Tuesday, January 28, 2014

Bybelstudie Joh 2:1-12

Ek het vasgevang geraak in Facebook, ek wil dit sommer vuisboek noem. Want dit hou jou in sy vuis met 'n ystergreep. Dit maak jou vuisvoos voel.

Dit is hoe ek vanoggend voel.

Soggens vroeg doen ek Bybelstudie en deel graag los gedagtes oor wat vir my geraak het tydens hierdie kosbare uur met my Vader. Ek wil dit voortaan hier, op my eie kuierwerf doen, hier waar ek tuis voel...

So, sommer nog voor ek begin lees het in die Woord, sien ek die volgende in die dagstukkie:  "Dit is goed om in ons oordenking van hierdie verhaal te onthou waartoe Jesus hier was en waarom Hy die teken gedoen het. Dit lees ons in vers 11: '...en Hy het sy heerlikheid geopenbaar, en sy dissipels het in Hom geglo.' Dáárom gaan dit en daarom was Jesus by die bruilof. Hier was die bruid nie die belangrikste nie, maar Jesus Christus wat sy heerlikheid geopenbaar het.'"

Met uitnodigings na twee troues binnekort, tref hierdie enkele paragraaf uit ds MJ Booyens se boek, Elke dag in die Lig, my vanoggend weer.

Nie die bruid nie, nie die bruidegom nie, maar 'n Eregas, Hy is die Een om wie die dag en die seremonie moet wentel. Sy eer, Sy heerlikheid en, wat my betref, Sy heiligheid moet op 'n huweliksdag uitgelig word.

In my kinderdae was huwelike in kerkgeboue voltrek. Dit was, meer as vandag, as heilig en onverbreekbaar beskou. Ek dink daar is tog, miskien baie fyn en min, maar tog 'n onderlinge verband. Die kerkgebou gee 'n baie groter bewussyn van Goddelike teenwoordigheid, veral as jyself 'n gereelde kerkganger is, as wat 'n kapel, wat deur enige geloof gebruik word, by een of ander venue kan gee.

Maar, word Christus se heerlikheid nog geopenbaar by moderne huwelikseremonies? My ondervinding is dat die fokus eerder op die venue, die spyskaart, die bruidsrok, maar veral die kontantkroeg is. Dit maak my hartseer.

Juis daaroor het ek geweier om op 'n ander plek as my eie tuisdorp te trou. In ons eie gemeente. 'n Oggendtroue spesifiek, sodat daar geen sterk drank hoef te wees nie, 'n Kerk-troue met al ons familie en vriende én hul kinders.

Want, as die gemeente die onthaal se spyseniering doen, is dit heelwat goedkoper, die susters gebruik die kerk se breekgoed. Die kerksaal dien as eet- en kuierplek en musiek is bloot agtergrond, nie oorverdowende gedreun nie.

Dan kan Christus as Eregas ontvang word, kan Hy geëer word en is dit nie 'n dronknes nie.

Verder in die studie word gelees uit Ef 5:22-33, die vrou onderdanig, vol eerbied en respek aan haar man, die man liefdevol en versorgend, die voorsiener en beskermer.

En uiteindelik, die doel van die huwelik: kinders. Om 'n nageslag te hê wat God ken en vrees. (Mal 2:15)

Thursday, January 9, 2014

Sonder Woorde

Kan 'n mens 'n resep "lees" sonder woorde?

'n Groen soetrissie, ui, murgpampoentjies, wortels en pynappel.

Sny soetrissie en ui in repies (my mense is nie mal oor die stukke nie, ek sny dit nog fyner)


Skil die wortels, sny koppe en punte af.

Gebruik steeds die skiller en sny die wortels op.

Sny murgpampoentjies se koppe en punte af.

Skil ook die murgpampoentjies tot klaar

Skil die pynappel.


En sny in repies.

Daar is al die rou groente bymekaar. Ek kan nie op hoeveelhede ingaan nie
Ek maak maar na gedagte.

Smelt botter in 'n braaipan

Braai die uie en soetrissie eerste. Ek gooi altyd gemmer oor die uie, 
dit verhoed gasvorming en gee geen smaak af nie.

Gooi die ander groentes by en braai. Ek hou van kraakvars groente
en braai dit nie lank nie.




Roer maar gereeld om aanbrand te voorkom.

Ek vergeet gewoonlik die sout..... Alle geval, net so voor opdien, gooi bietjie sout oor.
Ons gebruik growwe seesout in die huis.

En vir die laaste bietjie lekkerte, 'n skeutjie soet-chillie-sous.

Tuisonderwys - GED

Ek kry soveel navrae oor die GED, dat ek besluit het om liefs alles wat ek geleer het, hier op my kuierwerf uiteen te sit. Ek sal dieselfde inligting ook op hierdie webblad oor tuisopvoeding sit.

*** Net 'n waarskuwing. Hierdie inligting is soos ons dit gebruik het in 2014. Dinge verander gereeld en ek kan nie opdaterings byhou nie. Ons het GED afgehandel en ons beweeg aan na volgende prioriteite. Gebruik hierdie na goeddunke, maar gebruik jou gesonde verstand en logika. -- Marelize (Julie 2016)

Wat is die GED?

Die GED sou in ons Afrikaanse idioom as 'n volwasse matriek beskryf kon word. 
Die afkorting staan vir General Educational Development (volgens Wikipedia en GED Testing Service) en bestaan uit vyf toetse (te wete Maths, Science, Social Studies, English Reading en English Writing) wat afgelê word. Wanneer hierdie toetse geslaag word, beteken dit dat die persoon dieselfde akademiese vlak as hoërskoolleerlinge in Amerika en Kanada het.

'n Diploma word dan uitgereik wat gelykstaande is aan 'n hoërskool-diploma in die VSA (vir internasionale studente is dit gelykstaande aan hoërskole in die staat Maine).


Kan my kind universiteit toe gaan met 'n GED?

Dit hang af....
Sommige internasionale universiteite (ek dra kennis van aanlyn-universiteit en sommige "colleges" in die VSA vir wie die GED voldoende is) aanvaar die alleenstaande GED as voldoende.
MAAR om in die VSA aan universiteit te studeer vereis meeste groot universiteite (dink aan Yale, Princeton) die toelatingseksamen oftewel die SAT.

Soortgelyk geld dit ook in Suid-Afrika. In die verlede het ons groot universiteite matriekleerlinge bloot op grond van hul matrieksertifikaat toegelaat. Deesdae is die matrieksertifikaat so min werd (sien hier, hier en hier), dat universiteite van hul eie toelatingseksamens en keuringsvereistes (vergelyk ook hier) gebruik maak. 

Ten opsigte van die SAT kan ek op hierdie stadium nie veel inligting deurgee nie, omdat ek nog nie daardie roete gestap het nie. Dit sal heel moontlik, as dit die Vader se wil is, gedurende 2015 op my wag.

My kind wil nie universiteit toe nie - moet hy/sy die GED skryf?

Weereens - dit hang van julle gesin self af. Van die kind self af.
  • Ons dogter wil graag Montessori-onderwyseres wees.
  • Sy wil graag 'n vlieglisensie kry.
  • Sy wil gimnastiek afrig.
Buiten die peperduur vlieglisensie, glo ek ons sal haar drome kan verwesenlik.
Maar, in die woorde van 'n kuierwerf-vriendin, miskien het die kinders wel nodig om een of ander eksamen te skryf om af te sluit. Om hul skoolloopbaan te voltooi. 'n Einde. En as dit al rede is hoekom jy die GED sou doen, dan is dit ook goed.


Gou agtergrond: Ons dogter het in 2013 haar gimnastiekklub gestig. Sy het begin met ritmiese gimnastiek vir die dogters en het 18 gimnaste gehad. Al die voorbereiding, onderhandeling vir 'n saal, voorlegging vir kinders en ouers het sy self gedoen. Teen Oktober het sy met die hoërskoolhoof gaan praat en hul saal en apparaat gehuur om die klub te kan uitbrei en ook artistiese gimnastiek aan te bied. Sy het begin met haar eie twee boeties en sal vanjaar meer laerskoolseuns inneem.

Juis omdat haar klub nuut is en vanjaar die eerste gimnaste kompetisie toe sal neem, het sy besluit om 'n aanlynkursus te volg. Ons het ingeskryf by KHTMontessori.com waar sy na 'n jaar se studie 'n sertifikaat bekom. Na die einde van die jaar toe sal ons besluit wat in 2015 voorlê, of sy direk by 'n skool gaan aansoek doen en of sy verder gaan studeer in die Montessori-rigting.


Nuwe inligting: Die GED in Amerika (VSA) het in 2014 verander.
DIT BEïNVLOED NIé DIE INTERNASIONALE STUDENTE NIE.
Jou kind gaan steeds die GED 2002 skryf.

Wat moet ons doen om die GED te kry?

1) Sluit aan by die yahoo-gespreksgroep vir GED-SAT in Suid-Afrika. Hier word waardevolle inligting en ondervinding met mekaar gedeel. Wanneer jy lid van so 'n yahoo-gespreksgroep is, het jy toegang tot alle vorige eposse wat in die groep gestuur was.

2) Registreer by die amptelike webblad vir die GED.

3) Voorbereiding vir die afneem van die toetse.

4) Registreer by die eksamineringswebblad vir PearsonVue.

1. Sluit aan by die yahoo-gespreksgroep

Om hierby aan te sluit gaan bloot na die webblad en volg die instruksies daarop. As jy nie 'n yahoo-adres het nie, kan jy met 'n gmail-adres of jou facebook-profiel inteken, anders - skep bloot 'n yahoo-adres, jy hoef dit nooit te gebruik nie.

Wanneer jy op die skakel kliek, maak 'n nuwe skermsig oop:



Kliek dan op die  - ikoon en volg die aanwysings op die skerm. 

2. Registreer by die Amptelike GED-Webblad

Die GED word deur die Amerikaanse Opvoedingsraad en Pearson bestuur. Die enigste manier om die ware Jakob te kry is deur hierdie webblad.

Die skermsig lyk só:
Kliek op die skakel vir "Canadian & International" en gaan lees alles oral.... :-)
Hier is soveel inligting oor die hoe, wat en waar dat ek nie eintlik veel meer hoef te sê nie. Moet jou egter nie laat mislei met die storie dat as die kind 'n toets nie maak nie, hulle betaal. Hulle dóén dit, maar NET vir die eerste een wat die kind nie maak nie.

Sodra jy alles wat jy moontlik wou weet (en nie wou weet nie) daar gelees het, kliek hier en registreer jou kind (of jouself).

3. Voorbereiding vir die GED

Hierdie is die een deel wat ons SA -breine nie lekker aan gevat kry nie. Voorbereiding vir die GED is gans anders as enige eksamenvoorbereiding wat jy, jou wederhelfte of jou kinders al ooit gedoen het. Ek gaan 'n klompie skakels gee, maar dis die punt van die ysberg. Deur bloot 'n goegeloer te doen met die soekfrase: "How to prepare for the GED" gaan jy ongelooflik baie resultate vind - sommige gratis en verniet.... (Dit teenoor kurrikulum-verskaffers wat tot R10 000 per kind per jaar vra!)
Nuwe inligting: Wanneer jy inligting vir voorbereiding op die web trek, maak seker dit is vir die GED 2002 toetse en nié vir die nuwe VSA GED2014 nie. Internasionale studente skryf steeds die GED 2002.

Op die GED-Testingservices se webblad is daar ook voorbeelde van vrae (sien hier).

3.1 Skakels


Ons het nie van bogenoemde eers gebruik gemaak nie. Ek het Leticia by 'n aanlyn-kursus ingeskryf en ons het een boek afgelaai. Skakels volg.


3.2 Pdf-Boeke

Die volgende boeke is in pdf-formaat en gratis. Veral die dikke boek "Master the GED" is nuttig. Daarin is toetse wat jy vooraf skryf om te bepaal watter van die areas wat getoets word, is jou sterk en swak punte. Dan weet jy waar om meer aandag aan te skenk, jy sien die formaat waarin die toetse gevra word en kry sommer op die koop toe baie selfvertroue!


Beide hierdie boeke is by www.xtremepapers.com te kry. Ek glo daar sal al nuwer weergawes wees, besoek die webwerf en ondersoek self.

3.3 Aanlyn-kursusse

Ek is bewus van twee aanlyn-kursusse waardeur die kinders kan voorberei, daar sal sekerlik nog meer wees:


Ons het deur PassGED gewerk. Dit was vir my koste-effektief, maar omdat dit aanlyn is, beveel ek dit aan vir mense wat onbeperkte internet-toegang het. Die voordeel by PassGED is dat die kind deurlopend getoets word en hulle jou 'n aanduiding gee of jy gereed is om die amptelik toets af te lê of eerder nog 'n bietjie moet voorberei.

3.4 Boeke

Boeke - Daar is 'n wye verskeidenheid boeke beskikbaar om vir die GED voor te berei. Kyk veral op die webwerf van GEDTestingServices self, hulle gee name van boeke. Jy kan deur hulle bestel of die name goegeloer en tweedehands koop of self aanskaf. Soek ook by Kalahari en Loot (skakel hier regs iewers op my kuierwerf) of andere vir GED. 
Nuwe Inligting: Wanneer jy boeke aankoop, maak seker dis vir die internasionale GED wat die 2002-toetse skryf en nié die VSA se GED2014 nié.

Ek weet van 'n dogter wat baie goed gedoen het in haar GED en gebruik gemaak het van die boek "Cracking the GED" uitgegee deur Princeton Review. 

4. Registreer by PearsonVue vir afneem van toetse

Jy het hopelik alreeds by GEDTestingServices geregistreer, dan is dit maklik - kliek net op "Take the Test" en jy beland hier. Let op na die formaat van die datum - dis Amerikaans! 

Ons is gereed - my kind wil gaan skryf

Wanneer jy nou op PearsonVue geregistreer het, kan jy datums vasmaak om te skryf.
ANDERS as skool, skryf jy wanneer jy gereed en gemaklik voel. Daar is nie 'n eksamenrooster waarby jy hoef in te val nie.

Ek kan ongelukkig nie hier meer skakels plaas nie, omdat die webwerf 'n sekuriteitskode bevat en jy net elke keer op die eerste bladsy gaan land. Ek gaan mbv skermfoto's probeer verduidelik.

Wanneer jy op die "Schedule a Test" ikoon druk, verskyn die volgende skerm voor jou.





Kliek op die skakel om jou toetsdatums vas te maak.

Kliek dan op "Schedule This Exam"

Dan kies jy watter een van die vyf (5) areas jy wil gaan skryf. Volg die instruksies op die skerm tot by die toetssentra.

In Suid-Afrika kan die toets net by twee plekke afgeneem word: Sandton en Groenpunt, Kaapstad. Kies die een naaste aan jou en volg instruksies.
'n Almanak verskyn waarop jy kan sien watter datums beskikbaar is vir die betrokke toets - kies jou datum.

Daarna kom die betalingsopsies.

Die koste was vir ons $50 per vraestel. Vanweë die wisselkoers, verander die Randkoste daagliks.

BAIE BAIE BELANGRIK

Jou kind kan NIE met die SA ID gaan skryf nié. Dit is nie aanvaarbare vorm van identiteit nie. Hulle soek 'n identifikasie waarop 'n foto en 'n handtekening verskyn. Dus: 'n bestuurslisensie; 'n paspoort en moontlik (ek het nie sekerheid hieroor nie) 'n bankkaart tesame met 'n SA ID.

Die dag van die eksamen

Die persoon mag geen persoonlike besittings saamneem nie. In Sandton se kantore is daar sluitkaste waarin die kind haar besittings toesluit en die sleutel saam met haar inneem. Nie oorlosie nie, nie mediese bandjie nie, nie sakrekenaar of selfoon nie - NIKS.

Die kandidaat moet 15 minute voor die eksamentyd daar wees.

Wanneer sy daar uitstap het sy haar uitslag in haar hand - buiten English Writing - daar is 'n essay wat gemerk moet word. Ons het egter binne drie dae die uitslag van die laaste een ook ontvang.

Die Diploma word deur Diplomasender gepos. Op die PearsonVue webwerf sal jy wel die inligting daaroor kry. Hierdie deel gebeur egter outomaties, buiten dat jy op hul webwerf ook moet registreer. Pearsonvue sal egter jou lei in die hoe en die waar.

 Leticia se laaste vraestel het sy die 12e Desember geskryf. Haar laaste uitslag die 15e Desember ontvang en op 30 Desember is haar diploma gepos. Ons verwag dit nou enige dag.

Vakinhoud

Wiskunde - ek sou voorstel dat die kind Wiskunde tot matriekvlak voltooi het. Daar word enkele trig-vrae 
                   ook gevra.
Wetenskap - dit sluit wetenskap, biologie en aardrykskunde in. Weet maar dat evolusie deel vorm van die 
                    aanslag, maar dis net leesstukke met die bietjie verwysing na datums daarin.
Maatskaplike Studies - sluit in wêreldgeskiedenis (waaronder apartheid), VSA geskiedenis, ekonomie en 
                     ook regeringsvorme
Engels Lees - toets grootliks begrip, enkele homofone.
Engels Skrif - toets grammatika (slegs 3 "tenses" - YEAH!), sinskonstruksie, leestekens en skryfvermoë. Die essay bestaan uit 5 paragrawe. Hulle merk nie die ware inhoud vd verhaal nie (dus sou jy teen aborsie skryf, sal dit nie teen jou tel nie), wel of daar 'n duidelik inleiding en slot is, taalgebruik ens.

Ek het vir 'n student van UNISA gehelp met wiskunde. Al hul eksamens en werksopdragte is bloot meervuldige keusevrae. Die GED is basies ook net meervuldige keusevrae.

Gaan kyk asb na die voorbeelde op die verskillende webwerwe. Ook in die boek Master the GED.

En geniet dit! Dis baie beter as al die eksamenstres waardeur die matrieks gaan, om uiteindelik 'n sertifikaat te hê wat nie internasionaal erken word nie. 
Vertel my van jul ervaring en ook wat julle hierna gaan doen....




Tuesday, January 7, 2014

Wanneer vreemdeling vriend word.

Om 'n kêrel te hê.

Klaarblyklik 'n baie belangrike kwessie vir sommige (meeste?) van die jong dames met wie ek te doen kry.
Vir die jong manne ook, hmm ...... om 'n meisie te hê.

Wonder tog hoekom die jonger klomp dit so belangrik ag.

Want dis nie regtig nodig nie.
Glad nie nodig nie.

Dit bring hartseer... so baie dat sommige tieners selfmoord pleeg, probeer pleeg of ten minste oorweeg.

Ons "grootmense" was ook kinders, selfs babas (wat 'n gedagte!), en wel, tieners {Mag ek 'n geheimpie deel? Hierbinne is ek maar steeds 'n tiener - sukkel om uit die "stadium" te kom :-)} en ons het ook gesmag daarna dat 'n kêreltjie ons tog sou raaksien (of 'n meisie vir die manne).

Te dikwels het dié een wat jou oog gevang het, jou nie eens raakgesien nie!

So het ekself uiteindelik as tiener sonder enige vaste kêrel my hoërskoolloopbaan voltooi. Oor my ore verlief, maar heel.

Net om in my eerstejaar die man van my drome, die man van my lewe, te ontmoet.

Ek wens ek kan elke dogter oortuig dat God vir jou 'n baie baie spesiale persoon in gedagte het. Dat Hy jou suiwer en skoon - heel - vir daardie besondere, met die hand uitgesoekte man wil gee.

Want as jy daaroor nadink elke keer wat jy wil kopverloor oor 'n beeld van 'n vleispaleis, sal jy moontlik jou hart kan vasketting om nie op loop te gaan vir 'n tydelike ontvlugting nie, maar eerder geduldig te raak, te wag, rustig te wees en jouself splinternuut, ongebroke te hou vir die "special" outjie wat jou Liefdevolle Pappa-Vader vir jou bewaar.....

Maar ek dwaal (soos gewoonlik) weer vêr af, baie vêr.

Sien, ek wou skryf van die "nuwe vreemdeling" in my lewe.....

Ek het my liefste ontmoet toe ek 'n eerstejaartjie was. En net na ek klaar studeer het, is ons getroud.
Ek totaal onkundig oor hierdie "liefde"-ding...

Liefding het wel 'n meisie gehad en my van haar vertel - vroeg al.
Want sien, hy het seergekry na hulle uitgemaak het. Baie.
En hy het gebid dat die volgende meisie wat Vader op sy pad sou bring, sy trouvrou sou wees.

Hy vertel met so 'n klein glimlaggie, dat hy gevra het vir 'n donkerkop met blou oë - en bo verwagting het God hom dit alles gegee!! - dan terg ek terug, want ek was maar "vaalblond" sien, g'n donkerkop nie!

Maar ek het gewonder oor "daardie meisie". Jy weet, daardie een wat hom seergemaak het. Daardie een van wie hy my vertel het. 
Mag ek erken? Ek was jaloers.... Ék wat met die beste man getroud is, was jaloers op 'n vreemdeling in sy verlede. Ék, die een wat hy verkies het, kon nie vrede maak nie.

Soms, by funksies, sou 'n wildvreemde vrou my skoonma groet, wanneer ek dan later na die vrou vra, is die antwoord dat dit sy is.... En glo vir my, op 'n plattelandse dorp is raakloop maklik. Maar verniet, ek kon haar gesig nie onthou nie. Nooit.

Vreemd, maar dis tog asof my brein die beeld uitgesny het.

Tot so 2-3 jaar gelede...

En vandag kry ek so lag vir myself, my "ou" self.

Want vandag kan ek sien en weet dat sy 'n pragtige mensie is. Dat sy dinge baie soos ek beleef. Kon seker ook nie anders nie, hoe sou manlief dan op haar verlief kon geraak het as sy nie 'n pragtige mens was nie?

Nou sien ons mekaar gereeld, baie gereeld.
En ons gesels al meer.
En ek wonder oor verspeelde tyd. Tyd wat ek kon uitreik, maar net wou terugtrek....

Sy is gelukkig getroud en het twee pragseuns. Regtig PRAG-kinders.

Konsekwent

Ek het op facebook 'n skakel na 'n webblad geplaas en die volgende kommentaar daarop gehad:
Grense is so belangrik - veral vir kinders....
Dis uiters belangrik dat kinders weet wie dra die gesag in die huis, dat dit kinders is wat gehoorsaam moet wees, nie ouers nie! - dit is immers wat die Woord leer: kinders wees aan julle ouers gehoorsaam.

Dis tyd dat ouers die verantwoordelikheid wat God op ons gelê het, die gesag wat Hy aan ons gee, aanvaar en toepas!

Die dagstukkie op die webblad handel oor "Wet en Orde" oftewel dissipline.
Die Woord vir Vandag
Spreuke 13:24 NV
2013/07/22
Geskryf deur Bob en Debby Gass
Wet en orde (2)
  Kinders wat 'n vreugde is om mee saam te leef, word nie in 'n wettelose huis grootgemaak nie. Het jy al ooit die film Bonnie and Clyde gesien? Die storie van Bonnie gaan eintlik oor die ma wat haar grootgemaak het. Sy het altyd gedink alles wat Bonnie doen, is "oulik", maar Bonnie was nie so oulik toe sy op 'n moorddadige tog was nie. As jy jou kinders struktuur gee, laat dit hulle versorg en veilig voel. Hier is 'n paar riglyne: 
  1) Verduidelik die reëls duidelik. Om 'n kind te straf oor 'n reël wat hy nie verstaan nie, maak hom net meer wederstrewig. Hoe minder reëls daar is, hoe beter - maak die reëls verstaanbaar, uitvoerbaar en waarneembaar. "Preek" en moralisering skep net weerstand. 
  2) Dwing die reëls konsekwent af. Teenstrydigheid verswak jou gesag en kweek ongehoorsaamheid. 'n Paar dinge om te vermy, is: a) Vergelykings. Daar mag van geen kind verwag word om soos 'n ander kind te wees nie. b) Kwetsende etikette soos "Jy is dom, lui, sleg, 'n mors van tyd." Beskryf hul dade; moenie hulle eiewaarde afbreek nie. c) Ydele dreigemente. Dwing die reël af of los dit. d) Omkopery. Dit lei net tot manipulasie en doen afbreuk aan die belangrikheid van die reëls. e) 'n Gespot oor swakhede. 
   3) Moenie bang wees om "nee" te sê nie. Hulle toekomstige sukses en geluk is afhanklik daarvan of hulle kan leer om dit te hanteer. 
  4) Erken jou mislukkings. As jy dit egter soms nie doen nie, is jy steeds daarvoor verantwoordelik om te vereis dat hulle jou wette volg, en nie jou misstappe nie!
Sielskos: 2 Pet 1-3Luk 8:40-56Ps 146Spr. 18:23-24
Nadat ek die stukkie geplaas het, is dit ook deur ander op hul fb-profiele gedeel. So reageer iemand anders toe daarop met die woorde:
 Konsekwensie was nog altyd vir my moeilik. Ek het weer vir ons kids geleer die lewe is nie konsekwent nie; ek ook nie. Party dae is 'n reël vir my belangriker as 'n ander dag, soms is mens in 'n goeie bui, soms 'n slegte bui en soms het jy PMS!!!
 Dit was vir my 'n interessante redenasie.....


My enigste maatstaf is die Woord van God.
En juis daarom nie my menslike inkonsekwentheid nie.

Konsekwent in my huis, juis omdat alles daarbuite inkonsekwent is.
My God is konsekwent, al is ek nie.

Hierdie konsekwentheid het NIKS met my emosies te doen nie.
Dit het wel alles te doen met my dissipline.

Want 'n reël is 'n reël en moet as sulks eerbiedig en nagekom word. Net soos wat die landswette nagekom moet word. Net soos wat die tien gebooie nagekom word. Reëls, wette, gebooie kan nie oornag verander net omdat ek vandag sus of so voel nie.

Daarom moes ek dikwels al die kinders straf - al voel ek glad nie daarna nie!

Ek weet dat lyfstraf in die wêreldse beskouing as "uitgediend" of "onmenslik" beskou word, maar weereens, in die Woord word ons geroep om die seun met die roede te tugtig. In ons huisgesin het ons probeer om ongehoorsaamheid met lyfstraf te straf.

Ongehoorsaamheid, m.a.w. daar waar 'n direkte bevel verontagsaam is, lynreg teen die bestaande en bekende reëls opgetree is.

Enige ander gebeure is met 'n frons, 'n vingertik, 'n preek of 'n "kamer toe!" hanteer.


Ongehoorsaamheid is die een ding wat keer op keer in die Bybel aangespreek is. Dit is die moeder van alle sondes. Die grootste rede vir Israel (en ons eie) keer op keer se afdwaal.

Ek het 'n kleintjie dood aan ouers wat hul kinders verwar deur die een oomblik "nee" en dan, na 'n ruk weer "ja" te sê. Uiteindelik kan die ouer nie verstaan hoekom die kind dan nie luister nie.....jammer, maar jy is die oorsaak!

Ek het, bietjie laat in my lewe, in Marina Petroupolis se boek 'n groot waarheid raakgelees. Dit kom daarop neer: Dink twee, drie keer voordat jy nee sê. Is dit WERKLIK nodig om hier en nou nee te sê? 

Dit het my hele uitkyk en die vinnige "nee" sê stopgesit. Dink, en sê dan meer kere ja.



Vreemd om te skryf

'n Nuwe jaar.

       Kersgroete is al verby.
               In sommige huise flikker-flikker die liggies nog, maar dis al.

Vergete is die wegbreek, die ooreet, laatslaap en malle gejaag agter geskenke aan.

             In oupas en oumas se huise daal rustigheid weer neer.

     En ek voel skuldig.
Junie 2013.

Dis wanneer ek laas hier geskryf het.
Dit voel skoon vreemd - ek het voeling met my kuierwerf verloor. Dalk sommer voeling met myself verloor.

Wie lees tog nog hier? Wat maak dit saak? Dis mos myne....

Facebook is dalk die skuldige, maar ék is die een wat aan sy verleiding toegee. Ek is die een wat my laat vang in sy wip.

Daardie kortstondige inloer by fisies-bekendes en internet-bekendes.
Dit vervreem my van my hierwees.

'n Nuwe jaar.

       Voornemens? Ag, ek weet nie. Hou enigeen ooit sy voornemens?

Maar ek wil meer hier skryf, weer kop oopskryf, myself leegskryf. Noem dit dan my voorneme.
En ek wil gewig verloor.... :-)


Ek begin al meer en meer wonder oor die veiligheid van skryf op die internet. Nie net oor kopiereg wat misbruik word nie, maar in die algemeen. Mense gee so maklik persoonlike inligting weg, sommer oop en bloot. Besef ons die moontlike gevaar daaragter?

Tog het ek nodig om te kom sit en tik, siel losmaak. Ek kan tog nie meer met pen en papier nie, dit maak my moeg. My gedagtes spoel net te vinnig weg.

Ai, weer los gedagtemaal.
Maar ek is nog mens, ek leef nog - soms net-net, want die lewe kan mens so maklik verswelg.

En tog weet ek vas en seker - God is in beheer - ook in hierdie malle gejaag, hierdie geklike klug wat ons lewe noem.











Saturday, June 8, 2013

Huwelike en Kinders

Die nuutste uitgawe van Die Boodskapper, die AP Kerk se amptelike blad, handel oor “Die heerlikheid van die sewende gebod.”

Dis ’n publikasie vol jubeling, een van die beste uitgawes.
Miskien juis omdat huwelike en kinders gebore binne hierdie Godgegewe verhouding, my so na aan die hart lê.  Met artikelopskrifte soos “Ons Huweliksliefde en die Koninkryk”, “Jou Huwelik – nodig vir die Verbond”, “God se doel met die huwelik”, “Saamwoon en saamslaap” is elke enkele artikel ’n kuier op sigself werd...

Ek wil egter net breedweg aansny by enkele stellings en opmerkings in sommige van die artikels (ek wens die publikasie was as e-tydskrif of ten minste aanlyn beskikbaar, maar ongelukkig nie. Dit kan wel bestel word vanaf boodskapper@apk.co.za en kos R16 per eksemplaar.)

Die heel eerste artikel verwys na ons huwelike wat ’n VOORBEELD moet wees van die verhouding wat daar tussen God (as bruidegom - Mt 25:1-13, Mk 2:18-22, Joh 3:22-36) en sy kerk (as bruid - Op 21:2 & 9) bestaan. Jou en my huwelik is die eerste sigbare, tasbare beeld van God se liefde vir die mensdom - Ef. 5:22-33. Jou en my getrouheid binne die huwelik dui op God se getrouheid binne die verbond. Op sovele plekke, in die profetiese boeke, word na die volk se ontrouheid verwys as dieselfde van ’n ontugtige vrou.


Die tweede sluit hierby aan en vat dit verder.
God het van die begin af ’n stewige MONOGAME huwelik tussen een man en een vrou daargestel en die doel van hierdie verbintenis: God soek ’n geslag vir Hom op aarde. ’n Goddelike nageslag - Mal 2:15. Deur hierdie Goddelike nageslag word God se verbond met Abraham verder voortgedra. God bou self hierdie nageslag (Hy bepaal immers wie kinders kan hê en ook hoeveel kinders elke egpaar gaan hê) en God voorsien alles wat daarvoor nodig is ook.
Is dit nie ’n wonderlike rede tot dankbaarheid nie?

Die volgende paar artikels raak die teer onderwerp: Saamslaap en Saamwoon aan. Te veel Christene val vir die leuen “almal doen dit”. Ek wil nie in hierdie kuier daarby stilstaan nie, maar wil tog twee kosbaarhede uitlig.

Ds. Danilo Stoltz skryf dat daar twee gedagtes is om mee rekening te hou. 
Versoeking en Getuienis.
Geeneen van ons kan eerlik erken dat ons nog nooit voor versoekings geswig het nie.

Hieroor skryf hy: “Wanneer twee gelowige Christen verliefdes besluit om saam te woon, maar nie seksueel aktief te wees nie, klink dit teoreties wonderlik....Hoe kan jy verwag om nie een of ander tyd onder jou natuur te swig wanneer jy elke dag van jou lewe aan die versoeking blootgestel word nie?”

Ten opsigte van getuienis vertel hy die verhaal: “’n Man [het] by geleentheid deur sy vriend se groenteland geloop. Iewers deur die land het sy skoen losgegaan en het die los rieme hom dikwels laat struikel en die lopery bemoeilik. Sy metgesel vra toe waarom hy nie sy skoen vasmaak nie? Hy antwoord toe: ‘Ek is bang iemand buite die land sien my afbuk. Hulle weet nie ek maak my skoen vas nie en dink dalk ek is besig om groente te steel. Ek sal maar lewer ’n bietjie sukkel om te loop, omdat my getuienis vir my belangrik is.’”


Wat my egter gebind het, was die artikel oor God se Doel met die Huwelik.

Te midde van al ons frustrasies, irritasies en aanpassingsprobleme in die huwelik, moet ons altyd onthou dat God se gebod van ons selfverloëning eis, dat Christenskap diens beteken, diens aan ander, nie aan myself nie. Dat Christus gekom het om te dien en dieselfde van my verwag, ook in my huwelik.

My huweliksdoel is om God te verheerlik.
My huweliksdoel is om ’n hulp vir die ander helfte van ons eenheid te wees.
Die doel van ons huwelik is om losbandigheid teë te werk.
Die doel van ons huwelik is om kinders te hê, soos God sou besluit om aan ons te gee.

Kinders.
Ons besluit?
Ons eie keuse?
Ons beplanning?

In Gen. 1:28 word die opdrag gegee, ’n opdrag wat nêrens in die Woord opgehef word nie.
Hieroor skryf ds. Schalk Strauss: “Om kinders te hê, is dus nie opsioneel nie. Dit is ’n opdrag van die Here.”

Hoeveel mense ken jy wat self besluit of hulle enigsins kinders gaan hê? Wat besluit om geen kinders te hê nie?

Nie opsioneel nie, ’n opdrag.

Kinders is ’n seën ("a blessing") van die Here. Of jy een, tien, twee of twintig het. Jy is nie meer of minder geseënd nie – jy is geseënd.

Maar, wat dan van die duisende vroue wat smag na ’n kind en steeds smagtend bly... Sara, Rebekka, Hanna....die kinderloses?

Vir my gaan dit om meer. God seën ook deur finansies, deur gesondheid, deur vrede in die land (Deut 7:13). Sommige is egter arm, ander gaan gebuk onder geweldige fisiese probleme (blindheid, doofheid, gestremdhede) of word gebore in lande soos Sirië waar oorlog ’n gegewe is...

Goed, wanneer God my seën met finansies.
* Wow, te lekker. Ek kan koop wat ek begeer.
* Ek kan mooimaak, mooi aantrek, in styl rondry en woon.
* Ek kan gereedmaak vir ’n gerieflike en gemaklike oudag.

Of wanneer God my seën met gesondheid  (dikwels is dit een wat ons nie eens raaksien nie).
# Ek kry nie maklik verkoue of griep nie.
# Ek sukkel nie met oorontsteking, sinus en allergieë nie.
# Ek ken nie eens  ons huisdokter se naam nie, weet nie wat bloedtoetse behels of hospitaalprosedures is nie.

Nogal gaaf en goed hierdie twee laaste nè?
Finansies (ek sou kon doen met ’n miljoen) en gesondheid (’n appel ’n dag laat die dokter wag).

Nou kyk, ek weet nie van jou nie, maar as ek geseën word met finansies is dit nou nie ’n kraantjie wat ek graag sou wou toedraai nie. Ek dink dit sou nogal erg wees om vir die Here te sê: “Weet U, Vader, ek het nou al die afgelope 30 jaar so ’n miljoen of drie weggesit, ek reken dis nou genoeg. Ek kan daarmee heel lekker aftree en het nie eens nodig om die volgende 30 jaar te werk nie. U kan nou maar ophou om my finansies verder te laat groei. Dankie, maar nee dankie.
Ek het my beplanning nou uitgewerk en dis nie nodig dat U verder hiermee of voort te gaan nie. En net om seker te maak dat U nie dalk per ongeluk nog rente bysit nie, gaan ek my gelde uit die verskillende beleggingsfondse onttrek.”


Selfs die seën van gesondheid is nie ’n item om mee te speel nie. Ek meen te sê – sou jy gemaklik voel om vir die Here te vra: “Here, ek het nou al 30 jaar lank geen verkoue of griep gehad nie. Vir my hele leeftyd sien ek mense om my wat hospitaal toe moet gaan, wat pyn ly, wat swaarkry en vir my het u geseën met oorvloedige gesondheid. Maar, Here, ek dink dis nou genoeg. Voortaan wil ek asb. nie meer gesond wees nie.
My beplanning is om sovêr moontlik met kieme in aanraking te kom en die swakste eetgewoontes in die boek toe te pas.”


Toetentaal gek.
Bisar.

Is dit?

Maar kinders?
Die seën van olyfbome om jou tafel?
Pyle in jou koker?
(vgl Ps 127)

“Here, ons kan nie nog kinders bekostig nie, nie as ons vir elkeen ’n ordentlike universiteitsgraad, ’n goeie opvoeding, skool en sport wil gee nie. Ons kan nie nog kinders finansieel dra en steeds jaarliks vakansie gaan hou, naweke wegbreek, my gunsteling drankies koop en uiteet nie. Weet U wat kos weggooidoeke, baba-kos, formulemelk? Maar, net om seker te maak dat daar nie dalk ’n ‘glipsie’ is nie, gaan ons sommer ’n sterilisasie ook doen.
Dankie, Here, U kan sorg en voorsien vir my ewige lewe, maar hier op aarde sal ek self sien kom klaar. Hier sal ek besluit hoeveel seën ek wil hê.”

Gaan dink baie mooi hieroor na......

Sunday, March 24, 2013

Keuses

Uiteindelik is dit die somtotaal.

Keuses.
Besluite.

Foto geleen by: http://fundamentumstudios.deviantart.com/art/Strange-Split-Road-137641365

Jy kies daagliks vir of teen God.
Jy kies elke moment of jy die versoeking gaan teenstaan of toegee.

Sommige van die keuses wat ek in my lewe gemaak het, het hulself as blote foute uitgewys.
Soms loop my keuse op totale mislukking of fiasko uit.

Foto geleen by: http://thegradstudentway.com/blog/?p=632

Maar daar is, God sy dank, baie besluite, keuses wat sukses gespel het. Baie wat binne sy wil geval het en sodoende ook sy seën ontvang het.

Die groot verantwoordelikheid van keuses is dat jy, as moeder, ook ander mense se lewenspad bepaal na aanleiding van jou keuses. 
Die kos wat jy kook, die boeke, CD's en DVD's wat jy koop, die tydskrifte wat op jou koffietafel lê, die klere wat in hul kaste hang....dit beïnvloed elke kind in jou gesin.

Jy kies wat in jou man en kinders se buik beland. Dit het uiteindelik 'n beduidende impak op hul gesondheid.
Jy kies wat jou dierbaarstes se brein binnedring, wat 'n groot invloed op hul hart en gedagtes het.

Soms druk hierdie verantwoordelikheid my vas. 
Lê dit 'n beklemming om my hart.

Want dit wat ek weet goed is vir hulle en dit wat hulle graag wil hê, is in stryd met mekaar.
Dit wat ek weet heilsaam is vir my en vir hulle, is soveel anders as wat die wêreld, hul maats of selfs ons familie as sodanig beskou.

Dit maak ons "anders" en dis iets wat niemand graag wil wees nie.

Tog leer die Woord dat ons nie aan die wêreld gelykvormig moet wees nie. 
Leer die geskiedenis ons dat die massa selde die waarheid beet het.

  • Ons het tuisopvoeding gekies, die massa volg hoofstroomskole, selfs privaatskole wat uiteindelik tog maar net die hoofstroomskole in ander kleed is.
  • In tuisopvoeding het ons verkies om die selfleer-roete te loop ("unschooling") terwyl baie ouers hul hande saamslaan.
  • Ons het geen TV gekies, die massa koop plasmaskerms, huisteaters en skottel-kanale.
  • Ons het 'n een-beroep-gesin gekies, die massa het beide ouers in die sakesektor.
  • Ons het gekies om die Woord letterlik te glo - God het in ses dae deur sy gesproke Woord die ganse heelal geskape, die massa volg die media slaafs en glo dat miljoene jare nodig was.
  • Ons het gekies om gesinsgrootte in die Here se hande te laat, geen beheer daarvan te vat nie, die massa kies om self te besluit hoeveel kinders in hul gesin moet wees.
  • Ons het gekies om 'n meer gesonde leefstyl (minder gemorskos, geen koring, geen suiwel en geen suiker, geen preserveermiddels) te volg.


Of ons dit alles al regkry - nee.
Maar dis die keuse wat ons gemaak het.
Geeneen van hierdie sake was sommer lukraak oor besluit nie.
Daar was stryd en gebed, navorsing en oorweging.

Hoe kies jy? Wat beïnvloed jou keuses? Vra jy na die mening van die mense om jou of is God jou kompas?

Soos Paulus moet ek erken: "Broers, ek verbeel my nie dat ek dit alles al het nie. Maar een ding doen ek: ek maak my los van wat agter is en strek my uit na wat voor is." (Fil 3:13, '83-Vertaling)


Thursday, March 21, 2013

Vir hom....

"Smiley."



                                                                                      Die een wat maklik kon lag.
Gereeld gelag het.
Die een wat ons altyd herinner het daaraan dat swaarkry met 'n glimlag oorkom kan word.

Wat sou daar onder die glimlag en die dimpels lê?

Oor komediante en grapjasse word dikwels gesê dat hulle 'n dieper seer wegsteek. Dis mense wat dalk 'n diep eina wegsteek agter baie grappies en laggies. Mense wat die kuns ken om hul emosies diep weg te bêre vir alleentye en nou fokus op die mooi en die lekker. Die traan van die harlekyn.


Dat dit mense is wat inniger vóél.

Was dit van hom ook waar? Hoe sal ek weet?

Hy was die jongste. Is dit seker steeds....

Ek het hom geken - bolangs.
Daar was tye wat hy 'n dieper menswees aan my gewys het, 
homself bietjie oopgestel het. Maar dit was min.

Ek moes soms goedjies wegsteek, "want ma en pa mag nie weet nie."
                           Soms moes ek raad gee - ék? Ek wat maar net 2 maande sy senior was?

Maar die lewe loop sy pad en 'n ander het sy hart betower. Dit was immers nie myne nie, ek het my eie geliefde gehad. Sy het sy geheimpies gedeel, sy het sy probleme en kommer aangehoor en sy het raadgegee...


Sou ons ooit sy keuses verstaan?
En toe dinge skeefgeloop het? 
Wat het die pad toegemaak? 
Wat het verhoed dat hy sy seer met ons, 
ons wat hom so innig liefgehad het, gedeel het?

En toe is hy weg... ons sien hom so min.

Daarna, o, die opgewondenheid van 'n nuwe liefde!       

Die blom van sy hart. 

Die een wat hom weer kon optel, weer kon herstel.              

 Sy wat hom weer huis toe laat kom het.                      

Sy wat haar hart ook vir ons oopgemaak het.

Sy wat uiteindelik sy hele lewe sou word.

Net 'n skrale vyf jaar.
Dis al.

So kort tydjie om 'n lewe se herinneringe in te bou.
'n Knipoog-tydjie was hulle aan mekaar geleen.

Ai, boeta!
ons mis jou so baie....

Hoe sal ons ooit God se weë verstaan?
Vrae sal ons seker altyd hê. Paulus sê mos: ons kyk deur 'n spieël in 'n raaisel....
 eendag..... eendag sal ons ten volle ken.

Dierbare sus, mag Hy jou vertroos. Mag Hy jou toevou in sy wonderlike liefde.

Here, hy is nou by U.
Hy kan nou rus, sy taak op aarde is voltooi.
Here, ons verlang na hom, U weet.....