Wintertyd.
Strooptyd.
Komberse en warm poedings.
Lemoene, pomelo's en nartjies.
Loopneuse, lang aande.
Nie noodwendig 'n lekker tyd van die jaar nie. Glad nie my gunstelingtyd nie. O, nee, ek sal veel eerder die somer en herfs neem, dankie!
Stof en droë lug irriteer gevoelige neusgange en slymvliese. Dikkop, toeneus moet ek vroeg-oggend op om pap op die stoof te sit. Pa en die oudste twee seuns trotseer die vroeg-frisheid om kanonne te gaan aktiveer en met die haelgeweer die klein verpestings uit die oeste te verjaag. Ousus en kleinboet geniet 'n laaste inlê...
So verloop 'n wintersoggend, elke oggend op die Vlakte. Wanneer geliefde weer op die werf terugkom, is die arbeid hier en moet die werk begin loop. Dus geen ontbyt as gesin om die tafel nie. Ek hou nie daarvan nie.
Sodra die son al die dou opgedroog het, word die stroper se neus lande toe gedraai en weerklink die dreuning heeldag oor die werf. Tussendeur word gesif en ge-sak, of in die graandamme gestort.
Vanaand, skuins voor skemer, word die proses omgekeer. Vragmotor en stroper kom terug huis toe. Die seuns help vir pa om die vinke weer uit die lande te weer met haelgeweer en die kanonne word onskadelik gestel, teruggevat huis toe om môre weer opgestel te word.
Vinnig deur 'n bad, aandete nuttig en na huisgodsdiens, word die moeë lyfies bedwaarts gesleep.
Sou wat wou gee vir 'n kaggelvuur. Maar die asbeshuis leen hom nou nie daartoe nie...