DIE PAPIERBERGE
Niemand sien my trane nie, want ek kyk weg van hulle.
My kantoor is so opgestel dat my baas enige oomblik my rekenaarskerm kan sien as hy in die gang verbyloop. My baas verkies dit so. Omdat ek op die rekenaar werk, kyk ek dus heeldag weg van die deur. Niemand glimlag of frons vir my nie, en ek maak nie oogkontak met iemand nie. Ek is 'n masjien – die konneksie tussen inligting op papier en inligting op rekenaar, die ene wat die syfertjies op die papier in kolomme op die rekenaar sit, waar ander departemente dit teoreties kan hergebruik.
Ek sê “teoreties”, want my baas herinner my dikwels dat niemand regtig na die data kyk wat ek heeldag en aldag intik nie. Nie dat ek sou vergeet nie. O, wel, dis waarvoor ek betaal word, dus tik ek maar oor en oor dieselfde soort goed in dieselfde kollometjies in. My drome lê begrawe onder 'n stapel papierwerk wat nooit klaar kom nie, en elke dag sus verveling my kreatiwiteit aan die slaap.
18 jaar van doodgaan, stukkie vir stukkie. Moenie aan die toekoms dink nie. Jy het nie die krag nou vir nog 20 jaar se werkskaarte nie. Ek tree oor 20 jaar af. 19 jaar en 5 maande, om presies te wees.
Dink liewer net aan die volgende agt werkskaarte. Probeer hulle invoer voor nege. Dis sewe minute voor nege, en kyk - daardie agt is klaar. Begin met die volgende pakkie. Probeer hulle voor tien deursit. Dis een minuut voor tien, en kyk – daardie pakkie is klaar. Vat die volgende hopie. Probeer hulle voor elf deursit. Dis 20 oor elf, en kyk – daardie hopie is klaar. Vat die volgende hopie. 11h45, en hierdie hopie is nog nie halfpad nie.
Hoofpyn. Seer oë.
Ek staar voor my uit vir 'n paar minute. Ek probeer krag bymekaar kry om verder te werk. "Hoeveel werkskaarte het jy nog?" vra 'n skerp stem agter my. "Wat verstaan jy nie van eers klaarmaak, dan in die niet staar?" My kritikus sien wel nie my moeë gesig nie, maar sy sien hoe my vingers nie meer oor die rekenaar se sleutelbord vlieg nie.
Ek het al probeer wegkom, regtig! Probeer kyk vir ander goed om voor aansoek te doen, maar dit werk nie. Daar is net een manier van wegkom wat ek nog nie probeer het nie.
Dapperheid, so vertel een of ander wysgeer of wysneus, is om bang te wees om iets te doen, en dit nogtans te doen. Maar dwaasheid is dieselfde. En dis hoekom die lewe moeilik is. En dit bring my uit by die manier wat ek nog nie probeer het nie. Die metode is die eenvoudige woorde: “Ek bedank.”
Ek is bang dat ek nie 'n manier kry om myself aan die lewe te hou nie, bang dat ek nie sal kan eet en aantrek as ek ophou om sinlose data in kollometjies te tik nie. Maar dan, lewe ek nou? Ek gaan beslis nie my kollegas vir raad vra nie, want dit lyk nie of hulle lééf verstaan nie. Wat weet grys truie en grysblou oorpakke van lewe in volkleur? Wat weet reghoekige papiere op reghoekige tafels wat in netjiese reghoekige hopies gesorteer en in vaal reghoekige kabinette geliasseer word van 'n lewe met sterre en harte en die onreelmatige vorm van bome?
Maar dalk verstaan my kollegas meer as wat ek dink. Ek sal nie weet tensy ek met hulle praat nie. Maar ek sien meestal net die rekenaarskerm. En as ek links of regs kyk van die skerm, sien ek die muur verste van die deur, die muur met afdop-verf.
Intussen lê my idees, planne en energie onderin 'n inboks wat nooit leeg raak nie, sodat ek nooit sien wat op die bodem vir my wink nie.
Ek gaan op verlof vir 'n week. Teen dag drie het ek weer 'n idee vir iets om te skryf. Teen dag vier het ek idees vir wat om te teken. Teen dag ses is ek so positief, ek woon sommer die laaste lesing by van 'n produksiwiteits kursus by die kerk, die een waarop ek moed opgegee het oor dit eintlik net vir mense is wat ander kan beïnvloed, mense wat een of ander soort beheer oor hulle omstandighede het en kan kies om sinlose take te elimineer. Miskien gee God my vroeër of later 'n metode om my geld uit iets sinvol te kan maak, en dan kan ek werklik my produktiwiteit verhoog. (Om iets nutteloos vinniger te doen is nie verhoogde produktiwiteit nie.)
Nege dae weg van die werk af ('n week met twee naweke om dit) is verby, en ek gaan terug werk toe.
“Jy moet besef jou werk is nou 'n week agter, en dit was 'n besige week...”
Toe val 'n berg papier op my. Ek kan nie my pad uitgrawe nie. Ek kan probeer, maar heeltyd terwyl ek grawe val daar nog.
Hier rus [my naam]. Gebore 10 Oktober 1973. Begrawe in 2001. Het keer op keer moedig probeer opstaan, maar haar werk het haar weer en weer begrawe.