Wednesday, August 27, 2014

Uitdaging (alweer :-) )

Ek kan maar nie 'n uitdaging weerstaan nie.
Hier het ek al weer pens en pootjies geval....

Dalk is dit 'n bedekte seën dat ek nie 'n baie sosiale mens is nie. Dat ek eerder my gesinstyd koester as om die huis se deure wyd oop te gooi.

Want ek sukkel bietjie met orde, met chaos, met deurmekaar.
Eintlik baie.
Eerder, as ek werklik eerlik is, oorweldig my chaos my.

Dan kom daar dae wat ek radeloos raak, vlug uit my deurmekaar huis na die ewe deurmekaar skool en ontvlugting op die internet kry. Met soekfrases soos "How to declutter" of "How to organise your life" goegeloer ek dan rond.

So kom ek op 'n webwerf af wat my nadertrek,
                                               wat my bekoor,
                                                   soms selfs irriteer, want sy is perfeksionisties netjies......
                                  ...terwyl ek lyk en voel soos Einstein, woeste hare, deurmekaar verstrooide professor.

Kat het egter 'n uitdaging, 'n stap-vir-stap-plan na orde.
My droom.

Net 'n droom.
Want ek het nog nie een van die daaglikse takies uitgevoer nie.

Wat ek wel kan getuig is dat dit my 'n oopkop gee om na probleemareas te kyk, planne te bedink.

Miskien kan ek hier, op my eie kuierwerf, deel oor my "vordering". So dan en wan 'n foto van die voor en na wys, planne deel (want ek kan nie soos Kat, kort-kort winkels besoek en geld bestee nie - ek het dit nie.) As 'n boer 'n plan kan maak, dan moet boer se vrou twee planne hê.

My eerste poging (dis altyd my eerste poging!), was die badkamer.
Wel, dis nog nie afgehandel nie, maar dis die kleinste vertrek en dikwels die deurmekaarste en wanordelikste. Die bevrediging van 'n gedane taak, sonder dat dit my moedeloos maak weens die omvang daarvan, word die maklikste bereik in klein treetjies.

Ek sou graag wou vernuwe, verf, nuwe gordyne, en dies meer, maar vir eers is net 'n regpak en regskud genoeg.

Nou gou die kamera gaan haal en 'n paar foto'tjies neem van die eerste tree op 'n nuwe pad (ai-jai-jai - hoe lank ek op die pad gaan bly weet ek nie!)

Groetnis