Wednesday, September 8, 2021

Vir ouboet - geskryf op 5 Maart - net na sy afsterwe op 3 Maart 2021

Ek ken mans wat ontplof. Vulkane wat uitbars ... en afkoel.

Hy was anders. Totaal anders.

Dit het my bang gemaak. Ja, ek was bang vir hom. Bang, want ek kon hom nie lees nie. Kon nie sy emosie, sy gedagtes op sy gesig  sien nie.

Ek kon my soms sommer vervies as hy homself begin help in my huis, my kospotte oopmaak, 'n bord gaan haal en net aansit... 

Of, wanneer ons inkopies in die stad gaan doen het, ons kopies deurgaan, "maar hy het nou dit en dat gekoop, ons kan dus uitruil" ...

Of my vra, om sy tikwerk te doen, vorms in te vul, motiverings te skryf, notules dikteer ... dit alles wanneer die maan vir my ogies maak en my bed nie eens meer fluister nie, maar uitgil: Dis Slaaptyd!!

Maar, soos hy, wys ek selde emosie en sou nooit laat blyk presies hoe ek voel nie.

Tog, later, jare later, sou ek besef dat hy eerder 'n bondgenoot as 'n teenstander is. Dat sy weggesteekte emosies eerder 'n kwesbaarheid agter 'n skans wegsteek. Iets wat my kinders laaaaankal geweet het.


Ek was altyd jaloers. Jaloers op sy vrou wat soveel "vryheid" onder sy liefde kon geniet. Min weet mens dat daar maar 'n ander kant ook is. Veral jaloers op die feit dat sy enigiets kon vra, en hy sou haar dit gun... 

Ek het hom op 'n dag gekonfronteer: Hoekom kry sy en ander skoonsus dit reg om julle twee broers te beweeg om dinge te doen, maar ek? Ek vra en vra, maar niks gebeur nie. Hoekom? Wat doen hulle anders as ek...

Dit was op oukersdag.

Ek wou my man vroeg tuis hê, vroeg gereed maak, vroeg eet en vroeg die kinders om die kersboom laat sit om die kersverhaal te hoor. Vroeg, sodat hulle slaaptyd nie te veel ontwrig word en ons verseker die kerkdiens Kersdag sou kon bywoon. Maar net nooit sou dit realiseer nie. Altyd is die boerdery prioriteit en hulle sal plant tot die son die water opgeslurp het. 

Tog, as sy vrou vra, is hy die een wat die ander aanjaag: Kom, ons moet nou huis toe gaan.

Hy het my só aangekyk, skewekop en op sy stil manier geantwoord: Jy huil nie.

Die wind was uit my seile.

Ek huil nie.

Ek wys nie emosie nie.

Ek wou nog grap en vir geliefde sê, nou weet ek die geheim. Maar geliefde het my voorgespring: "Moenie dit eens probeer nie."

Ek was hartseer. Ek was seergemaak. Maar steeds geen trek op die gesig nie. Net maar omgedraai en huis toe gegaan. My gedagtes immer besig.


Hy het ons kinders bederf. Hy wat so verskriklik lief was vir kinders en self moes hulle hoe lank wag... Maar ons kinders (en later jare sy hondekinders) het hy bederf, geniet. Ook die gemeente se kinders.


Hoekom?

Die vraag bly maal en maal.

Die een lewensvraag met geen antwoord nie.


So besluit hulle om 'n planter (of was dit nou 'n stroper, ag, dit maak ook nie regtig saak nie) aan te koop. Suutjies-suutjies praat die drie (skoonpa was nog deel van die driemanskap) oor die aankoop en ek word ingesleep met groot waarskuwing: "Jy sê niks vir die ander twee vroue nie. Hulle kan dit sien as dit afgelaai word." 

Die aand gesels ek en geliefde oor hierdie verwikkeling. Miskien is ek noodgedwone ingetrek, omdat ek die admin moet doen en dus al hierdie goed vooraf weet, maar ek dink dis iets anders. Ek wys nie emosie nie. Nie seerkry nie, maar ook nie woede of ontsteltenis nie. My uitgangspunt ten opsigte van boerdery-aankope was nog altyd, dit is die besigheid en dit moet loop. My huis, my voorkoms, my begroting tel nie, as die boerdery nie daar is nie - dan het ook nie 'n huis, voorkoms of begroting nie. Wat my betref weet die manne wat hulle doen, dis tog hul verantwoordelikheid en sal hulle die gevolge van hul besluite dra.


-------------------------------------------------------------------------------------

Bygevoeg op 8 September 2021:

Dit was alles los gedagtes wat daardie dag, ses maande gelede, deur my gemaal het.

Die hele situasie was moeilik.

Omstandighede deurmekaar.

Ek met ons twee jongste seuns 1400km van die huis af, op die plaas in Botswana.

My man en ons oudste seun op die plaas in SA.

Ek en manlief het kwart oor nege daardie nag ons whatsapp-video-oproep afgelui. My lig was afgeskakel, ek was nog nie heeltemal weg nie. Jongste het geklop en ingekom. Ouboet het op sy foon gebel en wil met my praat. Oudste het gevra dat ek moet seker maak dat jongste nie kan hoor nie - toe het hy my die nuus meegedeel en raad gevra. My moederhart was só ontsteld, geskok. 'n Mens wil jou kind nie in so 'n situasie hê nie...

Op sy tante se versoek het hy na sy oom gaan soek, want dit was al byna 10-uur en hy was steeds nie tuis nie, sy kry hom ook nie op die foon nie. Seunskind het gery, sonder om sy pa te sê waarheen hy gaan... en sy oom in die bakkie langs die land gevind. Vreedsaam heengegaan. 

Steeds is die pyn vlak, steeds die verwagting dat hy sy opwagting gaan maak.

Dankie, Ouboet, dat jy vir ons kinders 'n ander-pa was. Dat jy vir ons almal 'n voorbeeld was.

Dankie, Here, vir die voorreg om hom te kon geken het, byna 30 jaar so saam te kon leef.

My lewe faseer ...

 ... of moet ek liewer sê migreer?

Dinge verander, verskuif enne ... ek dink ek hou daarvan!

Eers was dit net ek. My wêreld het om myself gedraai. Oudste kind wat nie graag deel nie wat sommer skelm eetgoed in my kamer wegsteek.

Toe kom hy in my lewe. Die ridder op 'n wit perd. Net, dit was 'n kortbak, linkerhandstuur, wynrooi Land Cruiser. Maar mensig, wat 'n impak het hy op my lewe gemaak...

Daarna die kinders, een na die ander, vier van hierdie wonderwerke uit God se vaderhand.

Meteens het die lewe bestaan uit ander. Ek het vêr, bitter vêr op die agtergrond verdwyn. My behoeftes, my drome, my wense  het negeer in die harwar van doeke, boeke, gimnastieksale en perdrykompetisies. Nie dat ek een enkele minuut daarvan wegwens nie. Dit was die fase van my lewe - toe.

In daardie tydvak het ek gelééf vir my kinders. Voluit, alles met hulle gedeel.

Maar, soos die lewe mos maar is, het hulle grootgeword...

Sus het getrou, boet het studeer en sy lewensmaat ontmoet (drome en planne vul hul oë), my jonger twee is nou al byna twee jaar alleen in Botswana - boere in die ware sin van die woord - maar ek voel so skuldig oor hulle twee...


Tog, die groei in my kinders is sigbaar.

En ek is God ewig dankbaar vir die wondervoorreg om in hul lewens te kon deel. 


Lank gelede, tydens 'n wyksbybelstudie, het 'n vriendin opgemerk dat haar huis nou leeg voel, dat sy wens dat iemand net die pen op 'n ander plek wil gaan neerplak - want alles is presies net waar sy dit gelos het. O, dit was die versugting van my hart, dat alles kan bly waar ek dit los.

En nou?

Nou is lank gelede hier, hier by my. Nou bly my penne waar ek dit neersit. Nou is my huis (soms) stil en elke ding presies op sy plek. Nou het ek tyd om minder te maak, reg te pak, weg te gooi, dinge te verander om mý te pas.

En ek hou daarvan. Dis vir my héérlik om my huis so te kan inruim. Om vir elke ding 'n pasplek te kan inrig. Om dinge te rangskik dat dit vir my sin maak - al maak die bediende my soms vies omdat sy nie dit presies pak soos ek dit wil hê nie (ek het nooit geweet dat ek 'n perfeksionisties is nie).


Maar soms, soms voel dit of my lewe emosies eerder ossileer. Ek wonder dikwels of ek nie dalk 'n gesplete persoonlikheid het nie. So het ek weer sommer Maandag weer uit my kassie geval. Terugskouend kry ek werklik skaam oor my optrede, soveel so dat ek in gebed voor God om verskoning en vergiffenis moes vra.

Uiteindelik het 'n heel nuwe getuienis in my lewe geopenbaar.

My man se absolute vergewensgesindheid.

Tekenend van God se vaderliefde wat allesomvattend is.

Meer as wat Andries my ooit kan vergewe, kan liefhê (en dis 'n ongelooflike mens hierdie man van my) is God se liefde vir my. As my man met hierdie chaotiese emosionele op-en-af mens kan liefhê, wat sê dit nie van God se Skeppersliefde, Verlossersliefde, Genadeliefde, Vaderliefde ...


Ek is in 'n nuwe fase wat my fassineer - ek is mal oor hierdie nuwe faset van my lewe, nog vele om te ontdek.