Tuesday, February 25, 2014

"gesiglose" vriende

Wie sou dit kon raai?

Om mense wat jy glad nie ken nie, "vriende" te noem....

Tog gebeur dit. Jim Reeves het lang jare gelede gesing: "A stranger's just a friend you do not know."

Ek was bang vir facebook (dalk eerder vuisboek). Bang omdat dit onbekend en te blootgestel gevoel het.
Ek het my kuierwerf (blog) te veel geniet om dit op te gee vir kort nuttelose inligtingsbrokkies op 'n kuber-muur. Graffiti op 'n elektroniese wolknewel.

Uiteindelik het nuuskierigheid die oorhand gekry en my kuierwerf daaronder gely. Want vuisboek het my in sy ystervuis beetgekry. Loskom is min. Verslawing is maklik.

Maar die eienaardigste was die hoeveelheid "blog-vriende" ek op fb raakgekuier het. Ou-ou bloggers, die klompie wat my in my "eerste lewe" laat welkom voel het. Ons almal se blogs het bietjie gaan stilstaan, maar op fb het ek hulle opgespoor.

Geleidelik groei 'n mens - en nou kan ek nie meer een van hulle kuierwerwe opspoor nie. Net Estelle s'n wat ek nog kort-kort by inloer.

Maar terselfdertyd het ek soveel nuwe vriende gemaak. Facebook bied groepe en in hierdie groepe het ek mense gevind wat soos ek dink, wat soos ek glo, vir wie hul Christenskap ononderhandelbaar is, wat tuisopvoeding nie as 'n geheimsinnige iets uit die buitenste ruim beskou nie, maar saam met my gesels en verstaan hoe dinge soms gaan.

Vriende wat ek so nou mee verbonde geraak het, dat ek hulle onvoorwaardelik in my huis sal ontvang - al het ek hulle nog nooit in die oog gekyk nie.

Linnie  is een so 'n vriendin. 'n Kosbare geskenk uit God se hand, 'n vriendin op nie net emosionele en fisiese, maar veral op geestelike vlak. By haar het ons ingeval tydens 'n Kaapse kuier, want die kilometers skei ons.

Elize is ook 'n vêr vriendin. Een wat kans gesien het om 'n fb-vriendin wie sy nog nooit gesien het nie, se ouers verblyf aan te bied toe my pa in 'Maritzburg 'n operasie moes ondergaan.... Ongelooflik!

Nelba, Leticia (my meisiekind) en Esther is nog van die Afrikaanse kuierwerwe waar ek gaan loer, en 'n gunsteling is dié van 'n Amerikaanse gesin.

Daar is sovele ander vir wie ek nog wil ontmoet. Ek het al verskeie ontmoet, hetsy per telefoon met navrae of op reis deur die land. Andere sal ek eers in die hemel mee kan kuier, want aardse tyd is net te min.

Wie sou dit ooit kon raai?

Nou, hier na 40, besef ek eers dat vriende dikwels in ongewone gedaantes oor jou lewenspad loop. Hier het ek nou 'n nuwe blogvriendin uit Nederland! Waar anders as op die net sou dit moontlik kon wees?