Monday, February 9, 2015

Uitdaging: Orde Skep (6) - Kombuis (5): Yskas, Vrieskas, Resepteboeke

Ek is steeds besig met die uitdaging, maar die Februarie-take het nie veel impak op my huis nie.
Februarie word gekenmerk deur resepte uitsorteer ('n hele week lank), en ook om 'n herwinningshoek in die huis te skep (wat in Suid-Afrika se platteland geen sin maak nie).

Ek is wel besig om my handgeskrewe resepte op 'n tablet te tik en dan die tablet in die kombuis as kookboek te gebruik. Of dit prakties gaan werk, weet ek nie. Maar dis 'n poging om die papier-oorlog in my huis te wen.

Wat die regpak van die yskas en vrieskas betref, was ek darem minder skuldig as vele ander. Ons eet al ons oorskiet binne 'n dag of twee op, daar is nie oopgemaakte flesse van 'n jaar of ses gelede in die yskas nie. Die kisvrieskas is 'n uitdaging, maar ek wil (wanneer ek eendag weer in die stad kom) gaan kyk of ek nog vrieskas-mandjies iewers kan koop.

Ek kan glad nie met 'n inventaris op my yskas, vrieskas of kruidenierskas werk nie. Daarvoor is ek te ongeorganiseerd (en na 40 + jaar gaan ek nie nou verander nie).

Foto's sal later volg, ek wou net laat weet - ek is nog besig met my regpak en wegpak-taak vir die jaar.

Groetnis



Saturday, January 24, 2015

Uitdaging: Orde Skep (5) - Kombuis (4): Kaste regpak.

Gesels ek gedurende die week met 'n vriendin oor hierdie uitdaging wat ek vir 2015 aangepak het.

My leefruimte is baie deurmekaar - ek leef deurmekaar en "ongeorden", maar - in totale teenstelling hiermee - my kaste en laaie, my bêreplekke moet netjies wees. Elke ding is nie noodwendig op sy plek nie, maar die wat op hul plekke is, staan op spesifieke plekke. Ek kan in die donkerste nag my kas oopmaak en wat ek ookal nodig het, raakvat.

Sy vertel toe hoe Melody de Jager dit aan haar verduidelik het. 'n Mens se uiterlike leefruimte vertel nie hoe jou innerlike lyk nie. Dis eers wanneer jy die kaste oopmaak wat jy die innerlike kan beoordeel.

Nou maak ek vir myself sin. Want ek hou van wiskunde, ek doen ons boerdery se boekhouding, ek is 'n lysie-mens wat goed gedurig aftik, lysies van alles maak en dinge op geordende (?!) manier probeer reël en afhandel (dis die hoofrede hoekom ek nie van braai hou nie - totaal ongeordende manier van doen :-) ).

Tog is daar altyd ruimte vir verbetering. Ek het slegs die kaste waar ek veranderings aangebring het, afgeneem. My opskepbakke, potte en panne, elektriese toebehore en breekgoed is netjies - ek het geen regpak daar gedoen nie. Ek het wel goed van een kas na 'n ander verskuif, bloot om ruimte te skep.





Die glase-kas voor:

















En daarna:  Ek gebruik die stampertjie vir speserye en soms ook growwe sout, daarom het hy 'n ereplekkie. Ek het 'n glasbeker wat ek nooit gebruik nie, omdat dit gedurigdeur mors, weggegee.











Die koppie-kas voor. 

Ek het lank wik en weeg oor die koppies en pierings. Mens gebruik mos deesdae net bekers. Maar uiteindelik het ek besluit om dit tog te hou - ons word ouer en wanneer 'n mens begin bewe, dan is 'n piering tog beter.

















En die koppiekas na die regpak. Die klein melkbekers was altyd by die glase. Hier en daar 'n verskuiwing, maar ek het nie regtig goed uitgegooi nie.







Die kruidenierskas.
Altyd maar die deurmekaarnes. Elkeen haal uit en sit sommer op enige plek terug. Hier moes ek beplan en behoorlik kopkrap, want ek wou 'n hele rak ooplaat om plek te maak vir plastiese sakkies en "weggooi"-plastiese houers wat ons op die langpad vir padkos gebruik.  En..., maar ek sal by die volgende foto vertel.













DAARNA:


Ek het by PEP stores nog 'n paar van die hangrakke gaan koop. Ek het dit met maskeerband aan die rakke vasgeplak en daarna papier vir boeke oortrek, op die rakke gesit.

Kleiner goedjies pas nou in die hangrakke. Bokant die oranje emmer het ek 'n katoetertjie waarmee mens bottels kan oopmaak vasgeskroef.


Die rak wat ek leeg wou gehad het.
Ek het die idee van 'n tydskrif-houer om die rolle foelie, waspapier en Glad Wrap gesien en dit bly vir my 'n wenner. Tot tyd en wyl ek so 'n houer kry, pas die rolle in 'n leë hawermoutdosie.

In die hangrakke het ek nou my plastiese sakkies (kleintjies en grotes geskei).

Op die rak al die leë plastiese houers vir langpad-padkos. En leë hawermoutdosies....??
Vir die boere se koffie wanneer hulle lang ure op die trekkers deurbring. :-)







My skandekas....

Ek gaan nog eendag baie konfyt kook, vrugte inlê, souse maak.
Eendag....


 Die "inmaak"-kas

Glasbottels van alle groottes en vorms.

Genoeg om 'n leeftyd te hou.

En hier was ook al die plastiese sakkies, die padkos-houers en koekbak- en koekversier-toebehore.

Twee ou stukkende kombuisskale.



Die kombuisskale het ek uitgegooi.
Die plastiese sakkies en plastiese padkos-houers in die kruidenierskas gepak.
Al die bottels sonder deksels
(en deksels sonder bottels)
het ek ook uitgegooi.....

DAARNA:


...die koekbak- en koekversiertoebehore 
het ek na my opskepbakke & potte en panne kas verskuif:


Nou is al die tertbakke, mengbakke, maatbekers, siffies, koekrollers en dies meer bymekaar.
Hangplek aan die deure is heel nuttig vir siffies en maatlepels.








Die "plastiese bekers en glase" - kas: 

VOOR:

Hierdie kas is maar chaoties deurmekaar.
Die droom van 'n melkkoei het nog nie gaan lê nie, daarom behou ek die plastiese melkbekers en die botterkarring.

En iewers, eendag gaan ek 'n ouma wees, dus bêre ek die kindertyd se bekertjies, glasies en borde.... :-)

Maar die kas kan doen met 'n ekstra rak 
of straks net bietjie 'n beplande orde.








Ek het 'n ekstra half-rakkie gemaak van hard board en gestut op kwartrond vorm dit 'n lekker rakkie vir die klein-kinder-bekertjies.

Ek is nog aan't planne maak vir die plastiese bekers se deksels wat so rondlê in die kas.... Die plan is daar, maar die uitvoer daarvan kort nog skaafwerk.

Ek dink die kas lyk heelwat beter... Ek het darem 2 bekers uitgegooi! :-D











Ek wou die kas onder die wasbakke ook takel, maar het besef, met Elisa in die huis en veral in die kombuis, gaan dit geen doel dien nie. Sy gaar al wat 'n leë botteltjie is op. Soms vaar ek die kas in en gooi vir 'n vale uit. Binne drie maande lyk dit maar weer so.

Verder is ek op soek na 'n plastiese / draadrakkie om borde op te stapel. Dit was nogal 'n storie, want al wat 'n goegeloer oplewer is internasionale webwerwe met pryse wat ten hemele skree.

Ek het ook op facebook gevra of iemand weet waar in Suid-Afrika ek sulke rakkies kan kry. Een antwoord was by Boardmans, maar jinne, ek wil nie 'n kas se prys vir 'n rak betaal nie. Ek het oplaas by ons woonwa- en kampeerwinkel 'n driepoot-roosterstander gekoop, maar dit werk nie. Die drie pote maak uithaal van borde moeilik.

Toe, oplaas, kry ek 'n plek in Pretoria (en die res van die land, maar vir my  is Pretoors-dorp nader).

Gelmar het die spesifieke rakkies waar na ek soek. Een is 'n drie-rak-hoekstaander. Die ander is 'n langwerpige rakkie. Die pryse is bekostigbaar en ek kan nie wag vir die volgende Pretoria-besoek nie.

Groetnis en geniet die regpak en wegpak saam met my (die weggooi is moeiliker!)









Friday, January 23, 2015

Uitdaging: Orde Skep (4) - Kombuis (3): So lyk my laaie!

Ek gaan hier nie veel vertel nie, ek gaan my foto's laat praat.

Ek wens net ek het 'n manier gehad om my bediende te oortuig dat verandering wel positief kan wees ook.... (sug).



Hout-afskortings gesny uit hardboard 






Dit is die gedagte - maar hoe om dit prakties werkbaar te maak..
 Hoe gemaak om die hout-afskortings stewig te maak?


16 mm kwartrond.
Dit moes werk.


Sommerso, sonder enige klampe en met koue lym.


Die eindresultaat!
Skerp messe-laai


Lepels-, spane en losgoed-laai.

En weer die genoegdoening van 'n taak aangepak, self voltooi en 'n resultaat wat die lewe makliker maak.



Monday, January 12, 2015

Uitdaging: Orde Skep (3) - Kombuis (2): Laaie en kaste

Die eerste week van die uitdaging is verby. My kombuis lyk nog steeds soos op die "na"-foto's (en aits, is ek trots op myself!)

Die enkele opdrag wat ek nie na behore kon uitvoer nie, was die een oor kombuislaaie.


My "voor"-foto's van my laaie:




Ek hou daarvan dat goed wat min of meer dieselfde is bymekaar moet bly. My bediende het nie 'n saak daarmee nie.

Klaarblyklik sukkel heelparty vroue om hierdie laaie van hulle "netjies" te hou en daarom is 'n dag van die uitdaging aan die laaie gewy.

Ek het egter 'n ander plan bedink - dis nog nie voltooi nie en daarom gaan ek nog nie foto's plaas nie.

Wat ek wel die dag "van die laaie" gedoen het - ek het my bak-kas reggepak. Die kassie bokant my oond is baie diep, maar ook nie hoog nie. Hierin bêre ek al my oondpanne, koekpanne, bakplate en die enkele plastiese bakke wat net te groot is vir enige ander kas:


VOOR:
Ek is kort en die kas is hoog. Wanneer ek dus iets hier wil uithaal is dit gewoonlik 'n gerek en gestrek, gevolg deur 'n gekletter en 'n geval.

Ek het op een van die vele webblaaie waar ek gaan loer het, 'n plan gesien en dadelik begin soek na die nodige goedjies hier in en om die huis.

Leticia het pas 'n paar kaste vir haar kamer klaargemaak en ek het van die oorskiethout gevra.
Daarby het ek 'n paar hout"stokkies" (dowels) gekoop. Hierdie is geheel en al my eie werk, my dierbaarste is pal besig met bou en herstel op die plaas, ek kan hom nie nog hiermee ook opsaal nie:






Hierdie nuwe rakkie is nou deel van my bak-kas:


 Hierdie was alles in die kas:


Ek het een stukkende broodpan weggegooi en die res in die foto hieronder gaan na die donasie-houer:


Die oondpanne kan nie so regop in die kas staan nie en ek het hulle na die skinkbord kas verskuif.

Treetjie vir treetjie vorder ek. Ek weet nie hoe dit gaan gaan wanneer die skole weer in volle swang is, die seuns buitemuurs het en ek wiskunde-klasse gee na ons eie oggend van tuisopvoeding nie. Maar vir nou is hierdie uiters bevredigend.

Groetnis




Thursday, January 8, 2015

Uitdaging: Orde Skep (2) - Die Kombuis (1)

Die kombuis - daarna

Alla aarde maar ek voel trots op myself! 

Kyk net bietjie:

Die plek waar my stoof in die kombuis is, is 'n donker gat. Ek het nooit daarvan gehou om daar te werk nie. Ek kry my houtkaste jammer ('n trougeskenk van my skoonouers af en dis embuia) en mens kan nie sonder 'n lig daar werk nie.
VOOR:


Op die wit plank (bo-op die elektriese stoof):
Die mikrogolfoon met speelgoed bo-op, 'n groen Tupperware houer met honde- en beesmedisyne, 'n handmodel broodsnyer, resepteboek-houer, 'n plastiese deksel vol geoesde groentesaad en doer agter verdroogde uitgeloopde patats(!!).

Na regs 'n yshouer (wat lankal weer vrieskas toe moes gaan), waspoeier, 'n emmer vol suikerbone, 'n vriendin se koek"blik", leë glasbottel en skottel wat net gebêre moes word en 'n bottel tamatie-en-uie-smoor wat begin gis het.



NA:
Die haarknipperboksie (die een met die geverfde huisie op) en die radio en cd's het nou die donker gat geërf.

Die speelgoed, ysbakkie, glasbottel, groen skottel en waspoeier is op hul plekke gebêre. Die Tupperhouer het na die seuns se "perde-kas" verskuif. Suikerbone het in Samaritaanskis by die kerk geëindig en die patats en tamatie-en-uie-smoor is na die asgat. Vriendin se koekblik is op die eetkamertafel - sodra die skole begin sal hy huis vind.



VOOR:



Hierdie gedeelte is my "werksoppervlakte" gewees. Leë terthouers, 'n skêr, elektriese blikoopmaker, elektriese broodsnyer, botterbakkie, broodmasjienpannetjie, radio en twee bottels met mmmm, ja, watookal in. 'n Plastiese houer se deksel en 'n elektriese koord pyp.








NA:
Die skêr, terthouers, botter en broodpan is gebêre. Die blikoopmaker gebruik ek baie min, omdat ek nie lief is vir blikkieskos nie. Ek het dit dus in die kas met elektriese toebehore gebêre....maar moes eers plek maak. Daar was 'n elektriese menger wat ek nie gebruik nie en vir my dogter gegee het. Die radio het ek verskuif na die donker gat. Die plastiese houers is leeggemaak, gewas en saam met die elektriese pyp na die garage gestuur.













VOOR:
Tussen die radio en die haarknipper se kassie was die eiers - ek gebruik 8 per dag vir rogbrood, dus staan hulle maar buite. My yskas is te klein vir die hoeveelheid wat ek aankoop. Net links van die kragsokke het ek twee hakies geplak om die vatlappe aan te hang, maar hulle eindig altyd op die eiers - dis net makliker...

Medisyne, suurlemoene en 'n amperleeg koeldrankbottel. Waterbottels (wat moet terug yskas toe), die stoompot se kragkabel met die blatjang op die kookplaat.



NA:
Knipperkassie en radio na die Donker Gat, eiers geskuif na die "brood-bak-hoekie", suurlemoene in die groentemandjie, medisyne na die medisynekas in my kamer, kabel en blatjang op hul plekke, waterbottels gevul en in die yskas - koeldrank opgedrink.

Haai, en nou kan my vatlappies hang!! Ek het sommer terselfdertyd my onderste laai (vadoeke en ander lapgoete) uitgeskud. Die ekstra vatlappe is nou daarin gebêre. Terwyl ek nou na die foto's kyk - ek moet daardie aansteekbord ook regpak....


VOOR:
Die broodbakhoekie, die deurmekaarste pakplek... Twee broodmasjiene! Jip, jy sien reg. My ma gebruik hare nie meer nie en het dit vir my gegee. Ek is te dankbaar want op hierdie stadium wil myne nie bak nie, maar meng wel en hare wil nie meng nie, maar bak wel. Dus knie ons met een en bak met die ander.

Die mandjie het al ons groente (uie, pampoene, suurlemoene, ens) in, nóg 'n broodpan, meel, en onder die tafel, plastiese sakke met lappe in.
Die seuns maak vir hulle koffie en hou dit warm met die lap-en-sak. Na 'n dag se werk word almal se waterbottels ook op die tafel gepak.


NA:



 Foto's is in die aand geneem - water-bottels op hul plek....




Ek het die eiers hierheen geskuif, omdat ek dit juis hier gebruik. Die sink-emmertjie het ons as kersgeskenk gekry en dit pas in my kombuis se kleurskema. Ek wil dit graag gebruik, maar weet nog nie lekker hoe nie. Ek oorweeg om 'n paar kruie daarin te plant....Maar dan moet ek gate in die onderkant boor. Sal nog moet dink oor die een.

Die lap-sak-houers het ek in die kas met glasbottels gaan bêre. Onder die tafel was ook 'n braairooster, verf en teenroesmiddel - dit alles is uit garage toe. Die boks wat nog daar staan is 'n filter wat ons in 2011 gekoop het, maar wat nou nog nie geïnstalleer is nie. Ons boorgatwater is baie baie suiwer en skoon, die filter was eintlik 'n mors.

Ek het wel nog iets daaronder ingedruk. Die derde Snappy Chef-plaat. Sy sekeringsdraad het gesmelt en moet vervang word. Sodra ons weer Pretoria toe gaan, sal dit gedoen word.

En laastens:

VOOR:  



NA:
Die boks hier onder die tafel (my groentetuin en vrugteboord se besproeiingstelsel is daarin - moet nog geïnstalleer word) het ek ook garage toe geskuif. Probleem is net, nou is dit uit die oog - sal dit nou ooit voltooi word?







Ek voel baie trots op myself, veral omdat ek nou al 'n hele drie dae dit volhou! En daar is soveel ruimte!

Monday, January 5, 2015

Nuwejaarsvoornemens / Uitdaging: Orde Skep (1)

Wat is nou eintlik die sin in nuwejaarsvoornemens, net om dit na twee weke in die weer te laat?

Maar ek gaan tog probeer.

Het eintlik verlede jaar al begin...

Orde skep

Dis nie maklik nie, veral nie vir my nie.
Ek begin baie dinge, maar voltooi weinig.
Want ek verloor moed en spoed, die drang, die lus raak weg en dan laat ek los.

So gebeur dit dat ek omring is met halwe projekte. Letterlik honderde daarvan.




Die grootste uitdaging is waarskynlik die skool-rekenaar-naaldwerk-kamer. Dis 'n groot vertrek wat baie gou die p(l)akplek vir alles word.



 En waarvan die kaste en rakke altegou oorloop.
Ek sukkel om boeke weg te gooi, sal maklik van ander goed ontslae raak, maar boeke....


Alle geval, ek loop gedurende 2014 'n Australiese kuierwerf raak met 'n heerlike uitdaging: Ruk jou huis reg!

Kat het fantastiese idees waarvan ek 'n hele paar kon gebruik. Ek hou van haar styl en haar manier van skryf. Haar kuierwerf oorweldig 'n mens nie met 'n klomp inligting, massas onnodige skakels en advertensies nie. Dit is soos haar huis, netjies en georden.

Sy het in 2014 'n uitdaging geloods om van gemors, "clutter", ontslae te raak.  Ek het bietjie laat in die jaar ingeskakel en in elk geval nie die daaglikse take voltooi soos wat sy dit aanbeveel nie, maar ek het geweldige motivering en inspirasie in haar inskrywings gevind.

Dus het ek die kleinste vertrek in die huis getakel. (Altyd vir my makliker om in die badkamer te begin - resultate is vinnig daar).

Badkamer

In ons badkamer is 'n ou houtkassie van Geliefde se ouma af. Die kassie het 'n laai en 'n kasgedeelte daaronder.
Ek het maar altyd die medikasie in die laai en kas gebêre, met iewers tussenin die "muskiete-goed", sonbrandmiddels, ekstra seep en tandepasta, badsakkies en dies meer. Die inhoud het gewoonlik op jou getuimel wanneer jy die deur oopmaak.

In die laai het ek vierkantige 2-liter roomysbakke gehad met medisyne vir maag, verkoues en pyn daarin.

Ekself probeer al meer wegbeweeg van konvensionele medisynes na natuurlike en kruiemiddels toe, dus was die uitsorteer van medisyne verby hul vervaldatum relatief maklik. Ek het uiteindelik die medisyne uitgeskuif na ons slaapkamer toe.

Ek het ook 'n rak in die kasgedeelte ingesit, sodat ek die toiletpapier (wat altyd in ons slaapkamer was) daarin kon bêre.

Ek het ongelukkig nie vooraf foto's geneem nie, maar die resultaat werk vir ons:





My droom is 'n marmerblad vir die kassie.... Maar dit sal nie in my leeftyd gebeur nie.

Die kinders se tandeborsels en -pasta was altyd bo-op die kassie, maar ek het nou 'n beter plan gehad - 'n werkbare plan!




Elkeen het sy eie 2l roomysbak (die keer langwerpiges) waarin hy / sy hul tandborsel, tandepasta, haarborsel en room en enige ander toiletware kan bêre. In die middelste roomysbak voor het ek badsakkies klein opgevou en in plastieksakkies gesit. Die reghoekige badsakkie agter bevat my persoonlike goedjies.

En dit het my net die hardboard vir die rak gekos! Al die ander goed was in die huis.

Ons woon in 'n asbeshuis met 'n staalstruktuur. Water is dus 'n groot vyand. Voeg daarby dat ons 'n ou ysterbad het.

Ek het vroeër van die plastiese hake teen die muur geplak vir waslappe en badblomme, maar die gedrup op die bad het moeilikheid veroorsaak. My nuwe plan was 'n plantmandjie:



Ek het sommer badketting by die hardeware-winkel gekoop en daarmee die mandjie opgehang.. Wanneer ons bad en die mandjie uit die pad wil hê, haak ons die punt van die badketting aan die diefwering by die venster.

'n Ander goedkoop plan wat vir ons baie help in ons 2 x 3m badkamer (net een vir 'n gesin van ses) is 'n plastiese groente-rak:


Nou hoef daar geen bottels op die bad se rand te staan nie.

Die groen badmatjie het ons bediende van ou baaltou gehekel en een kersfees vir my gegee.

Wat ek dalk net hier moet noem is dat ons kinders elkeen 'n "salaris" kry en hul eie toiletware aankoop, dus het elkeen sy eie seep, tandepasta en sjampoe.

~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~

Hoofslaapkamer

Ons kamer is en bly maar 'n nagmerrie. Te veel goed, te veel tydskrifte, boerdery-fieterjasies, my leeswerk en boeke - immer boeke.

Wat ek tog hier wil deel, is die medisyne wat nou na my kamer geskuif het. Die rak wat die toiletpapier in die kas beslaan het, is nou die medisyne-rak:



Weer is roomysbakke handig ingespan. In die vyfliter-bakke is daar sinus-en-verkoue-medikasie, pynstillers, ontsmetmiddel, watte, pleisters en ontsmetsalf en die agterste een het al die diverse goedjies - spiermiddels, kontaklens-middels ens in. Die tweeliter-bak voor links het die maagmedikaasie in.

Ek is nie groot op allerhande vrouens-fieterjasies nie, gebruik bloot 'n deodorant en soms bietjie naellakverwyderaar. Dit staan sommer ook op hierdie rak.



Na aanleiding van Kat se inskrywing oor haar dogters se kaste, het ek besluit my persoonlike laai kort aandag. Dis groot en diep laaie, maar veroorsaak dat die fyn goedjies deurmekaar eindig. 

Toe ek dus hierdie heerlike mandjies by PEP raakloop, moes ek net 'n paar aanskaf - my verjaarsdag was 'n heerlike verskoning vir die mildadigheid. En nou pas die fyn goed netjies elkeen op sy plekkie.

~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~

Van Australië na Amerika

Met die aanbreek van 'n nuwe jaar het ek ook 'n nuwe uitdaging raakgeloop, die keer een uit Amerika. Maar ek byt nog nie so lekker aan haar manier van doen nie. Juis omdat Kat so 'n netjiese, skoon, rustige bladuitleg het, is Taylor se blad vir my baie besig en die inligting te veel.

Ek wil tog probeer om hier en daar te volg en raad in te win.


Die eerste week gaan oor die kombuis en spesifiek die kombuis-oppervlaktes.
Net een blik in my kombuis sal jou gou laat raai, dis my Achilleshiel.

Daar is net te veel goed - oral.

Ek gebruik glad nie meer my konvensionele stoof nie, die plank is bo-oor gesit om meer pakplek te hê.

Ek dink mens moet met hierdie uitdagings ook in gedagte hou dat die dames in Australië en die VSA sonder bediendes werk en ek het 'n voldag 6-dae van die week bediende.

Verder kan ek nie die hand-broodsnyer te diep bêre nie, want Eskom is so betroubaar soos die water op Naboomspruit.
 Maar oral staan botteltjies goed.
Goed wat ek nog nie plek voor het nie.
Ander goed is die elektriese bliksnyer, die elektriese broodsnyer...

Ai, soms wens ek iemand kan vir my die planne maak....
Ek gebruik daagliks 8 eiers net vir die rogbrood wat ek bak. Dus vloog ons deur eiers.

Ek koop gewoonlik 5 dosyn en het nie plek in die yskas daarvoor nie. Dus - ook op die kombuisvlakke.
 Hier op die "eiland" is my twee Snappy Chef-plate, my gebruikstoof. Die multi-sok teen die kas dra die twee plate, die ketel en soms die braaipan of elektriese stoompot.

Maar selfs op die vloer - orals is goed...
 Die ruimte bo-op die kaste is ook opgebruik met nog goeters.





Wel, hierdie week is die kombuis-oppervlakte my uitdaging.
Ek weet nie waarheen ek met die goed gaan nie, maar ek sal beslis moet gaan diep nadink en beplan.