Kosbare momente.
Daardie wonderbare tydjie net voor, tydens en na sonsondergang.
My staptyd.
Die honde weet al, iewers rondom ses-uur, dan kom "roep" hulle my.
Dis nie om dowe neute dat God hierdie uurtjie gekies het om met Adam en Eva in die tuin van Eden te wandel nie. Nie verniet dat sy stem met die aandwindjie influister nie.
Dis kop-skoonmaak-tyd.
Dis stilword voor God en net luister-tyd.
Wanneer ek in die paadjie tussen die lande deurstap, is daar geen gedagtes wat in my rondmaal nie, geen stres nie, net 'n oorweldigende bewussyn van hier, nou en van lofprysing. Want dan, wanneer al die verwoede stemme stilraak en die sagte stem van die Heilige Gees al is wat oorbly, dan raak ek van sy koesterende nabyheid bewus.
Dan wens ek dat elke uur van die dag hierdie stil-skemeruur kon wees...
Groetnis
No comments:
Post a Comment