Saturday, September 17, 2011

Om 'n vakansie te reël

Ons het 'n uitnodiging ontvang. 'n Wonderlike bederf-uitnodiging. 

'n Tuisopvoeder-groep van Upington se wêreld nooi een keer per jaar 'n ander tuisopvoeder gesin om met die groep hul tuisopvoedingspad te deel. Vanjaar het hulle vir Leendert genooi, maar hulle kon dit nie maak nie. So stel hy voor dat hulle ons nooi. In die eerste plek was ek totaal verras - dat iemand van sy profiel ons gesin as 'n plaasvervanger vir hul gesin kon beskou! Verder was ek bang - want ons opvoedingspad loop nie altyd op die ideaal nie, daar is maar dikwels val- en faal-tye.

Maar dis 'n voorreg en 'n opgewondenheid het hom van my baas gemaak. Die enigste probleem is dat Upington vrek ver van Naboomspruit af is!! En om net vir 'n naweek daarheen te ry (al word brandstof betaal) bly bykans verregaande. Dus maak ons 'n vakansie daarvan. Ons bespreek die naweek van 13-15 Oktober en sal dan die week vooraf in Kgalagadi oorslaap. 

Die gimnastiek SA's vind in Bellville plaas hier rondom 4 tot 9 Oktober en ons voorsien nie werklik dat Henry kleure sal kry nie, maar indien hy sou kry, dan gaan ons maar eers af Kaap toe en daarvandaan noord. Al die kompetisies vind immers gedurende Vrydag en Saterdag plaas. Dus kan ons Woensdagnag ry, Donderdagaan oorslaap, Vrydag kompetisie doen en Saterdag noorde toe ry sodat ons Sondag by Twee Rivieren kan inboek. Indien hy nie kleure kry nie, dan sal ons deur Botswana ry, oorslaap by Tsabong en dan na Twee Rivieren vertrek. So beplan die mens....

Tydens die Limpopo-kompetisie kou ons naels - en Henry kry voorwaar span! Weliswaar nie 'n posisie nie, maar sy punte is steeds hoog genoeg om te kwalifiseer vir die span. Terug by die huis is ek dadelik op SAGF se webwerf om te sien hoe laat en wanneer die kind deelneem. Skok der skokke!! Hy neem al die Woensdag deel. Woensdag 5 Oktober om 16:00 moet seunskind in Bellville wees. (Hy neem deel aan MAG Tyro 1, ouderdomsgroep 14 en onder).

Wel, wel. Skielik moet baie dinge heroorweeg en weer beplan word. 10 dae word 15 dae. Eers net met swaer en skoonsus praat, ons loop so lank weg en hulle moet die boerdery hanteer. Swaer se woorde was: " 'n Mens ry nie so ver en hou net 'n week vakansie nie!" Dankie, Ouboet.

Eers gedink ons sal Maandagnag hier wegtrek en dan Dinsdagaand se kant in Rawsonville se wêreld kamp opslaan. Maar terwyl ek die roete beplan (nadat ons by vriende gehoor het dat daar tussen Colesberg en Bloemfontein 'n stuk of tien "stop/go"-oponthoude is) sien ek dat ons by my neef in Ritchie verbyry. Manlief vra toe hoekom ons nie sommer Maandagaand daar oornag nie. Kontak neef, maar hulle is daardie week in Kgalagadi. Tot my verbasing merk ek op Google Maps dat daar 'n nasionale park genaamd Mokala is. Ek het eerlik nie van die park geweet nie. Dadelik het ek hier 'n kampeerplek bespreek (ons gaan met die sleepwa en tent in Kgalagadi kampeer, dus het ons al die kampeergerei by ons). 

Ons het verlede jaar by River House in 'n chalet gebly en dit GEWELDIG geniet. Dit is werklik 'n lieflike omgewing en die opset is pragtig. Dus was Pieter le Roux se plekkie die eerste keuse. 

Telkom werk vir die soveelste keer nie. Dus is ek oorgelaat aan Vodacom se genade en my geldjies word vinnig minder. Ongeskik stuur ek 'n kgb (Kort Gespreks Boodskap) aan Pieter om 'n kampeerplekkie te bespreek. My niggie mag dalk my nek kraak hieroor, maar ons gesin van ses rek haar huisie se nate uitmekaar! :)

Maar nou moet ons die naweek verbykry. Ek het nie lus gehad om weer die hele Kaapse toer te doen nie (ons het verlede jaar Oktobermaand dit gedoen) en so begin die soektog na oornagplekkies tussen Rawsonville en Upington.

Hier het Wegsleep baie gehelp. Leticia en ek het die ou 'slepe in die huis bymekaar gekry en op die lieflikste plekkies afgekom. Vanputtensvlei naby Lambertsbaai is nou die eerste stop noord, daarna sal ons twee aande by Die Mas naby Kakamas oorslaap. Van Die Mas af sal ons ook Augrabies besoek en dan die Sondag na Kgalagadi vertrek.

So in die beplanning en reëlings vir die vakansie besef ek hoe bevoorreg ons is om in ons eie pragtige land te kan rondry, te toer en alles te sien en beleef. Ek kry te doen met ongelooflike vriendelike en behulpsame mense. Onse mense. Daarom verkies ons om op plase by boere oor te slaap.

Ook kostegewys maak dit meer sin. Vir ons gesin van ses gaan die oorslaap van 11 aande R3200 kos. Dit werk uit op minder as R50 per persoon per nag!!! Weliswaar moet die brandstof en die kosserasies nog bykom, maar mensig, as ek R250 per persoon per nag moes betaal en steeds selfsorg......??

Wanneer ons terug is, hoop ek om foto's van al die plekkies te plaas.