Thursday, January 8, 2015

Uitdaging: Orde Skep (2) - Die Kombuis (1)

Die kombuis - daarna

Alla aarde maar ek voel trots op myself! 

Kyk net bietjie:

Die plek waar my stoof in die kombuis is, is 'n donker gat. Ek het nooit daarvan gehou om daar te werk nie. Ek kry my houtkaste jammer ('n trougeskenk van my skoonouers af en dis embuia) en mens kan nie sonder 'n lig daar werk nie.
VOOR:


Op die wit plank (bo-op die elektriese stoof):
Die mikrogolfoon met speelgoed bo-op, 'n groen Tupperware houer met honde- en beesmedisyne, 'n handmodel broodsnyer, resepteboek-houer, 'n plastiese deksel vol geoesde groentesaad en doer agter verdroogde uitgeloopde patats(!!).

Na regs 'n yshouer (wat lankal weer vrieskas toe moes gaan), waspoeier, 'n emmer vol suikerbone, 'n vriendin se koek"blik", leë glasbottel en skottel wat net gebêre moes word en 'n bottel tamatie-en-uie-smoor wat begin gis het.



NA:
Die haarknipperboksie (die een met die geverfde huisie op) en die radio en cd's het nou die donker gat geërf.

Die speelgoed, ysbakkie, glasbottel, groen skottel en waspoeier is op hul plekke gebêre. Die Tupperhouer het na die seuns se "perde-kas" verskuif. Suikerbone het in Samaritaanskis by die kerk geëindig en die patats en tamatie-en-uie-smoor is na die asgat. Vriendin se koekblik is op die eetkamertafel - sodra die skole begin sal hy huis vind.



VOOR:



Hierdie gedeelte is my "werksoppervlakte" gewees. Leë terthouers, 'n skêr, elektriese blikoopmaker, elektriese broodsnyer, botterbakkie, broodmasjienpannetjie, radio en twee bottels met mmmm, ja, watookal in. 'n Plastiese houer se deksel en 'n elektriese koord pyp.








NA:
Die skêr, terthouers, botter en broodpan is gebêre. Die blikoopmaker gebruik ek baie min, omdat ek nie lief is vir blikkieskos nie. Ek het dit dus in die kas met elektriese toebehore gebêre....maar moes eers plek maak. Daar was 'n elektriese menger wat ek nie gebruik nie en vir my dogter gegee het. Die radio het ek verskuif na die donker gat. Die plastiese houers is leeggemaak, gewas en saam met die elektriese pyp na die garage gestuur.













VOOR:
Tussen die radio en die haarknipper se kassie was die eiers - ek gebruik 8 per dag vir rogbrood, dus staan hulle maar buite. My yskas is te klein vir die hoeveelheid wat ek aankoop. Net links van die kragsokke het ek twee hakies geplak om die vatlappe aan te hang, maar hulle eindig altyd op die eiers - dis net makliker...

Medisyne, suurlemoene en 'n amperleeg koeldrankbottel. Waterbottels (wat moet terug yskas toe), die stoompot se kragkabel met die blatjang op die kookplaat.



NA:
Knipperkassie en radio na die Donker Gat, eiers geskuif na die "brood-bak-hoekie", suurlemoene in die groentemandjie, medisyne na die medisynekas in my kamer, kabel en blatjang op hul plekke, waterbottels gevul en in die yskas - koeldrank opgedrink.

Haai, en nou kan my vatlappies hang!! Ek het sommer terselfdertyd my onderste laai (vadoeke en ander lapgoete) uitgeskud. Die ekstra vatlappe is nou daarin gebêre. Terwyl ek nou na die foto's kyk - ek moet daardie aansteekbord ook regpak....


VOOR:
Die broodbakhoekie, die deurmekaarste pakplek... Twee broodmasjiene! Jip, jy sien reg. My ma gebruik hare nie meer nie en het dit vir my gegee. Ek is te dankbaar want op hierdie stadium wil myne nie bak nie, maar meng wel en hare wil nie meng nie, maar bak wel. Dus knie ons met een en bak met die ander.

Die mandjie het al ons groente (uie, pampoene, suurlemoene, ens) in, nóg 'n broodpan, meel, en onder die tafel, plastiese sakke met lappe in.
Die seuns maak vir hulle koffie en hou dit warm met die lap-en-sak. Na 'n dag se werk word almal se waterbottels ook op die tafel gepak.


NA:



 Foto's is in die aand geneem - water-bottels op hul plek....




Ek het die eiers hierheen geskuif, omdat ek dit juis hier gebruik. Die sink-emmertjie het ons as kersgeskenk gekry en dit pas in my kombuis se kleurskema. Ek wil dit graag gebruik, maar weet nog nie lekker hoe nie. Ek oorweeg om 'n paar kruie daarin te plant....Maar dan moet ek gate in die onderkant boor. Sal nog moet dink oor die een.

Die lap-sak-houers het ek in die kas met glasbottels gaan bêre. Onder die tafel was ook 'n braairooster, verf en teenroesmiddel - dit alles is uit garage toe. Die boks wat nog daar staan is 'n filter wat ons in 2011 gekoop het, maar wat nou nog nie geïnstalleer is nie. Ons boorgatwater is baie baie suiwer en skoon, die filter was eintlik 'n mors.

Ek het wel nog iets daaronder ingedruk. Die derde Snappy Chef-plaat. Sy sekeringsdraad het gesmelt en moet vervang word. Sodra ons weer Pretoria toe gaan, sal dit gedoen word.

En laastens:

VOOR:  



NA:
Die boks hier onder die tafel (my groentetuin en vrugteboord se besproeiingstelsel is daarin - moet nog geïnstalleer word) het ek ook garage toe geskuif. Probleem is net, nou is dit uit die oog - sal dit nou ooit voltooi word?







Ek voel baie trots op myself, veral omdat ek nou al 'n hele drie dae dit volhou! En daar is soveel ruimte!