Sunday, October 23, 2011

Twee weke vakansie? - Uitmergelend... :)

Dit sou, soos altyd, net 'n week gewees het.
Want dis hoe dit is.
Net sewe tot tien dae per jaar. Dit is wat ons onsself toelaat.

Februarie kry ek 'n epos vanaf 'n tuisopvoeder-moeder. Eintlik dié TO-moeder in Suid-Afrika. Hul gesin was genooi om 'n tuisopvoedergroep in Upington te besoek en toe te spreek, maar hul program is so vol dat hulle graag bietjie wou afskaal. Sou ons dalk belangstel om in hul plek te gaan?

In die eerste plek was ek totaal verslae, verbaas. Op grond waarvan kan ek ooit droom om in hulle plek te gaan? Dis 'n eer, maar 'n geweldige verantwoordelikheid. Sien ek regtig kans? Nadat ek met die hoof van die huis konfereer het, besluit ons - Jip, ons sal gaan.

Maar... Waar is Upington?
So 'n 970km van ons af. 'n Entjie vir net 'n naweek.

En daarom besluit ons op 'n vakansie in Kgalagadi.
Ons is nou maar eenmaal SANParke-ondersteuners en het besluit om hierdie park ook te gaan uittoets. Maar om ons 1974-woonwa so ver te sleep is totaal buite die kwessie. Dus gaan ons in tente kampeer - nog 'n eerste!

Na heelwat gesels en gesprekke, foonoproepe en wenke, besluit ons om liewer via Botswana te ry, eers die week in Kgalagadi te kamp en dan die naweek met die tuisopvoeder-groep te kuier. Die rit deur Botswana sou ook twee dae duur en ons sou dan oorslaap op 'n plaas naby Tsabong - Berry Bush - waarna ons dan vroegoggend via Bokspits / Gemsbok grenspos Suid-Afrika sou binnegaan en na Twee Rivieren vir die nag.

Mmmmm. Verrassing. Henry KRY toe sy Limpopo-kleure! En raai, die SA's vind plaas in Bellville. We-e-l dan moet ek dinge net so 'n bietjie aanpas, sodat ons die Vrydag en Saterdag, in plaas van in Tsabong, dan in Bellville is.

Ag, maar dinge werk nooit soos 'n mens dit sou wou hê nie. Toe ek die SA Gimnastiek Federasie se webblad gaan opsoek om net sekerheid oor seun se program te verkry, sou ek sien: Hy neem reeds WOENSDAG deel!!

So, sonder slag of stoot, word ons vakansie tot twee weke gerek. Word Botswana gekanselleer en Mokala bespreek.

Vader is so groot en goed! Dinge werk somtyds nie presies soos ons dit beplan nie, omdat Hy 'n groter, beter plan het. Dis net dat ons so ongeduldig kan raak.

In Maart het ons 'n nuwe waentjie met 'n tent (nee, nie 'n daktent nie, net 'n los tent) en 'n verlenging vir die tent op Bid-or-buy gekoop. Die waentjie het effens skade gehad nadat die vorige eienaar die raamwerk gesny het om twee watertenks te installeer. Ek is geseën met 'n verskriklik handige man en hy het die waentjie nie net pragtig herstel nie, maar ook die spaarwiel geskuif sodat hy 'n kas vir die tentpale kon maak en onder die waentjie installeer.






 Verder het hy die waentjie ook van krag voorsien en 'n gasbottelhouer (wat ek by Challenger op die dorp gekoop het) installeer.




Ek het ook by Pik-en-Betaal 'n paar kratte gekoop wat ek later aangevul het met kratte vanaf die koöperasie om al die bagasie darem min of meer eenvormig gepak te kry.


Die voordeel van die kratte was hulle pas inmekaar en sodra een leeg word, kan dit in 'n ander ingepas word (en plek gemaak word vir 'n paar bokse Bolandse wyn ;) )

Later, soos wat die pakkery in erns toegeneem het, het ek besef dat ons klere - met die elke keer 'n nag hier en 'n nag daar - vir die dag gepak moet word. Weer het beterhelfte die idee: Kry by P-E-P Boutique van daai sakke wat die werkers gebruik soos tasse. Wonderlike gedagte. Teen R20 elk het ek sommer 'n hele klomp gekoop - nou is ons wintersklere ook in hierdie sakke, baie beter gesorteer en my kasruimte baie beter benut.

Alle geval, ek het elkeen se slaapklere, toiletsakkie, handdoek, duvet en kussing in hierdie sakke gepak.

En dis nou genoeg vir eers - ek moet gaan kos maak en die huis regruk.... :)

Sal hopelik weer later die week hier kan kom sit en kuier.
Groetnis van kombuis na kombuis.

Saturday, September 17, 2011

Om 'n vakansie te reël

Ons het 'n uitnodiging ontvang. 'n Wonderlike bederf-uitnodiging. 

'n Tuisopvoeder-groep van Upington se wêreld nooi een keer per jaar 'n ander tuisopvoeder gesin om met die groep hul tuisopvoedingspad te deel. Vanjaar het hulle vir Leendert genooi, maar hulle kon dit nie maak nie. So stel hy voor dat hulle ons nooi. In die eerste plek was ek totaal verras - dat iemand van sy profiel ons gesin as 'n plaasvervanger vir hul gesin kon beskou! Verder was ek bang - want ons opvoedingspad loop nie altyd op die ideaal nie, daar is maar dikwels val- en faal-tye.

Maar dis 'n voorreg en 'n opgewondenheid het hom van my baas gemaak. Die enigste probleem is dat Upington vrek ver van Naboomspruit af is!! En om net vir 'n naweek daarheen te ry (al word brandstof betaal) bly bykans verregaande. Dus maak ons 'n vakansie daarvan. Ons bespreek die naweek van 13-15 Oktober en sal dan die week vooraf in Kgalagadi oorslaap. 

Die gimnastiek SA's vind in Bellville plaas hier rondom 4 tot 9 Oktober en ons voorsien nie werklik dat Henry kleure sal kry nie, maar indien hy sou kry, dan gaan ons maar eers af Kaap toe en daarvandaan noord. Al die kompetisies vind immers gedurende Vrydag en Saterdag plaas. Dus kan ons Woensdagnag ry, Donderdagaan oorslaap, Vrydag kompetisie doen en Saterdag noorde toe ry sodat ons Sondag by Twee Rivieren kan inboek. Indien hy nie kleure kry nie, dan sal ons deur Botswana ry, oorslaap by Tsabong en dan na Twee Rivieren vertrek. So beplan die mens....

Tydens die Limpopo-kompetisie kou ons naels - en Henry kry voorwaar span! Weliswaar nie 'n posisie nie, maar sy punte is steeds hoog genoeg om te kwalifiseer vir die span. Terug by die huis is ek dadelik op SAGF se webwerf om te sien hoe laat en wanneer die kind deelneem. Skok der skokke!! Hy neem al die Woensdag deel. Woensdag 5 Oktober om 16:00 moet seunskind in Bellville wees. (Hy neem deel aan MAG Tyro 1, ouderdomsgroep 14 en onder).

Wel, wel. Skielik moet baie dinge heroorweeg en weer beplan word. 10 dae word 15 dae. Eers net met swaer en skoonsus praat, ons loop so lank weg en hulle moet die boerdery hanteer. Swaer se woorde was: " 'n Mens ry nie so ver en hou net 'n week vakansie nie!" Dankie, Ouboet.

Eers gedink ons sal Maandagnag hier wegtrek en dan Dinsdagaand se kant in Rawsonville se wêreld kamp opslaan. Maar terwyl ek die roete beplan (nadat ons by vriende gehoor het dat daar tussen Colesberg en Bloemfontein 'n stuk of tien "stop/go"-oponthoude is) sien ek dat ons by my neef in Ritchie verbyry. Manlief vra toe hoekom ons nie sommer Maandagaand daar oornag nie. Kontak neef, maar hulle is daardie week in Kgalagadi. Tot my verbasing merk ek op Google Maps dat daar 'n nasionale park genaamd Mokala is. Ek het eerlik nie van die park geweet nie. Dadelik het ek hier 'n kampeerplek bespreek (ons gaan met die sleepwa en tent in Kgalagadi kampeer, dus het ons al die kampeergerei by ons). 

Ons het verlede jaar by River House in 'n chalet gebly en dit GEWELDIG geniet. Dit is werklik 'n lieflike omgewing en die opset is pragtig. Dus was Pieter le Roux se plekkie die eerste keuse. 

Telkom werk vir die soveelste keer nie. Dus is ek oorgelaat aan Vodacom se genade en my geldjies word vinnig minder. Ongeskik stuur ek 'n kgb (Kort Gespreks Boodskap) aan Pieter om 'n kampeerplekkie te bespreek. My niggie mag dalk my nek kraak hieroor, maar ons gesin van ses rek haar huisie se nate uitmekaar! :)

Maar nou moet ons die naweek verbykry. Ek het nie lus gehad om weer die hele Kaapse toer te doen nie (ons het verlede jaar Oktobermaand dit gedoen) en so begin die soektog na oornagplekkies tussen Rawsonville en Upington.

Hier het Wegsleep baie gehelp. Leticia en ek het die ou 'slepe in die huis bymekaar gekry en op die lieflikste plekkies afgekom. Vanputtensvlei naby Lambertsbaai is nou die eerste stop noord, daarna sal ons twee aande by Die Mas naby Kakamas oorslaap. Van Die Mas af sal ons ook Augrabies besoek en dan die Sondag na Kgalagadi vertrek.

So in die beplanning en reëlings vir die vakansie besef ek hoe bevoorreg ons is om in ons eie pragtige land te kan rondry, te toer en alles te sien en beleef. Ek kry te doen met ongelooflike vriendelike en behulpsame mense. Onse mense. Daarom verkies ons om op plase by boere oor te slaap.

Ook kostegewys maak dit meer sin. Vir ons gesin van ses gaan die oorslaap van 11 aande R3200 kos. Dit werk uit op minder as R50 per persoon per nag!!! Weliswaar moet die brandstof en die kosserasies nog bykom, maar mensig, as ek R250 per persoon per nag moes betaal en steeds selfsorg......??

Wanneer ons terug is, hoop ek om foto's van al die plekkies te plaas.

Friday, July 22, 2011

'n Nuwe "mat" word deel van "skool".

Die hele ding het begin met 'n verstopte drein...

Ons woon op swaar turfgrond wat gou versadig word. Wanneer ons sulke lekker reënjare kry soos die afgelope vier vyf jaar, dan swel die turf en skuif alles wat in hom geanker is (soos onder meer pype en pale) lekker rond. Wel, dreinpype is nie mal hieroor nie.

Voeg nou hierby 'n uitgegroeide jakarandaboom, 'n apiesdoring wat nie verstaan dat akasias in die winter hul blare verloor nie en 'n witstinkhout wie se werk dit is om die dreineringsdeel se water te help absorbeer - dit spel sekerlik moles.

So sukkel ek nou al 'n hele klompie maande met die toilet wat opstoot wanneer dit gespoel word. Pa-goed word naar wanneer hy die werkie moet verrig, dus probeer ek sy las verlig. Ek het mettertyd al heel handig geraak met 'n tuinslang in 'n toiletpyp op. Elke dan en wan word die waterwerke van ons huishouding weer oopgespoel.

So 'n paar naweke gelede spook ek een Saterdag weer met dieselfde spookstorie. Saterdagaand is alles reggestel en terug na normaal. Sondagoggend is gevul met die gewone gejaag om almal betyds in die kar te kry sodat ons darem die preek kan hoor. Na die erediens word 'n gemeentelike bring-en-braai gehou, maar Liefde het reeds Saterdag gesê ons gaan nie. By die kerk, onder vele navrae, oorweeg ons dit, maar kom op die ou end liewer terug huis toe (ook maar goed.....)

Ek en Andries sit rustig in die kar en luister na 'n laaste lied op die CD, kinders is reeds met die sleutels weg om die huis oop te sluit, toe sus gil.
"Die water loop uit die huis uit."

'n Asbeshuis is nie geseël nie, die water het letterlik onder die huis se mure uitgeloop.
Kombuis onder water.
Gang onder water.
Badkamer onder water.
En die bewysstuk troon wit...

Na die laaste draai vroegdag voor kerk, geloop is en die toilet die laaste keer gespoel is, het die water opgestoot én die seël vanuit die tenkie nie gesluit nie. Genadiglik was dit net water....

So het ons dan die Sondagmiddag met "stof"suiers spandeer en water opgesuig, opgesuig en opgesuig. Daarna is waaiers en verwarmers gebruik om sover menslik moontlik al die water en vog te probeer uitdroog. MAAR

My matte is gevlek, liederlik gevlek, watervlekke. Want 'n volvloer mat met ondervelt is nooit-ooit werklik skoon nie en al hierdie vuil (veral in die gang) is nou modderige neerslag.

Genoeg is genoeg, besluit ek, nou is dit tyd vir Novilon. Vind uit, hoor by ma wat haar huis nou onlangs ook oorgemat en -verf het. Aankope is gedoen en die novilon is bestel.

Maar, voordat die nuwe novilon gelê kan word (en nee, ek gaan dit sowaar nie self doen nie, daar is professionele ouens wat dit kan doen!), moet die mat uitgehaal word.

So het ons skooldag vandag dan in operasie mat-uithaal verander. Eers moes al die meubels verskuif word. Die sitkamer het skool toe geskuif, die eetkamer sitkamer toe. Dit sluit in swaar hout-en-leer stel, 'n groot (10 - 12 sitplek) eetkamerstel, 'n soliede houtbuffet en die klavier....

Die kinders het geleer. Want die kwartrond moes uit (sonder om te breek, sodat ons dit weer kan gebruik) en die mat moes gelig word - interessante goed onder so 'n mat hoor!) sodat ons kon sien of die vloerlyste ook moet af.

So het hierdie dag moeg-moeg ten einde geloop, maar met bevrediging.

Tuesday, July 5, 2011

Eens op 'n Sondag,

tydens die erediens. Mag ek maar bieg?

Was ma en kinders ewe onrustig, dwalend....


Net daar het ek die blaaitjie met die preek-uitleg beet en wys vir ouer boet (9): Lees vir my.

Toe lees hy: "Wie is jy?"
en ook "Wie roep jou?"
daarna "Gee om", "Doop"en 
"Kom jy word geroep."

Maar vir Wat is die band tussen jou en jou Roeper? het hy nie kans gesien nie. Wel vir

"Wees vir God 'n volk."

Waarop ek reageer deur te skryf: "Jy is so slim."

Nie links nie, skryf hy terug: "Omdad {sic} ek slim is mag ek op mamma le {sic}."
Ek skryf terug : Nee, jy is te groot
En hy reageer met 'n "aa".

Skielik besluit jonger boet (7), hy wil deel in die pret. Hy bemerk 'n woord in die Woord en skryf dit dan op die blaaitjie oor (uit sy kop uit). 

Skryf hy: "Geg"

Ek loer toe in die Bybel en sien die woord is geag. Ek skryf die "a" in en wys hom die regte woord.

Daarna sien hy 'n ander woord en skryf  "mAAR". 
Hier sien ek die nadeel van die rekenaar se sleutelbord as alfabet-onderwyser!!! :)


Ouboet beantwoord die vraag: Wie roep jou? en skryf "god" waarop ek gou wys dat ons God altyd met 'n hoofletter skryf.

Kleinboet begin om Roeping oor te skryf.

Ouboet soek my aandag, maar ek skud my kop. Hy skryf: "Prat me my."
Enigste reaksie is 'n kopskud.
Hy skryf: "Hkom nie"

Begin sms-taal so vroeg al?

Hoekom skryf ek dit als? Want hierdie jongste twee word op die "Relaxed homeschooling" of soms die "Unschooling" metode groot. Hulle het nog geen formele onderrig in óf skryf óf lees gehad nie. Lettervorming moet ek by jongste nog probeer vaslê en oudste moet leer spel, maar alles op hul eie tyd, want deur dit te dwing, maak ek die leerervaring negatief en dit wil ek glad nie bereik nie.

Ek was totaal verras met albei, al weet ek nie veel van die preek nie (Skuus dominee.)

Saturday, June 25, 2011

Oeps!

Dinge kan partykere sommer skeef loop. Sommerso, sonder dat jy gewil of gewou het.

Jy spreek 'n gedagte hardop uit, net om "oeps!", te besef dit was die verkeerdste plek en omstandigheid. Misverstand op misverstand volg en steeds kom niks reg nie.

Dikwels kom dit in verhoudings voor. Liefdesverhoudings, huwelike. Die kuns is om dit volwasse en met nodige eerlikheid en respek op te los.

Ek kan so maklik vir Liefde vertel hoe hy nou eintlik sy seuns moet opvoed, dissiplineer en grootmaak. Somtyds kry ek so seer vir my seunsgoed se onthalwe dat ek vir hul pa grootoë maak en sommer sal aanspreek voor die kinders. En dan te "Oeps!"

O, Vader, skenk my asb in groot genade die vermoë om stil te wees, te wag tot 'n geskikte geleentheid hom voordoen en dan in 'n "meek and gentle spirit" met my geliefde oor hierdie saak te gesels.

Tuesday, June 7, 2011

Koue Voete

Ysig koue voete.
Rêrig koud.
Al is hulle in pantoffels en in kouse.

Word jou voete ooit warm? Myne nie. Ek ly werklik aan koue voete. As ek nie saans voor ek in die bed klim hierdie ysblokke in 'n warm bad ontdooi en dan dadelik in die bed hop nie, sal hulle sowaar nie deur die nag ontdooi nie.

En my arme man moet dit ontgeld. Ek kry hom werklik jammer. Om met so 'n vrieskas in die bed te klim kan wraggies nie maklik wees nie en om steeds vir my lief te bly - voorwaar 'n wonderwerk ;) .

Maar ek het ook koue voete wanneer dit by ander dinge kom. Ek kry soms koue voete wanneer ek hoor hoe die werkende brigade te velde kan trek teen ons niksdoenende huisvroutjies. Kyk, ek hou nie van argumente en konflik nie. Ek sal eerder vermy as instorm en dis presies wat ek dan doen. Koue voete slaan die hasepad.

Tog het ek my eie idees - ek sal dit nie op jou afdwing nie, maar moenie my idees as ongeldig, minderwaardig en simpel afmaak nie. Ek mag dalk net dink joue is ongeldig, minderwaardig en simpel weet jy?

So maak iemand 'n opmerking: "Ek kan net soveel kaste regpak, waarmee sal ek myself die heeldag besig hou."  My binne-reaksie was: "Né? Is dit wat jou definisie van 'n goeie huisvrou is? Pak kaste reg? Gmf!" My buite-reaksie - doodse stilte.

Dikwels hoor ek "Oe, ek sal my doodverveel." En ek dink: "Ag, shame. Asof jou vreeslik interessante lewe nie vir my uiters vervelend voorkom nie."

My vervelige, kas-reg-pakkende, eenvoudige daaglikse lewe is vir my 'n wonderbare voorreg, 'n diensbaarheid, 'n seën en 'n vreugde. Om daar te wees vir my man en kinders is 'n genadegawe. Om hulle tot diens te wees 'n voorreg. Verveling is nie deel daarvan nie.

Koue voete kry ek egter by die blote gedagte aan 'n 8 tot 5 werk, daaglikse spitsverkeer, sperdatums, base oor my skouers...... Nee, dankie!!

Friday, June 3, 2011

Die Voorreg van Boervrou, tuisopvoeder-ma wees

Daar is soveel meer as net die "Vakansie"-gevoel wat jou betrek wanneer jy 'n naweek of 'n week op 'n plaas kuier.

Om soggens net met voëlgeluide wakker te word. 'n Duif wat koer, 'n patrys se skree en soms die Piet-my-vrou wat roep-roep na sy vroutjie-douwtjie. Of die borrelende opgewondenheid van die vleiloerie wat reën aankondig. Geen steurende verkeer en sirenes wat straat-af skrou nie.

Om rustig die dag met die Skrif en gebed te kan begin. Geen gejaag om die spitsverkeer te vermy nie. Geen skoolkinders wat uit die warm vere geruk moet word nie. Net 'n salige ek en my Vader tydjie.

Om dan die kombuis binne te kom en begroet te word met die aptytwekkende reuk van varsgebakte brood! Die ketel aan te skakel vir 'n lekker boeppens-pot vol mieliepap. Die tafel te dek en te weet, ontbyt kan rustig geniet word.

Kindergesiggies wat nog slaapwarm die kombuis binnekom en my begroet met 'n stywe druk en "is die pap al reg?". 'n Vleisigheid in die pan - wors of maalvleis, spek en eier, visvingers - wie weet? Elke dag 'n ander dis. Ja, die jong boere eet steeds vleis drie keer per dag!

Streep-streep kom die arbeiders van hul huise aangestap. Een na die ander word trekkers en stropers aangeskakel en draai by die dieselpomp. Veld toe, lande toe. En weer daal 'n stilte op die huis neer.

Skoolwerk word uitgehaal, stories gelees. Gespeel en pret gemaak. Eksperimente en kunswerke. Teen twaalfuur moet die middagmaal voorberei word. Jip, hoofete in die middag - ideaal. Geen swaargewig wanneer ek vanaand in my bed kruip nie.

Die namiddae draf seuns moontlik saam met pa lande toe, of speel met hul neef wat van die skool af terug is. Sus pak haar "Scrap-booking" aan of maak kaartjies. Lawwe ek het myself toegegooi met wiskunde ekstra-klasse en is elke middag besig met iemand anders se kinders en wiskunde....

Maar vanaand, wanneer geliefde van die veld, landerye of werkswinkel terugkeer, is ons almal by die huis. Seunslyfies klaar gebad en sus moontlik nog in die bad. Koffie en 'n lekker kuier met pa. Dan aandete en huisgodsdiens. Ja, reg geraai, hier is geen TV nie! Wonderlik.

So verloop my dae, rustig en ongejaagd.

Miskien met minder geld ook...
                           minder ambisie.....?
                                      Maar BAIE BAIE meer bevrediging.

En dit is hoekom ek vandag hier tik. Jantjie Pieterse het my ook laat dink en ek weet!

Saturday, May 28, 2011

Winter op die plaas.

Wintertyd.

Strooptyd.

Komberse en warm poedings.

Lemoene, pomelo's en nartjies.

Loopneuse, lang aande.

Nie noodwendig 'n lekker tyd van die jaar nie. Glad nie my gunstelingtyd nie. O, nee, ek sal veel eerder die somer en herfs neem, dankie!

Stof en droë lug irriteer gevoelige neusgange en slymvliese. Dikkop, toeneus moet ek vroeg-oggend op om pap op die stoof te sit. Pa en die oudste twee seuns trotseer die vroeg-frisheid om kanonne te gaan aktiveer en met die haelgeweer die klein verpestings uit die oeste te verjaag. Ousus en kleinboet geniet 'n laaste inlê...

So verloop 'n wintersoggend, elke oggend op die Vlakte. Wanneer geliefde weer op die werf terugkom, is die arbeid hier en moet die werk begin loop. Dus geen ontbyt as gesin om die tafel nie. Ek hou nie daarvan nie.

Sodra die son al die dou opgedroog het, word die stroper se neus lande toe gedraai en weerklink die dreuning heeldag oor die werf. Tussendeur word gesif en ge-sak, of in die graandamme gestort.

Vanaand, skuins voor skemer, word die proses omgekeer. Vragmotor en stroper kom terug huis toe. Die seuns help vir pa om die vinke weer uit die lande te weer met haelgeweer en die kanonne word onskadelik gestel, teruggevat huis toe om môre weer opgestel te word.

Vinnig deur 'n bad, aandete nuttig en na huisgodsdiens, word die moeë lyfies bedwaarts gesleep.

Sou wat wou gee vir 'n kaggelvuur. Maar die asbeshuis leen hom nou nie daartoe nie...

Monday, May 23, 2011

Impak Kongres

Die afgelope naweek het die kurrikulum-verskaffer, Impak, hul jaarlikse kongres gehad. Hierdie kongres was op 'n plaas net hierbuite Naboomspruit aangebied en het die vorm van 'n familie-naweek en avontuurkamp aangeneem.

Die ouers het "lesings" gehad en verskillende sprekers het verskillende aspekte van tuisonderwys aangeraak. Dit was van halfnege soggens tot laat-laat aand. Intussen het die kinders op die plaas rondgeloop, die Waterberg leer ken en die bosveld in die vroeg-winter ervaar. Daar is perdgery en speletjies gespeel.

Omdat dit so naby is en ook omdat my ouers hier by ons gekuier het, het ek net as dagbesoeker hierdie kongres bygewoon. Ek het soveel gedagtes wat in my kop rondwarrel wat ek met TO-lesers wil deel. Maar intussen roep die kinders, pa soek ontbyt en die huishouding wag vir niemand nie. Voeg daarby dat ons nie water het nie, die pomp se motor is beskadig weens Eskom se voortdurende kragonderbrekings - dan is hierdie Maandag mooi BLOU.

Groetnis van huis tot huis

Saturday, May 14, 2011

Weer Begin

So op 'n manier - stukkie vir stukkie - sal ek maar weer begin.
Maar nou is dit laat en hierdie is net 'n proeflopie.

Die kinders is alleen in die huis en moet gebad kom, môre is Sondag, kerk en verbondsonderrig. Ek moet nog gaan voorberei.

Dus, kom ons beskou hierdie maar net as 'n toets - ek wil sien hoe dit gaan lyk as daar iets geskryf staan.

Mooi aand en soet slaap