Tuesday, June 7, 2011

Koue Voete

Ysig koue voete.
Rêrig koud.
Al is hulle in pantoffels en in kouse.

Word jou voete ooit warm? Myne nie. Ek ly werklik aan koue voete. As ek nie saans voor ek in die bed klim hierdie ysblokke in 'n warm bad ontdooi en dan dadelik in die bed hop nie, sal hulle sowaar nie deur die nag ontdooi nie.

En my arme man moet dit ontgeld. Ek kry hom werklik jammer. Om met so 'n vrieskas in die bed te klim kan wraggies nie maklik wees nie en om steeds vir my lief te bly - voorwaar 'n wonderwerk ;) .

Maar ek het ook koue voete wanneer dit by ander dinge kom. Ek kry soms koue voete wanneer ek hoor hoe die werkende brigade te velde kan trek teen ons niksdoenende huisvroutjies. Kyk, ek hou nie van argumente en konflik nie. Ek sal eerder vermy as instorm en dis presies wat ek dan doen. Koue voete slaan die hasepad.

Tog het ek my eie idees - ek sal dit nie op jou afdwing nie, maar moenie my idees as ongeldig, minderwaardig en simpel afmaak nie. Ek mag dalk net dink joue is ongeldig, minderwaardig en simpel weet jy?

So maak iemand 'n opmerking: "Ek kan net soveel kaste regpak, waarmee sal ek myself die heeldag besig hou."  My binne-reaksie was: "Né? Is dit wat jou definisie van 'n goeie huisvrou is? Pak kaste reg? Gmf!" My buite-reaksie - doodse stilte.

Dikwels hoor ek "Oe, ek sal my doodverveel." En ek dink: "Ag, shame. Asof jou vreeslik interessante lewe nie vir my uiters vervelend voorkom nie."

My vervelige, kas-reg-pakkende, eenvoudige daaglikse lewe is vir my 'n wonderbare voorreg, 'n diensbaarheid, 'n seën en 'n vreugde. Om daar te wees vir my man en kinders is 'n genadegawe. Om hulle tot diens te wees 'n voorreg. Verveling is nie deel daarvan nie.

Koue voete kry ek egter by die blote gedagte aan 'n 8 tot 5 werk, daaglikse spitsverkeer, sperdatums, base oor my skouers...... Nee, dankie!!

3 comments:

  1. Ek het net sulke koue voete! Loop heeldag deur met my skaapvel pantoffels, wat ek vir Moedersdag gekry het en hul raas nie op die teels as 'n kleintjie slaap nie!
    En kry saam met jou koue voete aan die blote gedagte van kinders voor agt by die skool he en na 'n ander se pype gaan dans. Hou van my eie agenda vir die dag he en net vir my eie man luister!
    :-)

    ReplyDelete
  2. Anonymous11 June, 2011

    Ja wel. :-)

    Dit hang seker af waarvoor mens in die wieg gele is, almal kan tog nie dieselfde wees nie. Ek het tans 'n tawwe tyd om 'enkelouer' te wees en sukkel om werk en huis alles aan die gang te hou, maar ek baklei om tog nie te bedank nie. Om huisvrou te wees, was in 4 jaar nog nooit vir my vervullend nie.

    Maar dis ek, en ek haal my hoed af vir julle wat dit doen EN daarvan hou. ;-)

    ReplyDelete
  3. Koue voete het ek nie baie nie.

    Maar koue voete kry ek baie. Ja, bly maar eerder stil. Want die kere wat ek praat... daai kyke ens. Ons almal ken dit.

    Om anders te wees en te dink as die hoofstroom. Nee, dan kry ek KOUE VOETE, maak my uit die voete en bly by my huis

    ReplyDelete