Wednesday, March 29, 2017

'n Bosveldse Bos-troue (deel 4)

5. Die onthaal voorbereidings (vervolg)

Die uitdaging het gelê in die blote grote van die onthaal....

Ek het nog altyd die moderne neiging om 'n troukaartjie te bewoord met:
"Jammer, geen kinders" verpes.

Vir wat en hoegenaamd waarom?
Die huwelik is dan juis die begin van 'n GESIN...
iets waarbinne kinders met groot opgewondenheid en verwagting
verwelkom word!
Kinders is die vervulling van die eenwording.
Kinders is die absolute seën van die Here op die huwelik.
Die bittere seer wanneer daar maand vir maand 
geen teken van swangerskap is nie, dui dan juis op die waarde
wat ons heg aan kinders.

Hoekom hulle uitsluit by die troue?
Net om die "venue" te bekostig?

Dus, van die begin af het ons almal besluit
Kinders is WELKOM!!

So rek die gastelys tot 240 gaste!

Ondervinding het geleer dat op uitnodiging gewoonlik 'n kwart
nie die uitnodiging aanvaar nie.
Dus moet ons regmaak vir sowat 180 gaste!

Oral waar ons daarvan melding maak, rek die oë.
Mense sê ons saal 'n mal perd op.
Dit sal nie werk nie.

Geen krag, geen water, geen ablusies
180 mense, waaronder kinders ook!

En ons aanvaar die uitdaging.
Dit sal werk.
Dit sal 'n groot sukses wees.

Want ons God leef 
en Hy is 'n Vader wat ons liefhet
'n Vader wat kinders liefhet.

Net 'n ander opmerking.
Ek het vir my kinders almal gesê:
Ek gee nie om waar julle die onthaal hou nie, 
maar julle trou in 'n kerk. 
Nie 'n kapel iewers op 'n plek nie, 
want heiden, hindoe en moslem
enigeen kan ook daar trou.
Trou in 'n kerk, my kind, dat die belofte ook vir jou
heilig sal wees.

Verhuring en hulp

Ons doen plaaslik navraag oor die huur van stoele, tafels, eetgerei,
tafeldoeke, goiing-strooidoeke, opskepbakke.
Naboomspruit, Nylstroom, Potgietersrus - en ook verder.
Uiteindelik kry ons die regte hoeveelheid en teen die beste prys in Pretoria, 
selfs ten spyte van die tolgelde en brandstofgelde vir twee bakkies met sleepwaentjies!
As bonus, kan ons al Vrydagoggend 08:00 die goedere oplaai
en hoef dit eers Maandagoggend terug te neem (wat toe uitendelik,
as gevolg van die langnaweek, Woensdagoggend word).

Maar hoe later, hoe meer word die goed....
spitbraaiers huur ons in Naboom,
'n koelkamer-waentjie in Pietersburg
wasbakke en bain-marie leen ons by ons pastoriemoeder
saam met skinkborde en ander bakke.

Op aanbeveling van ons predikantsvrou, vra ons 'n gemeentesuster
om die spyseniering te hanteer.
Nou moet die leser verstaan, hierdie spyskaart was moeilik....
As gevolg van my en Leticia se gesondheid is ons koskeuses
uiters beperk.... absoluut geen glutien, geen suiker, geen suiwel.

Arme Magdel moes walgooi en mooi dink hoe sy hierdie een gaan hanteer.
Veral omdat die bruid niks op die troue wou hê wat sy nie self kan eet nie.
Familievriend, Simon, word genader om die skape te braai en 
bied aan om dit as trougeskenk te doen.

Te midde van al ons voorbereidings en reëlings 
hou almal vol dat ons gaan uitreën.
Ons doen navraag oor die huur van markiestente, as 'n agterdeur
Maar die koste, en dit net om vir die moontlikheid van reën gebruik te word,
was te hoog. In geloof moes ons nou voortgaan.

Ons buurman leen goedgunstiglik sy markiestent (wat sowat 50 mense kan akkommodeer)
as kombuistent vir ons. 

Maar, ek loop dinge vooruit....

~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~

Dankiesê-geskenkies

Aan elke gas was een van twee dankiesê-geskenkies gegee:



Ook hierin het dae, weke se werk gegaan...




Leticia het saadjies geplant. Weer en weer.
Dan ly hulle droogte, dan weer te veel kunsmis,
dan kry hulle oorvloedig water (veral gedurende Desember),
maar uiteindelik was daar genoeg vir die tafels.



Die oorspronklike gedagte was om die stempel wat bestel was, 
te gebruik om die potjies mee te stempel.
Maar 'n keëlvorm het sy eie uitdagings.

Na vele onderonsies tussen ma en dogter, het ons plakkers laat druk
en dit het só mooi gewerk!


Vir die naamplaatjies het Leticia sommer boombas op 
olyftakkies geplak en die name met 'n eenvoudige stempel
en PVA verf gedruk.



 






En nou het ek 'n paar plantjies in my tuin ook!


Grondbone-sakkies

Elke alternatiewe sitplek het 'n mudsak vol grondbone gekry.

Elke naamplaatjie vir elke sak is met die hand uitgesny en daarna,
op die "scrapbook"-manier, is die randjies gekleur.



Die goiing is gesny, die linne geskeur.


En Tinktinkie het ook gehelp....



Daarna moes die stempel keer op keer gedruk word - op 90 linnelappies.
Hiervoor is swart glansverf gebruik.


Dan volg die naaldwerk, wat gewoonlik die meeste knope laat deurglip het!
Nie te lank nie, of ma se hulp word ingeroep...





Elke sakkie moet omgevou word ...



... hier het sus voet neergesit....
vir ons elkeen 'n stuk of 15 sakkies gegee en gesê: "Help."
Die bo-rande moes omgevou, sakkies gevul en weer toegestik word.



Ten einde laaste - 'n stoor vol mudsakkies grondbone.

Die grondbone was 'n trougeskenk van 'n ander buurman.



Ek gaan hier halt roep vir vanaand.
Môre is ek nie hier nie en sal dus geen inskrywing kan maak nie.

Ek dink om die volgende inskrywing te hanteer asof die leser tree vir tree
saam die onthaalarea betree. Ek sal dan beide voorbereiding en 
die resultaat kombineer.

Groetnis







No comments:

Post a Comment