Thursday, January 9, 2014

Sonder Woorde

Kan 'n mens 'n resep "lees" sonder woorde?

'n Groen soetrissie, ui, murgpampoentjies, wortels en pynappel.

Sny soetrissie en ui in repies (my mense is nie mal oor die stukke nie, ek sny dit nog fyner)


Skil die wortels, sny koppe en punte af.

Gebruik steeds die skiller en sny die wortels op.

Sny murgpampoentjies se koppe en punte af.

Skil ook die murgpampoentjies tot klaar

Skil die pynappel.


En sny in repies.

Daar is al die rou groente bymekaar. Ek kan nie op hoeveelhede ingaan nie
Ek maak maar na gedagte.

Smelt botter in 'n braaipan

Braai die uie en soetrissie eerste. Ek gooi altyd gemmer oor die uie, 
dit verhoed gasvorming en gee geen smaak af nie.

Gooi die ander groentes by en braai. Ek hou van kraakvars groente
en braai dit nie lank nie.




Roer maar gereeld om aanbrand te voorkom.

Ek vergeet gewoonlik die sout..... Alle geval, net so voor opdien, gooi bietjie sout oor.
Ons gebruik growwe seesout in die huis.

En vir die laaste bietjie lekkerte, 'n skeutjie soet-chillie-sous.

Tuisonderwys - GED

Ek kry soveel navrae oor die GED, dat ek besluit het om liefs alles wat ek geleer het, hier op my kuierwerf uiteen te sit. Ek sal dieselfde inligting ook op hierdie webblad oor tuisopvoeding sit.

*** Net 'n waarskuwing. Hierdie inligting is soos ons dit gebruik het in 2014. Dinge verander gereeld en ek kan nie opdaterings byhou nie. Ons het GED afgehandel en ons beweeg aan na volgende prioriteite. Gebruik hierdie na goeddunke, maar gebruik jou gesonde verstand en logika. -- Marelize (Julie 2016)

Wat is die GED?

Die GED sou in ons Afrikaanse idioom as 'n volwasse matriek beskryf kon word. 
Die afkorting staan vir General Educational Development (volgens Wikipedia en GED Testing Service) en bestaan uit vyf toetse (te wete Maths, Science, Social Studies, English Reading en English Writing) wat afgelê word. Wanneer hierdie toetse geslaag word, beteken dit dat die persoon dieselfde akademiese vlak as hoërskoolleerlinge in Amerika en Kanada het.

'n Diploma word dan uitgereik wat gelykstaande is aan 'n hoërskool-diploma in die VSA (vir internasionale studente is dit gelykstaande aan hoërskole in die staat Maine).


Kan my kind universiteit toe gaan met 'n GED?

Dit hang af....
Sommige internasionale universiteite (ek dra kennis van aanlyn-universiteit en sommige "colleges" in die VSA vir wie die GED voldoende is) aanvaar die alleenstaande GED as voldoende.
MAAR om in die VSA aan universiteit te studeer vereis meeste groot universiteite (dink aan Yale, Princeton) die toelatingseksamen oftewel die SAT.

Soortgelyk geld dit ook in Suid-Afrika. In die verlede het ons groot universiteite matriekleerlinge bloot op grond van hul matrieksertifikaat toegelaat. Deesdae is die matrieksertifikaat so min werd (sien hier, hier en hier), dat universiteite van hul eie toelatingseksamens en keuringsvereistes (vergelyk ook hier) gebruik maak. 

Ten opsigte van die SAT kan ek op hierdie stadium nie veel inligting deurgee nie, omdat ek nog nie daardie roete gestap het nie. Dit sal heel moontlik, as dit die Vader se wil is, gedurende 2015 op my wag.

My kind wil nie universiteit toe nie - moet hy/sy die GED skryf?

Weereens - dit hang van julle gesin self af. Van die kind self af.
  • Ons dogter wil graag Montessori-onderwyseres wees.
  • Sy wil graag 'n vlieglisensie kry.
  • Sy wil gimnastiek afrig.
Buiten die peperduur vlieglisensie, glo ek ons sal haar drome kan verwesenlik.
Maar, in die woorde van 'n kuierwerf-vriendin, miskien het die kinders wel nodig om een of ander eksamen te skryf om af te sluit. Om hul skoolloopbaan te voltooi. 'n Einde. En as dit al rede is hoekom jy die GED sou doen, dan is dit ook goed.


Gou agtergrond: Ons dogter het in 2013 haar gimnastiekklub gestig. Sy het begin met ritmiese gimnastiek vir die dogters en het 18 gimnaste gehad. Al die voorbereiding, onderhandeling vir 'n saal, voorlegging vir kinders en ouers het sy self gedoen. Teen Oktober het sy met die hoërskoolhoof gaan praat en hul saal en apparaat gehuur om die klub te kan uitbrei en ook artistiese gimnastiek aan te bied. Sy het begin met haar eie twee boeties en sal vanjaar meer laerskoolseuns inneem.

Juis omdat haar klub nuut is en vanjaar die eerste gimnaste kompetisie toe sal neem, het sy besluit om 'n aanlynkursus te volg. Ons het ingeskryf by KHTMontessori.com waar sy na 'n jaar se studie 'n sertifikaat bekom. Na die einde van die jaar toe sal ons besluit wat in 2015 voorlê, of sy direk by 'n skool gaan aansoek doen en of sy verder gaan studeer in die Montessori-rigting.


Nuwe inligting: Die GED in Amerika (VSA) het in 2014 verander.
DIT BEïNVLOED NIé DIE INTERNASIONALE STUDENTE NIE.
Jou kind gaan steeds die GED 2002 skryf.

Wat moet ons doen om die GED te kry?

1) Sluit aan by die yahoo-gespreksgroep vir GED-SAT in Suid-Afrika. Hier word waardevolle inligting en ondervinding met mekaar gedeel. Wanneer jy lid van so 'n yahoo-gespreksgroep is, het jy toegang tot alle vorige eposse wat in die groep gestuur was.

2) Registreer by die amptelike webblad vir die GED.

3) Voorbereiding vir die afneem van die toetse.

4) Registreer by die eksamineringswebblad vir PearsonVue.

1. Sluit aan by die yahoo-gespreksgroep

Om hierby aan te sluit gaan bloot na die webblad en volg die instruksies daarop. As jy nie 'n yahoo-adres het nie, kan jy met 'n gmail-adres of jou facebook-profiel inteken, anders - skep bloot 'n yahoo-adres, jy hoef dit nooit te gebruik nie.

Wanneer jy op die skakel kliek, maak 'n nuwe skermsig oop:



Kliek dan op die  - ikoon en volg die aanwysings op die skerm. 

2. Registreer by die Amptelike GED-Webblad

Die GED word deur die Amerikaanse Opvoedingsraad en Pearson bestuur. Die enigste manier om die ware Jakob te kry is deur hierdie webblad.

Die skermsig lyk só:
Kliek op die skakel vir "Canadian & International" en gaan lees alles oral.... :-)
Hier is soveel inligting oor die hoe, wat en waar dat ek nie eintlik veel meer hoef te sê nie. Moet jou egter nie laat mislei met die storie dat as die kind 'n toets nie maak nie, hulle betaal. Hulle dóén dit, maar NET vir die eerste een wat die kind nie maak nie.

Sodra jy alles wat jy moontlik wou weet (en nie wou weet nie) daar gelees het, kliek hier en registreer jou kind (of jouself).

3. Voorbereiding vir die GED

Hierdie is die een deel wat ons SA -breine nie lekker aan gevat kry nie. Voorbereiding vir die GED is gans anders as enige eksamenvoorbereiding wat jy, jou wederhelfte of jou kinders al ooit gedoen het. Ek gaan 'n klompie skakels gee, maar dis die punt van die ysberg. Deur bloot 'n goegeloer te doen met die soekfrase: "How to prepare for the GED" gaan jy ongelooflik baie resultate vind - sommige gratis en verniet.... (Dit teenoor kurrikulum-verskaffers wat tot R10 000 per kind per jaar vra!)
Nuwe inligting: Wanneer jy inligting vir voorbereiding op die web trek, maak seker dit is vir die GED 2002 toetse en nié vir die nuwe VSA GED2014 nie. Internasionale studente skryf steeds die GED 2002.

Op die GED-Testingservices se webblad is daar ook voorbeelde van vrae (sien hier).

3.1 Skakels


Ons het nie van bogenoemde eers gebruik gemaak nie. Ek het Leticia by 'n aanlyn-kursus ingeskryf en ons het een boek afgelaai. Skakels volg.


3.2 Pdf-Boeke

Die volgende boeke is in pdf-formaat en gratis. Veral die dikke boek "Master the GED" is nuttig. Daarin is toetse wat jy vooraf skryf om te bepaal watter van die areas wat getoets word, is jou sterk en swak punte. Dan weet jy waar om meer aandag aan te skenk, jy sien die formaat waarin die toetse gevra word en kry sommer op die koop toe baie selfvertroue!


Beide hierdie boeke is by www.xtremepapers.com te kry. Ek glo daar sal al nuwer weergawes wees, besoek die webwerf en ondersoek self.

3.3 Aanlyn-kursusse

Ek is bewus van twee aanlyn-kursusse waardeur die kinders kan voorberei, daar sal sekerlik nog meer wees:


Ons het deur PassGED gewerk. Dit was vir my koste-effektief, maar omdat dit aanlyn is, beveel ek dit aan vir mense wat onbeperkte internet-toegang het. Die voordeel by PassGED is dat die kind deurlopend getoets word en hulle jou 'n aanduiding gee of jy gereed is om die amptelik toets af te lê of eerder nog 'n bietjie moet voorberei.

3.4 Boeke

Boeke - Daar is 'n wye verskeidenheid boeke beskikbaar om vir die GED voor te berei. Kyk veral op die webwerf van GEDTestingServices self, hulle gee name van boeke. Jy kan deur hulle bestel of die name goegeloer en tweedehands koop of self aanskaf. Soek ook by Kalahari en Loot (skakel hier regs iewers op my kuierwerf) of andere vir GED. 
Nuwe Inligting: Wanneer jy boeke aankoop, maak seker dis vir die internasionale GED wat die 2002-toetse skryf en nié die VSA se GED2014 nié.

Ek weet van 'n dogter wat baie goed gedoen het in haar GED en gebruik gemaak het van die boek "Cracking the GED" uitgegee deur Princeton Review. 

4. Registreer by PearsonVue vir afneem van toetse

Jy het hopelik alreeds by GEDTestingServices geregistreer, dan is dit maklik - kliek net op "Take the Test" en jy beland hier. Let op na die formaat van die datum - dis Amerikaans! 

Ons is gereed - my kind wil gaan skryf

Wanneer jy nou op PearsonVue geregistreer het, kan jy datums vasmaak om te skryf.
ANDERS as skool, skryf jy wanneer jy gereed en gemaklik voel. Daar is nie 'n eksamenrooster waarby jy hoef in te val nie.

Ek kan ongelukkig nie hier meer skakels plaas nie, omdat die webwerf 'n sekuriteitskode bevat en jy net elke keer op die eerste bladsy gaan land. Ek gaan mbv skermfoto's probeer verduidelik.

Wanneer jy op die "Schedule a Test" ikoon druk, verskyn die volgende skerm voor jou.





Kliek op die skakel om jou toetsdatums vas te maak.

Kliek dan op "Schedule This Exam"

Dan kies jy watter een van die vyf (5) areas jy wil gaan skryf. Volg die instruksies op die skerm tot by die toetssentra.

In Suid-Afrika kan die toets net by twee plekke afgeneem word: Sandton en Groenpunt, Kaapstad. Kies die een naaste aan jou en volg instruksies.
'n Almanak verskyn waarop jy kan sien watter datums beskikbaar is vir die betrokke toets - kies jou datum.

Daarna kom die betalingsopsies.

Die koste was vir ons $50 per vraestel. Vanweë die wisselkoers, verander die Randkoste daagliks.

BAIE BAIE BELANGRIK

Jou kind kan NIE met die SA ID gaan skryf nié. Dit is nie aanvaarbare vorm van identiteit nie. Hulle soek 'n identifikasie waarop 'n foto en 'n handtekening verskyn. Dus: 'n bestuurslisensie; 'n paspoort en moontlik (ek het nie sekerheid hieroor nie) 'n bankkaart tesame met 'n SA ID.

Die dag van die eksamen

Die persoon mag geen persoonlike besittings saamneem nie. In Sandton se kantore is daar sluitkaste waarin die kind haar besittings toesluit en die sleutel saam met haar inneem. Nie oorlosie nie, nie mediese bandjie nie, nie sakrekenaar of selfoon nie - NIKS.

Die kandidaat moet 15 minute voor die eksamentyd daar wees.

Wanneer sy daar uitstap het sy haar uitslag in haar hand - buiten English Writing - daar is 'n essay wat gemerk moet word. Ons het egter binne drie dae die uitslag van die laaste een ook ontvang.

Die Diploma word deur Diplomasender gepos. Op die PearsonVue webwerf sal jy wel die inligting daaroor kry. Hierdie deel gebeur egter outomaties, buiten dat jy op hul webwerf ook moet registreer. Pearsonvue sal egter jou lei in die hoe en die waar.

 Leticia se laaste vraestel het sy die 12e Desember geskryf. Haar laaste uitslag die 15e Desember ontvang en op 30 Desember is haar diploma gepos. Ons verwag dit nou enige dag.

Vakinhoud

Wiskunde - ek sou voorstel dat die kind Wiskunde tot matriekvlak voltooi het. Daar word enkele trig-vrae 
                   ook gevra.
Wetenskap - dit sluit wetenskap, biologie en aardrykskunde in. Weet maar dat evolusie deel vorm van die 
                    aanslag, maar dis net leesstukke met die bietjie verwysing na datums daarin.
Maatskaplike Studies - sluit in wêreldgeskiedenis (waaronder apartheid), VSA geskiedenis, ekonomie en 
                     ook regeringsvorme
Engels Lees - toets grootliks begrip, enkele homofone.
Engels Skrif - toets grammatika (slegs 3 "tenses" - YEAH!), sinskonstruksie, leestekens en skryfvermoë. Die essay bestaan uit 5 paragrawe. Hulle merk nie die ware inhoud vd verhaal nie (dus sou jy teen aborsie skryf, sal dit nie teen jou tel nie), wel of daar 'n duidelik inleiding en slot is, taalgebruik ens.

Ek het vir 'n student van UNISA gehelp met wiskunde. Al hul eksamens en werksopdragte is bloot meervuldige keusevrae. Die GED is basies ook net meervuldige keusevrae.

Gaan kyk asb na die voorbeelde op die verskillende webwerwe. Ook in die boek Master the GED.

En geniet dit! Dis baie beter as al die eksamenstres waardeur die matrieks gaan, om uiteindelik 'n sertifikaat te hê wat nie internasionaal erken word nie. 
Vertel my van jul ervaring en ook wat julle hierna gaan doen....