Friday, June 3, 2016

Onafhanklikheid

Dit moet verskriklik wees om só afhanklik te wees.

As jy kruideniers of klere wil koop, moet jy iemand vra om jou winkels toe te neem.
As jy dokter, tandarts of oogkundige moet besoek, moet jy iemand vra om jou daarheen te neem.
Haresny, by 'n vriendin kuier, selfs net 'n vinnige uiteet - vir alles moet jy iemand in die oë kyk: "Kan jy asseblief...?"

Die onafhanklikheid wat 'n enkele handtekening, 'n klein stukkie papier, 'n mens bied is in werklikheid veel groter as wat jy op 18 besef.

Tóé was die enigste oorweging net om jou ouers se motor (wettig) te bestuur. Dit was al. Dis eers wanneer jy ten nouste met 'n totaal afhanklike saamleef, dat jy besef hoe 'n groot voorreg jou onafhanklikheid regtig is.

Plaaskinders leer vroeg, baie vroeg...

Hoe oud ek was toe ek die eerste keer 'n stuurwiel in my handjies vasgehou het, weet ek nie, moontlik drie, dalk vier. Die prentjie wat ek wel onthou is ek as sesjarige. op my pa se skoot agter die stuur van ons 1975 (of daar rond) Land Cruiser.

Een prentjie is helder in my geheue. Ons was op pad na die lande, ek op pa se skoot, en moes verby die asgat ry. Ek was só bang dat ek in die gat gaan inry!! Daardie vrees klem my sommer weer vas.

Later kon ek begin om die ratte oor te sit. Ag, albei hande was nodig vir die sware taak. Dan is daar geen hande op die stuur nie. Gelukkig was pa steeds onder en agter my.

Plaaskinders leer eers trekker bestuur voor hulle kan bakkie bestuur. Koppelaar ("clutch") en rem moet eers dáár bemeester word, voor die bakkie ingewy kan word. Na ek die Fiat 640 DT trekker kon ry, was die bakkie volgende.

Op daardie stadium was dit 'n Toyota Hilux, ligblou van kleur. Ek moes die stuurwiel vashou terwyl pa agterop mielies uitgooi vir die skape. En so, van ongeveer 10 jaar af, het ek bestuur.

Maar om met 'n bakkie op 'n plaas te ry, is een ding.... 'n kar in die dorp iets heel anders.

~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~

Leerlinglisensie. 
Ek was aan die begin van my matriekjaar 17 en kon my leerlinglisensietoets gaan skryf.
Leer en leer, maar die senuwees knaag. Ons was net twee wat dié oggend geskryf het. 

Na die toets, kom die beampte in die lokaal en sê: "Een van julle is deur en een het gedruip." Ek het sommer by voorbaat my goedjies bymekaar gemaak om uit te stap.

Toe roep hy my terug!!!!
Vreugde! Ek het hom!

Nou was vryheid so naby. Om te kan ry, van die Vrystaat tot die Kaap, van Memel tot Pretoria.

Net na die Desembervakansie (wat ons in die Kaap deurgebring het), word ek 18 en kan onafhanklikheid my deel word.

Maar, ek het nog nooit parallel parkeer nie. Kan dit om de dooi dood nie doen nie.
Die Sondagmiddag voor ek sou gaan vir my lisensie-toets, oefen ek en pa parallelparkering op die leë parkeerterrein van die kerk. Probeer en probeer.

Maandagmiddag na skool. Toetsterrein op Vrede.
Ek en ma se Toyota Corolla...

Ons is deur die rituele en moet die praktiese toets doen. Parallelparkering...
Kyk, wegtrek teen 'n opdraand kan ek, mos in die bergwêreld grootgeword en vele kere by 'n hek op 'n koppie moes stop en wegtrek. Agteruitry en 'n drie-puntdraai kan ek doen.

Maar, parallelparkering.
Ek en die konstabel doen hom die eerste keer.
Ek kyk na hom en sien, o wee!
Hy gee my weer 'n kans....
en weer.

Toe ry ons verder, deur die dorp (net stop- en stofstrate, geen verkeersligte of enige verkeer nie!) Maar Vrede lê teen 'n bult en by elke stopstraat, moet ek met die handrem wegtrek.

Handrem?
Waar is hy?
Met die derde keer se soek na die handrem onder die paneelbord, lag die verkeerskonstabel vir my: "Ek kan sien dat jy in 'n bakkie leer bestuur het!" Verleë kan ek maar net saamlag.

Uiteindelik terug op die werf.
En ek weet, ek sal maar nog baie parallelparkering moet oefen voor ek my bestuurslisensie sal kry. Derde keer is immers skeepsreg.

Ek sien hoe trek hy 'n boek nader, aanvaar dis om 'n volgende afspraak te maak.

Maar dan begin hy skryf en skryf, vra dan my identiteitsboekie. Ek wonder wat gaan nou gebeur. Wanneer hy die papier in my boekie plak, besef ek, Ek het hom!!!

Met 'n glimlag en 'n knipoog, gee hy my identiteitsboekie terug: "Juffrou, as dit nie vir jou blou oë was nie!"

Ek kan nog steeds nie parallel parkeer nie. Sal eerder drie blokke verder stap as om dit te probeer (en 'n kar te stamp). Gelukkig het die stuurmeganisme van voertuie so verbeter dat ek met gemak selfs 'n groot voertuig soos die (glo dit) Toyota Fortuner sommer in 'n parkeerplek kan inry en nie parallel hoef te parkeer nie.

~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~

Soos ek vandag ook vir my eie kinders leer, 'n bestuurslisensie beteken nie 'n voertuig nie. Ek kon wel rondgestuur word, maar het nie eiendomsreg gehad nie. Eers moes ek my eerste studiejaar deurkom.

My eerste motor was my ma se ou Toyota Corolla. Wat 'n vreugde! 'n Metaalgroen een waarby my koshuistasse se groen mooi gepas het.

Tot my eie ontsteltenis skryf ek my karretjie in my eerste huweliksjaar af. Vir 'n jaar lank het ek en manlief net sy plaasbakkie - 'n Toyota Land Cruiser 1985-model - wat baie soos my eerste Cruiser-ervaring lyk (en steeds deur ons kinders op die plaas gery word).

Na 'n jaar kan ons eers die Corolla vervang, met 'n ... wel, 'n Corolla.

Die karretjie het getrou die kilometers gesluk, vir tien jaar lank en net oor 'n 110 000km volgemaak.

Ons moes egter aanbeweeg, ek was swanger met ons vierde kind en die Corolla het net te klein geword. Toyota Condor was die volgende voertuig in ons motorhuis.

Ek was regtig lief vir my kar. Myne. Hy had 'n enorme pakruimte... Ek kon vier plukkratte met gemak agterin  laai én nog ses mense met kruideniers vir 'n week of langer ook. Die plukkratte was 'n gerieflike manier om die kruideniers te stapel.
Dit was nou nie die vinnigste en kragtigste voertuig nie, veral nie vir ons wat woonwa sleep deur die platorand na die Laeveld nie, maar plek, ruimte - genoeg!

Geliefde het egter na meer krag gesmag en met die vrystelling van die Fortuner, was my kar se dae getel.

Vandag, agt jaar later, het die Fortuner reeds meer as 200 000km en is daar nog geen plan om hom te vervang nie. Geliefde het sy krag en spoed gekry, maar ek moes my ruimte en pakplek boet. Die Fortuner is net te klein vir ses mense en hul bagasie. Net te klein vir ses mense en kruideniers. Dis óf mense óf bagasie. Wanneer ons vir 'n naweek gaan kuier, moet ons die waentjie saamsleep. Maar die kar gedra hom goed en ons het nog geen teëspoed gehad nie.

Soos hul advertensieklingel lang jare gelede gelui het: Alles loop reg, altyd reg - Toyota!

Genade, maar ek het draaie geloop (gery?)

Ek wou maar net vertel - ek het vandag soveel vreugde beleef.
Wind deur my hare, agterop die bakkie (daardie selfde 1985 Cruiser) en ons oudste en jongste binne-in die kajuit.  Met jongste (12) agter die stuur. Sommer net op die plaas.

Soos 'n kind, so het ek gevoel. Hoekom, o hoekom, mag ek as getroude vrou nie meer agterop die bakkie staan, oopmond vir die son lag en die vreugde van wind in my hare ervaar nie?


Dit is vreugde, bevryding.

Maar om ander in die oë te moet kyk, elke keer wat jy wil dorp toe gaan....
Onafhanklikheid is papierdun.

Saturday, March 19, 2016

Onderaktief tot Hashimoto's - die pad van diagnose

Soos ek in die  vorige inskrywing gemeld het, ek is in 2000 al met onderaktiewe skildklier gediagnoseer. Wat dus beteken dat Hashimoto's heelwat langer as wat ek daarvan bewus is, al in my liggaam aktief is.

Maar hoe het ek van die onderaktiewe skildklier bewus geraak?
Wat het my laat dokter toe gaan? Hoekom het hy vir skildklier getoets?

2000 - millenium jaar.
Ons was geseën met twee gesonde kinders, 'n dogter en 'n seun.
Maar ons wou graag meer as net twee kinders gehad het...

en niks gebeur nie.

Ons jongste was toe alreeds 4 jaar oud. Hy was op 4 maande gespeen. En ek het steeds melk in my borste gehad.

Is dit dalk hoekom ek nie swanger raak nie?

Maak 'n afspraak by ons huisdokter.

Hy het gekyk en gesê: Nee. Die melk is gans te min om ovulasie te onderdruk.
Bloedtoetse.

Toets vir verskeie hormone.

Op daardie stadium het ek nog elke woord wat dokters gesê as wet aanvaar. Ek het nog niks bevraagteken nie. Ek was 29.

'n Dag of wat na die bloed getrek is, het hy gebel. Hy het die uitslae ontvang, maar iets kwel hom en hy het verdere ontleding van die skildklierhormone aangevra.

Nog 'n paar dae verloop, toe die oproep. Jy het 'n onderaktiewe skildklier en moet van nou af elke dag 'n (hormoon)pil drink.

So sê die dokter, so doen die pasiënt - getrou elke dag.

Tot ek op 'n dag agter 'n ouerige dame in die ry by die apteek staan. Sy vra vir Eltroxin en Claas (die voordeel van 'n plattelandse dorp, almal ken mekaar) gee haar voorskrif, draai om om dit te bêre en ek roep om hom te keer. Ek moet ook Eltroxin kry. Waarop hy vriendelik antwoord, ja, maar jou gebruik die swaarder pil.

Rebellie het toe effens ontwaak. Hoekom? Hoekom moet ek op 29 'n hoër dosering as 'n dame meer as dubbeld my ouderdom gebruik? Ek is tog nie vet nie! (Op daardie stadium het ek so 60kg geweeg. 5kg swaarder as my troudag en 3 kg swaarder as my algemene gewig vanaf matriek tot na die jongste se geboorte)

Hierop het Claas my rustig geantwoord. "Daar is heelwat meer simptome as net bloot vetsug. Goed soos koue-intoleransie, geweldige moegheid."

"O," was al wat ek kon antwoord. Moegheid. Oordadige moegheid. Dit ken ek .

Ek moes elke middag na middagete gaan slaap. Vir ten minste twee ure per middag, elke dag. Anders kon ek nie die dag deursien nie. Is dit dan wat die skildklier aan my doen?

Die Eltroxin het beslis daardie simptoom hok geslaan. En ek het tevrede en gesus die pilletjie gedrink - vir 15 jaar.

O, ja, en swanger geraak na presies 'n jaar se behandeling. Ons het nog twee seuns ryker geword, voorwaar geseënd!

Snelrat - 2000 tot 2015.
Ek het nooit die onderaktiewe skildklier bevraagteken nie. Nooit oor die medikasie gewonder nie. Ons huisdokter op Potgietersrus het gesê as ek ooit voel die pilletjie doen nie meer die werk nie, moet ek hom laat weet, dan trek ons weer bloed. Maar solank die dosis vir my werk, dan is dit goed.

Met nabetragting besef ek, ek het nooit gevra hoe sal ek weet nie. Die enigste simptoom wat ek van bewus was, was die moegheid en solank dit wegbly, is ek gesond.

Na ons vierde kind se geboorte het ek stadig maar seker gewig aangesit.
Wel, ek word ouer, ek het vier kinders. Dis normaal... (is dit?)

Dan bereik 'n mens 'n punt waar jy eenvoudig nie meer omgee nie en gemaklik voel met jouself en jou eetpatroon. Uiteindelik het ek die skaal op 76kg getrek. Dit was vir my érg!! Ons het meestal net opgekookte groente of vars slaaie geëet. Sedert 2006/7 het ons koring begin uitsny en rogbrood begin eet. Met my gewig bo 70 het ek ook alle brood begin uitskakel.

Maar suiker.... Koffie in die winter, soet, lekker. Met nog 'n lepel vol "Hot Chocolate" in net vir liefde. Coke, sjokolade (net 'n bederfie na die wiskunde klasse)...

In 2014, na ons kuier in Nieu-Seeland, het ek daadwerklik begin om suiker ook uit te sny, bittermoeilik. Ek het wel so 2 kg in 10 maande verloor.

2015 - diagnose - Hashimoto's (sien inskrywing hier)

Vir die eerste keer doen ek deeglike navorsing (goed, goed.... gebruik en oorbruik ek Google) oor die hele siekte-ding. Presies wat gebeur met my? Wat gaan nog gebeur en hoekom?


Terugskouend kan ek skielik meer as net een simptoom uitlig.

Kroniese moegheid

Letterlik. Jy staan moeg op. Daar is geen, absoluut geen rede voor nie. Jy het 'n goeie nagrus gehad.
Soms kan jy glad nie slaap nie....

Koue hande en voete.

My man moes altyd my hande warm maak. In die kerk het ek my hande binne sy grotes toegevou, net vir daardie hitte.
Wanneer ek die babas se doeke moes ruil, moes ek eers my hande in warm water "ontdooi" voordat ek hul doeke kon losmaak. My hande was eenvoudig net te koud.
In my vorige kuierwerf het ek geskryf oor manlief se reaksie een aand wat ek my koue voete teen sy warm bene gedruk het...
As ek nie net voor ek in die bed klim, veral in die winter, 'n warm bad neem nie, kry ek nie geslaap nie. Ek kan eenvoudig nie my voete warm kry nie. Onmoontlik. Ek sal ure wakker lê en koud kry, selfs onder twee komberse.
Wanneer ek my voete uit kouse en skoene haal, is hulle yskoud - wol, mohair of katoen, om't ewe.

..... Maar ek het aanvaar, dis maar hoe dit is. 
Ander manne kla ook oor hul vroue se koue hande en voete.

Lae Libido (vrieskas)

Daar kon baie redes hiervoor wees, waarvan die vernaamste die seksuele molestering as klein dogtertjie (buurman). 
Of dalk my grootwordjare, die tyd waar daar nooit oor "die s-woord" gepraat is nie. Dit was taboe.
Manlief moes maar met min tevrede wees....
Ek het later selfs 'n hipno-terapeut gaan sien om te help met hierdie aspek van ons huwelik. Want ek het geglo dat dit in my kleintyd lê. Die terapie het gehelp, sommer depressie ook aangespreek.
Maar geleidelik het ek weer teruggeval in 'n "nie-vanaand-nie-skat" groef.
Hoe kon ons raai dat die vlinder-orgaan die skuldige is (al gehoor van bytjies en blommetjies...? vlinders en vruggies?)

....maar soveel vroue word deur mans en media as yskaste, koulik, vrieskaste beskryf.
Soveel grappies, skimpe, liedjies selfs, is daar al oor geskryf.
Wie beskou dit as 'n simptoom van 'n siekte?

Pynlike menstruasiekrampe, PMS, Siklus en vloei

Ag, nee, regtig! Almal het mos maar seer.
Ja, dit is so. Maar die Skrif sê met pyn sal ons geboorte gee, nie menstrueer nie!
Pyn, so erg dat ek elke maand die eerste twee dae moes klasse bank op universiteit.
So erg, dat ek flou geword het op kampus.
So erg dat ek nie sonder pynpille, warm baddens en warmwatersakke kon deurkom nie.
Daar was 'n tyd, na my kinders se geboortes, waar hierdie pyn verdwyn het! Waarlik, dit was weg. Ek kon leef en asemhaal.
Maar die laaste 3-4 jaar het dit met felheid weer toegeneem. Ander vroue kon nie glo dat ek na vier swangerskappe en geboortes steeds met soveel pyn sit nie. Dit was my realiteit.
My siklus was op 23 dae maksimum. Waarvan ek 3 dae hewige vloei ondervind het en vir 6 dae volle beskerming moes dra.
PMS - o genade! Vra my geliefdes. Irritasie, vinnige humeur, geïrriteerdheid.
Hoe moes ek weet dit alles is simptome van 'n onderaktiewe skildklier?

....want almal het mos maar seer, niemand praat regtig hieroor nie
Dis mos normaal, die media skryf dan soms daaroor,

Depressie

Na ons oudste se geboorte, het die suster gesê ek het nageboortelike depressie en moet daarna laat kyk. Manlief wou nie byt nie en het geglo ek moet my regruk.
In die tyd by die hipnoterapeut het hy depressie diagnoseer en my deur hipnoterapie gehelp.
'n Paar jaar daarna, stap ek die dokter se spreekkamer binne met vier siek kindertjies. Sy woorde was: "Vergeet die kinders, daar is fout met jou" en het ek my eerste dosis anti-depressante gekry. Vir ses maande...
Net om 2 jaar later weer deur 'n kursus te werk.

....Wie sou glo dis die skildklier se skuld? 
Ek het genoeg rede om andersins ook depressielyer te wees.
En daar is mos baie sulke pasiënte.

Kroniese sinus, nasale drup

Die liewe Bosveld. Die ding maak my behoorlik siek. Ek het permanent sinus, snuif-snuif aan 'n loop neus, sluk-sluk aan post-nasale drup.
Dis die stuifmeel, die grassade, die gifstowwe wat die saaiboere spuit, die stof...
Wanneer ek by my ouers kuier of by die see is, dan verdwyn dit, maar in die wildtuin is dit eens so erg.

.... dit was die eerste simptoom wat onder die nuwe behandeling
verdwyn het. My stem het herstel en my slymkeel is weg.
Dit was nie die Bosveld nie....



Die volgende klompie simptome het ek nie eens geweet ek het dit nie, nie voor dit verdwyn het nie.:

Geswolle gesig

Ek was mos maar oorgewig, dus is die swelling mos maar as gevolg van dit.

Pikswart kringe onder die oë

Ons predikantsvrou het keer op keer gevra: Is jy siek? Jy het hierdie donker kringe.
En ek het keer op keer geantwoord: Dis die sinus.
Of: Ek het nie goed geslaap nie.

Rustelose bene, hardlywigheid, boepens, die feit dat ek na die laaste twee kinders ook nie swanger geraak het nie...


Hier en nou - waar staan ek vandag?

Ek moet vertel.
Ek het die AIP (autoimmune protocol) begin volg en was werklik hondbang vir die eerste menstruasie na ek met die dieet begin het. Want ek mag geen pynpille nou drink nie. Niks. Ek het gebid en angstig gewag.

D-dag het aangebreek en .... voorwaar, geen pyn nie!  Dit was ongelooflik.
Daarna, maand vir maand, net 'n bewussyn van 'n dowwe kramp, maar geen pyn nie.

Ek het gewig verloor, verloor steeds... Ek weeg nou 58kg. En my klere hang soos sakke aan my.
My swart kringe onder die oë is weg.
My gesig is nie meer geswel nie.
My pa merk keer op keer op hoe mooi my vel geword het (ek het nie eens agtergekom dat daar agteruitgang was nie)
Die PMS is beter.

Maar dis nog 'n lang-lang pad. Daar is nog baie dinge wat moet regkom. Waarvan die teenliggaampie-telling die absoluut belangrikste is.

Daar is dinge wat verkeerd geloop het, na ek die dieet en die medikasie begin neem het. My hare het begin uitval, ek kry gewrigs- en spierpyne. Dit maak my bang... My ouma het rumatoïede artritis gehad. 

Tog het ek soveel MOED. Want ek weet, die koers wat ek nou ingeslaan het, sal werk. Die getuienisse lê die internet vol.

Manlief kan nie wag dat ál die simptome verdwyn nie.... :-)

Groetnis

Friday, March 18, 2016

Hashi.. wat?

Dit was die gevoel wat ek gehad het...

            Die hoese watse ding?

Dit was in Julie 2015 dat dinge begin skeefloop het. 'n "Ding" het in my keel begin "groei".
Amper soos wanneer jy hartseer is en 'n knop in die keel kry.

Bewus van hom, maar sodra ek die oggend my Eltroxin-pilletjie (vir onderaktiewe skildklier) 
gedrink het, was dit beter. Ek moet bieg, ek was in die drie maande vooraf effe laks met die pilletjie.... raak nogal moeg vir die elke dag se slukkery.

Maar, hoe later hoe erger. Die knop wou later nie meer sak nie. 
Ek moes sluk-sluk. Soms gewonder of hy my uiteindelik gaan versmoor.

Kort-kort moes ek keel skoonmaak.
Op 'n dag, besef ek, my stem! 
My stem het verander!! 
Wanneer het dit gebeur?

Hierdie "ding" is besig om my menswees te omsingel.
En ek weet 'n paar goed vas en seker.

Ek wéét dit is my skildklier. Ek is immers in 2000 gediagnoseer met onderaktiewe skildklier.
Ek wéét ek vertrou nie 'n gewone dokter met hierdie "ding" nie. Hulle gaan my wil sny, en oor my dooie liggaam, dít gaan ek nie toelaat nie.

So begin 'n soektog na 'n naturopaat of homeopaat wat van skildklier kén. Iemand wat weet wat hy / sy doen.

Op facebook kry ek 'n naam.
Met google kry 'n nommer en adres.
Met 'n gewone foonoproep 
(daar is darem nog dinge wat nie deur die rekenaarskerm gebeur nie) 
kry ek 'n afspraak - my eerste by 'n homeopaat.

12 September 2015.
Ek praat alweer te veel.
Snuif-snuif kort-kort om die 
nasale drup by die "ding" verby te dwing.

'n Lewendige bloedanalise word gedoen.
Ek sien hoe my rooibloedselle aanmekaar klou 
en gans te min spasie vir suurstofoordrag hou.
Ek sien vrye radikale skade op my rooibloedselle.
En klomp ander goete wat ek nie lekker verstaan nie.

Sy voel liggies, vlinderbewegings 
oor die vlinderorgaan in my nek.
Ja, daar is 'n knop aan die regterkant.
Sonar...

          Ek gaan na die hospitaal daar naby.
                               Radiologie.
                                          Patologie - want om te weet moet ons bloed toets.

By radiologie is die uitslag: Hashimoto's Thyroiditis.
My gesig word 'n vraagteken... maar my mond is stil.

Want die radioloog probeer my oortuig om eerder een van hul besondere endokrinoloë te gaan sien. Wat weet 'n homeopaat nou eintlik? Enne, die endokrinoloë het ditse en datse grade...

Swyg, Marelize, swyg.
"Hulle gaan my sny," glip dit uit.

Ag, aarde, nou eers weer 'n hele tirade.... uiteindelik kon ons ontsnap.

Die volgende dag kry ek die oproep - my teenliggaampie telling is hoog (dit moet onder 35 wees, myne is 342). Nie uitermate hoog nie, mense het al lesings van in die 1 000'e gehad. Maar vir my klink dit na 'n gestadigde dood.

Dan weer, is dit nie wat lewe maar in elk geval is nie? Gaan ons nie maar elke dag 'n klein stukkie dood nie? Leef ons nie om uiteindelik te sterf nie? Om dan, eers dan waarlik te mag en kan lééf!!

My medikasie moet bestel word. Sy sal dit aanstuur.

Intussen gaan ons wildtuin toe.
En ek het 'n naam: Hashimoto's

Google werk oortyd.
Ek slaan my hande saam oor wat ek alles lees.
Hoekom het niemand dit gesê nie?
Hoekom verswyg hulle dit?
Of weet hulle eenvoudig nie?

In meer as 90% van alle onderaktiewe skildkliergevalle in die Westerse kultuur, is Hashimoto's die oorsaak van die onderaktiwiteit!

Hoor mooi... Hashimoto's veroorsaak onderaktiewe skildklier.
Dis nie onderaktiewe skildklier wat Hashimoto's veroorsaak nie.

Ek is in 2000 al gediagnoseer... 15 JAAR!!

Hoe lank het ek al Hashimoto's?
Hoeveel skade is al gedoen?

Die vrae maak my gek.
My gedagtes is vir geen oomblik stil nie.

Vakansie gaan hou?
Met al hierdie warrelvrae in my gemoed?

Ons vertrek 2 weke na my diagnose - Punda Mariahek toe.
Ons stop by The Ranch buite Pietersburg vir 'n vinnige ontbyt en draaitjie loop.
Byna in die dorp tref dit my: - My tablet!! Dis in die badkamer by The Ranch.

En die trane stroom vryelik.
Vir die eerste (maar nog lank nie die laaste nie) 
keer breek die spanning my totaal.
Ek huil ontroosbaar.
Ek is so baie bang vir hierdie monster in my.
Hierdie ding wat homself wil opvreet.

My liggaam.
Sy eie teenliggaampies val hom aan.
Die soldate wat my teen vyande, 
teen siektes,
 teen selfs kanker moet beskerm, 
vreet myself op... 
asof ék vyand nommer een is.

Ons draai om, verloor kosbare tyd.
In die badkamer kry ek die skoonmaker. Ja, sy het die tablet na die kantoor geneem. Ek druk haar vas.
Dankie, dankie, dankie.... fluister ek terwyl trane weer van vooraf stroom.

In die kantoor kry ek my tablet, hakkel en stotter verby die knop wat nou dubbel sy grootte is, snik-snik kar toe. Druk 'n noot in die skoonmaker se hand en ons draai weer die kar se neus noord...

Here, wat lê vir my voor op hierdie pad? 
Ek weet, ek het dit nog altyd relatief maklik gehad... 
Ek is bang, Here, so baie bang. 
Stap saam met my, dra my, lei my... 
maar bo alles, help my.

~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~


Simptome van Onderaktiewe Skildklier lê ongelooflik wyd.
Die skildklier tas letterlik elke sel in die liggaam aan en beïnvloed alle liggaamsfunksies.
Indien jy enige van hierdie simptome ervaar - laat toets vir Hashimoto's en nie net vir onderaktiewe skildklier nie. (Hulle móét TPO, TgA, T3, T4 en selfs meer toets)

  • onverklaarbare moegheid. Staan moeg op. 
  • Slapeloosheid. Bedags uitgeput, snags wakker
  • Tel gewig op, sonder om eetgewoontes te verander.
  • Kan nie gewig verloor nie, al dieet jy en doen oefening
  • Koue hande, koue voete
  • Uitermate gevoelig vir temperatuur, veral koue. Gooi ekstra komberse oor terwyl ander nog die laken afskop.
  • "Brain Fog" - kan nie konsentreer nie, verloor die draad van die storie, geheue is swak.
  • Rustelose bene, spier- en/of gewrigspyne.
  • Hardlywigheid
  • Pynlike krampe tydens menstruasie
  • Hewige bloeding met menstruasie
  • Meer gereelde menstruasie
  • Chroniese sinus
  • Verlies van buitenste derde van wenkbroue
  • Wonde vat langer om te genees as ander persone s'n 
En dit is maar enkeles.... Hier is 'n hele lange lys (300 +) van simptome

Jy hoef nie aan alles te ly nie.
En meestal het ons almal een of ander tyd een van hierdie goed, maar vir die persoon met onderaktiewe skildklier is dit 'n daaglikse, maandelikse of weeklikse stryd.


Groetnis








Thursday, February 11, 2016

Kosbare momente.

Daardie wonderbare tydjie net voor, tydens en na sonsondergang.

My staptyd.

Die honde weet al, iewers rondom ses-uur, dan kom "roep" hulle my.

Dis nie om dowe neute dat God hierdie uurtjie gekies het om met Adam en Eva in die tuin van Eden te wandel nie. Nie verniet dat sy stem met die aandwindjie influister nie.

Dis kop-skoonmaak-tyd.

Dis stilword voor God en net luister-tyd.

Wanneer ek in die paadjie tussen die lande deurstap, is daar geen gedagtes wat in my rondmaal nie, geen stres nie, net 'n oorweldigende bewussyn van hier, nou en van lofprysing. Want dan, wanneer al die verwoede stemme stilraak en die sagte stem van die Heilige Gees al is wat oorbly,  dan raak ek van sy koesterende nabyheid bewus.

Dan wens ek dat elke uur van die dag hierdie stil-skemeruur kon wees...

Groetnis


Bybelstudie - nuwe opium?

Om vroegoggend, voor die dag behoorlik begin, stil te raak.

Om voor God te kniel en dankie te sê.
Om sy Naam aan te roep, Hom die erkenning, lofprysing en eer te gee.

Om die dag saam met God te begin.

Dit is louter vreugde!


Ek is tans besig met 'n studie van Romeine. Dit was nog altyd vir my 'n moeilik leesbare boek, maar tog is daar soveel kosbaarheid in. Dink maar net aan die sielshoofstukke - Romeine 5 en 8!

Ek het heel eerste begin om Romeine 8 te memoriseer met behulp van www.scripturetyper.com - hulle het 'n fantastiese toep ("app = application", in Afrikaans word toep = toepassing gebruik) wat ek op slimfoon en tablet afgelaai het.

Na Rom 8, het ek besluit om Verse by verse Ministries se in-diepte-studies van Romeine te doen, en sommer die hele boek, hoofstuk vir hoofstuk te memoriseer.

'n Uitdaging ja, maar ook verslawend en heerlik.

Ek het nooit besef dat ek ook kompetisie-gedrewe is nie! Ek geniet dit om te sien hoe my posisie op die ranglys van Skrifmemorisering opskuif en opskuif, tot waar ek nou in die 265-275e plek vashaak. Hier in die hoër posisies is dit nie maklik om op te beweeg nie, kompetisie raak kwaai...

www.versebyverseministries.org is die bediening van Stephen Armstrong. Alhoewel ek as calvinistiese gereformeerde met sommige van sy leerstellings nie saamstem nie, geniet ek sy in-diepte Skrifverklarings en hoe hy Skrif gebruik om Skrif uit te lê, sonder om toepassingspreke te lewer. Dit werk vir my.

Bybelstudie is iets wat as gevolg van Facebook vir baie lank in die slag gebly het, maar ek is so dankbaar dat Vader ons nie alleen laat nie, maar deur sy Gees ons keer op keer terugbring na Jesus Christus en sy liefde.

Groetnis


Wednesday, February 10, 2016

Facebook - 'n Liefde-haat verhouding

In die paar jaar wat ek hier op my kuierwerf gekuier en gesels, soms gekekkel en soms gekerm, soms gek en meestal bloot gemaklik gedeel het, het ek nooit 'n gevoel van vyandigheid, 'n gevoel van "verdedig jouself" of dat my opinie sogenaamd minderwaardig is, ervaar nie.

Ek het lank, baie lank, gewik en weeg of ek ooit 'n facebook-profiel moet oopmaak. Ek het nooit van die idee gehou nie. Te "oop" (maar is die kuierwerf dit nie maar ook nie)?

Maar dalk was die grootste probleem presies dit wat my ingesluk het - 'n tipe van verslawing, 'n tipe wegkruip-aksie.

En ek het in 'n liefde-haat-verhouding met facebook verval.

Ek kon nie sonder die opium  nie.

Maar die gif en die verslawing het my dikwels tussen die oë geslaan.

Heerlik om foto's van my broer-hulle, my neef-hulle in verre lande te sien, ook foto's van ons naby familie wie ons so min sien... Heerlik om met mense wat soos ek dink te kuier.

Maar soms, soms byt facebook met aaklig gesperde kake. Klemmend en vas.

Soos dikwels maar gebeur word woorde op papier (skerm) verkeerd gelees, want daar is geen emosie betrokke nie. Dit wat ek voel, die lag in my stem, die erns, die kwaad wees, die genoegdoening, word nie gedeel nie. Want daar is geen manier (geen "emoticons" of enige simbole) wat 'n mens se emosie kan neerpen en duidelik illustreer nie.

Dis waarom die oë die vensters van die siel genoem word.
Om te sien wat 'n ander dink en voel.
Om te sien waar hul gedagtes heen mik.

Nou is ek sommer sielsmoeg.

Moeg vir menige misverstande.
Moeg vir mense wat nie omgee hoe hul beeld na buite lyk nie, geen respek vir diegene om hulle of selfs vir hulself nie.

Dalk is dit tyd om net hier op my eie kuierwerf te kom kuier.

Hier waar ek my sê kan sê, my gedagtes kan deel en my opinie kan lug.

En dit in suiwer Afrikaans kan doen. Maak nie saak of my leserstal daarom kleiner is nie.

Want dis wie ek is.
'n Christen, nie 'n sondelose nie, maar 'n gereddene.
'n Afrikaner - lief vir my kultuur, trots op my geskiedenis, my mense.

Groetnis....