Friday, February 28, 2014

"Unschooling" - Selfleer

Mense voel gemaklik met 'n kurrikulum, dit bied grense maar dit is uiters beperkend en voorskrywend. 

Die meeste mistastings oor tuisopvoeding kom voor wanneer 'n mens wegbeweeg van enige kurrikulum en die lewe as leerskool gebruik.

In Engels word hierna verwys as "unschooling". Met ander woorde - nie-skool. Verskillende definisies word op die internet hiervoor gegee.

  • John Holt (wie se boeke ek altyd aanbeveel) beskryf dit as  "allowing children as much freedom to learn in the world, as their parents can comfortably bear."
  • Earl Stevens haal vir Bernard Shaw aan: "What we want to see is the child in pursuit of knowledge, not knowledge in pursuit of the child."
  • Jenny Cyphers sê: "Just like ALL learning, learning how to live comfortably and happy are really wonderful things. It takes a focus on turning away from what you know you don't like and turning towards something else, that something else that creates happy learning and living. Unschooling really is a shift in thinking and then acting on it."
  • Mary Griffith definieer: "Unschooling means learning what one wants, when one wants, in the way one wants, for one's own reasons. ... choice and control reside with the learner ... She may find outside help in the form of parents, mentors, books, or formal lessons, but SHE is the one making the decisions about how best to proceed. Unschooling is trusting that your children are at least as clever and capable as you are yourself."
Dis 'n totaal ander denkwyse as die tradisionele skool-manier van doen.
Dis om die lewe te leef en jou kinders toe te laat om daardie selfde lewe te beleef. Om self daaruit te leer wat vir hulle van waarde is.

Ek het al baie die verhaal van hasie vertel, maar wil dit tog in hierdie inskrywing herhaal.
Hasie was baie opgewonde toe hy die eerste keer skool toe is. Almal het hom vertel hoeveel hy gaan leer en hoe slim hy gaan word. Sy ogies het geblink en van pure opgewondenheid het hy op en af gespring.
Vir die eerste ruk het dit met Hasie goed gegaan op skool. Hy kon speel en hardloop saam met al die ander dieremaats in die skool.
Maar geleidelik het die huppel in sy stap minder geword, sy ogies dof en moeg. Mamma-haas kon sien haar Hasie-kind is nie meer homself nie. Sy het alles gedoen om hom beter te laat voel. Sy gunsteling wortelkoekies gebak, hom bederf met twee stories voor slaaptyd. Pure verniet.
 
 Wat Mamma-haas nie besef het nie, is dat Hasie swaarkry by die skool, want sien, Hasie kan nie swem nie. Tydens een oueraand, gesels Mamma-haas met die onderwyseres by die skool en dié vertel vir Mamma van Hasie se "probleem". Met groot oë en stom van verbasing luister mamma na wat die juffrou vertel. "Maar, is daar iets wat ons kan doen?" wou Mamma-haas weet.
Wel, Juffrou het aanbeveel dat Hasie smiddae vir ekstra lesse moet terugkom skool toe. Hy moes ook ekstra-klasse by 'n buite-persoon, 'n kenner, gaan neem. Hasie moes ure lank in die swembad deurbring, om te leer swem.
 
Hoeveel trane het daar nie gevloei nie, Mamma-haas se hart het gebreek, maar die juffrou het so gesê en hoe kan sy wat Mamma-haas is nou teen die juffrou se aanbevelings ingaan. O, ja, sy weet dat Hasie baie goed is met spring. Hasie kan ook vinnig hardloop, vêr spring en hoog spring. Hy doen goed met touspring en Hasie se vriendelikheid, sy hulpvaardigheid is oral bekend. Dis net ..... Hasie kan nie swem nie.
Skoolvakansies is gebruik om Hasie na proffessionele swemskole te neem....
Die uiteinde van al die harde werk, al die ekstra ure, al die vermiste ure van leef en pret?
Hasie het verdrink......
~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~
 Dit wat ek sien met die kinders vir wie ek wiskunde-ekstra-klasse aanbied....
Dit wat ek sien met die kinders vir wie ek Sondae Verbondsonderrig gee....
Dit wat ek sien in skoolkinders smiddae in die dorp se strate...

Blinkoog-kinders wat moeg geword het. 
Moedeloos. 
Kinders wat met hangskouers stap.

"Ag, tannie, ek sal dit nooit regkry nie."
"Nee tannie, ek is nou maar eenmaal dom."

In die werklikheid, in die "grootmenslewe" as jy wil, in die LEWE doen mense dít waarin hulle presteer, dit waarmee hulle goed is. Hulle gebruik hul talente en gawes tesame met hul persoonlikheidstrekke, hul menswees-kenmerke om suksesvol te leef. Die fokus word nie op my swak administrasie-vermoëns gelê nie, nee, mense sien my wiskundige vermoëns raak. Tony Factor se swak spelling en disleksie was nie die AL waarop almal se oë gerig was nie, nooit! Die fokus was op sy fenomenale bestuursvernuf.

Sou almal fokus op die feit dat Oscar Pistorius nie bene het nie of Nic Vujicic se gebreke - of sien ons hoe hierdie mense fokus op hul pluspunte - die goed waarin hulle werklik GOED is?

Hoekom doen ons dit dan anders met ons kinders???

Hoekom fokus ons op die druipeling se wiskunde punt, maar sien nie raak hoe sy Saterdag vir Saterdag by die ouetehuis in die siekeboeg vir die oumense voorlees nie?

Hoekom sien ons met 'n rooipen en skerp lig die spelfoute in 'n opstel raak, maar kyk bo-oor die enjin wat aand vir aand, stukkie vir stukkie aanmekaargesit en tot motorfiets uitgebou word?

Dit is hoekom ek "unschool".
Dit is hoekom ek my kinders toelaat om die dinge wat vir hulle belangrik is, na te jaag.
Dit is hoekom ek weier om my kinders te konformeer tot een of ander penlekker se verlaagde standaard.
Dit is hoekom ek die lewe as leerskool kies bo 'n gebou gevul met ander soekende kinders wat almal tot een vorm vervorm moet word.


Groetnis




Nog webwerwe oor "unschooling", veral Christelike Unschooling: 
http://www.christian-unschooling.com (geskryf deur Cathy Koetsier, 'n Suid-Afrikaanse moeder)

Tuesday, February 25, 2014

"gesiglose" vriende

Wie sou dit kon raai?

Om mense wat jy glad nie ken nie, "vriende" te noem....

Tog gebeur dit. Jim Reeves het lang jare gelede gesing: "A stranger's just a friend you do not know."

Ek was bang vir facebook (dalk eerder vuisboek). Bang omdat dit onbekend en te blootgestel gevoel het.
Ek het my kuierwerf (blog) te veel geniet om dit op te gee vir kort nuttelose inligtingsbrokkies op 'n kuber-muur. Graffiti op 'n elektroniese wolknewel.

Uiteindelik het nuuskierigheid die oorhand gekry en my kuierwerf daaronder gely. Want vuisboek het my in sy ystervuis beetgekry. Loskom is min. Verslawing is maklik.

Maar die eienaardigste was die hoeveelheid "blog-vriende" ek op fb raakgekuier het. Ou-ou bloggers, die klompie wat my in my "eerste lewe" laat welkom voel het. Ons almal se blogs het bietjie gaan stilstaan, maar op fb het ek hulle opgespoor.

Geleidelik groei 'n mens - en nou kan ek nie meer een van hulle kuierwerwe opspoor nie. Net Estelle s'n wat ek nog kort-kort by inloer.

Maar terselfdertyd het ek soveel nuwe vriende gemaak. Facebook bied groepe en in hierdie groepe het ek mense gevind wat soos ek dink, wat soos ek glo, vir wie hul Christenskap ononderhandelbaar is, wat tuisopvoeding nie as 'n geheimsinnige iets uit die buitenste ruim beskou nie, maar saam met my gesels en verstaan hoe dinge soms gaan.

Vriende wat ek so nou mee verbonde geraak het, dat ek hulle onvoorwaardelik in my huis sal ontvang - al het ek hulle nog nooit in die oog gekyk nie.

Linnie  is een so 'n vriendin. 'n Kosbare geskenk uit God se hand, 'n vriendin op nie net emosionele en fisiese, maar veral op geestelike vlak. By haar het ons ingeval tydens 'n Kaapse kuier, want die kilometers skei ons.

Elize is ook 'n vêr vriendin. Een wat kans gesien het om 'n fb-vriendin wie sy nog nooit gesien het nie, se ouers verblyf aan te bied toe my pa in 'Maritzburg 'n operasie moes ondergaan.... Ongelooflik!

Nelba, Leticia (my meisiekind) en Esther is nog van die Afrikaanse kuierwerwe waar ek gaan loer, en 'n gunsteling is dié van 'n Amerikaanse gesin.

Daar is sovele ander vir wie ek nog wil ontmoet. Ek het al verskeie ontmoet, hetsy per telefoon met navrae of op reis deur die land. Andere sal ek eers in die hemel mee kan kuier, want aardse tyd is net te min.

Wie sou dit ooit kon raai?

Nou, hier na 40, besef ek eers dat vriende dikwels in ongewone gedaantes oor jou lewenspad loop. Hier het ek nou 'n nuwe blogvriendin uit Nederland! Waar anders as op die net sou dit moontlik kon wees?


Wednesday, February 12, 2014

Die kalf is in die put (letterlik)

Sondagmiddag vind jy ons iewers op die plaas, besig om die waterpunte om te ry en seker te maak al die beeste het water.

Sondag was geen uitsondering nie. Verskil was net, van die beeste loop nou ook op die sandplaas en daar is 'n groot geboude sementdam met 'n krip daarnaas. Op die turfgronde kan ons nie met steen en sement bou nie en word die water na tenks gepomp vanwaar dit na die krippe loop.

Februarie is maroela-tyd. So word die water-nagaan ook 'n geleentheid om vrugte op te tel vir jellie-kook.

Rustig ry ons van die huis na Kalkfontein. Pomp die tenks aldaar vol water (en ek ervaar eerstehands hoe swak die weiding is, hoe droog dit regtig is!) voordat ons na Blinkwater ry.

Die eerste maroelaboom se drag was goed, hoewel die vrugte maar klein is. Die tweede boom met lieflike vrugte, het ons byna te laat besoek. Die meeste vrugte sou verlede week perfek gewees het.. Maar ons tel twee 20 liter-emmers vol vrugte op.

Uiteindelik wen die son ons en raak die skemer te donker om verder te buk en soek na vrugte in die gras. In die verte bulk-bulk-bulk 'n kalf.

Oppad terug hek toe, ry ons by die sementdam om om die watervlak na te gaan. Skielik roep Johan iets van agterop die bakkie. Dit moet ernstig wees, want Andries stop dood, skakel nie eens die enjin af nie, maar spring uit en hardloop dam toe. Wat op aarde sou die kind gesien het? Ek wag 'n paar tellings, maar hulle kom nie terug nie, inteendeel, Johan loop al op die wal van die dam om.

Uit die bakkie, trappe op en toe sien ek die kalf.... binne in die dam! (ongelukkig geen foto's nie - nie daaraan gedink nie)
(Hierdie foto is in Desember 2009 geneem)

Daardie dam is diep. Wanneer dit een keer 'n jaar leeggetap en skoongeskrop word, is dit 'n heerlike swemplek. Ek kan nie die bodem raak en kop bo water hou nie. (Toegegee, ek is 1,68m, maar die dam is seker 1.8m diep). My eerste reaksie was rok oor die kop, ringe af en .....

..... "Vergeet dit, daar is nie 'n manier dat ek hier inspring vir 'n bees nie."

Vir 'n mens sou ek sekerlik nie gehuiwer het nie, maar vir 'n bees trotseer ek voorwaar nie al daardie "paddaslyk", alge, beeskwyl en wie weet wat nog alles nie!

(byna soos hierdie krip in Maart 2010 gelyk het met al die alge... nee regtig, toe ek 'n kind was het ek in modderdamme geswem, in 'n sementdam met einste die drywende groen en alggroei teen die kante, maar "been there, done that" - nie nou meer nie!)

Onder sy ma se instruksie, waai Johan se klere ook en is hy met sy groen lewensredder-speedo daardie water in. Eers probeer die kalf (hou in gedagte dit is wilde plaasdiere, Brahman-kruisings, draadspringers wat vlug wanneer die bakkie die kamp inry) wegswem, maar dan is dit asof sy besef, hier is hulp.

Sy laat hom toe om haar die nekvel saam te sleep wal toe, maar sodra Andries haar aan die ore (ek het nog altyd gewonder hoekom teel ons beeste met sulke groot ore! Nooit gedink dis vir lewensredding uit damme nie) beetkry, ruk sy weg en swem na die anderkant. André is later saam met Johan in die water, ma doen steeds bikini-parade al op die damwal, maar kalfie weier om haar samewerking te gee.

Uitgeput vra Johan of daar nie tou in die bakkie is nie. Ek het gaan kyk en met 'n yslike rol platiese skitou weer die damtrappies uitgeklim. Andries het 'n lus aan die los punt geknoop en Johan swem weer na die kalf, dié keer met die tou. Dit blyk egter 'n onbegonne taak vir een mens te wees. André self is nie van veel hulp nie, want kalf trap water vir 'n vale en die kinders moet self ook watertrap.

Uiteindelik het Johan die kalf na die kant van die dam gestuur, Andries staan op die wal, ek het die luspunt van die tou in my hand gevat en Johan die rol. So stoot hy toe die rol onder die kalf se bors deur terwyl Andries die kalf aan die ore hou, ek kry die rol en maak die skuifknoop klaar.

Nou kan ons die kalf beter beheer. Johan swem saam met haar, ek loop op die wal met die tou soos 'n leiband en Andries is aan die anderkant om. By die trappe gekom, trek ons weer die kalf nader, maar sodra ons haar aan die kop wil lig, ruk sy weg. Op 'n keer is sy geheel onder water. Toe weer sommer meteens pap. Ek het my koud geskrik - het sy nou gevrek?

Eintlik was dit 'n stuk genade, dié slapword van haar lyf. Toe kon ons haar pote gryp. Andries het die voorpote uitgelig en ek kort die tou in. Daarna lig hy haar agterpote. Nou moet ons daardie lyf uitlig....

Ek het die tou en staan op die vlakker trappies. Andries is in die middel en probeer om die voorpote te gebruik om haar borskas te lig, Johan, aan die diepste trappies se kant, hou haar aan die agterpote en balanseer homself op die wal.

Uiteindelik, dis al donker, toe is die lyf uit die dam gerol, maar die damwal is 'n skrale 20-25cm breed en sy rol sommer dadelik deur, trappies toe. Kop by boonste trappies, boude na onder. 'n Agterpoot steek vas...ek sien al hoe skeur sy haar agterlyf oop....

Los! en daar gly sy die trappies af om onder doodstil te lê. Het sy nou 'n been gebreek? Wat is fout met haar? 'n Kopskud en daar, bulkende, storm sy weg - ma toe!!

Nat, koud en "kry jou klere", stap ons bakkie toe. Ek is so dankbaar dat my kinders swemles geneem het by sulke goeie instruktrises.

Hoe kom die bees in die dam?
Kyk op die foto hieronder...
Foto geneem in Okt 2010

Wat nie op die foto gewys word nie, is dat daar tussen die pomphuisie en die dam 'n hele paar trappies is - seker om bo-op die pomphuisie te kom. Dis vreksteil trappies. Die krip wat deur die dam gevoed word is net links op die foto, agter die windpompskelet en die bos.

Ons vermoed dat die kalf daar op is om te gaan water suip.


Maandag.
Ek en die kroos is dorp toe vir buitemuurse aktiwiteite, kruideniers en wiskunde klasse. Dis juis tydens een van die klasse wat Andries my bel. Daar was weer 'n bees in die dam. Dié keer 'n speenkalf-bulletjie. Groot.

En dis net hy en drie arbeiders. Geeneen kan swem nie.
Met 'n gespook het hulle hom kant toe gelok en weldra uitgekry.

Maar hoekom?

In die daglig kon hulle die fout opspoor. Die krip is dolleeg. Iets moes die toevoerpyp verstop het.

En daardie "iets" was 'n dooie miskruier....

Nou is die trappies toegemaak - met ysterlatte - sodat geen bees weer sy swemstyle en oorlewing kan toets nie.











Friday, February 7, 2014

Droogte

Droogte het 'n manier om in die huis in te kruip.

Dit steel lewensvreugde...

Droogte klap maklik deure toe. Wek humeure en kortgebakerdheid.
Droogte breek jou moed, maak jou hande en knieë slap.
Droogte skryf met 'n harde skerp pen diep lyne op my geliefde se gesig.

Die groot kuns is om te bly glo.
Om te wag, geduldig, al is dit tot volgende jaar.
Om vas en seker te weet - God is steeds in beheer.
Om biddend met danksegging te kan lofprys.
Want steeds is seëninge mildelik uit sy Vaderhand.

Om soos Habakuk steeds te kan jubel...
Alhoewel die vyeboom nie sal bloei en aan die wingerdstokke geen vrug sal wees nie, die drag van die olyfboom sal teleurstel en die saailande geen voedsel oplewer nie, die kleinvee uit die kraal verdwyn en geen beeste in die stalle sal wees nie —nogtans sal ek jubel in die HERE, ek sal juig in die God van my heil.
Die HERE Here is my sterkte, en Hy maak my voete soos dié van herte, en Hy laat my tree op my hoogtes. Vir die musiekleier op snaarinstrumente.
 - Habakuk 3:17-19

Om soos Paulus steeds te kan dankiesê, te prys en lofsing...
 Wees altyddeur bly.  Bid sonder ophou. Wees in alles dankbaar, want dit is die wil van God in Christus Jesus oor julle.
 - 1 Thessalonicense 5:16-18

Dis nie altyd maklik nie.
Dis bitter moeilik.
Want die hemelruim is van staal...
Wolke bou saam net om deur die wind verwaai te word.

Dag na dag, uur na uur met die oog op die horison - 
net 'n wolkie, so groot soos 'n man se hand, Here...net 'n wolkie.
Dag na dag, gou op die internet - wat sê die weervoorspellings? 
Weathersa, Weatherphotos, yr.no, accuweather....
 Bestudeer die sinoptiese kaart.

Ja, die voorspelling dui op reën - en dit reën wel in die distrik, maar  ..... telkens élders...

Lê die fout by my? Is daar iets waaroor die Here my wil aanspreek? Is tugtiging dalk nodig?
Vrae, vrae en vrae maal deur mens se gedagtes. Jy herinner jou aan onbetaalde tiendes... en Maleagi praat jou aan:
Mag ’n mens God beroof? Want julle beroof My, en julle sê: Waarin het ons U beroof? In die tiendes en die offergawe.
Met die vloek is julle belaai, en tog beroof julle My, julle, die hele nasie!
Bring die hele tiende na die skathuis, sodat daar spys in my huis kan wees; en beproef My tog hierin, sê die HERE van die leërskare, of Ek vir julle nie die vensters van die hemel sal oopmaak en op julle ’n oorvloedige seën sal uitstort nie.
Ek sal ook die sprinkaan vir julle afweer, sodat hy die opbrings van julle grond nie sal verwoes nie; ook die wynstok op die land sal vir julle nie onvrugbaar wees nie, sê die HERE van die leërskare.
- Maleagi 3:8-11 

En tog, tog is ons gerus. Tog is die wete vas en seker - Die HERE het ons nog nooit gelos nie. 
Deur vele droë en nat jare, deur misoeste en rekordoeste, Hy was die een Sekerheid, die een Onveranderlike waaraan ons kon vasklou.

Uiteindelik is dít wat geloof is...
Die vaste wete: My God leef! Hy sorg vir my, ek hoef my oor niks te kwel nie.

Monday, February 3, 2014

Vlinders op die maag

Ek dink nie 'n mens kan ooit volledig voorbereid wees nie.

Gereed vir enige gebeurlikheid. Gereed vir die toets, gereed vir die eksamen, gereed om te trou, gereed vir ouerskap.

Ek was as kind in 'n nuwe skool, baie gespanne. Eksamenstres  het my klaar gemaak. In my st 5 (graad 7) jaar was ek letterlik siek aan maagontsteking en het 'n hele paar vraestelle nie geskryf nie.

Later het ek hierdie eksamenvrees in 'n mate oorwin en kon beheer - op skool.

Universiteit was 'n gruwelike nagmerrie. Ek kon nie leer nie - ek het dit op skool maklik gehad, wat in die klas gesê was, het ek verstaan en studeer was net 'n opskerp van dit wat ek geweet het. Maar op universiteit het ek meestal nie kop of stert kon uitmaak uit die verduidelikings nie...

Ek het nie gemaklik gevoel in die klasse nie, ken nie die dosente of studente genoegsaam om raad of hulp te vra nie, is te skaam om eerste tree te gee... spanning op spanning.


Oggendvraestelle kon ek skryf, dit was bloot 'n kwessie van opstaan, aantrek en gaan skryf, maar 'n middag-, of nog erger 'n aandvraestel het my maagwand in 'n permanente kramp getrek.

Een vriendin wat twee vakke met my gedeel en op dieselfde gangvloer as ek gewoon het, het my in my derde jaar gehelp om die feite-kennis van besigheids- en personeelbestuur in te studeer. Sy het besef dat my senuwees my voor die aand in 'n totale histerie sou hê.

Wiskunde het ek tot tweedejaarsvlak gehad en elke liewe semester 'n her gekry.

As volwassene is hierdie stressituasies gelukkig heelwat minder, maar....

Hier sit ek vanoggend met my maag in 'n knop getrek, spanning lê my speekselkliere lam, ek het geen begeerte na kos nie en wil beslis nie na die toetsgronde kyk waar my meisiekind getoets word vir haar bestuurslisensie nie.

Gaan 'n mens dan nooit genoegsaam leer vertrou, genoegsaam voorbereid wees om nie hierdie aaklige spanning te hoef deurstaan nie?