Tuesday, August 26, 2014

Hoekom skryf jy nie?

Die vraag kom dikwels na my toe.

Inderdaad - hoekom skryf jy nie 'n boek nie?

Hoekom publiseer jy nie?
Jy het so lekker skryfstyl, gemaklike geselstrant en wat nog.

Ek het al baie daaroor gewonder.
Maar.... buiten vir die vraag of enigiemand dit sal wil lees, bly die grootste kwessie: Waaroor?

Waaroor sou mens skryf?

Want ek het nie 'n rype verbeelding nie, kan nie kinder- en skinderstories skryf nie. Tieners sal my taalgebruik uiters wantrouig bekyk en 'n woordeboek uit die oudedoos gaan soek. Oupas en oumas sal my skryfstyl dalk geniet, maar het ek iets om vir die wyse gryses te vertel?

Met al die inskrywings op my vorige kuierwerf (wat deur die gasheer vernietig is), het my ma 'n boek saamgestel, laat druk en bind en ek het 'n paar eksemplare verkoop, weggegee en geskenk.


Ek was so opgewonde oor hierdie "boek"...
By NAMPO een jaar, keer vriende van Naboom ons voor, vertel dat sy letterlik die boek opgetel het, begin lees het en eers drie-uur die volgende oggend die boek weer neergesit het.

Dit het my so lekker warm gevoel om die hart gegee.

'n Mede-tuisopvoeder en 'n boekuitgewer-vriendin op fb, merk een dag op dat haar man haar klankbord is vir al haar skryferasies. As hy lag, huil, opgewonde vra na die res - dan weet sy: Hier is 'n wenner. In reaksie op haar inskrywing merk ander skrywers ook op: Dis die groot kriterium vir publikasie.

Die klankbord.
Die naaste aan jou hart.
Hulle wat jou ken.

Miskien is dit hoekom ek nooit 'n boek sal skryf nie.

My naastes stel nie belang nie.

Ek moet erken, ek probeer tans werk aan 'n biografiese werk ook ons tuisopvoedingspad. Maar dit put my skoon uit. Daar is te veel om te sĂȘ, te veel wat ek wil deel, ek val myself voortdurend in die rede en op hierdie stadium lyk dit vir my deurmekaar.

Ek wou oorspronklik dit teen die einde van die jaar beskikbaar stel vir proeflees, maar....

Alle geval!
Groetnis... :-)





5 comments:

  1. Ek sal enige tyd vir jou proeflees!

    ReplyDelete
  2. Ek sal saam duim vas hou vir daardie biografie. En ek sal ook met liefde help proeflees!

    Hier sit ek met dieselfde probleem. Ek dink nie manlief het al 'n woord gelees van wat ek skryf nie. So vir nou sal die familie maar hulle lugkastele moet bere vir later.

    ReplyDelete
  3. Hallo, mag ek jou toestemming kry om die eerste paragraaf van jou skrywe van hierdie blog te gebruik? (Hoekom skryf jy nie?) Na ek my boek laas jaar gepubliseer het word ek oorval met navrae oor "hoe doen mens dit? en ook ander vrae soos joune. Ek is besig om 'n eboek handleiding saam te stel vir sulke vriende en kennisse wat ek sommer gratis wil aanstuur vir almal wat baie dinge wil weet. Hierdie boek is saamgestel deur vrae wat amateur skrywers vra of skrywers wat al jare lank skryf maar nou vir die eerste keer wil publiseer nodig het om te weet. Raad en advies, antwoorde en oplossings is verskaf deur gesoute skryfwers en profesionele mense wat al baie lank in die media bedryf is en poog om al die vrae te antwoord. Ek sou graag jou vraag in die boek wou insluit onder die 2de hoofstuk "Genre's". www.swerfkind.webs.com

    ReplyDelete
    Replies
    1. Zuanne-Marie,

      Jy mag dit plaas, maar met twee versoeke asb (en as skrywer glo ek jy sal dit verstaan en respekteer). Eerstens met 'n skakel na my kuierwerf (www.huisvrou.blogspot.com) waar die aanhaling verkry is en tweedens met my naam: Marelize Keyter daarby.

      Jy sal sien dat jy nie kan lak en plak van my kuierwerf af nie, want ek het my al vasgeloop met sg bloggers wat my werk steel en plagiaat pleeg. Jy sal dus maar 'n uitdruk moet maak en dit oortik.

      Dankie

      Delete
  4. Baie dankie. Ek maak so en hou jou op hoogte.

    ReplyDelete