorpie 'n pragtig toegeruste biblioteek.... maar ek kan steeds nie 'n boekwinkel, veral nie 'n tweedehandse boekwinkel, verbyloop nie.

Laastens videos. Maar ek is versigtig om hierdie op my lys te plaas - ek is nie baie lief vir videos kyk nie. Ek verkies dokumentêre programme en videos met 'n geestelike boodskap. Ek sal egter nie broodgeld gebruik om videos te koop nie.

Hoe lyk jou prioriteitslys? Wat sal jy nooit koop nie en waarsonder kan jy nie gaan nie?

Groetnis