Tuesday, October 14, 2014

Hoeveel slapies kan jy tel? (deel 1 - vakansie in NZ)

Vyfhonderd-agt-en-dertig.

Gedurende April 2013 is die gedagte uitgespreek, 'n vraag gestel en 'n datum bepaal.
'n Geskenk groter as groot.
'n Verrassing beter as enige droom of fantasie.

As, indien, miskien en dalk....

My ma het gewens en my pa het gesê.
~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~

In Julie 1997 het my broer na Nieu-Seeland vertrek. In Suid-Afrika was sy vel te lig en sy taal te Europees. Hier was geen werk en geen toekoms vir 'n Afrikaanssprekende, blanke ingenieur nie.

Ons is net twee kinders - ek en hy. Skielik is dit net ek - en hy doer vêr..... Ons eie kinders (daar was toe net twee) was maar 30 maande en 7 maande oud. Sou ons ooit weer sien?

Christiaan, Leticia en Henry in 1997
~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~

In Januarie 2001 trou hy. Daar is nie regtig geld nie, maar ons koop kaartjies om die geleentheid by te woon. Leticia en Henry is bruidsmeisie en -jonker. My skoonsus (in Suid-Afrika op die plaas) is swanger met hul enigste - ons sou graag ook hier wou bly vir hulle.... Uiteindelik bly manlief agter en vlieg net ek en die twee kinders saam met my ouers oor.
Ek, Leticia en Henry in 2001, Nieu-Seeland
Saam-saam is ek en die nuwe Kiwi-skoonsus later swanger - wêrelde van mekaar verwyder. Die niggie en nefies sou mekaar eers jare later ontmoet.

Na drie jaar is die huwelik op die rotse.

~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~

Dan ontmoet hy sy droomvrou. 'n Suid-Afrikaner in Kiwi-land. Ek ontmoet haar wanneer ek in November 2008 alleen saam met my ma gaan kuier. Hulle trou in 2009.

Christiaan se troue in 2009
Nou het my ouers nege kleinkinders. Vier in Suid-Afrika en vyf in Nieu-Seeland. 

~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~

In die 17 jaar wat my broer al in Nieu-Seeland woon, was hy vier keer (alleen) in Suid-Afrika op besoek en ek was twee keer daar.

In 2013 word my pa 70; 2014 volg ma in sy spoor. En die besef is helder, tyd gaan verby. Daarom vra ma, sy vra nooit veel nie, maar die één ding wil sy van pa vra: Dat hul kleinkinders mekaar een maal mag ontmoet. Om een keer die hele uitgebreide gesin onder een dak te mag saamgooi.

Vanweë die komplikasies wat in hersaamgestelde gesinne ervaar word, is dit makliker om ons gesin van ses na Nieu-Seeland te neem as om hul gesin van sewe hierheen te bring. Makliker, nie goedkoper nie.

Dis die droom.
Maar hoe verwerklik mens dit?
Hoe lyk jou begroting?
Hoe koördineer jy twee boerderye, 'n gimnastiekklub en 'n student se tye ten einde 'n datum te kry wat sal werk? Terselfdertyd moet jy in gedagte hou dat die ander ouers ook toegang tot hul kinders oor vakansietye het, maar vakansietyd is die engiste wat die kinders saam kan kuier...

So word die gedagte gebore, word ons stilweg gevra na datums en begin 'n opgewondenheid smeul. Die internet word ingespan en die slapies getel: 538 slapies tot 'n droom.

My ma is die een wat beplan, droom, begroot, skaaf, aansny en uithaal. Hier besnoei, daar bespaar. 
Op 'n dag bel sy - sy is jammer, maar dit gaan nie moontlik wees nie. Die koste is net te groot. My kinders se gesiggies, die teleurstelling in my eie hart. Self kan ons nie bydra nie. Die oesjaar is bitter droog en spaargeld bestaan nie.

Uiteindelik het ons berus. As dit dan so moet wees, dan is dit so.

~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~

'n Ruk later het dinge verander. 
Ons kon weer hoop.
Ons kon beplan en droom.

In my e-posbus het die vliegkaartjies een-een aangeland.
 

Dinge het algou op 'n drafstap gegaan en ons het opgewonde die dae afgetel.

Dag 14 (Vrydag) kry ek 'n oproep van my pa. Ma het 'n baie slegte nag gehad. Haar hart is nie lekker nie, sy gaan dokter toe. As dinge so verloop, moet ons gesin maar alleen gaan. - Hoe op aarde dink hy.....
Ek bel later my ma om by haar self te hoor. Sy is vasbeslote, maak nie saak wat gebeur nie, vlieg vlieg sy. Die dokter en my pa is sommer laf, sy het te lank beplan, te veel uitgesien, te hard gespaar om nou op te gee. Nie eens haar hart wat sy pas tot gekkigheid versnel, sal haar van die vliegtuig afhou nie. Maar sy gedra haar rustig en drink haar pille soos voorgeskryf. Dinsdag besoek sy die dokter vir 'n opvolg en hy verklaar haar gesond.

So vertrek my ouers 'n week voor ons. My broer-hulle verwag my ouers, maar beslis nie vir ons nie....

*********************************************
Ek vertel môre meer..... :-)













No comments:

Post a Comment