Sy is geskei.
Ek weet nie hoeveel jare al nie,
maar dis 'n hele paar. In die twintig jaar wat ek al hier woon, ken ek net vir haar.
Sy het twee dogters en 'n seun.
Haar ouers was ook boere in die omgewing.
Sy en haar drie broers het op die plaas grootgeword.
Die een boet en sy vrou woon ook in die omgewing.
Érens gedurende die tydperk 2000 - 2004 is haar bejaarde ouers aangeval.
Veral haar pa het baie seergekry.
Toe in 2004, sterf haar seun, haar jongste, in 'n motorongeluk. 'n Ongetroude jongman van 24. Lewensvreugde was sy deel.
'n Kort tydperk daarna, sterf haar boeta - 'n motorongeluk veroorsaak weens slaggate op 'n draai...
Toe sterf haar pa.
In 2010 gebeur die skynbaar onwaarskynlike. Haar skoonseun skiet haar dogter.
Sy laat 'n klein seuntjie (2-3 jaar) agter.
Hy kom woon by ouma.
Is baie lief vir ouma en 'n klein bekkige seuntjie. Tog baie bang ouma gaan weg...
En Saterdag-Sondagnag...
kom 6 terroriste, aaklige geweldenaars
en val sy ouma, sy dierbaarste en amper enigste
aan.
Verniel haar liederlik.
Hoeveel kan een mens verduur?
NS { Sy is ons koster, Anita. Die nuusblaaie is vol oor die verhaal}
Skink jou koppie vol, trek die beskuitblik nader - welkom om die kombuistafel
Tuesday, January 24, 2012
Wednesday, January 18, 2012
Twintig Jaar!?
Jy vul 'n leeftyd.
'n Ewigheid.
Is dit dan moontlik
dat dit maar net twintig jare kan wees?
Tog, wanneer ek weer hieroor nadink.
Voel dit te kort.
Dink ek ek ken jou van altyd af.
Kan ek my nie 'n tyd sonder jou indink nie.
Want jy besit my hele hart...
Ek het jou lief.
Sommige dink: Sjoe, TWINTIG jaar!! Ek sal nooit so lank hou nie.
Maar hulle weet nie.
Twintig jaar is 'n oogknip.
Sy was 'n student.
Eerstejaar aan die PU vir CHO.
Gewoond aan koshuislewe, maar glad nie aan so 'n massa mense nie.
Nog minder gewoond aan "doughnuts" te koop met elke middagete.
En 'n boerewors-waentjie net anderkant die duikweg......
~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~
Hy was in die "army".
Die weermagkamp net agter die kampus.
Na 2 jaar studies by die Landboukollege in Potch.
Was hy die dorp gewoond.
As onderkorporaal by die drywers,
het hy nog gereeld in die dorp rondgery.
~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~
Hulle het mekaar tydens 'n kerkkamp ontmoet.
En was dadelik dolverlief.
Jip, liefde met die eerste oogopslag.
Ontmoet mekaar Saterdag
Gaan vas uit Sondag....
Dit was 1 Oktober 1989.
Sy was 18, hy 20.
Kinders.
**********************************************************
18 Januarie 1991.
Hy steek die ring aan haar vinger.
Sy is gereed om haar finale jaar aan te pak.
Hy boer en wil seker maak die manne op kampus wéét: Hierdie een is gereserveer.
Teen Julie is die troukaartjies gedruk.
Die koeverte geskryf.
En selfs die seëls geplak.
Die trourok in wording.
Ma en dogter nog in stryd oor
die plek,
die gastelys,
die spyskaart,
die blomme....
Intussen is daar eksamens.
En altyddeur die stryery, die twis tussen verliefdes
want sy kan nie kopgee nie.
Sy het 'n eiesinnige willetjie.
En hy is jaloers,
oorbeskermend jaloers.
Ure op die telefoon
Dikwels kwaad
Meermale verlief.
Altyd seker, vas en onwankelbaar
Dis hy/sy.
Presies 'n jaar later
18 Januarie 1992
Eers jare daarna sou ek hoor....
* Sy was op die kerkkamp 'n gewilde keuse,
soveel so dat daar 'n weddenskap aangegaan was.
Die een wat haar kry, skuld die ander 'n kas bier.
* Sy pa het gereken dit sal nie werk nie.
Hulle baklei soos kat en hond.
Hulle baklei soos kat en hond.
Hoogstens drie jaar,
dan die skeihof.
¢¢¢‼¢¢¢‼¢¢¢‼¢¢¢‼¢¢¢‼¢¢¢‼¢¢¢‼¢¢¢‼¢¢¢‼¢¢¢‼¢¢¢
18 Januarie 2012
20 jaar.......
'n Leeftyd - so voel dit soms.
'n Oogknip - so voel dit ander kere.
Ons is geseën met vier pragtige kinders.
Ons is geseën met goeie gesondheid.
Ons is geseën met 'n vaste beroep.
Ons is geseën deurdat ons nie gebrek ly nie.
Aan God die eer vir hierdie 20 jaar.
Aan God die eer vir die saamvoeg van twee totaal verskillende mense
Uiteenlopend
Dwarstrekkerig
Weird
Soms sommer plein anders.
Om tot sy eer 'n huwelik te vorm waarin ons kan getuig:
Sonder God sal dit nie werk nie.
Andries Keyter ek het jou lief
Oneindig.
Tot die dood ons skei
en daarna.
En so lyk ons nou! |
Subscribe to:
Posts (Atom)