Sunday, October 23, 2011

Twee weke vakansie? - Uitmergelend... :)

Dit sou, soos altyd, net 'n week gewees het.
Want dis hoe dit is.
Net sewe tot tien dae per jaar. Dit is wat ons onsself toelaat.

Februarie kry ek 'n epos vanaf 'n tuisopvoeder-moeder. Eintlik dié TO-moeder in Suid-Afrika. Hul gesin was genooi om 'n tuisopvoedergroep in Upington te besoek en toe te spreek, maar hul program is so vol dat hulle graag bietjie wou afskaal. Sou ons dalk belangstel om in hul plek te gaan?

In die eerste plek was ek totaal verslae, verbaas. Op grond waarvan kan ek ooit droom om in hulle plek te gaan? Dis 'n eer, maar 'n geweldige verantwoordelikheid. Sien ek regtig kans? Nadat ek met die hoof van die huis konfereer het, besluit ons - Jip, ons sal gaan.

Maar... Waar is Upington?
So 'n 970km van ons af. 'n Entjie vir net 'n naweek.

En daarom besluit ons op 'n vakansie in Kgalagadi.
Ons is nou maar eenmaal SANParke-ondersteuners en het besluit om hierdie park ook te gaan uittoets. Maar om ons 1974-woonwa so ver te sleep is totaal buite die kwessie. Dus gaan ons in tente kampeer - nog 'n eerste!

Na heelwat gesels en gesprekke, foonoproepe en wenke, besluit ons om liewer via Botswana te ry, eers die week in Kgalagadi te kamp en dan die naweek met die tuisopvoeder-groep te kuier. Die rit deur Botswana sou ook twee dae duur en ons sou dan oorslaap op 'n plaas naby Tsabong - Berry Bush - waarna ons dan vroegoggend via Bokspits / Gemsbok grenspos Suid-Afrika sou binnegaan en na Twee Rivieren vir die nag.

Mmmmm. Verrassing. Henry KRY toe sy Limpopo-kleure! En raai, die SA's vind plaas in Bellville. We-e-l dan moet ek dinge net so 'n bietjie aanpas, sodat ons die Vrydag en Saterdag, in plaas van in Tsabong, dan in Bellville is.

Ag, maar dinge werk nooit soos 'n mens dit sou wou hê nie. Toe ek die SA Gimnastiek Federasie se webblad gaan opsoek om net sekerheid oor seun se program te verkry, sou ek sien: Hy neem reeds WOENSDAG deel!!

So, sonder slag of stoot, word ons vakansie tot twee weke gerek. Word Botswana gekanselleer en Mokala bespreek.

Vader is so groot en goed! Dinge werk somtyds nie presies soos ons dit beplan nie, omdat Hy 'n groter, beter plan het. Dis net dat ons so ongeduldig kan raak.

In Maart het ons 'n nuwe waentjie met 'n tent (nee, nie 'n daktent nie, net 'n los tent) en 'n verlenging vir die tent op Bid-or-buy gekoop. Die waentjie het effens skade gehad nadat die vorige eienaar die raamwerk gesny het om twee watertenks te installeer. Ek is geseën met 'n verskriklik handige man en hy het die waentjie nie net pragtig herstel nie, maar ook die spaarwiel geskuif sodat hy 'n kas vir die tentpale kon maak en onder die waentjie installeer.






 Verder het hy die waentjie ook van krag voorsien en 'n gasbottelhouer (wat ek by Challenger op die dorp gekoop het) installeer.




Ek het ook by Pik-en-Betaal 'n paar kratte gekoop wat ek later aangevul het met kratte vanaf die koöperasie om al die bagasie darem min of meer eenvormig gepak te kry.


Die voordeel van die kratte was hulle pas inmekaar en sodra een leeg word, kan dit in 'n ander ingepas word (en plek gemaak word vir 'n paar bokse Bolandse wyn ;) )

Later, soos wat die pakkery in erns toegeneem het, het ek besef dat ons klere - met die elke keer 'n nag hier en 'n nag daar - vir die dag gepak moet word. Weer het beterhelfte die idee: Kry by P-E-P Boutique van daai sakke wat die werkers gebruik soos tasse. Wonderlike gedagte. Teen R20 elk het ek sommer 'n hele klomp gekoop - nou is ons wintersklere ook in hierdie sakke, baie beter gesorteer en my kasruimte baie beter benut.

Alle geval, ek het elkeen se slaapklere, toiletsakkie, handdoek, duvet en kussing in hierdie sakke gepak.

En dis nou genoeg vir eers - ek moet gaan kos maak en die huis regruk.... :)

Sal hopelik weer later die week hier kan kom sit en kuier.
Groetnis van kombuis na kombuis.