Thursday, March 21, 2013

Vir hom....

"Smiley."



                                                                                      Die een wat maklik kon lag.
Gereeld gelag het.
Die een wat ons altyd herinner het daaraan dat swaarkry met 'n glimlag oorkom kan word.

Wat sou daar onder die glimlag en die dimpels lê?

Oor komediante en grapjasse word dikwels gesê dat hulle 'n dieper seer wegsteek. Dis mense wat dalk 'n diep eina wegsteek agter baie grappies en laggies. Mense wat die kuns ken om hul emosies diep weg te bêre vir alleentye en nou fokus op die mooi en die lekker. Die traan van die harlekyn.


Dat dit mense is wat inniger vóél.

Was dit van hom ook waar? Hoe sal ek weet?

Hy was die jongste. Is dit seker steeds....

Ek het hom geken - bolangs.
Daar was tye wat hy 'n dieper menswees aan my gewys het, 
homself bietjie oopgestel het. Maar dit was min.

Ek moes soms goedjies wegsteek, "want ma en pa mag nie weet nie."
                           Soms moes ek raad gee - ék? Ek wat maar net 2 maande sy senior was?

Maar die lewe loop sy pad en 'n ander het sy hart betower. Dit was immers nie myne nie, ek het my eie geliefde gehad. Sy het sy geheimpies gedeel, sy het sy probleme en kommer aangehoor en sy het raadgegee...


Sou ons ooit sy keuses verstaan?
En toe dinge skeefgeloop het? 
Wat het die pad toegemaak? 
Wat het verhoed dat hy sy seer met ons, 
ons wat hom so innig liefgehad het, gedeel het?

En toe is hy weg... ons sien hom so min.

Daarna, o, die opgewondenheid van 'n nuwe liefde!       

Die blom van sy hart. 

Die een wat hom weer kon optel, weer kon herstel.              

 Sy wat hom weer huis toe laat kom het.                      

Sy wat haar hart ook vir ons oopgemaak het.

Sy wat uiteindelik sy hele lewe sou word.

Net 'n skrale vyf jaar.
Dis al.

So kort tydjie om 'n lewe se herinneringe in te bou.
'n Knipoog-tydjie was hulle aan mekaar geleen.

Ai, boeta!
ons mis jou so baie....

Hoe sal ons ooit God se weë verstaan?
Vrae sal ons seker altyd hê. Paulus sê mos: ons kyk deur 'n spieël in 'n raaisel....
 eendag..... eendag sal ons ten volle ken.

Dierbare sus, mag Hy jou vertroos. Mag Hy jou toevou in sy wonderlike liefde.

Here, hy is nou by U.
Hy kan nou rus, sy taak op aarde is voltooi.
Here, ons verlang na hom, U weet.....

No comments:

Post a Comment