Monday, January 14, 2013

Terug na Vrede....

Dit het lank gevat.
 Jare.

En selfs nou twyfel ek nog.....
.....wonder ek:

"Moet ek?"

Dalk kan dit help
vir iemand iets beteken
Vir iemand oproep om hulp te kry.

Ek kan die dade in detail onthou.
Ek kan die mans se name en gesigte onthou.
Maar ek kan nie onthou hoe oud ek was nie.
Ek kan nie die emosie onthou nie.

Tog het ek verlief geraak, verloof en getrou.
Intimiteit was moeilik.

Jy is grootgemaak met die Woord van God
en jy weet: Ek is geskape as sy hulp - daarin vind ek my vreugde.
Jy weet ook - jou liggaam hoort nie aan jouself nie, maar aan jou man.
Jy ken die vers wat sê: Jy mag hom nie omgang weier nie, 
tensy met wedersydse toestemming en net vir gebed.

Maar jou liggaam weier.
Jy het lief en slegs vir 'n kort tydjie van die maand
is jou liggaam gereed om te "gesels", 
vir die res is dit droogte.
Jy raak opstandig met jouself, 
maar kan niks daaromtrent doen nie.

Tot op 'n dag. In 1998-99.
Na twee kinders.
Tot hiertoe.

Geliefde gee toestemming tot sielkundige terapie. Ek het sy bystand en ondersteuning bitter nodig.
Alleen sou ek dit nooit kon doen nie.

Ek wou egter weet, met sekerheid weet.
Weet hoe oud ek was.
Dit was vir my belangrik - ek weet nie hoekom nie, maar dit was.

En al manier om daardie ontwykende inligting te kry, sou hipnose wees.
Ek is nie bang vir hipnose nie, omdat ek as deel van my studies
ook Sielkunde vir 'n jaar gehad het.

Maar om 'n sielkundige te kry wat gelowig is.
Dit was uiters belangrik. Is steeds.
Hipno-terapie maak gebruik van suggesties.
Weliswaar sal jy nie reageer op suggesties wat teen jou gewete, 
jou beginsels, indruis nie, maar dis belangrik om 'n Christen-hipnotikus te kry.

Afspraak was gemaak en ons is stad toe.
Eers was daar die psigometriese toetse.
Dan die uitslag.
Depressie.
WAT!!!
Depressie!

Ek kon dit nie glo nie.
Het myself nie as depressief beskou nie.
Nooit besef dat my slapeloosheid, my negatiwiteit
my gebrek aan belangstelling en libido, karaktertrekke van depressie is nie.

So word die depressie die eerste teiken vir genesing.
Ja, Genesing.
Want Depressie is geneesbaar.
Dit is 'n siekte.
Dit kan behandel word, net soos 
verkoue
griep
waterpokkies
hartverlamming
kanker.

Daarna fokus ons toe op die kern van my probleem 
(soos wat ek gedink het).

Heerlik ontspanne die hele atmosfeer en hipnose.
Rustig lei die terapeut my m.b.v. suggesties terug....
terug na my kinderjare.

In verbeelding word my oorgang 'n luukse hotelgang
met sagte volvloermatte,
gedempte ligte,
swaar houtdeure, 
met nommers bokant die deur.
Sommige nommers is verlig
Ander nie.



Rustig stap ek die gang af.
En stop by die eerste deur met 'n brandende lig.

VREES ANGS!!!

Ek kan nie.
Ek wil uit.
Ek wil omdraai en weghardloop.
My hartklop en asemhaling versnel.
Die terapeut voel my angs aan en raak sagkens aan my arrm.
Toemaar, dis alles reg. 
Wees kalm, moenie bang wees nie.
Ek sal saam met jou instap.

Soos 'n klein-klein dogtertjie, 
wat ek inderdaad is - slegs 4 jaar oud - 
stap ek hand-aan-hand (in verbeelding)
saam met die terapeut by kamer nommer 4 in.

Ek skram en beur weg, draai my lyf in die stoel vas, 
druk met my rug asof ek deur die leunstoel wil beweeg.
My oë is toe, maar ek voel hoe hul beweeg in my kaste.



En so, stukkie vir stukkie is die drade opgetel.
Kon ek vrede vind.

Maar eers moes ek moord pleeg.
Ek moes.
Ek wou.

Die twee jaar waarin molestering plaasgevind het, is geïdentifiseer.
Die vrees, die angs is behandel.
My "libido-metertjie" in die enjinkamer van my brein is opgestel.
Sommer lekker hoog opgestel.

Maar wat sou gebeur as ek met die mans gekonfronteer word?
Wat sou ek doen indien een van hulle voor my staan - nou in my volwasse jare?
Weer in angssweet uitslaan en vlug?
Dogtertjie-klein word en wegkruip?

In suggestie word die beeld van die mans, een-een, opgeroep.
Dan kom die terapeut se vraag: 
"Wat voel jy? Watter emosie ervaar jy?"
En my, absoluut onwillekeurige reaksie is: "Haat. Ek haat hom."

Ek skrik my bewussyn wawyd wakker.
Haat?

Dis so 'n fel emosie. Ek mag nie haat nie.
Maar dit is wat daardie dogtertjie van 4-5 jaar oud voel.
Haat. Rou, seer haat.

"Goed," kom die terapeut se rustige, kalm stem, "Wat wil jy doen?"

"Ek wil hom doodmaak."
Net so.
Ek?
'n Christen?
My bewuste is op aandag.
NEE, jy mag nie.

Ek hoor hoe die terapeut sy asem intrek.
Voel byna sy skok.
Maar dan, dan gee hy my toestemming om
NET in sy teenwoordigheid, NET onder hipnose waar hy my geplaas het, 
NET in sy spreekkamer dit te doen.

Al daardie emosie.
die vrees
die angs
die haat
vloei weg.....

DANKIE VADER
Ja, ek kon bid, Dankie Here.

Ek kon opstaan as 'n nuwe
totaal bevryde mens.
My verlede daar laat en
opnuut aan my huwelik werk.



Vandag weet ek, as ek ooit enige van hulle sou sien
(daar was twee, maar nie gelyk nie, elkeen had sy eie idee
sy eie behoefte)
sou ek in alle eerlikheid kon sê:
"Deur God se genade kon ek jou vergewe."

Want dit is die waarheid.

wens ek kon sê: Die depressie het my ook gelos, 
maar dit sou 'n leuen wees. Later meer daaroor.





7 comments:

  1. Sjoe, dankie dat jy gedeel het. Mag dit baie mense help. Wens net ouers kan besef dit moenie onderdruk word, geignoreer word; dit moet gekonfronteer word vir genesing. Esther

    ReplyDelete
  2. Ai.. Marileze ek het nie woorde nie. Dankie dat jy dit met ons deel. Verseker is daar iemand wat hieruit gehelp kan word.

    ReplyDelete
  3. Lucia Giesler14 January, 2013

    Jou dapper vrou - ek juig saam met jou in die Here se vrymaking van elke klad wat die vyand op jou lewe probeer plaas het. Jy is God se dogter en geen wapen teen jou sal vrug dra nie!

    ReplyDelete
  4. Net bysê, dit was ander ooms, nie familie nie.

    Marelize

    ReplyDelete
  5. Dankie dat jy dit deel Marelize. Jou gesond word is my gesond word en in Jesus word ons weer heel.

    ReplyDelete
  6. My ouers het nooit geweet nie. Ek het nooit daaroor gepraat nie. Kon nie.

    Eers toe ons begin troureëlings tref, het ek gepraat. My arme ma en pa. Dit was 'n geweldige skok. Maar ek is dankbaar vir hul liefde, hul gebede, hul ondersteuning en daar wees vir my.

    Met my eie kinders nou al byna groot, wonder ek - sou ek dit ooit agterkom? Is my verhouding met my kinders oop genoeg om dit op te tel?

    En ek moet erken, ek weet nie.

    ReplyDelete
  7. Dank je wel voor het delen van je verhaal! Het is zeker goed om dit te lezen. Er zijn meer vrouwen als jij en dat is verdrietig genoeg! Misschien helpj jij hen met dit verhaal.

    ReplyDelete