Friday, June 3, 2011

Die Voorreg van Boervrou, tuisopvoeder-ma wees

Daar is soveel meer as net die "Vakansie"-gevoel wat jou betrek wanneer jy 'n naweek of 'n week op 'n plaas kuier.

Om soggens net met voëlgeluide wakker te word. 'n Duif wat koer, 'n patrys se skree en soms die Piet-my-vrou wat roep-roep na sy vroutjie-douwtjie. Of die borrelende opgewondenheid van die vleiloerie wat reën aankondig. Geen steurende verkeer en sirenes wat straat-af skrou nie.

Om rustig die dag met die Skrif en gebed te kan begin. Geen gejaag om die spitsverkeer te vermy nie. Geen skoolkinders wat uit die warm vere geruk moet word nie. Net 'n salige ek en my Vader tydjie.

Om dan die kombuis binne te kom en begroet te word met die aptytwekkende reuk van varsgebakte brood! Die ketel aan te skakel vir 'n lekker boeppens-pot vol mieliepap. Die tafel te dek en te weet, ontbyt kan rustig geniet word.

Kindergesiggies wat nog slaapwarm die kombuis binnekom en my begroet met 'n stywe druk en "is die pap al reg?". 'n Vleisigheid in die pan - wors of maalvleis, spek en eier, visvingers - wie weet? Elke dag 'n ander dis. Ja, die jong boere eet steeds vleis drie keer per dag!

Streep-streep kom die arbeiders van hul huise aangestap. Een na die ander word trekkers en stropers aangeskakel en draai by die dieselpomp. Veld toe, lande toe. En weer daal 'n stilte op die huis neer.

Skoolwerk word uitgehaal, stories gelees. Gespeel en pret gemaak. Eksperimente en kunswerke. Teen twaalfuur moet die middagmaal voorberei word. Jip, hoofete in die middag - ideaal. Geen swaargewig wanneer ek vanaand in my bed kruip nie.

Die namiddae draf seuns moontlik saam met pa lande toe, of speel met hul neef wat van die skool af terug is. Sus pak haar "Scrap-booking" aan of maak kaartjies. Lawwe ek het myself toegegooi met wiskunde ekstra-klasse en is elke middag besig met iemand anders se kinders en wiskunde....

Maar vanaand, wanneer geliefde van die veld, landerye of werkswinkel terugkeer, is ons almal by die huis. Seunslyfies klaar gebad en sus moontlik nog in die bad. Koffie en 'n lekker kuier met pa. Dan aandete en huisgodsdiens. Ja, reg geraai, hier is geen TV nie! Wonderlik.

So verloop my dae, rustig en ongejaagd.

Miskien met minder geld ook...
                           minder ambisie.....?
                                      Maar BAIE BAIE meer bevrediging.

En dit is hoekom ek vandag hier tik. Jantjie Pieterse het my ook laat dink en ek weet!