Tuesday, January 7, 2014

Konsekwent

Ek het op facebook 'n skakel na 'n webblad geplaas en die volgende kommentaar daarop gehad:
Grense is so belangrik - veral vir kinders....
Dis uiters belangrik dat kinders weet wie dra die gesag in die huis, dat dit kinders is wat gehoorsaam moet wees, nie ouers nie! - dit is immers wat die Woord leer: kinders wees aan julle ouers gehoorsaam.

Dis tyd dat ouers die verantwoordelikheid wat God op ons gelê het, die gesag wat Hy aan ons gee, aanvaar en toepas!

Die dagstukkie op die webblad handel oor "Wet en Orde" oftewel dissipline.
Die Woord vir Vandag
Spreuke 13:24 NV
2013/07/22
Geskryf deur Bob en Debby Gass
Wet en orde (2)
  Kinders wat 'n vreugde is om mee saam te leef, word nie in 'n wettelose huis grootgemaak nie. Het jy al ooit die film Bonnie and Clyde gesien? Die storie van Bonnie gaan eintlik oor die ma wat haar grootgemaak het. Sy het altyd gedink alles wat Bonnie doen, is "oulik", maar Bonnie was nie so oulik toe sy op 'n moorddadige tog was nie. As jy jou kinders struktuur gee, laat dit hulle versorg en veilig voel. Hier is 'n paar riglyne: 
  1) Verduidelik die reëls duidelik. Om 'n kind te straf oor 'n reël wat hy nie verstaan nie, maak hom net meer wederstrewig. Hoe minder reëls daar is, hoe beter - maak die reëls verstaanbaar, uitvoerbaar en waarneembaar. "Preek" en moralisering skep net weerstand. 
  2) Dwing die reëls konsekwent af. Teenstrydigheid verswak jou gesag en kweek ongehoorsaamheid. 'n Paar dinge om te vermy, is: a) Vergelykings. Daar mag van geen kind verwag word om soos 'n ander kind te wees nie. b) Kwetsende etikette soos "Jy is dom, lui, sleg, 'n mors van tyd." Beskryf hul dade; moenie hulle eiewaarde afbreek nie. c) Ydele dreigemente. Dwing die reël af of los dit. d) Omkopery. Dit lei net tot manipulasie en doen afbreuk aan die belangrikheid van die reëls. e) 'n Gespot oor swakhede. 
   3) Moenie bang wees om "nee" te sê nie. Hulle toekomstige sukses en geluk is afhanklik daarvan of hulle kan leer om dit te hanteer. 
  4) Erken jou mislukkings. As jy dit egter soms nie doen nie, is jy steeds daarvoor verantwoordelik om te vereis dat hulle jou wette volg, en nie jou misstappe nie!
Sielskos: 2 Pet 1-3Luk 8:40-56Ps 146Spr. 18:23-24
Nadat ek die stukkie geplaas het, is dit ook deur ander op hul fb-profiele gedeel. So reageer iemand anders toe daarop met die woorde:
 Konsekwensie was nog altyd vir my moeilik. Ek het weer vir ons kids geleer die lewe is nie konsekwent nie; ek ook nie. Party dae is 'n reël vir my belangriker as 'n ander dag, soms is mens in 'n goeie bui, soms 'n slegte bui en soms het jy PMS!!!
 Dit was vir my 'n interessante redenasie.....


My enigste maatstaf is die Woord van God.
En juis daarom nie my menslike inkonsekwentheid nie.

Konsekwent in my huis, juis omdat alles daarbuite inkonsekwent is.
My God is konsekwent, al is ek nie.

Hierdie konsekwentheid het NIKS met my emosies te doen nie.
Dit het wel alles te doen met my dissipline.

Want 'n reël is 'n reël en moet as sulks eerbiedig en nagekom word. Net soos wat die landswette nagekom moet word. Net soos wat die tien gebooie nagekom word. Reëls, wette, gebooie kan nie oornag verander net omdat ek vandag sus of so voel nie.

Daarom moes ek dikwels al die kinders straf - al voel ek glad nie daarna nie!

Ek weet dat lyfstraf in die wêreldse beskouing as "uitgediend" of "onmenslik" beskou word, maar weereens, in die Woord word ons geroep om die seun met die roede te tugtig. In ons huisgesin het ons probeer om ongehoorsaamheid met lyfstraf te straf.

Ongehoorsaamheid, m.a.w. daar waar 'n direkte bevel verontagsaam is, lynreg teen die bestaande en bekende reëls opgetree is.

Enige ander gebeure is met 'n frons, 'n vingertik, 'n preek of 'n "kamer toe!" hanteer.


Ongehoorsaamheid is die een ding wat keer op keer in die Bybel aangespreek is. Dit is die moeder van alle sondes. Die grootste rede vir Israel (en ons eie) keer op keer se afdwaal.

Ek het 'n kleintjie dood aan ouers wat hul kinders verwar deur die een oomblik "nee" en dan, na 'n ruk weer "ja" te sê. Uiteindelik kan die ouer nie verstaan hoekom die kind dan nie luister nie.....jammer, maar jy is die oorsaak!

Ek het, bietjie laat in my lewe, in Marina Petroupolis se boek 'n groot waarheid raakgelees. Dit kom daarop neer: Dink twee, drie keer voordat jy nee sê. Is dit WERKLIK nodig om hier en nou nee te sê? 

Dit het my hele uitkyk en die vinnige "nee" sê stopgesit. Dink, en sê dan meer kere ja.



Vreemd om te skryf

'n Nuwe jaar.

       Kersgroete is al verby.
               In sommige huise flikker-flikker die liggies nog, maar dis al.

Vergete is die wegbreek, die ooreet, laatslaap en malle gejaag agter geskenke aan.

             In oupas en oumas se huise daal rustigheid weer neer.

     En ek voel skuldig.
Junie 2013.

Dis wanneer ek laas hier geskryf het.
Dit voel skoon vreemd - ek het voeling met my kuierwerf verloor. Dalk sommer voeling met myself verloor.

Wie lees tog nog hier? Wat maak dit saak? Dis mos myne....

Facebook is dalk die skuldige, maar ék is die een wat aan sy verleiding toegee. Ek is die een wat my laat vang in sy wip.

Daardie kortstondige inloer by fisies-bekendes en internet-bekendes.
Dit vervreem my van my hierwees.

'n Nuwe jaar.

       Voornemens? Ag, ek weet nie. Hou enigeen ooit sy voornemens?

Maar ek wil meer hier skryf, weer kop oopskryf, myself leegskryf. Noem dit dan my voorneme.
En ek wil gewig verloor.... :-)


Ek begin al meer en meer wonder oor die veiligheid van skryf op die internet. Nie net oor kopiereg wat misbruik word nie, maar in die algemeen. Mense gee so maklik persoonlike inligting weg, sommer oop en bloot. Besef ons die moontlike gevaar daaragter?

Tog het ek nodig om te kom sit en tik, siel losmaak. Ek kan tog nie meer met pen en papier nie, dit maak my moeg. My gedagtes spoel net te vinnig weg.

Ai, weer los gedagtemaal.
Maar ek is nog mens, ek leef nog - soms net-net, want die lewe kan mens so maklik verswelg.

En tog weet ek vas en seker - God is in beheer - ook in hierdie malle gejaag, hierdie geklike klug wat ons lewe noem.











Saturday, June 8, 2013

Huwelike en Kinders

Die nuutste uitgawe van Die Boodskapper, die AP Kerk se amptelike blad, handel oor “Die heerlikheid van die sewende gebod.”

Dis ’n publikasie vol jubeling, een van die beste uitgawes.
Miskien juis omdat huwelike en kinders gebore binne hierdie Godgegewe verhouding, my so na aan die hart lê.  Met artikelopskrifte soos “Ons Huweliksliefde en die Koninkryk”, “Jou Huwelik – nodig vir die Verbond”, “God se doel met die huwelik”, “Saamwoon en saamslaap” is elke enkele artikel ’n kuier op sigself werd...

Ek wil egter net breedweg aansny by enkele stellings en opmerkings in sommige van die artikels (ek wens die publikasie was as e-tydskrif of ten minste aanlyn beskikbaar, maar ongelukkig nie. Dit kan wel bestel word vanaf boodskapper@apk.co.za en kos R16 per eksemplaar.)

Die heel eerste artikel verwys na ons huwelike wat ’n VOORBEELD moet wees van die verhouding wat daar tussen God (as bruidegom - Mt 25:1-13, Mk 2:18-22, Joh 3:22-36) en sy kerk (as bruid - Op 21:2 & 9) bestaan. Jou en my huwelik is die eerste sigbare, tasbare beeld van God se liefde vir die mensdom - Ef. 5:22-33. Jou en my getrouheid binne die huwelik dui op God se getrouheid binne die verbond. Op sovele plekke, in die profetiese boeke, word na die volk se ontrouheid verwys as dieselfde van ’n ontugtige vrou.


Die tweede sluit hierby aan en vat dit verder.
God het van die begin af ’n stewige MONOGAME huwelik tussen een man en een vrou daargestel en die doel van hierdie verbintenis: God soek ’n geslag vir Hom op aarde. ’n Goddelike nageslag - Mal 2:15. Deur hierdie Goddelike nageslag word God se verbond met Abraham verder voortgedra. God bou self hierdie nageslag (Hy bepaal immers wie kinders kan hê en ook hoeveel kinders elke egpaar gaan hê) en God voorsien alles wat daarvoor nodig is ook.
Is dit nie ’n wonderlike rede tot dankbaarheid nie?

Die volgende paar artikels raak die teer onderwerp: Saamslaap en Saamwoon aan. Te veel Christene val vir die leuen “almal doen dit”. Ek wil nie in hierdie kuier daarby stilstaan nie, maar wil tog twee kosbaarhede uitlig.

Ds. Danilo Stoltz skryf dat daar twee gedagtes is om mee rekening te hou. 
Versoeking en Getuienis.
Geeneen van ons kan eerlik erken dat ons nog nooit voor versoekings geswig het nie.

Hieroor skryf hy: “Wanneer twee gelowige Christen verliefdes besluit om saam te woon, maar nie seksueel aktief te wees nie, klink dit teoreties wonderlik....Hoe kan jy verwag om nie een of ander tyd onder jou natuur te swig wanneer jy elke dag van jou lewe aan die versoeking blootgestel word nie?”

Ten opsigte van getuienis vertel hy die verhaal: “’n Man [het] by geleentheid deur sy vriend se groenteland geloop. Iewers deur die land het sy skoen losgegaan en het die los rieme hom dikwels laat struikel en die lopery bemoeilik. Sy metgesel vra toe waarom hy nie sy skoen vasmaak nie? Hy antwoord toe: ‘Ek is bang iemand buite die land sien my afbuk. Hulle weet nie ek maak my skoen vas nie en dink dalk ek is besig om groente te steel. Ek sal maar lewer ’n bietjie sukkel om te loop, omdat my getuienis vir my belangrik is.’”


Wat my egter gebind het, was die artikel oor God se Doel met die Huwelik.

Te midde van al ons frustrasies, irritasies en aanpassingsprobleme in die huwelik, moet ons altyd onthou dat God se gebod van ons selfverloëning eis, dat Christenskap diens beteken, diens aan ander, nie aan myself nie. Dat Christus gekom het om te dien en dieselfde van my verwag, ook in my huwelik.

My huweliksdoel is om God te verheerlik.
My huweliksdoel is om ’n hulp vir die ander helfte van ons eenheid te wees.
Die doel van ons huwelik is om losbandigheid teë te werk.
Die doel van ons huwelik is om kinders te hê, soos God sou besluit om aan ons te gee.

Kinders.
Ons besluit?
Ons eie keuse?
Ons beplanning?

In Gen. 1:28 word die opdrag gegee, ’n opdrag wat nêrens in die Woord opgehef word nie.
Hieroor skryf ds. Schalk Strauss: “Om kinders te hê, is dus nie opsioneel nie. Dit is ’n opdrag van die Here.”

Hoeveel mense ken jy wat self besluit of hulle enigsins kinders gaan hê? Wat besluit om geen kinders te hê nie?

Nie opsioneel nie, ’n opdrag.

Kinders is ’n seën ("a blessing") van die Here. Of jy een, tien, twee of twintig het. Jy is nie meer of minder geseënd nie – jy is geseënd.

Maar, wat dan van die duisende vroue wat smag na ’n kind en steeds smagtend bly... Sara, Rebekka, Hanna....die kinderloses?

Vir my gaan dit om meer. God seën ook deur finansies, deur gesondheid, deur vrede in die land (Deut 7:13). Sommige is egter arm, ander gaan gebuk onder geweldige fisiese probleme (blindheid, doofheid, gestremdhede) of word gebore in lande soos Sirië waar oorlog ’n gegewe is...

Goed, wanneer God my seën met finansies.
* Wow, te lekker. Ek kan koop wat ek begeer.
* Ek kan mooimaak, mooi aantrek, in styl rondry en woon.
* Ek kan gereedmaak vir ’n gerieflike en gemaklike oudag.

Of wanneer God my seën met gesondheid  (dikwels is dit een wat ons nie eens raaksien nie).
# Ek kry nie maklik verkoue of griep nie.
# Ek sukkel nie met oorontsteking, sinus en allergieë nie.
# Ek ken nie eens  ons huisdokter se naam nie, weet nie wat bloedtoetse behels of hospitaalprosedures is nie.

Nogal gaaf en goed hierdie twee laaste nè?
Finansies (ek sou kon doen met ’n miljoen) en gesondheid (’n appel ’n dag laat die dokter wag).

Nou kyk, ek weet nie van jou nie, maar as ek geseën word met finansies is dit nou nie ’n kraantjie wat ek graag sou wou toedraai nie. Ek dink dit sou nogal erg wees om vir die Here te sê: “Weet U, Vader, ek het nou al die afgelope 30 jaar so ’n miljoen of drie weggesit, ek reken dis nou genoeg. Ek kan daarmee heel lekker aftree en het nie eens nodig om die volgende 30 jaar te werk nie. U kan nou maar ophou om my finansies verder te laat groei. Dankie, maar nee dankie.
Ek het my beplanning nou uitgewerk en dis nie nodig dat U verder hiermee of voort te gaan nie. En net om seker te maak dat U nie dalk per ongeluk nog rente bysit nie, gaan ek my gelde uit die verskillende beleggingsfondse onttrek.”


Selfs die seën van gesondheid is nie ’n item om mee te speel nie. Ek meen te sê – sou jy gemaklik voel om vir die Here te vra: “Here, ek het nou al 30 jaar lank geen verkoue of griep gehad nie. Vir my hele leeftyd sien ek mense om my wat hospitaal toe moet gaan, wat pyn ly, wat swaarkry en vir my het u geseën met oorvloedige gesondheid. Maar, Here, ek dink dis nou genoeg. Voortaan wil ek asb. nie meer gesond wees nie.
My beplanning is om sovêr moontlik met kieme in aanraking te kom en die swakste eetgewoontes in die boek toe te pas.”


Toetentaal gek.
Bisar.

Is dit?

Maar kinders?
Die seën van olyfbome om jou tafel?
Pyle in jou koker?
(vgl Ps 127)

“Here, ons kan nie nog kinders bekostig nie, nie as ons vir elkeen ’n ordentlike universiteitsgraad, ’n goeie opvoeding, skool en sport wil gee nie. Ons kan nie nog kinders finansieel dra en steeds jaarliks vakansie gaan hou, naweke wegbreek, my gunsteling drankies koop en uiteet nie. Weet U wat kos weggooidoeke, baba-kos, formulemelk? Maar, net om seker te maak dat daar nie dalk ’n ‘glipsie’ is nie, gaan ons sommer ’n sterilisasie ook doen.
Dankie, Here, U kan sorg en voorsien vir my ewige lewe, maar hier op aarde sal ek self sien kom klaar. Hier sal ek besluit hoeveel seën ek wil hê.”

Gaan dink baie mooi hieroor na......

Sunday, March 24, 2013

Keuses

Uiteindelik is dit die somtotaal.

Keuses.
Besluite.

Foto geleen by: http://fundamentumstudios.deviantart.com/art/Strange-Split-Road-137641365

Jy kies daagliks vir of teen God.
Jy kies elke moment of jy die versoeking gaan teenstaan of toegee.

Sommige van die keuses wat ek in my lewe gemaak het, het hulself as blote foute uitgewys.
Soms loop my keuse op totale mislukking of fiasko uit.

Foto geleen by: http://thegradstudentway.com/blog/?p=632

Maar daar is, God sy dank, baie besluite, keuses wat sukses gespel het. Baie wat binne sy wil geval het en sodoende ook sy seën ontvang het.

Die groot verantwoordelikheid van keuses is dat jy, as moeder, ook ander mense se lewenspad bepaal na aanleiding van jou keuses. 
Die kos wat jy kook, die boeke, CD's en DVD's wat jy koop, die tydskrifte wat op jou koffietafel lê, die klere wat in hul kaste hang....dit beïnvloed elke kind in jou gesin.

Jy kies wat in jou man en kinders se buik beland. Dit het uiteindelik 'n beduidende impak op hul gesondheid.
Jy kies wat jou dierbaarstes se brein binnedring, wat 'n groot invloed op hul hart en gedagtes het.

Soms druk hierdie verantwoordelikheid my vas. 
Lê dit 'n beklemming om my hart.

Want dit wat ek weet goed is vir hulle en dit wat hulle graag wil hê, is in stryd met mekaar.
Dit wat ek weet heilsaam is vir my en vir hulle, is soveel anders as wat die wêreld, hul maats of selfs ons familie as sodanig beskou.

Dit maak ons "anders" en dis iets wat niemand graag wil wees nie.

Tog leer die Woord dat ons nie aan die wêreld gelykvormig moet wees nie. 
Leer die geskiedenis ons dat die massa selde die waarheid beet het.

  • Ons het tuisopvoeding gekies, die massa volg hoofstroomskole, selfs privaatskole wat uiteindelik tog maar net die hoofstroomskole in ander kleed is.
  • In tuisopvoeding het ons verkies om die selfleer-roete te loop ("unschooling") terwyl baie ouers hul hande saamslaan.
  • Ons het geen TV gekies, die massa koop plasmaskerms, huisteaters en skottel-kanale.
  • Ons het 'n een-beroep-gesin gekies, die massa het beide ouers in die sakesektor.
  • Ons het gekies om die Woord letterlik te glo - God het in ses dae deur sy gesproke Woord die ganse heelal geskape, die massa volg die media slaafs en glo dat miljoene jare nodig was.
  • Ons het gekies om gesinsgrootte in die Here se hande te laat, geen beheer daarvan te vat nie, die massa kies om self te besluit hoeveel kinders in hul gesin moet wees.
  • Ons het gekies om 'n meer gesonde leefstyl (minder gemorskos, geen koring, geen suiwel en geen suiker, geen preserveermiddels) te volg.


Of ons dit alles al regkry - nee.
Maar dis die keuse wat ons gemaak het.
Geeneen van hierdie sake was sommer lukraak oor besluit nie.
Daar was stryd en gebed, navorsing en oorweging.

Hoe kies jy? Wat beïnvloed jou keuses? Vra jy na die mening van die mense om jou of is God jou kompas?

Soos Paulus moet ek erken: "Broers, ek verbeel my nie dat ek dit alles al het nie. Maar een ding doen ek: ek maak my los van wat agter is en strek my uit na wat voor is." (Fil 3:13, '83-Vertaling)


Thursday, March 21, 2013

Vir hom....

"Smiley."



                                                                                      Die een wat maklik kon lag.
Gereeld gelag het.
Die een wat ons altyd herinner het daaraan dat swaarkry met 'n glimlag oorkom kan word.

Wat sou daar onder die glimlag en die dimpels lê?

Oor komediante en grapjasse word dikwels gesê dat hulle 'n dieper seer wegsteek. Dis mense wat dalk 'n diep eina wegsteek agter baie grappies en laggies. Mense wat die kuns ken om hul emosies diep weg te bêre vir alleentye en nou fokus op die mooi en die lekker. Die traan van die harlekyn.


Dat dit mense is wat inniger vóél.

Was dit van hom ook waar? Hoe sal ek weet?

Hy was die jongste. Is dit seker steeds....

Ek het hom geken - bolangs.
Daar was tye wat hy 'n dieper menswees aan my gewys het, 
homself bietjie oopgestel het. Maar dit was min.

Ek moes soms goedjies wegsteek, "want ma en pa mag nie weet nie."
                           Soms moes ek raad gee - ék? Ek wat maar net 2 maande sy senior was?

Maar die lewe loop sy pad en 'n ander het sy hart betower. Dit was immers nie myne nie, ek het my eie geliefde gehad. Sy het sy geheimpies gedeel, sy het sy probleme en kommer aangehoor en sy het raadgegee...


Sou ons ooit sy keuses verstaan?
En toe dinge skeefgeloop het? 
Wat het die pad toegemaak? 
Wat het verhoed dat hy sy seer met ons, 
ons wat hom so innig liefgehad het, gedeel het?

En toe is hy weg... ons sien hom so min.

Daarna, o, die opgewondenheid van 'n nuwe liefde!       

Die blom van sy hart. 

Die een wat hom weer kon optel, weer kon herstel.              

 Sy wat hom weer huis toe laat kom het.                      

Sy wat haar hart ook vir ons oopgemaak het.

Sy wat uiteindelik sy hele lewe sou word.

Net 'n skrale vyf jaar.
Dis al.

So kort tydjie om 'n lewe se herinneringe in te bou.
'n Knipoog-tydjie was hulle aan mekaar geleen.

Ai, boeta!
ons mis jou so baie....

Hoe sal ons ooit God se weë verstaan?
Vrae sal ons seker altyd hê. Paulus sê mos: ons kyk deur 'n spieël in 'n raaisel....
 eendag..... eendag sal ons ten volle ken.

Dierbare sus, mag Hy jou vertroos. Mag Hy jou toevou in sy wonderlike liefde.

Here, hy is nou by U.
Hy kan nou rus, sy taak op aarde is voltooi.
Here, ons verlang na hom, U weet.....

Monday, January 14, 2013

Terug na Vrede....

Dit het lank gevat.
 Jare.

En selfs nou twyfel ek nog.....
.....wonder ek:

"Moet ek?"

Dalk kan dit help
vir iemand iets beteken
Vir iemand oproep om hulp te kry.

Ek kan die dade in detail onthou.
Ek kan die mans se name en gesigte onthou.
Maar ek kan nie onthou hoe oud ek was nie.
Ek kan nie die emosie onthou nie.

Tog het ek verlief geraak, verloof en getrou.
Intimiteit was moeilik.

Jy is grootgemaak met die Woord van God
en jy weet: Ek is geskape as sy hulp - daarin vind ek my vreugde.
Jy weet ook - jou liggaam hoort nie aan jouself nie, maar aan jou man.
Jy ken die vers wat sê: Jy mag hom nie omgang weier nie, 
tensy met wedersydse toestemming en net vir gebed.

Maar jou liggaam weier.
Jy het lief en slegs vir 'n kort tydjie van die maand
is jou liggaam gereed om te "gesels", 
vir die res is dit droogte.
Jy raak opstandig met jouself, 
maar kan niks daaromtrent doen nie.

Tot op 'n dag. In 1998-99.
Na twee kinders.
Tot hiertoe.

Geliefde gee toestemming tot sielkundige terapie. Ek het sy bystand en ondersteuning bitter nodig.
Alleen sou ek dit nooit kon doen nie.

Ek wou egter weet, met sekerheid weet.
Weet hoe oud ek was.
Dit was vir my belangrik - ek weet nie hoekom nie, maar dit was.

En al manier om daardie ontwykende inligting te kry, sou hipnose wees.
Ek is nie bang vir hipnose nie, omdat ek as deel van my studies
ook Sielkunde vir 'n jaar gehad het.

Maar om 'n sielkundige te kry wat gelowig is.
Dit was uiters belangrik. Is steeds.
Hipno-terapie maak gebruik van suggesties.
Weliswaar sal jy nie reageer op suggesties wat teen jou gewete, 
jou beginsels, indruis nie, maar dis belangrik om 'n Christen-hipnotikus te kry.

Afspraak was gemaak en ons is stad toe.
Eers was daar die psigometriese toetse.
Dan die uitslag.
Depressie.
WAT!!!
Depressie!

Ek kon dit nie glo nie.
Het myself nie as depressief beskou nie.
Nooit besef dat my slapeloosheid, my negatiwiteit
my gebrek aan belangstelling en libido, karaktertrekke van depressie is nie.

So word die depressie die eerste teiken vir genesing.
Ja, Genesing.
Want Depressie is geneesbaar.
Dit is 'n siekte.
Dit kan behandel word, net soos 
verkoue
griep
waterpokkies
hartverlamming
kanker.

Daarna fokus ons toe op die kern van my probleem 
(soos wat ek gedink het).

Heerlik ontspanne die hele atmosfeer en hipnose.
Rustig lei die terapeut my m.b.v. suggesties terug....
terug na my kinderjare.

In verbeelding word my oorgang 'n luukse hotelgang
met sagte volvloermatte,
gedempte ligte,
swaar houtdeure, 
met nommers bokant die deur.
Sommige nommers is verlig
Ander nie.



Rustig stap ek die gang af.
En stop by die eerste deur met 'n brandende lig.

VREES ANGS!!!

Ek kan nie.
Ek wil uit.
Ek wil omdraai en weghardloop.
My hartklop en asemhaling versnel.
Die terapeut voel my angs aan en raak sagkens aan my arrm.
Toemaar, dis alles reg. 
Wees kalm, moenie bang wees nie.
Ek sal saam met jou instap.

Soos 'n klein-klein dogtertjie, 
wat ek inderdaad is - slegs 4 jaar oud - 
stap ek hand-aan-hand (in verbeelding)
saam met die terapeut by kamer nommer 4 in.

Ek skram en beur weg, draai my lyf in die stoel vas, 
druk met my rug asof ek deur die leunstoel wil beweeg.
My oë is toe, maar ek voel hoe hul beweeg in my kaste.



En so, stukkie vir stukkie is die drade opgetel.
Kon ek vrede vind.

Maar eers moes ek moord pleeg.
Ek moes.
Ek wou.

Die twee jaar waarin molestering plaasgevind het, is geïdentifiseer.
Die vrees, die angs is behandel.
My "libido-metertjie" in die enjinkamer van my brein is opgestel.
Sommer lekker hoog opgestel.

Maar wat sou gebeur as ek met die mans gekonfronteer word?
Wat sou ek doen indien een van hulle voor my staan - nou in my volwasse jare?
Weer in angssweet uitslaan en vlug?
Dogtertjie-klein word en wegkruip?

In suggestie word die beeld van die mans, een-een, opgeroep.
Dan kom die terapeut se vraag: 
"Wat voel jy? Watter emosie ervaar jy?"
En my, absoluut onwillekeurige reaksie is: "Haat. Ek haat hom."

Ek skrik my bewussyn wawyd wakker.
Haat?

Dis so 'n fel emosie. Ek mag nie haat nie.
Maar dit is wat daardie dogtertjie van 4-5 jaar oud voel.
Haat. Rou, seer haat.

"Goed," kom die terapeut se rustige, kalm stem, "Wat wil jy doen?"

"Ek wil hom doodmaak."
Net so.
Ek?
'n Christen?
My bewuste is op aandag.
NEE, jy mag nie.

Ek hoor hoe die terapeut sy asem intrek.
Voel byna sy skok.
Maar dan, dan gee hy my toestemming om
NET in sy teenwoordigheid, NET onder hipnose waar hy my geplaas het, 
NET in sy spreekkamer dit te doen.

Al daardie emosie.
die vrees
die angs
die haat
vloei weg.....

DANKIE VADER
Ja, ek kon bid, Dankie Here.

Ek kon opstaan as 'n nuwe
totaal bevryde mens.
My verlede daar laat en
opnuut aan my huwelik werk.



Vandag weet ek, as ek ooit enige van hulle sou sien
(daar was twee, maar nie gelyk nie, elkeen had sy eie idee
sy eie behoefte)
sou ek in alle eerlikheid kon sê:
"Deur God se genade kon ek jou vergewe."

Want dit is die waarheid.

wens ek kon sê: Die depressie het my ook gelos, 
maar dit sou 'n leuen wees. Later meer daaroor.





Saturday, December 22, 2012

'n Oogwink

Die begin....
Ooievaarstee - kaalvoet....

Die hospitaal.....
23 Desember 1994

Die jong ouerpaar....
Ma - dom en totaal moeg van min slaap.
Pa - trots en gelukkig met sy prinses.

'n Eerste kleindogter én agterkleindogter aan die Lübbe-kant

Die eerste (én enigste) agter-en kleindogter aan die Keyter-kant

Gedoop in dieselfde rousy-dooprok as
ma, ouma en oumagrootjie aan de la Bat-kant.


Plaasmeisie:


En vir die nefies: 'n "liggie" (niggie)

Gereeld die doeksak gegryp
en pad gevat na grootouma Anna.
(met ma wat maar 'n wakende ogie oor die vordering hou)


My nuwe boetie.

Eerste partytjie - twee jaar oud.

Ons gaan kuier alleen by oupa en ouma en saam met hulle
ook vir grootouma Frieda.

Elke dogtertjie moet minstens een keer in haar lewe
'n poppie koek hê. - 5 jaar oud.



Eerste skooldag.
Gr 1 Nebalae Christelike Montessori


 Dra my jongste boetie na die doopvont.


Tydens die tuisskolers se Eistedfodd en Entrepeneursdag.
'n Uitstalling - Tee met Ouma.


So ontwikkel ons dogtertjie in 'n jong meisie....


wat in Gimnastiek Limpopo-kleure verwerf.
Gimnastiek afrigter word
'n Noodhulpkursus reël en self deurloop.

Lief vir "scrap-booking" en kaartjies maak.

Kranige kok en by tye kreatiewe sjef....

Plaasmeisie wat hanskalfies grootmaak
(en ja, ook 'n kursus in kalfgrootmaak voltooi het)
Wat trekkerry, plant en deesdae

'n fotograaf van formaat
wat die mooiste natuurtonele


en kunsfoto's neem


'n Maand of wat gelede het sy

in die openbaar haar geloof bely

|En skielik is daar 'n jong vrou in my huis....


23 Des 2012
Môre.....
is sy 18.

'n Oogwink - so gou.
Dankie Here, vir hierdie pragkind wat U aan ons toevertrou het.
Vir 'n kort tydjie kon ons in haar saai, kon ons verantwoordelik
omgaan met 'n skepsel uit U hand.
Maar daar kom 'n dag, wat ons besef
Nou Here, is sy groot.
Nou kan ons nie meer saai nie.
Nou kan ons net bid
dat U die groei sal gee
die reën sal gee
sodat sy vrug kan dra
tot U eer.



Wednesday, November 14, 2012

Tiener-kriminele

Dit is vir my hartseer wanneer 'n mens in die koerante lees van jongmense, tieners, wat roof, steel, aanrand, verkrag en vermoor.

Wat het verkeerd geloop?
                     Hoekom vermoor kinders hul ouers?
                                      Wat veroorsaak dat een kind dit doen en 10 ander nie?

By die lees van hierdie artikel het ek net weer besef, ons MOET ons Christelike waardes baie duidelik aan ons kinders oordra. Daar mag nie ruimte wees vir 'n as of 'n dalk nie. Jesus het self gesê jy is of vir Hom of teen Hom, geen grys gebiede nie.

Die artikel het ek in sy geheel uit die laaste 2012 uitgawe van Creation - die tydskrif uitgegee deur Creation.com - geneem.
 - uit Creation 34 (4) 2012

Juvenile Crime committed by Amoral Teenagers
   
     University of Cambridge researchers questioned teenagers about their attitudes to lawlessness and asked 
what criminal things they had done (cross-checking their answers with police records(. the research provided important insights into last year’s UK riots – why some young people went on a lawless rampage while others did not.
     The study found that teenagers who avoided crime did so not because they feared the consequences or lacked the chance, but because they saw it as wrong. conversely, teenagers with little sense of right and wrong were responsible for the vast majority of juvenile crimes. The lack of a sense of morality was the single most important factor in teenagers breaking the law.
      Professor Per-Olof Wikström who led the study observed, “The idea that opportunity makes the thief – that young people will inevitably commit crime in certain environments – runs counter to our findings.”
Academics around the world have heralded the research as “groundbreaking” and a “breakthrough” in understanding teenage crime. One US academic described it as “among the most significant works in criminology in decades”.
The 16-year-olds who have committed 86 crimes each, independent.co.uk, 24 June 2012 


Thursday, October 4, 2012

'n Weggee-geleentheid.

Wie geniet nie 'n geskenk-oomblik nie?

Wie sou nie voortande gee vir 'n Explore Creation-boek van Jeannie Fulbright nie?

Gaan loer gou by Taryn Hayes se kuierwerf:

Hayesfamily

volg haar maklike instruksies en jy staan dalk 'n kans om hierdie FANTASTIESE boek te wen.....

groetnis