Tuesday, January 7, 2014

Konsekwent

Ek het op facebook 'n skakel na 'n webblad geplaas en die volgende kommentaar daarop gehad:
Grense is so belangrik - veral vir kinders....
Dis uiters belangrik dat kinders weet wie dra die gesag in die huis, dat dit kinders is wat gehoorsaam moet wees, nie ouers nie! - dit is immers wat die Woord leer: kinders wees aan julle ouers gehoorsaam.

Dis tyd dat ouers die verantwoordelikheid wat God op ons gelê het, die gesag wat Hy aan ons gee, aanvaar en toepas!

Die dagstukkie op die webblad handel oor "Wet en Orde" oftewel dissipline.
Die Woord vir Vandag
Spreuke 13:24 NV
2013/07/22
Geskryf deur Bob en Debby Gass
Wet en orde (2)
  Kinders wat 'n vreugde is om mee saam te leef, word nie in 'n wettelose huis grootgemaak nie. Het jy al ooit die film Bonnie and Clyde gesien? Die storie van Bonnie gaan eintlik oor die ma wat haar grootgemaak het. Sy het altyd gedink alles wat Bonnie doen, is "oulik", maar Bonnie was nie so oulik toe sy op 'n moorddadige tog was nie. As jy jou kinders struktuur gee, laat dit hulle versorg en veilig voel. Hier is 'n paar riglyne: 
  1) Verduidelik die reëls duidelik. Om 'n kind te straf oor 'n reël wat hy nie verstaan nie, maak hom net meer wederstrewig. Hoe minder reëls daar is, hoe beter - maak die reëls verstaanbaar, uitvoerbaar en waarneembaar. "Preek" en moralisering skep net weerstand. 
  2) Dwing die reëls konsekwent af. Teenstrydigheid verswak jou gesag en kweek ongehoorsaamheid. 'n Paar dinge om te vermy, is: a) Vergelykings. Daar mag van geen kind verwag word om soos 'n ander kind te wees nie. b) Kwetsende etikette soos "Jy is dom, lui, sleg, 'n mors van tyd." Beskryf hul dade; moenie hulle eiewaarde afbreek nie. c) Ydele dreigemente. Dwing die reël af of los dit. d) Omkopery. Dit lei net tot manipulasie en doen afbreuk aan die belangrikheid van die reëls. e) 'n Gespot oor swakhede. 
   3) Moenie bang wees om "nee" te sê nie. Hulle toekomstige sukses en geluk is afhanklik daarvan of hulle kan leer om dit te hanteer. 
  4) Erken jou mislukkings. As jy dit egter soms nie doen nie, is jy steeds daarvoor verantwoordelik om te vereis dat hulle jou wette volg, en nie jou misstappe nie!
Sielskos: 2 Pet 1-3Luk 8:40-56Ps 146Spr. 18:23-24
Nadat ek die stukkie geplaas het, is dit ook deur ander op hul fb-profiele gedeel. So reageer iemand anders toe daarop met die woorde:
 Konsekwensie was nog altyd vir my moeilik. Ek het weer vir ons kids geleer die lewe is nie konsekwent nie; ek ook nie. Party dae is 'n reël vir my belangriker as 'n ander dag, soms is mens in 'n goeie bui, soms 'n slegte bui en soms het jy PMS!!!
 Dit was vir my 'n interessante redenasie.....


My enigste maatstaf is die Woord van God.
En juis daarom nie my menslike inkonsekwentheid nie.

Konsekwent in my huis, juis omdat alles daarbuite inkonsekwent is.
My God is konsekwent, al is ek nie.

Hierdie konsekwentheid het NIKS met my emosies te doen nie.
Dit het wel alles te doen met my dissipline.

Want 'n reël is 'n reël en moet as sulks eerbiedig en nagekom word. Net soos wat die landswette nagekom moet word. Net soos wat die tien gebooie nagekom word. Reëls, wette, gebooie kan nie oornag verander net omdat ek vandag sus of so voel nie.

Daarom moes ek dikwels al die kinders straf - al voel ek glad nie daarna nie!

Ek weet dat lyfstraf in die wêreldse beskouing as "uitgediend" of "onmenslik" beskou word, maar weereens, in die Woord word ons geroep om die seun met die roede te tugtig. In ons huisgesin het ons probeer om ongehoorsaamheid met lyfstraf te straf.

Ongehoorsaamheid, m.a.w. daar waar 'n direkte bevel verontagsaam is, lynreg teen die bestaande en bekende reëls opgetree is.

Enige ander gebeure is met 'n frons, 'n vingertik, 'n preek of 'n "kamer toe!" hanteer.


Ongehoorsaamheid is die een ding wat keer op keer in die Bybel aangespreek is. Dit is die moeder van alle sondes. Die grootste rede vir Israel (en ons eie) keer op keer se afdwaal.

Ek het 'n kleintjie dood aan ouers wat hul kinders verwar deur die een oomblik "nee" en dan, na 'n ruk weer "ja" te sê. Uiteindelik kan die ouer nie verstaan hoekom die kind dan nie luister nie.....jammer, maar jy is die oorsaak!

Ek het, bietjie laat in my lewe, in Marina Petroupolis se boek 'n groot waarheid raakgelees. Dit kom daarop neer: Dink twee, drie keer voordat jy nee sê. Is dit WERKLIK nodig om hier en nou nee te sê? 

Dit het my hele uitkyk en die vinnige "nee" sê stopgesit. Dink, en sê dan meer kere ja.



No comments:

Post a Comment