Monday, February 9, 2015

Uitdaging: Orde Skep (6) - Kombuis (5): Yskas, Vrieskas, Resepteboeke

Ek is steeds besig met die uitdaging, maar die Februarie-take het nie veel impak op my huis nie.
Februarie word gekenmerk deur resepte uitsorteer ('n hele week lank), en ook om 'n herwinningshoek in die huis te skep (wat in Suid-Afrika se platteland geen sin maak nie).

Ek is wel besig om my handgeskrewe resepte op 'n tablet te tik en dan die tablet in die kombuis as kookboek te gebruik. Of dit prakties gaan werk, weet ek nie. Maar dis 'n poging om die papier-oorlog in my huis te wen.

Wat die regpak van die yskas en vrieskas betref, was ek darem minder skuldig as vele ander. Ons eet al ons oorskiet binne 'n dag of twee op, daar is nie oopgemaakte flesse van 'n jaar of ses gelede in die yskas nie. Die kisvrieskas is 'n uitdaging, maar ek wil (wanneer ek eendag weer in die stad kom) gaan kyk of ek nog vrieskas-mandjies iewers kan koop.

Ek kan glad nie met 'n inventaris op my yskas, vrieskas of kruidenierskas werk nie. Daarvoor is ek te ongeorganiseerd (en na 40 + jaar gaan ek nie nou verander nie).

Foto's sal later volg, ek wou net laat weet - ek is nog besig met my regpak en wegpak-taak vir die jaar.

Groetnis