Tuesday, October 14, 2014

Hoeveel slapies kan jy tel? (deel 1 - vakansie in NZ)

Vyfhonderd-agt-en-dertig.

Gedurende April 2013 is die gedagte uitgespreek, 'n vraag gestel en 'n datum bepaal.
'n Geskenk groter as groot.
'n Verrassing beter as enige droom of fantasie.

As, indien, miskien en dalk....

My ma het gewens en my pa het gesê.
~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~

In Julie 1997 het my broer na Nieu-Seeland vertrek. In Suid-Afrika was sy vel te lig en sy taal te Europees. Hier was geen werk en geen toekoms vir 'n Afrikaanssprekende, blanke ingenieur nie.

Ons is net twee kinders - ek en hy. Skielik is dit net ek - en hy doer vêr..... Ons eie kinders (daar was toe net twee) was maar 30 maande en 7 maande oud. Sou ons ooit weer sien?

Christiaan, Leticia en Henry in 1997
~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~

In Januarie 2001 trou hy. Daar is nie regtig geld nie, maar ons koop kaartjies om die geleentheid by te woon. Leticia en Henry is bruidsmeisie en -jonker. My skoonsus (in Suid-Afrika op die plaas) is swanger met hul enigste - ons sou graag ook hier wou bly vir hulle.... Uiteindelik bly manlief agter en vlieg net ek en die twee kinders saam met my ouers oor.
Ek, Leticia en Henry in 2001, Nieu-Seeland
Saam-saam is ek en die nuwe Kiwi-skoonsus later swanger - wêrelde van mekaar verwyder. Die niggie en nefies sou mekaar eers jare later ontmoet.

Na drie jaar is die huwelik op die rotse.

~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~

Dan ontmoet hy sy droomvrou. 'n Suid-Afrikaner in Kiwi-land. Ek ontmoet haar wanneer ek in November 2008 alleen saam met my ma gaan kuier. Hulle trou in 2009.

Christiaan se troue in 2009
Nou het my ouers nege kleinkinders. Vier in Suid-Afrika en vyf in Nieu-Seeland. 

~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~

In die 17 jaar wat my broer al in Nieu-Seeland woon, was hy vier keer (alleen) in Suid-Afrika op besoek en ek was twee keer daar.

In 2013 word my pa 70; 2014 volg ma in sy spoor. En die besef is helder, tyd gaan verby. Daarom vra ma, sy vra nooit veel nie, maar die één ding wil sy van pa vra: Dat hul kleinkinders mekaar een maal mag ontmoet. Om een keer die hele uitgebreide gesin onder een dak te mag saamgooi.

Vanweë die komplikasies wat in hersaamgestelde gesinne ervaar word, is dit makliker om ons gesin van ses na Nieu-Seeland te neem as om hul gesin van sewe hierheen te bring. Makliker, nie goedkoper nie.

Dis die droom.
Maar hoe verwerklik mens dit?
Hoe lyk jou begroting?
Hoe koördineer jy twee boerderye, 'n gimnastiekklub en 'n student se tye ten einde 'n datum te kry wat sal werk? Terselfdertyd moet jy in gedagte hou dat die ander ouers ook toegang tot hul kinders oor vakansietye het, maar vakansietyd is die engiste wat die kinders saam kan kuier...

So word die gedagte gebore, word ons stilweg gevra na datums en begin 'n opgewondenheid smeul. Die internet word ingespan en die slapies getel: 538 slapies tot 'n droom.

My ma is die een wat beplan, droom, begroot, skaaf, aansny en uithaal. Hier besnoei, daar bespaar. 
Op 'n dag bel sy - sy is jammer, maar dit gaan nie moontlik wees nie. Die koste is net te groot. My kinders se gesiggies, die teleurstelling in my eie hart. Self kan ons nie bydra nie. Die oesjaar is bitter droog en spaargeld bestaan nie.

Uiteindelik het ons berus. As dit dan so moet wees, dan is dit so.

~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~

'n Ruk later het dinge verander. 
Ons kon weer hoop.
Ons kon beplan en droom.

In my e-posbus het die vliegkaartjies een-een aangeland.
 

Dinge het algou op 'n drafstap gegaan en ons het opgewonde die dae afgetel.

Dag 14 (Vrydag) kry ek 'n oproep van my pa. Ma het 'n baie slegte nag gehad. Haar hart is nie lekker nie, sy gaan dokter toe. As dinge so verloop, moet ons gesin maar alleen gaan. - Hoe op aarde dink hy.....
Ek bel later my ma om by haar self te hoor. Sy is vasbeslote, maak nie saak wat gebeur nie, vlieg vlieg sy. Die dokter en my pa is sommer laf, sy het te lank beplan, te veel uitgesien, te hard gespaar om nou op te gee. Nie eens haar hart wat sy pas tot gekkigheid versnel, sal haar van die vliegtuig afhou nie. Maar sy gedra haar rustig en drink haar pille soos voorgeskryf. Dinsdag besoek sy die dokter vir 'n opvolg en hy verklaar haar gesond.

So vertrek my ouers 'n week voor ons. My broer-hulle verwag my ouers, maar beslis nie vir ons nie....

*********************************************
Ek vertel môre meer..... :-)













Thursday, August 28, 2014

Prioriteite Verskil

Prioriteite verskil.
Dit verskil totaal van mens tot mens.

Maar die feit dat dit verskil beteken nie dat ek reg en jy verkeerd is nie.
Dit beteken bloot dat ons die lewens vanuit verskillende hoeke benader.

Sekere goed is net nie vir my belangrik nie. Dit hinder my nie in die minste nie.
Soos:

  • Skurwe hakskene
  • Grys hare
  • Klere
  • Skoene 
  • Skoonheidsmiddels
Skynbaar hinder dit ander mense.... die feit dat dit my nie hinder nie.... of so vermoed ek ;-)

Ek is 'n kaalvoetloper. Van kleins af. 
Ek verkies om stewig vas te trap met my tone en hakke, om die gras te voel, die sand, die gruis; om die hitte van die warmgebakte turf te voel, die koel van 'n geteëlde vloer. Die bosveld het egter uitdagings aan my kaalvoete gestel, papierduwweltjies groei in plate en steek seer, so ook die groot apiesdoring in ons tuin.

Aan die einde van elke winter neem ek my opnuut voor: Hierdie keer gaan ek aanhou skoene dra. My voete is nou mooi sag na die winter se skoendraery, ek moet net volhou.... tot die eerste warm Augustus-dag... dan ruk die hitte my baadjie af en skoene uit! Salig. Heerlik om weer te kan asem haal deur my voete.

Maar ek kry nogal gereeld 'n afskuurder en hakke-salf vir 'n verjaardaggeskenk. 'n Bedekte boodskap? 

Die dag waarop ek die eerste spierwit haar op my kop ontdek het, was 'n skok, wat gelukkig gou verbygegaan het. Vandag is daar al soveel dat uitpluk en ontslae raak van 'n swak opsie is wat moontlik 'n bles tot gevolg kan hê.

Ek is egter glad nie ontsteld daaroor nie. Inteendeel, ek mag erken dat ek trots voel op my gryserwordende kroon. 'n Stille getuienis van jare se ondervinding, jare goed spandeer. 

Ons jongste se opmerking: "Maar mamma, die haar is nie grys nie! Dis dan spierwit!!" was vir my kosbaar. Ja, my kind, dis nie grys nie, dis spierwit. Soos 'n nuwe kleed. 

Persoonlik stem ek met my moeder saam - die witter harekleed werk sagkens met die beplooide tronie wat daarmee saamgaan. Dit versag die rimpels en vorm 'n lieflike agtergrond. 

Geliefde sê op 'n dag: "Sjoe, maar jou kuif is darem nou regtig wit." Waarop ek net skalks lag en antwoord: "As ek my hare moet kleur, koop ek vir jou 'n pruik." 

Klere was nog altyd vir my bloot 'n noodsaaklikheid. Definitief nie iets om 'n jaar se salaris op te spandeer nie. Solank dit gemaklik sit en alles bedek wat bedek moet wees (wat weer 'n kwessie van persoonlike smaak is), is ek tevrede.

O, kyk, ek vrek oor 'n mooi rok en sal by 'n winkelvenster stilstaan, my oë vasgenael op die winkelpop, maar sodra ek die RRRR sien, word die rok sommer 'n stuk lap. Ek kan maar net nie vatkry aan die prys van klere nie.!

Ek dra langbroek in die winter, bloot omdat ek koud kry, maar kom somer, kan ek nie wag om my rokke uit te hang nie. Heerlikheid! Tog is dit nie 'n voorkeur-aankoop nie. Ek sal nie 'n rok koop net omdat dit mooi is nie - ek moet 'n rok nodig hê, voor ek koop.

Dieselfde geld skoene. Hoe op dees aarde mense skoene vir elke uitrusting kan regverdig.... 

Kry ek so lag.... ek het mos vertel van die nuwe uitdaging. Een van die opdragte is om jou skoene deur te gaan en ontslae te raak van die onnodiges. O, aarde, ek het gaan tel - ek het net ses pare skoene. Vir winter is daar: 'n paar vellies, stewels vir kerk en my pantoffels; vir somer het ek: 'n paar sandale vir dorpdae, 'n paar sandale vir kerk en 'n paar plakkies vir op die plaas dra.... want sien, ek loop meestal kaalvoet en skoene is regtig nie op my lys van prioriteite nie. Buitendien om meer as R150 vir 'n paar skoene te betaal laat my skoon arig voel.

Die aanloop vir hierdie inskrywing lê egter by die laaste van my minste-prioriteitslysie. Skoonheidsmiddels.

Was dit nie vir ons son en warm wind nie, was dit nie vir die dordroë winters nie, sou ek seker geen room ooit aan my gesig gesmeer het nie.

My Lübbe-ouma het die mooiste-mooiste vel gehad.
Op 80 was sy byna plooi-loos. 'n Sagte byna deurskynende pienk vel. Ek het haar op 'n keer gevra na haar skoonheidsgeheime. "My kind, ek het nooit enige grimering gedra nie, nooit. En al die jare my gesig met gewone groen Sunlight-seep - koekieseep - gewas."

Is al ons roompies en dinge nodig?

Ekself gebruik 'n gesigseep, 'n verfrisser en 'n dagroom - een keer per dag. Geen verdere iets nie.
En hierdie volslae aankoop doen ek sommer by Clicks. Hul eie handelsmerk. Want dit kan ek bekostig.

Ek kan helaas nie spog met ouma se vel nie, maar ek dra darem so 'n ietsie van haar gene. My vel voel goed en gevoed. 

Maar, dan kry ek hierdie oproepe van tele-bemarkers.... Hierdie en daardie produk, net so 'n paar vrae (waarvan een is hoe groot is jou maandelikse inkomste voor aftrekkings - wonder hoekom?) en dan 'n pakkie in die pos. 

Nee, dankie.

Wanneer ek oor dit alles nadink, alles in ag neem, dan wonder ek - nou wat is vir my prioriteit?
Klaarblyklik kan ek nie geld op myself spandeer nie - een of ander sielkundige mag dalk 'n teorie hê oor die hoekom daarvan, maar dis van geen belang nie. Ek kan nie geld spandeer op my hare, klere, skoene of skoonheidsroetine nie - dis alles ék-gerig en ek is nie gemaklik daarmee nie.

Iemand anders sal totaal anders daaroor voel - en ek gun elkeen dit.

My prioriteite? Dinge waarvoor ek selfs broodgeld sal gebruik....?
  • Gesonde kos
  • Boeke
Ek sal, ongeag die koste, nie huiwer om rogmeel, 7.5-aanvullings, heuning, vars groente en vrugte, vars vis en vleis te koop nie. Ons probeer sover moontlik die bloedgroep-dieet te volg en sny gevolglik koring en alle koringprodukte uit - dis verbasend hoe jou winkelwaentjie krimp wanneer jy MSG, koring en ander bygevoegde geur- en kleurstowwe verny. Ek koop ook deesdae net seesout en nie meer gewone tafelsout nie.

Boeke, o boeke. Goeie Afrikaanse boeke, reisverhale, biografieë. Genadiglik het ons dorpie 'n pragtig toegeruste biblioteek.... maar ek kan steeds nie 'n boekwinkel, veral nie 'n tweedehandse boekwinkel, verbyloop nie.

Laastens videos. Maar ek is versigtig om hierdie op my lys te plaas - ek is nie baie lief vir videos kyk nie. Ek verkies dokumentêre programme en videos met 'n geestelike boodskap. Ek sal egter nie broodgeld gebruik om videos te koop nie.

Hoe lyk jou prioriteitslys? Wat sal jy nooit koop nie en waarsonder kan jy nie gaan nie?

Groetnis






Wednesday, August 27, 2014

Uitdaging (alweer :-) )

Ek kan maar nie 'n uitdaging weerstaan nie.
Hier het ek al weer pens en pootjies geval....

Dalk is dit 'n bedekte seën dat ek nie 'n baie sosiale mens is nie. Dat ek eerder my gesinstyd koester as om die huis se deure wyd oop te gooi.

Want ek sukkel bietjie met orde, met chaos, met deurmekaar.
Eintlik baie.
Eerder, as ek werklik eerlik is, oorweldig my chaos my.

Dan kom daar dae wat ek radeloos raak, vlug uit my deurmekaar huis na die ewe deurmekaar skool en ontvlugting op die internet kry. Met soekfrases soos "How to declutter" of "How to organise your life" goegeloer ek dan rond.

So kom ek op 'n webwerf af wat my nadertrek,
                                               wat my bekoor,
                                                   soms selfs irriteer, want sy is perfeksionisties netjies......
                                  ...terwyl ek lyk en voel soos Einstein, woeste hare, deurmekaar verstrooide professor.

Kat het egter 'n uitdaging, 'n stap-vir-stap-plan na orde.
My droom.

Net 'n droom.
Want ek het nog nie een van die daaglikse takies uitgevoer nie.

Wat ek wel kan getuig is dat dit my 'n oopkop gee om na probleemareas te kyk, planne te bedink.

Miskien kan ek hier, op my eie kuierwerf, deel oor my "vordering". So dan en wan 'n foto van die voor en na wys, planne deel (want ek kan nie soos Kat, kort-kort winkels besoek en geld bestee nie - ek het dit nie.) As 'n boer 'n plan kan maak, dan moet boer se vrou twee planne hê.

My eerste poging (dis altyd my eerste poging!), was die badkamer.
Wel, dis nog nie afgehandel nie, maar dis die kleinste vertrek en dikwels die deurmekaarste en wanordelikste. Die bevrediging van 'n gedane taak, sonder dat dit my moedeloos maak weens die omvang daarvan, word die maklikste bereik in klein treetjies.

Ek sou graag wou vernuwe, verf, nuwe gordyne, en dies meer, maar vir eers is net 'n regpak en regskud genoeg.

Nou gou die kamera gaan haal en 'n paar foto'tjies neem van die eerste tree op 'n nuwe pad (ai-jai-jai - hoe lank ek op die pad gaan bly weet ek nie!)

Groetnis

Tuesday, August 26, 2014

Hoekom skryf jy nie?

Die vraag kom dikwels na my toe.

Inderdaad - hoekom skryf jy nie 'n boek nie?

Hoekom publiseer jy nie?
Jy het so lekker skryfstyl, gemaklike geselstrant en wat nog.

Ek het al baie daaroor gewonder.
Maar.... buiten vir die vraag of enigiemand dit sal wil lees, bly die grootste kwessie: Waaroor?

Waaroor sou mens skryf?

Want ek het nie 'n rype verbeelding nie, kan nie kinder- en skinderstories skryf nie. Tieners sal my taalgebruik uiters wantrouig bekyk en 'n woordeboek uit die oudedoos gaan soek. Oupas en oumas sal my skryfstyl dalk geniet, maar het ek iets om vir die wyse gryses te vertel?

Met al die inskrywings op my vorige kuierwerf (wat deur die gasheer vernietig is), het my ma 'n boek saamgestel, laat druk en bind en ek het 'n paar eksemplare verkoop, weggegee en geskenk.


Ek was so opgewonde oor hierdie "boek"...
By NAMPO een jaar, keer vriende van Naboom ons voor, vertel dat sy letterlik die boek opgetel het, begin lees het en eers drie-uur die volgende oggend die boek weer neergesit het.

Dit het my so lekker warm gevoel om die hart gegee.

'n Mede-tuisopvoeder en 'n boekuitgewer-vriendin op fb, merk een dag op dat haar man haar klankbord is vir al haar skryferasies. As hy lag, huil, opgewonde vra na die res - dan weet sy: Hier is 'n wenner. In reaksie op haar inskrywing merk ander skrywers ook op: Dis die groot kriterium vir publikasie.

Die klankbord.
Die naaste aan jou hart.
Hulle wat jou ken.

Miskien is dit hoekom ek nooit 'n boek sal skryf nie.

My naastes stel nie belang nie.

Ek moet erken, ek probeer tans werk aan 'n biografiese werk ook ons tuisopvoedingspad. Maar dit put my skoon uit. Daar is te veel om te sê, te veel wat ek wil deel, ek val myself voortdurend in die rede en op hierdie stadium lyk dit vir my deurmekaar.

Ek wou oorspronklik dit teen die einde van die jaar beskikbaar stel vir proeflees, maar....

Alle geval!
Groetnis... :-)





'n Getuienis

Dis al so lank gelede...
Die seun gaan al amper hoërskool toe.


Ek was blinkoog en vol drome toe ek op 21 met my droomman trou.
 'n Lewe vol liefde en belofte het op ons gewag.

Nog verder terug in die verlede. 
'n Dogtertjie van so 13.
'n Vraag: "En hoeveel kinders sou jy eendag wou hê?"
My antwoord was 'n definitiewe "Vier, tannie. Of ses."
Want sien, ek is een van net twee kinders
en my tannie had vier.
Dit het net so lekker gelyk - vier kinders.
Altyd maats.
Altyd beweging.

~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~

Ek was student.
Hy 'n dienspligtige.
Ons het mekaar op 'n kerkkamp ontmoet
en dadelik aangetrokke gevoel.

Daardie naweek, sommer so in die loop van die aand se gesels,
vra hy my: "Hoeveel kinders sal jy eendag wil hê?"
En ek antwoord: "Vier."
Hy glimlag en sê: "Ek ook."
Hy was een van vier.

~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~

Sy het by my geliefde se ouboet gekuier.
Sommige naweke was ons saam op die plaas 
en het 'n kamer gedeel.

Een aand vra ek terloops: "Hoeveel kinders sou jy eendag wou hê?"

~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~

Dinge was so mooi beplan.
Ons sou twee jaar wag (ons het immers die jeug aan ons kant)
en dan met 'n gesin begin.
Vir twee jaar sluk ek die Pil.
Maar my gemoedskommelinge,
my woedebuie, ontstel myself ook.

Uiteindelik die dag wat ek die goed kan weggooi.
Ons het nie lank gewag nie, ek dink dit was binne diie eerste maand,
toe ons opgewonde die toetspen dophou....
en twee strepies sien.

O, hoe genadig is die Vader, hoeveel seën is daar nie.
Ons dogter word nege maande later gebore.
Welgeskape, gesond, pragtig.


Te midde van min slaap, 
nageboortelike depressie,
aanpassings met borsvoeding,
vreugde en verwarring...

sou ons die eerste keer hoor
dat hulle al drie jaar lank sukkel.

Ek het nie geweet nie.
Vader, ek het nie geweet nie!

So begin 'n gebedsreis....
daaglikse gebed om 'n wonderwerk,
'n Goddelike ingryping - 
maar dit bly uit.

Alles, behandelings, doktersbesoeke, 
boererate, alternatiewe medisyne,
nog behandelings....
en gebed.

Twee jaar na ons dogter se geboorte,
word ons 'n seun ryker.
Midde-in die vreugde ervaar ons ook
die hartseer, die pyn.
En ons wonder: Hoekom, Here?

~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~

Met ons dogter op pad na vyf en boeta byna drie
is daar opgewondenheid in die lug.
Vreugde en jubeling, 
want 'n nefie of 'n niggie word verwag.

Met stomheid, verslaentheid staan ons 'n skrale drie maande later
voor die leë droom,
die droom met baie vrae.... wat weer en weer terugwentel na
Hoekom?

Hier. Net hier het my worstelpad met God begin.
Hier het ek werklik ervaar wat dit is om met God te pleit,
jou hart en siel voor Hom uit te stort, 
jou gebrokenheid, jou totale afhanklikheid van Hom te bely.

Oggend na oggend in my persoonlike Bybelstudie
telkens weer in Huisgodsdiens, 
tydens wyksbybelstudies 
is daar hierdie een gebedwens....
Ag, Here, voorsien.
Open U die moederskoot.

Op 'n dag in Augustus 1999, my Bybelstudie is uit Mattheus,
worstel ek weer met God oor 'n wonderwerk vir my geliefde skoonsuster en swaer.
Waarlikwaar, vir my, die een wat nie emosie wys nie, was dit 'n ween-gebed.
Meteens, duidelik hoorbaar, praat 'n stem: "Volgende jaar, hierdie tyd sal sy swanger wees."
Ek ruk omtrent my nek uit sy werwels los.
Wié het gepraat?
Maar dis net ek in die vertrek.

Ek reik na my Bybel en soek die betrokke teksvers:
Gen 18:14 "Is iets te buitengewoon vir die Here? Op die vasgestelde tyd
sal Ek terugkom. Volgende jaar hierdie tyd sal Sara 'n seun hê."

In stille verwondering het ek seker 'n volle vyf minute doodstil gesit.
Daarna my dagtaak aangepak.
Maar my gedagtes bly spook met hierdie vers,
hierdie Stem, hierdie Woord.

Die volgende oggend is ek vertwyfeld.
"Aag, dis maar net jou eie gedagtes. 
Dis omdat jy so graag wil hê dit moet so wees, dat jy nou al stemme hoor."
Met twyfel slaan ek my Bybel by die gedeelte in Mattheus oop.
Ek lees immers met 'n plan en is hier besig.

Daar, in die perikoop waar ek lees, staan dit duidelik, asof in dubbel-swart gedruk:
"Toe raak Hy aan hulle oë en sê: 'Wat julle glo, sal gebeur." - Matt 9:29
Wat jy glo....
Ek roep uit saam met die vader in Mark 9:24 "Ek glo Here, help my waar ek nog ongelowig is."
Nou glo ek seker dat dit wat ek die vorige dag gehoor het, 
van God self is. My gebed word 'n lof- en dankoffer.

Net om die volgende dag weer te twyfel.
Is dit, of is dit nie? Wat moet ek glo?
Wat is waarheid?
Vir sewe jaar bid ons al.
Vir sewe jaar "verniet"....
Wat maak vandag anders?

Dan spreek die Here weer deur sy Woord tydens my Bybelstudie:
"En gelukkig is elkeen wat nie aan My begin twyfel nie." - Matt 11:6

Drie keer het God dit bevestig.
Durf ek nog twyfel?

Soos 'n Gideon met sy skaapvliesie, het ek meer as genoeg bevestiging gekry.

Nou was dit die wag.
Wag op God.
Gelowig.

Augustus gaan verby - niks.
September gaan verby - niks.
Oktober en November gaan die paartjie vir behandeling - miskien is dit hoe God wil werk?
Nege maande van November af, bring jou immers by Augustus, dan nie? En dis mos wat God gesê het?

Ek hou, nee, ek klou hieraan vas.
Almal bid.
My Bybelstudie neem my deur tekste soos:

Matt 17:20 "En Jesus antwoord hulle: Deur julle ongeloof; want, voorwaar Ek sê vir julle, as julle geloof het soos ’n mosterdsaad sal julle vir hierdie berg sê: Gaan weg hiervandaan daarnatoe! en hy sal weggaan, en niks sal vir julle onmoontlik wees nie."

Matt 18:3 "en Hy sê: Voorwaar Ek sê vir julle, as julle nie verander en soos die kindertjies word nie, sal julle nooit in die koninkryk van die hemele ingaan nie!"

Matt 21:22 "En alles wat julle in die gebed vra, sal julle ontvang as julle glo."

Dan, die seerkry - weer geen resultate nie.
Wanhoop laat my roep: "Here??"
Maar ek hou aan glo, om drie dae na mekaar so versterk te word is reeds 'n wonderwerk.
Tog bly dit moeilik, my emosies ry wipplank. Desember, Januarie, Februarie...
Soms is ek vol geloof en moed, soos blyk uit 'n brief aan my niggie: 
"Ek sal bly glo tot ek in Julie of Augustus verkeerd bewys word."
Ander kere wil ek uitroep: "Here, was ek dan so verkeerd? Het ek verkeerd verstaan?"

6 Julie 2000
Blye dag.
Sy is reeds nege weke swanger!
Sonder enige mediese hulp
Slegs deur God se genadige ingryping!
Prys die Here, o my siel!

~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~

Terugskouend.
Ek het gehoor.
Ek het opgevolg en bevestiging gekry.

Maar ek wou Sara se belofte myne maak.
Ek wou binne 'n jaar 'n seun sien.
Terwyl Hy swangerskap beloof het.

~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~

Agtien maande na hierdie "Samuel"-nefie se geboorte
het ons weer 'n seun ryker geword - waarlik 'n geskenk van God.
En twintig maande daarna, 'n laaste seëning uit God se hand.
Nou het ons vier kinders gehad.


~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~

Dis baie jare later.
Ek het soveel geleer in hierdie jare.
Geleer om God te vertrou - met alles.
Geleer dat kinders uit en uit 'n geskenk, 'n gawe,
'n SEËN uit God se hand is.
Geleer dat wanneer ek beheer aan God gee,
dit ook beheer oor my liggaam insluit.
Dat my gesinsgrootte van God afhang, nie van 'n voorbehoedmiddel,
'n sterilisasie, 'n finansiële voorspelling nie.

Groetnis








Friday, August 1, 2014

Musiek- 'n terugblik

Musiek
Waarna luister jy?
Watter musiek laat jou goedvoel, teneergedruk, opgeruimd, energiek nadat jy geluister het?

smake....soveel verskillende smake.

Ek het nog altyd die teorie gehad dat kinders so 'n graad of drie afwyk van hul ouers se musieksmaak. Net so effens wilder as dit waarna die ouers luister.

In ons grootwordjare was daar streekradiostasies. So het Radio Jakaranda (ja, dit was werklik 'n Afrikaanse stasie, met Afrikaanse aanbieders, Afrikaanse advertensies en  ook Afrikaanse musiek met so dan en wan 'n Engelse iets tussenin), Radio Hoëveld (dit was meer Johannesburg se stasie, meer Engels in musiekstyl, in aanbieding ensovoorts), Radio Oranje en andere ontstaan.

My ouma-hulle het na die Afrikaanse Radio geluister (deesdae RSG). Ons het kleintyd grootoog gehoor hoe oud sommige omies en tannies geword, daar is Psalms en Gesange vir hulle gesing en net daarna was dit die oggend-oordenking (geen Moslem- of ander gelowe nie, net kerk). Ons moes stilsit deur elke nuusbulletin en weerberig. Geen dood en korrupsie, geen moord en verkragting nie.... nee, net nuus.

My pa het graag Jakaranda geluister, maar vir nuus en weerberig teruggeskakel na die Afrikaanse Radio. Hy het nie van die baie praat-programme op Afrikaans gehou nie, eerder musiek geluister op Jakaranda.

My ma het stilte verkies.

Daar was Radio5, Radio 702 en andere ook, maar ek het hulle nie geken nie. Nie eens geweet waar om hulle op die radio te vind nie. Want tieners luister mos na hul eie musiek, na "tapes".

My eerste "radio" was 'n blote kassetspeler.

en ek het net kassette geluister....

Meestal opgeneemde musiek vanaf die radio (op die hoëtroustel in die sitkamer) of van maats se plate. Want geld vir nuwe plate het ek nooit gehad nie. Ek sou in elk geval nie plate van die gewilde sangers van die era gekoop het nie. Die probleem met 'n plaat is dat een of miskien twee liedjies mooi en luisterbaar is, maar die res.....ai!

As tiener in die koshuis was almal se musiek, wel, almal s'n. Oral in die gang het radio's geblêr. Dikwels teen mekaar ook! Sommige dogters het erge "underground" musiek geluister, ander bietjie meer rockmusiek en die meeste maar net die popliedjies. Die liedjies wat vir 'n week of ses op die Top-10 was.

Ekself het egter tien jaar in die verlede vasgesteek. Abba, BoneyM.... hulle wat in die 70's gewild was, was die sangers na wie ek in die 80's geluister het. O, en dan! Modern Talking. Die twee het my knieë lam gesing.


Nou het ek self tieners.
Genadiglik tuisskolers..... :-)

En ek hoor hul musiek.
Mý musiek, my tienertydse musiek....

Bonny Tyler se Total Eclipse en BitterBlue, It's a heartache
Survivor - Eye of the Tiger
Berlin - Take my breath away.
Europe - It's the final countdown....

en so neem hulle my terug. Op 'n herinneringspad, 'n wandeling na 'n verlede....wat weliswaar sonder die internet en Youtube nie moontlik sou wees nie.

En ek gaan soek hulle.
Een na die ander....

dan onthou ek van Rod Stewart. Ek het nooit na sy musiek geluister nie, maar een video het vasgesteek en ek moes dit net vanoggend gaan kry:


Die lirieke het ek vanoggend vir die eerste keer deurgelees - en dis so so mooi!

Forever Young Lyrics
Artist(Band):Rod Stewart 

(R. Stewart/J.Cregan/K.Savigar)

May the good Lord be with you
Down every road you roam
And may sunshine and happiness
surround you when you're far from home
And may you grow to be proud
Dignified and true
And do unto others
As you'd have done to you
Be courageous and be brave
And in my heart you'll always stay
Forever Young, Forever Young
Forever Young, Forever Young

May good fortune be with you
May your guiding light be strong
Build a stairway to heaven
with a prince or a vagabond

And may you never love in vain
and in my heart you will remain
Forever Young, Forever Young
Forever Young, Forever Young
Forever Young
Forever Young

And when you finally fly away
I'll be hoping that I served you well
For all the wisdom of a lifetime
No one can ever tell

But whatever road you choose
I'm right behind you, win or lose
Forever Young, Forever Young
Forever Young ,Forever Young
Forever Young, Forever Young
For, Forever Young, Forever Young

Dit is net so, daar was sangers en liedjieskrywers wat net 'n merk laat en ander wat verdwyn.

Audrey Landers, Geraldine, Jennifer Rush, Kylie Minogue, Air Supply,  OMD. Of Aha, wat net weggeraak het.

Maar ek kan nie vandag meer na net hulle luister nie. Vandag is ek rustiger, meer daar waar my ouers destyds was. Vandag luister ek na Duitsers (Heino, Ronny, Freddie Breck), ou SA sangers (Janita Claassen, Gé Korsten, Laurika Rauch) en van die rustiger nuweres (Helene Bester, Stef Kruger) met so hier en daar afgewissel met een van "my tyd" se liedjies.

Aan die moderne Suid-Afrikaanse sangers kan ek egter nie vat kry nie....

Dit was egter lekker om net so bietjie in youtube se argiewe te gaan krap vanoggend.











Friday, March 7, 2014

Droogte tot Vloede

Foto geneem op 9 Februarie 2014
Ons het die beeste reeds hiervandaan geskuif na 'n ander plaas toe,
vir beter weiding. Maar die ander plaas is veronderstel ons winterweiding te wees.
Ons reënval van die begin van die seisoen tot op 8 Februarie was 297 mm
 (eerste reën op 08 Okt 2013 - 2 mm)

Ooreenkomstige tyd 2012-2013 : 520 mm (eerste reën op 07 Sept 2012 - 90 mm); totaal vir 2012-2013 - 695 mm (laaste reën op 21 Apr 2013)

Ooreenkomstige tyd 2011-2012 : 441 mm (eerste reën op 16 Aug 2011 - 10 mm); totaal vir 2011-2012 - 562 mm (laaste reën op 24 Apr 2012)

Ooreenkomstige tyd 2010-2011 : 536 mm (eerste reën op 09 Okt 2010 - 18 mm); totaal vir 2010-2011 - 773.5 mm (laaste reën op 19 Mei 2011).

Uit 'n totale byna 1200ha droë land kon ons net 200ha beplant.
En die manne se gemoedere het dikwels baie laag gelê.
Ons moes die beeste voer - die lang wintermaande lê nog voor...

Mens verstaan nie altyd nie.

Op Woensdag 26 Februarie 2014 hou ons gemeente 'n ope biddag vir reën.

Saterdag 1 Maart 2014 het ons tuisskolers 'n funksie digby die dorp en val daar 'n stortbui.
Toe ons by die huis kom had ons net 10mm - die dorp 25mm....

Sondag gaan sonder 'n druppel op die plaas verby.
Maandag val 12mm.
Dinsdag begin dit val, maar nie wyd nie. Buurvrou kom haal haar dogter na wiskundeklas 
en sê hulle het sopas 24mm gehad. Ek stap reënmeter toe - net 6mm.
Ons woonhuise is skaars 800m van mekaar af...

En meteens gaan die sluise van die hemel oop!!!!

Woensdagoggend halfvyf word ek wakker - is dit wind, is dit reën? Maar die geute raas nie.....tog....
die klimraam klap-klap ook nie vanweë wind nie....
Durf mens hoop?

En dan begin die geute en daarmee saam borrel 'n lied deur my hart.
Toe ons uiteindelik, 11-uur dorp toe moet ry - is dit hoe die wêreld om ons lyk:

In die spieëltjie is die sekuriteitshek , voor is die koei- en perdekampie....
Daar voor is die tweede hek....die kamera nou bietjie na links geswaai.

En so lyk die oprit.... :-)
Aan die linkerkant is die landerye - onder hierdie dam water is sojaboontjies geplant.

Die hoof-grondpad na links. Ons normale dorp-toe-gaan-roete.
Die mans het aanbeveel dat ek die ompad na regs moet neem....
Tussen ons en die bure is 'n yslike gat in die pad en daar het reeds,
voor ek gery het, 'n voertuig vasgeval.
Trekker moes hom gaan uitsleep.
Kan enigeen dan wonder hoekom ons met groot voertuie móét ry?
Die aanbevole roete na regs.... Nie noodwendig minder water nie, net minder gate.....
'n Aflooppunt by 'n sementbruggie. Omdat ons nie meer ordentelike paaie-administrasie in Suid-Afrika het nie, word die grondpad nie rond geskraap nie, maar letterlik hol.
 Langs die drade word walle geskep waardeur die water
nie kan breek nie en sit ons met hierdie gemors.

En dis die pad....
dalk 'n kar soos dié in Chitty-Chitty-Bang-Bang nodig?


Die kinders geniet die vloede baie!

Ons is die Here innig dankbaar vir sy voorsiening. Nog nooit het Hy ons verlaat of in die steek gelaat nie. Nog nie een jaar het verbygegaan waarin ons nie in diepe nederigheid ons afhanklikheid aan Hom moes erken nie.
Geloofd sy die Here!! Prys Hom want Hy is goed.

Monday, March 3, 2014

Unschool en Deschool

Twee terme wat baie verwar word en tot misverstande lei is:

deschool en unschool.

Miskien omdat ons weer eens nie taal ken en verstaan nie...

Die voorvoegsel "de-" in Engels beteken om te verwyder, weg te vat, minder te maak.

Die voorvoegsel "un-" in Engels beteken "nie" ("not").

In Afrikaans sou ons die voorvoegsel ont- gebruik vir die Engelse "de-" en die voorvoegsel on- vir die Engelse "un-".

Dus deschool beteken om te "ontskool" en unschool beteken om te "onskool".

Maar dis net woorde en woordspel. Wat is die definisie of die begrip van die woorde?

Deschool:
Ontskoling beteken en hou in dat skool verwyder word, minder gemaak word, weggevat word.

Dié begrip is net op tuisskolers wat eers in 'n skool was van toepassing, maar op álle tuisonderwys-ouers. Om 'n kind uit die skool te haal is relatief maklik, maar om die skool uit die kind te haal kan 'n sware taak wees. Om skool uit die ouers te haal is byna onbegonne!

Die probleem lê meestal in ons "bloudruk". Ons enigste verwysingsraamwerk na leer en leermetodiek is in ons eie skoolgaande verlede. Ons het nie 'n benul daarvan dat dit maar een van vele maniere (en nie juis die beste een nie) is waarop leer plaasvind. Skool is in effek 'n gestroopte weergawe van die werklikheid. Dink aan 'n laboratorium waarin alles klinies, wit en silwerskoon is. Dit is nie naastenby die omgewing waarbinne rotte, konyne en ander proefdiere gewoonlik leef nie. Tog word eksperimente daar gedoen om die werklikheid te probeer verstaan, ontleed en vrae te beantwoord.

Skool gee nie die ware werklikheid weer nie. Slegs 'n skamele afskaduwing daarvan.. Ons, die ouers, moet leer dat kinders baie meer en baie beter kan leer buite die skool. Daarom het ons nodig om geledig te word van skool en ons opvattings daaromtrent.

So ook kinders wat in 'n skool was - dis noodsaaklik om hierdie kinders te ontskool.... Vir ten minste 6 maande, maar in die geval van onderwysers wat tuisonderwys oorweeg tot soveel as 18 maande.

Unschool:
Onskoling is 'n leermetode wat van die lewe die leerinstrument maak.

Skool is hier van geen waarde nie. Die kind word juis onskool - nie geskool nie. Skool gesien in die nouer verband van die woord - asof dit slegs sou beteken die aksie waarby kinders met handboeke, leermateriaal (synde werkboeke, skrifte, pen en papier) by 'n lessenaar op 'n regop stoel sit.

Onskool hou in dat die lewe self as leerskool ingespan word. Met ander woorde, die kind begin 'n werk ('n beroep as jy wil) en leer daaruit self die praktiese wat dan lei tot teoretiese ontdekking. "Unschooling" is 'n baie wye begrip en word van radikaal tot baie konserwatief toegepas. Sommige ouers sal hul kinders toelaat om self te besluit selfs oor wat hulle vir ete wil hê, ander ouers gebruik hier en daar wel kurrikulum-materiaal, maar dan self gekose, self saamgestelde en verder aangevul deur die lewe.
Die besluit of ouers wil unschool of nie, berus by hulself. Dit is egter by verreweg die beste metode om veral kleiner kinders te leer. Deur rolspel, takies, verantwoordelikhede leer hulle die wêreld om hul ken. Maria Montessori het ook hierdie metode van onderwys, waar die lewe jou onderwyser is, gebruik in haar metodiek.

Die besluit om te deschool is ook in die ouers geleë. Uit eie ondervinding weet ek egter, dis die een waar die meeste ouers gly en uiteindelik, na 'n jaar of twee besef: Ons moes dit gedoen het. Gelukkig is dit nooit te laat nie en kan jy steeds, selfs na 2 jaar van tuisopvoeding, deschool.

Geniet die reis - want regdeur die lewe leer ons immers.



Friday, February 28, 2014

"Unschooling" - Selfleer

Mense voel gemaklik met 'n kurrikulum, dit bied grense maar dit is uiters beperkend en voorskrywend. 

Die meeste mistastings oor tuisopvoeding kom voor wanneer 'n mens wegbeweeg van enige kurrikulum en die lewe as leerskool gebruik.

In Engels word hierna verwys as "unschooling". Met ander woorde - nie-skool. Verskillende definisies word op die internet hiervoor gegee.

  • John Holt (wie se boeke ek altyd aanbeveel) beskryf dit as  "allowing children as much freedom to learn in the world, as their parents can comfortably bear."
  • Earl Stevens haal vir Bernard Shaw aan: "What we want to see is the child in pursuit of knowledge, not knowledge in pursuit of the child."
  • Jenny Cyphers sê: "Just like ALL learning, learning how to live comfortably and happy are really wonderful things. It takes a focus on turning away from what you know you don't like and turning towards something else, that something else that creates happy learning and living. Unschooling really is a shift in thinking and then acting on it."
  • Mary Griffith definieer: "Unschooling means learning what one wants, when one wants, in the way one wants, for one's own reasons. ... choice and control reside with the learner ... She may find outside help in the form of parents, mentors, books, or formal lessons, but SHE is the one making the decisions about how best to proceed. Unschooling is trusting that your children are at least as clever and capable as you are yourself."
Dis 'n totaal ander denkwyse as die tradisionele skool-manier van doen.
Dis om die lewe te leef en jou kinders toe te laat om daardie selfde lewe te beleef. Om self daaruit te leer wat vir hulle van waarde is.

Ek het al baie die verhaal van hasie vertel, maar wil dit tog in hierdie inskrywing herhaal.
Hasie was baie opgewonde toe hy die eerste keer skool toe is. Almal het hom vertel hoeveel hy gaan leer en hoe slim hy gaan word. Sy ogies het geblink en van pure opgewondenheid het hy op en af gespring.
Vir die eerste ruk het dit met Hasie goed gegaan op skool. Hy kon speel en hardloop saam met al die ander dieremaats in die skool.
Maar geleidelik het die huppel in sy stap minder geword, sy ogies dof en moeg. Mamma-haas kon sien haar Hasie-kind is nie meer homself nie. Sy het alles gedoen om hom beter te laat voel. Sy gunsteling wortelkoekies gebak, hom bederf met twee stories voor slaaptyd. Pure verniet.
 
 Wat Mamma-haas nie besef het nie, is dat Hasie swaarkry by die skool, want sien, Hasie kan nie swem nie. Tydens een oueraand, gesels Mamma-haas met die onderwyseres by die skool en dié vertel vir Mamma van Hasie se "probleem". Met groot oë en stom van verbasing luister mamma na wat die juffrou vertel. "Maar, is daar iets wat ons kan doen?" wou Mamma-haas weet.
Wel, Juffrou het aanbeveel dat Hasie smiddae vir ekstra lesse moet terugkom skool toe. Hy moes ook ekstra-klasse by 'n buite-persoon, 'n kenner, gaan neem. Hasie moes ure lank in die swembad deurbring, om te leer swem.
 
Hoeveel trane het daar nie gevloei nie, Mamma-haas se hart het gebreek, maar die juffrou het so gesê en hoe kan sy wat Mamma-haas is nou teen die juffrou se aanbevelings ingaan. O, ja, sy weet dat Hasie baie goed is met spring. Hasie kan ook vinnig hardloop, vêr spring en hoog spring. Hy doen goed met touspring en Hasie se vriendelikheid, sy hulpvaardigheid is oral bekend. Dis net ..... Hasie kan nie swem nie.
Skoolvakansies is gebruik om Hasie na proffessionele swemskole te neem....
Die uiteinde van al die harde werk, al die ekstra ure, al die vermiste ure van leef en pret?
Hasie het verdrink......
~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~
 Dit wat ek sien met die kinders vir wie ek wiskunde-ekstra-klasse aanbied....
Dit wat ek sien met die kinders vir wie ek Sondae Verbondsonderrig gee....
Dit wat ek sien in skoolkinders smiddae in die dorp se strate...

Blinkoog-kinders wat moeg geword het. 
Moedeloos. 
Kinders wat met hangskouers stap.

"Ag, tannie, ek sal dit nooit regkry nie."
"Nee tannie, ek is nou maar eenmaal dom."

In die werklikheid, in die "grootmenslewe" as jy wil, in die LEWE doen mense dít waarin hulle presteer, dit waarmee hulle goed is. Hulle gebruik hul talente en gawes tesame met hul persoonlikheidstrekke, hul menswees-kenmerke om suksesvol te leef. Die fokus word nie op my swak administrasie-vermoëns gelê nie, nee, mense sien my wiskundige vermoëns raak. Tony Factor se swak spelling en disleksie was nie die AL waarop almal se oë gerig was nie, nooit! Die fokus was op sy fenomenale bestuursvernuf.

Sou almal fokus op die feit dat Oscar Pistorius nie bene het nie of Nic Vujicic se gebreke - of sien ons hoe hierdie mense fokus op hul pluspunte - die goed waarin hulle werklik GOED is?

Hoekom doen ons dit dan anders met ons kinders???

Hoekom fokus ons op die druipeling se wiskunde punt, maar sien nie raak hoe sy Saterdag vir Saterdag by die ouetehuis in die siekeboeg vir die oumense voorlees nie?

Hoekom sien ons met 'n rooipen en skerp lig die spelfoute in 'n opstel raak, maar kyk bo-oor die enjin wat aand vir aand, stukkie vir stukkie aanmekaargesit en tot motorfiets uitgebou word?

Dit is hoekom ek "unschool".
Dit is hoekom ek my kinders toelaat om die dinge wat vir hulle belangrik is, na te jaag.
Dit is hoekom ek weier om my kinders te konformeer tot een of ander penlekker se verlaagde standaard.
Dit is hoekom ek die lewe as leerskool kies bo 'n gebou gevul met ander soekende kinders wat almal tot een vorm vervorm moet word.


Groetnis




Nog webwerwe oor "unschooling", veral Christelike Unschooling: 
http://www.christian-unschooling.com (geskryf deur Cathy Koetsier, 'n Suid-Afrikaanse moeder)

Tuesday, February 25, 2014

"gesiglose" vriende

Wie sou dit kon raai?

Om mense wat jy glad nie ken nie, "vriende" te noem....

Tog gebeur dit. Jim Reeves het lang jare gelede gesing: "A stranger's just a friend you do not know."

Ek was bang vir facebook (dalk eerder vuisboek). Bang omdat dit onbekend en te blootgestel gevoel het.
Ek het my kuierwerf (blog) te veel geniet om dit op te gee vir kort nuttelose inligtingsbrokkies op 'n kuber-muur. Graffiti op 'n elektroniese wolknewel.

Uiteindelik het nuuskierigheid die oorhand gekry en my kuierwerf daaronder gely. Want vuisboek het my in sy ystervuis beetgekry. Loskom is min. Verslawing is maklik.

Maar die eienaardigste was die hoeveelheid "blog-vriende" ek op fb raakgekuier het. Ou-ou bloggers, die klompie wat my in my "eerste lewe" laat welkom voel het. Ons almal se blogs het bietjie gaan stilstaan, maar op fb het ek hulle opgespoor.

Geleidelik groei 'n mens - en nou kan ek nie meer een van hulle kuierwerwe opspoor nie. Net Estelle s'n wat ek nog kort-kort by inloer.

Maar terselfdertyd het ek soveel nuwe vriende gemaak. Facebook bied groepe en in hierdie groepe het ek mense gevind wat soos ek dink, wat soos ek glo, vir wie hul Christenskap ononderhandelbaar is, wat tuisopvoeding nie as 'n geheimsinnige iets uit die buitenste ruim beskou nie, maar saam met my gesels en verstaan hoe dinge soms gaan.

Vriende wat ek so nou mee verbonde geraak het, dat ek hulle onvoorwaardelik in my huis sal ontvang - al het ek hulle nog nooit in die oog gekyk nie.

Linnie  is een so 'n vriendin. 'n Kosbare geskenk uit God se hand, 'n vriendin op nie net emosionele en fisiese, maar veral op geestelike vlak. By haar het ons ingeval tydens 'n Kaapse kuier, want die kilometers skei ons.

Elize is ook 'n vêr vriendin. Een wat kans gesien het om 'n fb-vriendin wie sy nog nooit gesien het nie, se ouers verblyf aan te bied toe my pa in 'Maritzburg 'n operasie moes ondergaan.... Ongelooflik!

Nelba, Leticia (my meisiekind) en Esther is nog van die Afrikaanse kuierwerwe waar ek gaan loer, en 'n gunsteling is dié van 'n Amerikaanse gesin.

Daar is sovele ander vir wie ek nog wil ontmoet. Ek het al verskeie ontmoet, hetsy per telefoon met navrae of op reis deur die land. Andere sal ek eers in die hemel mee kan kuier, want aardse tyd is net te min.

Wie sou dit ooit kon raai?

Nou, hier na 40, besef ek eers dat vriende dikwels in ongewone gedaantes oor jou lewenspad loop. Hier het ek nou 'n nuwe blogvriendin uit Nederland! Waar anders as op die net sou dit moontlik kon wees?