Want ek kan dit nie hou nie.... :)
Mokala
'n Juweel voorwaar.
In die soektog na 'n oornag-plekkie het ek hierdie nasionale park op (van alle plekke) Google maps gesien....
Soos reeds gesê is ons groot Sanparke ondersteuners en was dit die logiese keuse.
Ek doen normaalweg ons besprekings op die internet - dis net vir my makliker. Die briefie wat ek van hulle terugontvang was onderteken deur Bettie Renoster. Ek het vir haar 'n epos gestuur om te vra hoe laat die hek sluit en of ons dalk kan reëlings tref indien ons te laat opdaag.
Waarom dit in my lewe so werk, kan ek tot vandag toe nie verstaan nie, maar as ek beplan het om 6:00 te ry, dan kom ons 7:00 weg. Daar is altyd iets wat iewers verkeerd loop. Of ek misgis my met die afstand en die rytyd...
Alle geval, hier teen 18:00 lui my selfoon. Dit is Bettie wat net wil weet hoe ver is ons nog en of ek bewus is daarvan dat die hek om 19:00 sluit. Op daardie stadium was ons darem al by Ritchie verby en relatief naby aan die grondpad na Mokala se afdraai. 'n Mens kan net nooit vooraf weet presies in watter toestand 'n grondpad gaan wees nie!! 21km van absolute sinkplaat-pad. En jy is láát!
Net voor toemaaktyd bereik ons die hek. So geheel anders as enige ander SANParke - ingang wat ons nog gebruik het. Geen hekwagte. Geen formaliteite. Net 'n radio-mondstuk waarin jy roep en buzzzzz gaan die hek oop, ry jy deur en wag tot die hek weer buzzzzz toemaak. 5km verder, die park in, is die ontvangs en wag 'n vriendelike Bettie ons in met heerlike yskoue lemoensap! Bederf na die lang stilsit en ry-ry-ry.
Maar ons moet nog tent opslaan en dit is YS YS YSkoud. In die Bosveld het ons in somersdrag geloop, ek het sonrokke gedra, maar hier op die rand van die Vrystaat en die amperse woestyn van die kalahari is dit nog winter. Min het ons geweet....
MOTSWEDI
Die kamp het net ses staanplekke. 'n Heerlikte. Ons het in die motor se ligte die tente opgeslaan en met die handpomp die opblaasmatrasse volgepomp. Gelukkig was die piekniekmandjie gepak met aandete en was dit nie 'n probleem nie. Dis net dat die ketel baaaaie diep in die waentjie se binnegoed weggepak was en koffie word 'n verlore droom. 'n Vriendelike buurman het die volgende oggend darem ons flesse volgemaak!
Die staanplekke is in 'n hoefystervorm rondom 'n watergat geplaas (die gat was droog) en elkeen het sy eie ablusiegeriewe en kombuis. Die geyser werk met sonpanele, die yskas en stoof met gas. Vir my die lekkerste kampplekkie nog, al het ons gebibber....
Nog altyd, in die bykans 20jaar wat ons deel, was Liefde se voete warmer as myne, kon ek hitte kry en ontdooi teen sy warme lyf. Maar daardie aand in Mokala was die eerste. Nie een van ons se voete het verwarm nie. Ysblokke wat hitte soek. Kort-kort deur die nag was ons wakker, blaas vol, maar te koud om te loop. Uiteindelik kon ek dit nie meer hou nie en het die piekniekkomberse wat ons saam met die rugsakke gekoop het, gaan haal. Dit het regtig nie veel gehelp nie, maar die gedagte was vertroostend.
Die volgende oggend het Leticia gesien hoe naby sy aan die kniehoogte heining van die kamp geslaap het. Sy het al die vorige aand gedreig om in die badkamer te gaan slaap.... Die park het renosters en buffels en die lae elektriese heining is blykbaar voldoende. In Motswedi is ook geen personeel nie, net die kampeerders...
'n ERVARING duisend. Voorwaar. Wens ons het meer tyd gehad om in hierdie park te spandeer... (sug)