Friday, August 1, 2014

Musiek- 'n terugblik

Musiek
Waarna luister jy?
Watter musiek laat jou goedvoel, teneergedruk, opgeruimd, energiek nadat jy geluister het?

smake....soveel verskillende smake.

Ek het nog altyd die teorie gehad dat kinders so 'n graad of drie afwyk van hul ouers se musieksmaak. Net so effens wilder as dit waarna die ouers luister.

In ons grootwordjare was daar streekradiostasies. So het Radio Jakaranda (ja, dit was werklik 'n Afrikaanse stasie, met Afrikaanse aanbieders, Afrikaanse advertensies en  ook Afrikaanse musiek met so dan en wan 'n Engelse iets tussenin), Radio Hoëveld (dit was meer Johannesburg se stasie, meer Engels in musiekstyl, in aanbieding ensovoorts), Radio Oranje en andere ontstaan.

My ouma-hulle het na die Afrikaanse Radio geluister (deesdae RSG). Ons het kleintyd grootoog gehoor hoe oud sommige omies en tannies geword, daar is Psalms en Gesange vir hulle gesing en net daarna was dit die oggend-oordenking (geen Moslem- of ander gelowe nie, net kerk). Ons moes stilsit deur elke nuusbulletin en weerberig. Geen dood en korrupsie, geen moord en verkragting nie.... nee, net nuus.

My pa het graag Jakaranda geluister, maar vir nuus en weerberig teruggeskakel na die Afrikaanse Radio. Hy het nie van die baie praat-programme op Afrikaans gehou nie, eerder musiek geluister op Jakaranda.

My ma het stilte verkies.

Daar was Radio5, Radio 702 en andere ook, maar ek het hulle nie geken nie. Nie eens geweet waar om hulle op die radio te vind nie. Want tieners luister mos na hul eie musiek, na "tapes".

My eerste "radio" was 'n blote kassetspeler.

en ek het net kassette geluister....

Meestal opgeneemde musiek vanaf die radio (op die hoëtroustel in die sitkamer) of van maats se plate. Want geld vir nuwe plate het ek nooit gehad nie. Ek sou in elk geval nie plate van die gewilde sangers van die era gekoop het nie. Die probleem met 'n plaat is dat een of miskien twee liedjies mooi en luisterbaar is, maar die res.....ai!

As tiener in die koshuis was almal se musiek, wel, almal s'n. Oral in die gang het radio's geblêr. Dikwels teen mekaar ook! Sommige dogters het erge "underground" musiek geluister, ander bietjie meer rockmusiek en die meeste maar net die popliedjies. Die liedjies wat vir 'n week of ses op die Top-10 was.

Ekself het egter tien jaar in die verlede vasgesteek. Abba, BoneyM.... hulle wat in die 70's gewild was, was die sangers na wie ek in die 80's geluister het. O, en dan! Modern Talking. Die twee het my knieë lam gesing.


Nou het ek self tieners.
Genadiglik tuisskolers..... :-)

En ek hoor hul musiek.
Mý musiek, my tienertydse musiek....

Bonny Tyler se Total Eclipse en BitterBlue, It's a heartache
Survivor - Eye of the Tiger
Berlin - Take my breath away.
Europe - It's the final countdown....

en so neem hulle my terug. Op 'n herinneringspad, 'n wandeling na 'n verlede....wat weliswaar sonder die internet en Youtube nie moontlik sou wees nie.

En ek gaan soek hulle.
Een na die ander....

dan onthou ek van Rod Stewart. Ek het nooit na sy musiek geluister nie, maar een video het vasgesteek en ek moes dit net vanoggend gaan kry:


Die lirieke het ek vanoggend vir die eerste keer deurgelees - en dis so so mooi!

Forever Young Lyrics
Artist(Band):Rod Stewart 

(R. Stewart/J.Cregan/K.Savigar)

May the good Lord be with you
Down every road you roam
And may sunshine and happiness
surround you when you're far from home
And may you grow to be proud
Dignified and true
And do unto others
As you'd have done to you
Be courageous and be brave
And in my heart you'll always stay
Forever Young, Forever Young
Forever Young, Forever Young

May good fortune be with you
May your guiding light be strong
Build a stairway to heaven
with a prince or a vagabond

And may you never love in vain
and in my heart you will remain
Forever Young, Forever Young
Forever Young, Forever Young
Forever Young
Forever Young

And when you finally fly away
I'll be hoping that I served you well
For all the wisdom of a lifetime
No one can ever tell

But whatever road you choose
I'm right behind you, win or lose
Forever Young, Forever Young
Forever Young ,Forever Young
Forever Young, Forever Young
For, Forever Young, Forever Young

Dit is net so, daar was sangers en liedjieskrywers wat net 'n merk laat en ander wat verdwyn.

Audrey Landers, Geraldine, Jennifer Rush, Kylie Minogue, Air Supply,  OMD. Of Aha, wat net weggeraak het.

Maar ek kan nie vandag meer na net hulle luister nie. Vandag is ek rustiger, meer daar waar my ouers destyds was. Vandag luister ek na Duitsers (Heino, Ronny, Freddie Breck), ou SA sangers (Janita Claassen, Gé Korsten, Laurika Rauch) en van die rustiger nuweres (Helene Bester, Stef Kruger) met so hier en daar afgewissel met een van "my tyd" se liedjies.

Aan die moderne Suid-Afrikaanse sangers kan ek egter nie vat kry nie....

Dit was egter lekker om net so bietjie in youtube se argiewe te gaan krap vanoggend.











Friday, March 7, 2014

Droogte tot Vloede

Foto geneem op 9 Februarie 2014
Ons het die beeste reeds hiervandaan geskuif na 'n ander plaas toe,
vir beter weiding. Maar die ander plaas is veronderstel ons winterweiding te wees.
Ons reënval van die begin van die seisoen tot op 8 Februarie was 297 mm
 (eerste reën op 08 Okt 2013 - 2 mm)

Ooreenkomstige tyd 2012-2013 : 520 mm (eerste reën op 07 Sept 2012 - 90 mm); totaal vir 2012-2013 - 695 mm (laaste reën op 21 Apr 2013)

Ooreenkomstige tyd 2011-2012 : 441 mm (eerste reën op 16 Aug 2011 - 10 mm); totaal vir 2011-2012 - 562 mm (laaste reën op 24 Apr 2012)

Ooreenkomstige tyd 2010-2011 : 536 mm (eerste reën op 09 Okt 2010 - 18 mm); totaal vir 2010-2011 - 773.5 mm (laaste reën op 19 Mei 2011).

Uit 'n totale byna 1200ha droë land kon ons net 200ha beplant.
En die manne se gemoedere het dikwels baie laag gelê.
Ons moes die beeste voer - die lang wintermaande lê nog voor...

Mens verstaan nie altyd nie.

Op Woensdag 26 Februarie 2014 hou ons gemeente 'n ope biddag vir reën.

Saterdag 1 Maart 2014 het ons tuisskolers 'n funksie digby die dorp en val daar 'n stortbui.
Toe ons by die huis kom had ons net 10mm - die dorp 25mm....

Sondag gaan sonder 'n druppel op die plaas verby.
Maandag val 12mm.
Dinsdag begin dit val, maar nie wyd nie. Buurvrou kom haal haar dogter na wiskundeklas 
en sê hulle het sopas 24mm gehad. Ek stap reënmeter toe - net 6mm.
Ons woonhuise is skaars 800m van mekaar af...

En meteens gaan die sluise van die hemel oop!!!!

Woensdagoggend halfvyf word ek wakker - is dit wind, is dit reën? Maar die geute raas nie.....tog....
die klimraam klap-klap ook nie vanweë wind nie....
Durf mens hoop?

En dan begin die geute en daarmee saam borrel 'n lied deur my hart.
Toe ons uiteindelik, 11-uur dorp toe moet ry - is dit hoe die wêreld om ons lyk:

In die spieëltjie is die sekuriteitshek , voor is die koei- en perdekampie....
Daar voor is die tweede hek....die kamera nou bietjie na links geswaai.

En so lyk die oprit.... :-)
Aan die linkerkant is die landerye - onder hierdie dam water is sojaboontjies geplant.

Die hoof-grondpad na links. Ons normale dorp-toe-gaan-roete.
Die mans het aanbeveel dat ek die ompad na regs moet neem....
Tussen ons en die bure is 'n yslike gat in die pad en daar het reeds,
voor ek gery het, 'n voertuig vasgeval.
Trekker moes hom gaan uitsleep.
Kan enigeen dan wonder hoekom ons met groot voertuie móét ry?
Die aanbevole roete na regs.... Nie noodwendig minder water nie, net minder gate.....
'n Aflooppunt by 'n sementbruggie. Omdat ons nie meer ordentelike paaie-administrasie in Suid-Afrika het nie, word die grondpad nie rond geskraap nie, maar letterlik hol.
 Langs die drade word walle geskep waardeur die water
nie kan breek nie en sit ons met hierdie gemors.

En dis die pad....
dalk 'n kar soos dié in Chitty-Chitty-Bang-Bang nodig?


Die kinders geniet die vloede baie!

Ons is die Here innig dankbaar vir sy voorsiening. Nog nooit het Hy ons verlaat of in die steek gelaat nie. Nog nie een jaar het verbygegaan waarin ons nie in diepe nederigheid ons afhanklikheid aan Hom moes erken nie.
Geloofd sy die Here!! Prys Hom want Hy is goed.

Monday, March 3, 2014

Unschool en Deschool

Twee terme wat baie verwar word en tot misverstande lei is:

deschool en unschool.

Miskien omdat ons weer eens nie taal ken en verstaan nie...

Die voorvoegsel "de-" in Engels beteken om te verwyder, weg te vat, minder te maak.

Die voorvoegsel "un-" in Engels beteken "nie" ("not").

In Afrikaans sou ons die voorvoegsel ont- gebruik vir die Engelse "de-" en die voorvoegsel on- vir die Engelse "un-".

Dus deschool beteken om te "ontskool" en unschool beteken om te "onskool".

Maar dis net woorde en woordspel. Wat is die definisie of die begrip van die woorde?

Deschool:
Ontskoling beteken en hou in dat skool verwyder word, minder gemaak word, weggevat word.

Dié begrip is net op tuisskolers wat eers in 'n skool was van toepassing, maar op álle tuisonderwys-ouers. Om 'n kind uit die skool te haal is relatief maklik, maar om die skool uit die kind te haal kan 'n sware taak wees. Om skool uit die ouers te haal is byna onbegonne!

Die probleem lê meestal in ons "bloudruk". Ons enigste verwysingsraamwerk na leer en leermetodiek is in ons eie skoolgaande verlede. Ons het nie 'n benul daarvan dat dit maar een van vele maniere (en nie juis die beste een nie) is waarop leer plaasvind. Skool is in effek 'n gestroopte weergawe van die werklikheid. Dink aan 'n laboratorium waarin alles klinies, wit en silwerskoon is. Dit is nie naastenby die omgewing waarbinne rotte, konyne en ander proefdiere gewoonlik leef nie. Tog word eksperimente daar gedoen om die werklikheid te probeer verstaan, ontleed en vrae te beantwoord.

Skool gee nie die ware werklikheid weer nie. Slegs 'n skamele afskaduwing daarvan.. Ons, die ouers, moet leer dat kinders baie meer en baie beter kan leer buite die skool. Daarom het ons nodig om geledig te word van skool en ons opvattings daaromtrent.

So ook kinders wat in 'n skool was - dis noodsaaklik om hierdie kinders te ontskool.... Vir ten minste 6 maande, maar in die geval van onderwysers wat tuisonderwys oorweeg tot soveel as 18 maande.

Unschool:
Onskoling is 'n leermetode wat van die lewe die leerinstrument maak.

Skool is hier van geen waarde nie. Die kind word juis onskool - nie geskool nie. Skool gesien in die nouer verband van die woord - asof dit slegs sou beteken die aksie waarby kinders met handboeke, leermateriaal (synde werkboeke, skrifte, pen en papier) by 'n lessenaar op 'n regop stoel sit.

Onskool hou in dat die lewe self as leerskool ingespan word. Met ander woorde, die kind begin 'n werk ('n beroep as jy wil) en leer daaruit self die praktiese wat dan lei tot teoretiese ontdekking. "Unschooling" is 'n baie wye begrip en word van radikaal tot baie konserwatief toegepas. Sommige ouers sal hul kinders toelaat om self te besluit selfs oor wat hulle vir ete wil hê, ander ouers gebruik hier en daar wel kurrikulum-materiaal, maar dan self gekose, self saamgestelde en verder aangevul deur die lewe.
Die besluit of ouers wil unschool of nie, berus by hulself. Dit is egter by verreweg die beste metode om veral kleiner kinders te leer. Deur rolspel, takies, verantwoordelikhede leer hulle die wêreld om hul ken. Maria Montessori het ook hierdie metode van onderwys, waar die lewe jou onderwyser is, gebruik in haar metodiek.

Die besluit om te deschool is ook in die ouers geleë. Uit eie ondervinding weet ek egter, dis die een waar die meeste ouers gly en uiteindelik, na 'n jaar of twee besef: Ons moes dit gedoen het. Gelukkig is dit nooit te laat nie en kan jy steeds, selfs na 2 jaar van tuisopvoeding, deschool.

Geniet die reis - want regdeur die lewe leer ons immers.



Friday, February 28, 2014

"Unschooling" - Selfleer

Mense voel gemaklik met 'n kurrikulum, dit bied grense maar dit is uiters beperkend en voorskrywend. 

Die meeste mistastings oor tuisopvoeding kom voor wanneer 'n mens wegbeweeg van enige kurrikulum en die lewe as leerskool gebruik.

In Engels word hierna verwys as "unschooling". Met ander woorde - nie-skool. Verskillende definisies word op die internet hiervoor gegee.

  • John Holt (wie se boeke ek altyd aanbeveel) beskryf dit as  "allowing children as much freedom to learn in the world, as their parents can comfortably bear."
  • Earl Stevens haal vir Bernard Shaw aan: "What we want to see is the child in pursuit of knowledge, not knowledge in pursuit of the child."
  • Jenny Cyphers sê: "Just like ALL learning, learning how to live comfortably and happy are really wonderful things. It takes a focus on turning away from what you know you don't like and turning towards something else, that something else that creates happy learning and living. Unschooling really is a shift in thinking and then acting on it."
  • Mary Griffith definieer: "Unschooling means learning what one wants, when one wants, in the way one wants, for one's own reasons. ... choice and control reside with the learner ... She may find outside help in the form of parents, mentors, books, or formal lessons, but SHE is the one making the decisions about how best to proceed. Unschooling is trusting that your children are at least as clever and capable as you are yourself."
Dis 'n totaal ander denkwyse as die tradisionele skool-manier van doen.
Dis om die lewe te leef en jou kinders toe te laat om daardie selfde lewe te beleef. Om self daaruit te leer wat vir hulle van waarde is.

Ek het al baie die verhaal van hasie vertel, maar wil dit tog in hierdie inskrywing herhaal.
Hasie was baie opgewonde toe hy die eerste keer skool toe is. Almal het hom vertel hoeveel hy gaan leer en hoe slim hy gaan word. Sy ogies het geblink en van pure opgewondenheid het hy op en af gespring.
Vir die eerste ruk het dit met Hasie goed gegaan op skool. Hy kon speel en hardloop saam met al die ander dieremaats in die skool.
Maar geleidelik het die huppel in sy stap minder geword, sy ogies dof en moeg. Mamma-haas kon sien haar Hasie-kind is nie meer homself nie. Sy het alles gedoen om hom beter te laat voel. Sy gunsteling wortelkoekies gebak, hom bederf met twee stories voor slaaptyd. Pure verniet.
 
 Wat Mamma-haas nie besef het nie, is dat Hasie swaarkry by die skool, want sien, Hasie kan nie swem nie. Tydens een oueraand, gesels Mamma-haas met die onderwyseres by die skool en dié vertel vir Mamma van Hasie se "probleem". Met groot oë en stom van verbasing luister mamma na wat die juffrou vertel. "Maar, is daar iets wat ons kan doen?" wou Mamma-haas weet.
Wel, Juffrou het aanbeveel dat Hasie smiddae vir ekstra lesse moet terugkom skool toe. Hy moes ook ekstra-klasse by 'n buite-persoon, 'n kenner, gaan neem. Hasie moes ure lank in die swembad deurbring, om te leer swem.
 
Hoeveel trane het daar nie gevloei nie, Mamma-haas se hart het gebreek, maar die juffrou het so gesê en hoe kan sy wat Mamma-haas is nou teen die juffrou se aanbevelings ingaan. O, ja, sy weet dat Hasie baie goed is met spring. Hasie kan ook vinnig hardloop, vêr spring en hoog spring. Hy doen goed met touspring en Hasie se vriendelikheid, sy hulpvaardigheid is oral bekend. Dis net ..... Hasie kan nie swem nie.
Skoolvakansies is gebruik om Hasie na proffessionele swemskole te neem....
Die uiteinde van al die harde werk, al die ekstra ure, al die vermiste ure van leef en pret?
Hasie het verdrink......
~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~
 Dit wat ek sien met die kinders vir wie ek wiskunde-ekstra-klasse aanbied....
Dit wat ek sien met die kinders vir wie ek Sondae Verbondsonderrig gee....
Dit wat ek sien in skoolkinders smiddae in die dorp se strate...

Blinkoog-kinders wat moeg geword het. 
Moedeloos. 
Kinders wat met hangskouers stap.

"Ag, tannie, ek sal dit nooit regkry nie."
"Nee tannie, ek is nou maar eenmaal dom."

In die werklikheid, in die "grootmenslewe" as jy wil, in die LEWE doen mense dít waarin hulle presteer, dit waarmee hulle goed is. Hulle gebruik hul talente en gawes tesame met hul persoonlikheidstrekke, hul menswees-kenmerke om suksesvol te leef. Die fokus word nie op my swak administrasie-vermoëns gelê nie, nee, mense sien my wiskundige vermoëns raak. Tony Factor se swak spelling en disleksie was nie die AL waarop almal se oë gerig was nie, nooit! Die fokus was op sy fenomenale bestuursvernuf.

Sou almal fokus op die feit dat Oscar Pistorius nie bene het nie of Nic Vujicic se gebreke - of sien ons hoe hierdie mense fokus op hul pluspunte - die goed waarin hulle werklik GOED is?

Hoekom doen ons dit dan anders met ons kinders???

Hoekom fokus ons op die druipeling se wiskunde punt, maar sien nie raak hoe sy Saterdag vir Saterdag by die ouetehuis in die siekeboeg vir die oumense voorlees nie?

Hoekom sien ons met 'n rooipen en skerp lig die spelfoute in 'n opstel raak, maar kyk bo-oor die enjin wat aand vir aand, stukkie vir stukkie aanmekaargesit en tot motorfiets uitgebou word?

Dit is hoekom ek "unschool".
Dit is hoekom ek my kinders toelaat om die dinge wat vir hulle belangrik is, na te jaag.
Dit is hoekom ek weier om my kinders te konformeer tot een of ander penlekker se verlaagde standaard.
Dit is hoekom ek die lewe as leerskool kies bo 'n gebou gevul met ander soekende kinders wat almal tot een vorm vervorm moet word.


Groetnis




Nog webwerwe oor "unschooling", veral Christelike Unschooling: 
http://www.christian-unschooling.com (geskryf deur Cathy Koetsier, 'n Suid-Afrikaanse moeder)

Tuesday, February 25, 2014

"gesiglose" vriende

Wie sou dit kon raai?

Om mense wat jy glad nie ken nie, "vriende" te noem....

Tog gebeur dit. Jim Reeves het lang jare gelede gesing: "A stranger's just a friend you do not know."

Ek was bang vir facebook (dalk eerder vuisboek). Bang omdat dit onbekend en te blootgestel gevoel het.
Ek het my kuierwerf (blog) te veel geniet om dit op te gee vir kort nuttelose inligtingsbrokkies op 'n kuber-muur. Graffiti op 'n elektroniese wolknewel.

Uiteindelik het nuuskierigheid die oorhand gekry en my kuierwerf daaronder gely. Want vuisboek het my in sy ystervuis beetgekry. Loskom is min. Verslawing is maklik.

Maar die eienaardigste was die hoeveelheid "blog-vriende" ek op fb raakgekuier het. Ou-ou bloggers, die klompie wat my in my "eerste lewe" laat welkom voel het. Ons almal se blogs het bietjie gaan stilstaan, maar op fb het ek hulle opgespoor.

Geleidelik groei 'n mens - en nou kan ek nie meer een van hulle kuierwerwe opspoor nie. Net Estelle s'n wat ek nog kort-kort by inloer.

Maar terselfdertyd het ek soveel nuwe vriende gemaak. Facebook bied groepe en in hierdie groepe het ek mense gevind wat soos ek dink, wat soos ek glo, vir wie hul Christenskap ononderhandelbaar is, wat tuisopvoeding nie as 'n geheimsinnige iets uit die buitenste ruim beskou nie, maar saam met my gesels en verstaan hoe dinge soms gaan.

Vriende wat ek so nou mee verbonde geraak het, dat ek hulle onvoorwaardelik in my huis sal ontvang - al het ek hulle nog nooit in die oog gekyk nie.

Linnie  is een so 'n vriendin. 'n Kosbare geskenk uit God se hand, 'n vriendin op nie net emosionele en fisiese, maar veral op geestelike vlak. By haar het ons ingeval tydens 'n Kaapse kuier, want die kilometers skei ons.

Elize is ook 'n vêr vriendin. Een wat kans gesien het om 'n fb-vriendin wie sy nog nooit gesien het nie, se ouers verblyf aan te bied toe my pa in 'Maritzburg 'n operasie moes ondergaan.... Ongelooflik!

Nelba, Leticia (my meisiekind) en Esther is nog van die Afrikaanse kuierwerwe waar ek gaan loer, en 'n gunsteling is dié van 'n Amerikaanse gesin.

Daar is sovele ander vir wie ek nog wil ontmoet. Ek het al verskeie ontmoet, hetsy per telefoon met navrae of op reis deur die land. Andere sal ek eers in die hemel mee kan kuier, want aardse tyd is net te min.

Wie sou dit ooit kon raai?

Nou, hier na 40, besef ek eers dat vriende dikwels in ongewone gedaantes oor jou lewenspad loop. Hier het ek nou 'n nuwe blogvriendin uit Nederland! Waar anders as op die net sou dit moontlik kon wees?


Wednesday, February 12, 2014

Die kalf is in die put (letterlik)

Sondagmiddag vind jy ons iewers op die plaas, besig om die waterpunte om te ry en seker te maak al die beeste het water.

Sondag was geen uitsondering nie. Verskil was net, van die beeste loop nou ook op die sandplaas en daar is 'n groot geboude sementdam met 'n krip daarnaas. Op die turfgronde kan ons nie met steen en sement bou nie en word die water na tenks gepomp vanwaar dit na die krippe loop.

Februarie is maroela-tyd. So word die water-nagaan ook 'n geleentheid om vrugte op te tel vir jellie-kook.

Rustig ry ons van die huis na Kalkfontein. Pomp die tenks aldaar vol water (en ek ervaar eerstehands hoe swak die weiding is, hoe droog dit regtig is!) voordat ons na Blinkwater ry.

Die eerste maroelaboom se drag was goed, hoewel die vrugte maar klein is. Die tweede boom met lieflike vrugte, het ons byna te laat besoek. Die meeste vrugte sou verlede week perfek gewees het.. Maar ons tel twee 20 liter-emmers vol vrugte op.

Uiteindelik wen die son ons en raak die skemer te donker om verder te buk en soek na vrugte in die gras. In die verte bulk-bulk-bulk 'n kalf.

Oppad terug hek toe, ry ons by die sementdam om om die watervlak na te gaan. Skielik roep Johan iets van agterop die bakkie. Dit moet ernstig wees, want Andries stop dood, skakel nie eens die enjin af nie, maar spring uit en hardloop dam toe. Wat op aarde sou die kind gesien het? Ek wag 'n paar tellings, maar hulle kom nie terug nie, inteendeel, Johan loop al op die wal van die dam om.

Uit die bakkie, trappe op en toe sien ek die kalf.... binne in die dam! (ongelukkig geen foto's nie - nie daaraan gedink nie)
(Hierdie foto is in Desember 2009 geneem)

Daardie dam is diep. Wanneer dit een keer 'n jaar leeggetap en skoongeskrop word, is dit 'n heerlike swemplek. Ek kan nie die bodem raak en kop bo water hou nie. (Toegegee, ek is 1,68m, maar die dam is seker 1.8m diep). My eerste reaksie was rok oor die kop, ringe af en .....

..... "Vergeet dit, daar is nie 'n manier dat ek hier inspring vir 'n bees nie."

Vir 'n mens sou ek sekerlik nie gehuiwer het nie, maar vir 'n bees trotseer ek voorwaar nie al daardie "paddaslyk", alge, beeskwyl en wie weet wat nog alles nie!

(byna soos hierdie krip in Maart 2010 gelyk het met al die alge... nee regtig, toe ek 'n kind was het ek in modderdamme geswem, in 'n sementdam met einste die drywende groen en alggroei teen die kante, maar "been there, done that" - nie nou meer nie!)

Onder sy ma se instruksie, waai Johan se klere ook en is hy met sy groen lewensredder-speedo daardie water in. Eers probeer die kalf (hou in gedagte dit is wilde plaasdiere, Brahman-kruisings, draadspringers wat vlug wanneer die bakkie die kamp inry) wegswem, maar dan is dit asof sy besef, hier is hulp.

Sy laat hom toe om haar die nekvel saam te sleep wal toe, maar sodra Andries haar aan die ore (ek het nog altyd gewonder hoekom teel ons beeste met sulke groot ore! Nooit gedink dis vir lewensredding uit damme nie) beetkry, ruk sy weg en swem na die anderkant. André is later saam met Johan in die water, ma doen steeds bikini-parade al op die damwal, maar kalfie weier om haar samewerking te gee.

Uitgeput vra Johan of daar nie tou in die bakkie is nie. Ek het gaan kyk en met 'n yslike rol platiese skitou weer die damtrappies uitgeklim. Andries het 'n lus aan die los punt geknoop en Johan swem weer na die kalf, dié keer met die tou. Dit blyk egter 'n onbegonne taak vir een mens te wees. André self is nie van veel hulp nie, want kalf trap water vir 'n vale en die kinders moet self ook watertrap.

Uiteindelik het Johan die kalf na die kant van die dam gestuur, Andries staan op die wal, ek het die luspunt van die tou in my hand gevat en Johan die rol. So stoot hy toe die rol onder die kalf se bors deur terwyl Andries die kalf aan die ore hou, ek kry die rol en maak die skuifknoop klaar.

Nou kan ons die kalf beter beheer. Johan swem saam met haar, ek loop op die wal met die tou soos 'n leiband en Andries is aan die anderkant om. By die trappe gekom, trek ons weer die kalf nader, maar sodra ons haar aan die kop wil lig, ruk sy weg. Op 'n keer is sy geheel onder water. Toe weer sommer meteens pap. Ek het my koud geskrik - het sy nou gevrek?

Eintlik was dit 'n stuk genade, dié slapword van haar lyf. Toe kon ons haar pote gryp. Andries het die voorpote uitgelig en ek kort die tou in. Daarna lig hy haar agterpote. Nou moet ons daardie lyf uitlig....

Ek het die tou en staan op die vlakker trappies. Andries is in die middel en probeer om die voorpote te gebruik om haar borskas te lig, Johan, aan die diepste trappies se kant, hou haar aan die agterpote en balanseer homself op die wal.

Uiteindelik, dis al donker, toe is die lyf uit die dam gerol, maar die damwal is 'n skrale 20-25cm breed en sy rol sommer dadelik deur, trappies toe. Kop by boonste trappies, boude na onder. 'n Agterpoot steek vas...ek sien al hoe skeur sy haar agterlyf oop....

Los! en daar gly sy die trappies af om onder doodstil te lê. Het sy nou 'n been gebreek? Wat is fout met haar? 'n Kopskud en daar, bulkende, storm sy weg - ma toe!!

Nat, koud en "kry jou klere", stap ons bakkie toe. Ek is so dankbaar dat my kinders swemles geneem het by sulke goeie instruktrises.

Hoe kom die bees in die dam?
Kyk op die foto hieronder...
Foto geneem in Okt 2010

Wat nie op die foto gewys word nie, is dat daar tussen die pomphuisie en die dam 'n hele paar trappies is - seker om bo-op die pomphuisie te kom. Dis vreksteil trappies. Die krip wat deur die dam gevoed word is net links op die foto, agter die windpompskelet en die bos.

Ons vermoed dat die kalf daar op is om te gaan water suip.


Maandag.
Ek en die kroos is dorp toe vir buitemuurse aktiwiteite, kruideniers en wiskunde klasse. Dis juis tydens een van die klasse wat Andries my bel. Daar was weer 'n bees in die dam. Dié keer 'n speenkalf-bulletjie. Groot.

En dis net hy en drie arbeiders. Geeneen kan swem nie.
Met 'n gespook het hulle hom kant toe gelok en weldra uitgekry.

Maar hoekom?

In die daglig kon hulle die fout opspoor. Die krip is dolleeg. Iets moes die toevoerpyp verstop het.

En daardie "iets" was 'n dooie miskruier....

Nou is die trappies toegemaak - met ysterlatte - sodat geen bees weer sy swemstyle en oorlewing kan toets nie.











Friday, February 7, 2014

Droogte

Droogte het 'n manier om in die huis in te kruip.

Dit steel lewensvreugde...

Droogte klap maklik deure toe. Wek humeure en kortgebakerdheid.
Droogte breek jou moed, maak jou hande en knieë slap.
Droogte skryf met 'n harde skerp pen diep lyne op my geliefde se gesig.

Die groot kuns is om te bly glo.
Om te wag, geduldig, al is dit tot volgende jaar.
Om vas en seker te weet - God is steeds in beheer.
Om biddend met danksegging te kan lofprys.
Want steeds is seëninge mildelik uit sy Vaderhand.

Om soos Habakuk steeds te kan jubel...
Alhoewel die vyeboom nie sal bloei en aan die wingerdstokke geen vrug sal wees nie, die drag van die olyfboom sal teleurstel en die saailande geen voedsel oplewer nie, die kleinvee uit die kraal verdwyn en geen beeste in die stalle sal wees nie —nogtans sal ek jubel in die HERE, ek sal juig in die God van my heil.
Die HERE Here is my sterkte, en Hy maak my voete soos dié van herte, en Hy laat my tree op my hoogtes. Vir die musiekleier op snaarinstrumente.
 - Habakuk 3:17-19

Om soos Paulus steeds te kan dankiesê, te prys en lofsing...
 Wees altyddeur bly.  Bid sonder ophou. Wees in alles dankbaar, want dit is die wil van God in Christus Jesus oor julle.
 - 1 Thessalonicense 5:16-18

Dis nie altyd maklik nie.
Dis bitter moeilik.
Want die hemelruim is van staal...
Wolke bou saam net om deur die wind verwaai te word.

Dag na dag, uur na uur met die oog op die horison - 
net 'n wolkie, so groot soos 'n man se hand, Here...net 'n wolkie.
Dag na dag, gou op die internet - wat sê die weervoorspellings? 
Weathersa, Weatherphotos, yr.no, accuweather....
 Bestudeer die sinoptiese kaart.

Ja, die voorspelling dui op reën - en dit reën wel in die distrik, maar  ..... telkens élders...

Lê die fout by my? Is daar iets waaroor die Here my wil aanspreek? Is tugtiging dalk nodig?
Vrae, vrae en vrae maal deur mens se gedagtes. Jy herinner jou aan onbetaalde tiendes... en Maleagi praat jou aan:
Mag ’n mens God beroof? Want julle beroof My, en julle sê: Waarin het ons U beroof? In die tiendes en die offergawe.
Met die vloek is julle belaai, en tog beroof julle My, julle, die hele nasie!
Bring die hele tiende na die skathuis, sodat daar spys in my huis kan wees; en beproef My tog hierin, sê die HERE van die leërskare, of Ek vir julle nie die vensters van die hemel sal oopmaak en op julle ’n oorvloedige seën sal uitstort nie.
Ek sal ook die sprinkaan vir julle afweer, sodat hy die opbrings van julle grond nie sal verwoes nie; ook die wynstok op die land sal vir julle nie onvrugbaar wees nie, sê die HERE van die leërskare.
- Maleagi 3:8-11 

En tog, tog is ons gerus. Tog is die wete vas en seker - Die HERE het ons nog nooit gelos nie. 
Deur vele droë en nat jare, deur misoeste en rekordoeste, Hy was die een Sekerheid, die een Onveranderlike waaraan ons kon vasklou.

Uiteindelik is dít wat geloof is...
Die vaste wete: My God leef! Hy sorg vir my, ek hoef my oor niks te kwel nie.

Monday, February 3, 2014

Vlinders op die maag

Ek dink nie 'n mens kan ooit volledig voorbereid wees nie.

Gereed vir enige gebeurlikheid. Gereed vir die toets, gereed vir die eksamen, gereed om te trou, gereed vir ouerskap.

Ek was as kind in 'n nuwe skool, baie gespanne. Eksamenstres  het my klaar gemaak. In my st 5 (graad 7) jaar was ek letterlik siek aan maagontsteking en het 'n hele paar vraestelle nie geskryf nie.

Later het ek hierdie eksamenvrees in 'n mate oorwin en kon beheer - op skool.

Universiteit was 'n gruwelike nagmerrie. Ek kon nie leer nie - ek het dit op skool maklik gehad, wat in die klas gesê was, het ek verstaan en studeer was net 'n opskerp van dit wat ek geweet het. Maar op universiteit het ek meestal nie kop of stert kon uitmaak uit die verduidelikings nie...

Ek het nie gemaklik gevoel in die klasse nie, ken nie die dosente of studente genoegsaam om raad of hulp te vra nie, is te skaam om eerste tree te gee... spanning op spanning.


Oggendvraestelle kon ek skryf, dit was bloot 'n kwessie van opstaan, aantrek en gaan skryf, maar 'n middag-, of nog erger 'n aandvraestel het my maagwand in 'n permanente kramp getrek.

Een vriendin wat twee vakke met my gedeel en op dieselfde gangvloer as ek gewoon het, het my in my derde jaar gehelp om die feite-kennis van besigheids- en personeelbestuur in te studeer. Sy het besef dat my senuwees my voor die aand in 'n totale histerie sou hê.

Wiskunde het ek tot tweedejaarsvlak gehad en elke liewe semester 'n her gekry.

As volwassene is hierdie stressituasies gelukkig heelwat minder, maar....

Hier sit ek vanoggend met my maag in 'n knop getrek, spanning lê my speekselkliere lam, ek het geen begeerte na kos nie en wil beslis nie na die toetsgronde kyk waar my meisiekind getoets word vir haar bestuurslisensie nie.

Gaan 'n mens dan nooit genoegsaam leer vertrou, genoegsaam voorbereid wees om nie hierdie aaklige spanning te hoef deurstaan nie?

Thursday, January 30, 2014

Bybelstudie Joh 2:6

"En daar het volgens die reinigingsgebruike van die Jode ses klipkanne gestaan, wat elk twee of drie ankers hou."

Hoekom gebruik Jesus die reinigingskanne? Waar was die kanne waarin die oorspronklike wyn in gehou was? Dit maak tog net sin om die wyn weer in dieselfde houers te plaas... Hoekom die reinigingskanne daarvoor gebruik? Dit was straks nog onooglike en dalk swaar kanne.

Tog is daar moontlik 'n baie goeie rede...

Jesus se kruisdood reinig ons van ons sonde (vir die wat dit in geloof aanvaar), die seremoniële reinigingsgebruike van die Jode, soos ingestel in Exodus en Levitikus, het heengewys na Jesus, na die volkome reiniging wat Hy as Gesalfde bring.

Sy eerste wonderwerk het dan ook sy heerlikheid openbaar, maar terselfdertyd sy doel - om ons te reinig van sonde.

Tuesday, January 28, 2014

Bybelstudie Joh 2:1-12

Ek het vasgevang geraak in Facebook, ek wil dit sommer vuisboek noem. Want dit hou jou in sy vuis met 'n ystergreep. Dit maak jou vuisvoos voel.

Dit is hoe ek vanoggend voel.

Soggens vroeg doen ek Bybelstudie en deel graag los gedagtes oor wat vir my geraak het tydens hierdie kosbare uur met my Vader. Ek wil dit voortaan hier, op my eie kuierwerf doen, hier waar ek tuis voel...

So, sommer nog voor ek begin lees het in die Woord, sien ek die volgende in die dagstukkie:  "Dit is goed om in ons oordenking van hierdie verhaal te onthou waartoe Jesus hier was en waarom Hy die teken gedoen het. Dit lees ons in vers 11: '...en Hy het sy heerlikheid geopenbaar, en sy dissipels het in Hom geglo.' Dáárom gaan dit en daarom was Jesus by die bruilof. Hier was die bruid nie die belangrikste nie, maar Jesus Christus wat sy heerlikheid geopenbaar het.'"

Met uitnodigings na twee troues binnekort, tref hierdie enkele paragraaf uit ds MJ Booyens se boek, Elke dag in die Lig, my vanoggend weer.

Nie die bruid nie, nie die bruidegom nie, maar 'n Eregas, Hy is die Een om wie die dag en die seremonie moet wentel. Sy eer, Sy heerlikheid en, wat my betref, Sy heiligheid moet op 'n huweliksdag uitgelig word.

In my kinderdae was huwelike in kerkgeboue voltrek. Dit was, meer as vandag, as heilig en onverbreekbaar beskou. Ek dink daar is tog, miskien baie fyn en min, maar tog 'n onderlinge verband. Die kerkgebou gee 'n baie groter bewussyn van Goddelike teenwoordigheid, veral as jyself 'n gereelde kerkganger is, as wat 'n kapel, wat deur enige geloof gebruik word, by een of ander venue kan gee.

Maar, word Christus se heerlikheid nog geopenbaar by moderne huwelikseremonies? My ondervinding is dat die fokus eerder op die venue, die spyskaart, die bruidsrok, maar veral die kontantkroeg is. Dit maak my hartseer.

Juis daaroor het ek geweier om op 'n ander plek as my eie tuisdorp te trou. In ons eie gemeente. 'n Oggendtroue spesifiek, sodat daar geen sterk drank hoef te wees nie, 'n Kerk-troue met al ons familie en vriende én hul kinders.

Want, as die gemeente die onthaal se spyseniering doen, is dit heelwat goedkoper, die susters gebruik die kerk se breekgoed. Die kerksaal dien as eet- en kuierplek en musiek is bloot agtergrond, nie oorverdowende gedreun nie.

Dan kan Christus as Eregas ontvang word, kan Hy geëer word en is dit nie 'n dronknes nie.

Verder in die studie word gelees uit Ef 5:22-33, die vrou onderdanig, vol eerbied en respek aan haar man, die man liefdevol en versorgend, die voorsiener en beskermer.

En uiteindelik, die doel van die huwelik: kinders. Om 'n nageslag te hê wat God ken en vrees. (Mal 2:15)