Die meeste mistastings oor tuisopvoeding kom voor wanneer 'n mens wegbeweeg van enige kurrikulum en die lewe as leerskool gebruik.
In Engels word hierna verwys as "unschooling". Met ander woorde - nie-skool. Verskillende definisies word op die internet hiervoor gegee.
- John Holt (wie se boeke ek altyd aanbeveel) beskryf dit as "allowing children as much freedom to learn in the world, as their parents can comfortably bear."
- Earl Stevens haal vir Bernard Shaw aan: "What we want to see is the child in pursuit of knowledge, not knowledge in pursuit of the child."
- Jenny Cyphers sê: "Just like ALL learning, learning how to live comfortably and happy are really wonderful things. It takes a focus on turning away from what you know you don't like and turning towards something else, that something else that creates happy learning and living. Unschooling really is a shift in thinking and then acting on it."
- Mary Griffith definieer: "Unschooling means learning what one wants, when one wants, in the way one wants, for one's own reasons. ... choice and control reside with the learner ... She may find outside help in the form of parents, mentors, books, or formal lessons, but SHE is the one making the decisions about how best to proceed. Unschooling is trusting that your children are at least as clever and capable as you are yourself."
Dis 'n totaal ander denkwyse as die tradisionele skool-manier van doen.
Dis om die lewe te leef en jou kinders toe te laat om daardie selfde lewe te beleef. Om self daaruit te leer wat vir hulle van waarde is.
Hasie was baie opgewonde toe hy die eerste keer skool toe is. Almal het hom vertel hoeveel hy gaan leer en hoe slim hy gaan word. Sy ogies het geblink en van pure opgewondenheid het hy op en af gespring.
Vir die eerste ruk het dit met Hasie goed gegaan op skool. Hy kon speel en hardloop saam met al die ander dieremaats in die skool.
Maar geleidelik het die huppel in sy stap minder geword, sy ogies dof en moeg. Mamma-haas kon sien haar Hasie-kind is nie meer homself nie. Sy het alles gedoen om hom beter te laat voel. Sy gunsteling wortelkoekies gebak, hom bederf met twee stories voor slaaptyd. Pure verniet.
Wat Mamma-haas nie besef het nie, is dat Hasie swaarkry by die skool, want sien, Hasie kan nie swem nie. Tydens een oueraand, gesels Mamma-haas met die onderwyseres by die skool en dié vertel vir Mamma van Hasie se "probleem". Met groot oë en stom van verbasing luister mamma na wat die juffrou vertel. "Maar, is daar iets wat ons kan doen?" wou Mamma-haas weet.
Wel, Juffrou het aanbeveel dat Hasie smiddae vir ekstra lesse moet terugkom skool toe. Hy moes ook ekstra-klasse by 'n buite-persoon, 'n kenner, gaan neem. Hasie moes ure lank in die swembad deurbring, om te leer swem.
Hoeveel trane het daar nie gevloei nie, Mamma-haas se hart het gebreek, maar die juffrou het so gesê en hoe kan sy wat Mamma-haas is nou teen die juffrou se aanbevelings ingaan. O, ja, sy weet dat Hasie baie goed is met spring. Hasie kan ook vinnig hardloop, vêr spring en hoog spring. Hy doen goed met touspring en Hasie se vriendelikheid, sy hulpvaardigheid is oral bekend. Dis net ..... Hasie kan nie swem nie.
Skoolvakansies is gebruik om Hasie na proffessionele swemskole te neem....
Die uiteinde van al die harde werk, al die ekstra ure, al die vermiste ure van leef en pret?
Hasie het verdrink......
~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~
Dit wat ek sien met die kinders vir wie ek wiskunde-ekstra-klasse aanbied....
Dit wat ek sien met die kinders vir wie ek wiskunde-ekstra-klasse aanbied....
Dit wat ek sien met die kinders vir wie ek Sondae Verbondsonderrig gee....
Dit wat ek sien in skoolkinders smiddae in die dorp se strate...
Blinkoog-kinders wat moeg geword het.
Moedeloos.
Kinders wat met hangskouers stap.
"Ag, tannie, ek sal dit nooit regkry nie."
"Nee tannie, ek is nou maar eenmaal dom."
In die werklikheid, in die "grootmenslewe" as jy wil, in die LEWE doen mense dít waarin hulle presteer, dit waarmee hulle goed is. Hulle gebruik hul talente en gawes tesame met hul persoonlikheidstrekke, hul menswees-kenmerke om suksesvol te leef. Die fokus word nie op my swak administrasie-vermoëns gelê nie, nee, mense sien my wiskundige vermoëns raak. Tony Factor se swak spelling en disleksie was nie die AL waarop almal se oë gerig was nie, nooit! Die fokus was op sy fenomenale bestuursvernuf.
Sou almal fokus op die feit dat Oscar Pistorius nie bene het nie of Nic Vujicic se gebreke - of sien ons hoe hierdie mense fokus op hul pluspunte - die goed waarin hulle werklik GOED is?
Hoekom doen ons dit dan anders met ons kinders???
Hoekom fokus ons op die druipeling se wiskunde punt, maar sien nie raak hoe sy Saterdag vir Saterdag by die ouetehuis in die siekeboeg vir die oumense voorlees nie?
Hoekom sien ons met 'n rooipen en skerp lig die spelfoute in 'n opstel raak, maar kyk bo-oor die enjin wat aand vir aand, stukkie vir stukkie aanmekaargesit en tot motorfiets uitgebou word?
Dit is hoekom ek "unschool".
Dit is hoekom ek my kinders toelaat om die dinge wat vir hulle belangrik is, na te jaag.
Dit is hoekom ek weier om my kinders te konformeer tot een of ander penlekker se verlaagde standaard.
Dit is hoekom ek die lewe as leerskool kies bo 'n gebou gevul met ander soekende kinders wat almal tot een vorm vervorm moet word.
Groetnis
Nog webwerwe oor "unschooling", veral Christelike Unschooling:
http://www.christian-unschooling.com (geskryf deur Cathy Koetsier, 'n Suid-Afrikaanse moeder)