Wednesday, April 26, 2017

Afwagting

Ai, dit is darem maar lekker.

Een groot lekkerte om hier te kan sit en net dinge te beluister, te bekyk en jou eie dinke te dink.

Ek is darem maar só-ó bly dat ons nie mekaar se gedagtes kan lees nie (alhoewel sommige van ons se gedagtes al te dikwels op ons gesigte geskrywe staan).

Om net te kan dink oor alles en nog wat. Die samelewing te bekyk en te wonder wat elke mens laat "tick."


Wat motiveer die ouers, die kinders, die straatveër, die musikant? Wat laat hom elke dag weer opstaan en sy liedere inoefen, weer en weer en weer? Is dit regtig die groot skares wat hy lok? Is dit die genot van te sing? Maar wanneer die uitgewer na die klankbaan luister en keer op keer halt roep, weer begin? Wat laat jou aanhou?

En ek?
Wat is my groot lekkerte? Wat laat my opstaan (buiten die wekker en kleine Tinktinkie) en elke oggend weer voortgaan? Plig?

Maar ek dwaal...

Dikwels is daar afwagting. Die groot uitsien. Die droom...

"Ek kan nie wag vir môre, oormôre, volgende week nie."
"Ek kan nie wag vir my verlof nie."

O, ek kan nie wag nie...

My groot uitsien?
See toe!

O, om weer by die see te kan kuier, die branders te hoor, te voel, tone in die sand te sit, branders te spring en uitry... Maar ek is bang.
Verskriklik bang.

Bang ek het te oud geword, te lank gewag.

Ek is gek na die see. Absoluut mal daaroor. My man hou niks daarvan nie.

As kind was ek elke jaar by die see. Elke jaar.
As getroude was ek in 25 jaar net twee keer by die see....

En nou het geliefde beloof - volgende jaar....

Volgende jaar gaan ons see toe! Ek jubel, ek dans en ek kan nie wag nie!

Maar sê nou net...? En dit gebeur. Te dikwels gebeur dit. Dan val al die drome plat, die uitsien word verswelg deur teleurstelling. Die jubeling verander in 'n sagte binne-kermkla.

O, assebliefie tog... Net weer 'n keer by die see....




1 comment:

  1. Oppad see toe MOET jy asb. hier by ons stop vir 'n koffie/tee. 'n Asemskeppie voor jy die laaste uur of twee aandurf.
    Ek is net so lief vir die see, en bly redelik naby, maar ons kom amper nooit by die strand nie. My skoonma kom nou elke jaar af om hier fiets te ry, dan wag ek en die seuns vir haar en my man om klaar fiets te ry. Ons spandeer die oggend op die strand, soms soos gister, vir twee ure in die vlak waters waar ek die twee manne moet gryp en vashou voor hul ingesleep word, ander kere is hul net besig om te bou in die sand. Maar dis so vroeg oggend, en ek verkyk my aan die son wat opkom en verdrink in die stilte van die oggend - so met brekende golwe, voëls in die lug, en hier en daar 'n stem in die lug.

    ReplyDelete