Saturday, January 24, 2015

Uitdaging: Orde Skep (5) - Kombuis (4): Kaste regpak.

Gesels ek gedurende die week met 'n vriendin oor hierdie uitdaging wat ek vir 2015 aangepak het.

My leefruimte is baie deurmekaar - ek leef deurmekaar en "ongeorden", maar - in totale teenstelling hiermee - my kaste en laaie, my bêreplekke moet netjies wees. Elke ding is nie noodwendig op sy plek nie, maar die wat op hul plekke is, staan op spesifieke plekke. Ek kan in die donkerste nag my kas oopmaak en wat ek ookal nodig het, raakvat.

Sy vertel toe hoe Melody de Jager dit aan haar verduidelik het. 'n Mens se uiterlike leefruimte vertel nie hoe jou innerlike lyk nie. Dis eers wanneer jy die kaste oopmaak wat jy die innerlike kan beoordeel.

Nou maak ek vir myself sin. Want ek hou van wiskunde, ek doen ons boerdery se boekhouding, ek is 'n lysie-mens wat goed gedurig aftik, lysies van alles maak en dinge op geordende (?!) manier probeer reël en afhandel (dis die hoofrede hoekom ek nie van braai hou nie - totaal ongeordende manier van doen :-) ).

Tog is daar altyd ruimte vir verbetering. Ek het slegs die kaste waar ek veranderings aangebring het, afgeneem. My opskepbakke, potte en panne, elektriese toebehore en breekgoed is netjies - ek het geen regpak daar gedoen nie. Ek het wel goed van een kas na 'n ander verskuif, bloot om ruimte te skep.





Die glase-kas voor:

















En daarna:  Ek gebruik die stampertjie vir speserye en soms ook growwe sout, daarom het hy 'n ereplekkie. Ek het 'n glasbeker wat ek nooit gebruik nie, omdat dit gedurigdeur mors, weggegee.











Die koppie-kas voor. 

Ek het lank wik en weeg oor die koppies en pierings. Mens gebruik mos deesdae net bekers. Maar uiteindelik het ek besluit om dit tog te hou - ons word ouer en wanneer 'n mens begin bewe, dan is 'n piering tog beter.

















En die koppiekas na die regpak. Die klein melkbekers was altyd by die glase. Hier en daar 'n verskuiwing, maar ek het nie regtig goed uitgegooi nie.







Die kruidenierskas.
Altyd maar die deurmekaarnes. Elkeen haal uit en sit sommer op enige plek terug. Hier moes ek beplan en behoorlik kopkrap, want ek wou 'n hele rak ooplaat om plek te maak vir plastiese sakkies en "weggooi"-plastiese houers wat ons op die langpad vir padkos gebruik.  En..., maar ek sal by die volgende foto vertel.













DAARNA:


Ek het by PEP stores nog 'n paar van die hangrakke gaan koop. Ek het dit met maskeerband aan die rakke vasgeplak en daarna papier vir boeke oortrek, op die rakke gesit.

Kleiner goedjies pas nou in die hangrakke. Bokant die oranje emmer het ek 'n katoetertjie waarmee mens bottels kan oopmaak vasgeskroef.


Die rak wat ek leeg wou gehad het.
Ek het die idee van 'n tydskrif-houer om die rolle foelie, waspapier en Glad Wrap gesien en dit bly vir my 'n wenner. Tot tyd en wyl ek so 'n houer kry, pas die rolle in 'n leë hawermoutdosie.

In die hangrakke het ek nou my plastiese sakkies (kleintjies en grotes geskei).

Op die rak al die leë plastiese houers vir langpad-padkos. En leë hawermoutdosies....??
Vir die boere se koffie wanneer hulle lang ure op die trekkers deurbring. :-)







My skandekas....

Ek gaan nog eendag baie konfyt kook, vrugte inlê, souse maak.
Eendag....


 Die "inmaak"-kas

Glasbottels van alle groottes en vorms.

Genoeg om 'n leeftyd te hou.

En hier was ook al die plastiese sakkies, die padkos-houers en koekbak- en koekversier-toebehore.

Twee ou stukkende kombuisskale.



Die kombuisskale het ek uitgegooi.
Die plastiese sakkies en plastiese padkos-houers in die kruidenierskas gepak.
Al die bottels sonder deksels
(en deksels sonder bottels)
het ek ook uitgegooi.....

DAARNA:


...die koekbak- en koekversiertoebehore 
het ek na my opskepbakke & potte en panne kas verskuif:


Nou is al die tertbakke, mengbakke, maatbekers, siffies, koekrollers en dies meer bymekaar.
Hangplek aan die deure is heel nuttig vir siffies en maatlepels.








Die "plastiese bekers en glase" - kas: 

VOOR:

Hierdie kas is maar chaoties deurmekaar.
Die droom van 'n melkkoei het nog nie gaan lê nie, daarom behou ek die plastiese melkbekers en die botterkarring.

En iewers, eendag gaan ek 'n ouma wees, dus bêre ek die kindertyd se bekertjies, glasies en borde.... :-)

Maar die kas kan doen met 'n ekstra rak 
of straks net bietjie 'n beplande orde.








Ek het 'n ekstra half-rakkie gemaak van hard board en gestut op kwartrond vorm dit 'n lekker rakkie vir die klein-kinder-bekertjies.

Ek is nog aan't planne maak vir die plastiese bekers se deksels wat so rondlê in die kas.... Die plan is daar, maar die uitvoer daarvan kort nog skaafwerk.

Ek dink die kas lyk heelwat beter... Ek het darem 2 bekers uitgegooi! :-D











Ek wou die kas onder die wasbakke ook takel, maar het besef, met Elisa in die huis en veral in die kombuis, gaan dit geen doel dien nie. Sy gaar al wat 'n leë botteltjie is op. Soms vaar ek die kas in en gooi vir 'n vale uit. Binne drie maande lyk dit maar weer so.

Verder is ek op soek na 'n plastiese / draadrakkie om borde op te stapel. Dit was nogal 'n storie, want al wat 'n goegeloer oplewer is internasionale webwerwe met pryse wat ten hemele skree.

Ek het ook op facebook gevra of iemand weet waar in Suid-Afrika ek sulke rakkies kan kry. Een antwoord was by Boardmans, maar jinne, ek wil nie 'n kas se prys vir 'n rak betaal nie. Ek het oplaas by ons woonwa- en kampeerwinkel 'n driepoot-roosterstander gekoop, maar dit werk nie. Die drie pote maak uithaal van borde moeilik.

Toe, oplaas, kry ek 'n plek in Pretoria (en die res van die land, maar vir my  is Pretoors-dorp nader).

Gelmar het die spesifieke rakkies waar na ek soek. Een is 'n drie-rak-hoekstaander. Die ander is 'n langwerpige rakkie. Die pryse is bekostigbaar en ek kan nie wag vir die volgende Pretoria-besoek nie.

Groetnis en geniet die regpak en wegpak saam met my (die weggooi is moeiliker!)