Thursday, June 14, 2018

Is dit die moeite werd om aan te gaan?

Ek het die stryd verloor.
Twee keer verloor.
En weet eerlik nie of dit die moeite werd is om voort te gaan nie.

Rou, eerlik, emosioneel.
Dis wat hierdie inskrywing gaan wees.

Ek kyk na Gretha Wiid se kort videos oor huwelik, kommunikasie en tegnologie... en ek weet - ek faal, ons faal.
Sy noem dat mens aan die huwelik moet werk.

Werk.
Ek sien nie meer kans nie.
Te veel konflik en onbegrip, wanverstaan. My onvermoë om my behoeftes, my vrese, my drome te kommunikeer sonder om konflik te wek.

Want elke enkele keer wat ek myself oopmaak, blootstel, is daar konflik - elke keer!

Waarskynlik word dit telkens as kritiek, 'n persoonlike aanval, 'n refleksie op sy persoon gesien.

Is dit dan, na 26 jaar, nog die moeite werd? Is dit?

In 26 jaar, geen geskenk - Kersfees of verjaardag - wat hy vir my gaan koop het nie. Sy verskoning is dat hy nie tyd het nie. Al wat dit vir my sê is dat ek onbelangrik is. So min werd dat hy nie van sy kosbare tyd aan my kan spandeer nie. Wanneer daar in planttyd (beide Kersfees en my verjaardag 2 weke later, val in planttyd) 'n hidroliese pyp bars, 'n skakelaar op 'n trekker groet, 'n band bars, dan is daar tyd om dorp toe te ry, met die eienaar van die besieid te ginnegaap, totdat die werkers klaar het... sy werk is belangriker as ek - die boodskap wat ék ontvang.

Moedersdag en Valentynsdag word totaal geïgnoreer - bloot 'n geldmaakfoefie van die Jode.... ek kry nie eens koffie in die bed of 'n blom uit die veld nie. Onbelangrik, niks werd.

Tyd.
Tyd saam.
Wel.... hy staan so half sewe soggens op (ek staan so vyfuur, half ses op om Bybelstudie te doen en kos voor te berei) en ons eet sewe uur. Half agt begin hulle werk.
Hulle werk tot, wel, tot die werk vir die dag klaar is. Amptelik tot half ses saans, maar letterlik tor maklik nege uur saans in spitstyd in die somer en tot ses uur, half sewe in die winter.

Ons eet elke middag tussen een en twee, alhoewel hulle dikwels eers half twee by die huis instap.

Ek moet teen nege uur gaan slaap om weer vyf uur te kan opstaan.
Tyd...

Maar die grootste veldslag wat ek verloor het is teen die oorfone, Youtube en wifi.

Dis al wat daar nou is.
Wanneer ek wil praat, moet ek die oorfone uit sy ore haal...
Selfs aan tafel...
En as ons kuiermense het...
En saans na donker in ons bed...

Na ek my bedlampie afgeskakel het, kruip hy net onder die lakens in, sodat die flikkerende skermlig my nie moet pla nie... (onthou kindertyd in die koshuis, hoe het ons met 'n flitslig in die bed boek gelees?)

En as ek hieroor praat...
Het ons net weer 'n uitval...
En ek sien nie meer kans nie!

Sy verweer is dat ek heeldag op die skerm is (en ek kan nie stry nie, wanneer hy by die huis kom, is ek op die skerm - of dit nou is om e-posse te lees, banksake te doen, die boekhouding te doen, op Facebook te wees, my wiskunde videos te redigeer of om my webwerf te probeer aan die gang kry) en dat hy nie bedags tyd het vir dit nie. Hy wil saans dit doen...die boodskap wat hy kry is dat ek hom niks gun nie.

Is dit die moeite werd?

Hoe praat ek met my man dat hy my hart sien, dat hy my emosie eerder as my woorde hoor?
Hoe praat ek dat hy dit nie as persoonlike aanval ervaar nie?

Ek is moeg.


Saturday, February 17, 2018

"Create a white space"

Dis nou al 'n ruk wat ek die facebookblad van "Becoming unbusy" volg.

Daar is soveel waarmee ek aanklank vind.

Een van die besondere idees is juis om minder goeters te hê sodat jy meer van jou kosbare tyd met geliefdes en die dinge waaroor jy passievol is, kan spandeer.

So is ek (voel of dit al járre is) besig om te sorteer, weg te gooi, reg te pak.

Een van die uitdagings was om 'n oop ruimte, "a white space" te skep.

My uitdaging is my slaapkamer.
Ek maak minder...
Geliefde vergader....

Maar ek het my helfte van die kamer nou getakel. Uitgegooi, reggepak (heelwat binne in die kaste, maar gaan nou nie dit op die blad plaas nie) en sodoende een bo-kas en een rak in my kas leeg gekry om dinge wat buite rondstaan, binne te pak.

En kyk:

Só het dit altyd maar gelyk.
Die plastiese houer links voor het my haarborsels, naelknippers, knyptangetjies en elke 
ding waarvoor Elisa 'n plek soek, ingehad.

Die blou houer daaragter is my "juwelekissie". Ek is egter glad nie 'n juwelemens nie
en gebruik dit slegs Sondae. Geen sin om dit hier te hou nie. Dieselfde geld die kleiner spieël.

In die houtkassie regs voor was altyd herlaaibare batterye, tasslotjies met sleutels... 
sulke fieterjasies.

En die osoonmasjien (een groot borrel - maar darem lekker vir 'n borrelbad!!)


Nadat ek die rak in die kas leeggemaak het, kon ek alles daarin pak.
Ek het net die inhoud van die plastiese bak en dié van die houtkassie omgeruil.

Skielik het ek 'n grote "white space" wat my sommer bangmaak....
Want dis darem erg wit...

Ek soek 'n "iets" daar... miskien 'n plant?
Maar potplante vrek onder my hande.



Toe takel ek maar die volgende kamer - die sitkamer.
Die foto het ek daar gaan "steel".
Ons lyk mos darem lankal nie meer so nie... 😉



Steeds pla dit.
Die wit van die foto-karton is nie meer wit nie...
Inteendeel, dit lyk of die spulletjie een of ander tyd water gekry het.

Om planne te maak met net dit wat in die huis is.... geen ekstra koste nie.

Die groen werk vir nou. Miskien as daar eendag 'n los randjie rondlê, 
kan ek 'n beter plan as hierdie maak.



En daarna...?
Het ek die ou hoëtroustel weggedra.
Ek mag dit nie weggooi nie....
maar dit werk lang jare nie meer nie.

Die asblik?
Tinktinkie, ons toypomeranian.
Sy snuffel in die asblikke, klim pens en pootjies daarin
op soek na iets om te knibbel en te knaag.

Daarom moes die asblik boontoe.

Groetnis

Thursday, August 10, 2017

Wat is daar vir middagete? AIP-dieet

Wanneer mens vir die eerste keer met die AIP ("autoimmune protocol) te doen kry, sien jy net die lang lys kosse wat jy nie mag eet nie.... en jou moed lê laer as laag.

Dan, wanneer jy meer gemaklik in die dieet inbeweeg het, leer jy om te fokus op dit wat jy wel mag eet.

In my vorige inskrywing het ek vertel van die nuwe facebookgroep waar ek lid van is.

Ek het gedink om vir so 'n paar dae die kos op ons tafel te deel... net om te wys dat dit nie só onmoontlik is nie.

Vanmiddag eet ons T-beenskywe, lemoenwortels, patat-en-blare en skorsies.

Die T-bene braai ek in my elektriese braaipan. Ek gebruik olyfolie daarvoor (nie die beste opsie nie, maar klapperolie en vleis werk nie so lekker saam nie). Om die vleis te geur gebruik ek ongejodeerde seesout en my tuisgemaakte mengsel kruie: tiemie, roosmaryn, basiliekruid, pietersielie, knoffel, salie, kerrieblare, origanum. Tiemie gebruik ek 3 dele, roosmaryn 2 dele en dienres elk een deel.

Die skorsies het ek net bloot in water gekook.

Die wortels het ek (gebrand!) in water gekook met die sap van 'n halwe lemoen daarby.

Die patats het ek ook gekook, maar 'n eetlepel klapperolie daarby gegooi. Daarna het ek kale-blare, spinasieblare en chinese koolblare gesnipper en bygegooi. Die spulletjie gaan ek nou almal megpng om 'n tipe "boontjie-en-aartappel" dis te maak.

En dis dit - 'n smaaklike bord vol kos!

Monday, August 7, 2017

Die AIP dieet vir onderaktiewe skildklier en Hashimoto's

Ek het by 'n nuwe groep op Facebook aangesluit.
Ja, 'n groep vir mense wat sukkel met onderaktiewe skildklier en / of Hashimoto's.

Hierdie inskrywing is vir daardie mense, daardie dierbare vriend(inn)e in verdrukking...

Die inskrywing is lank nie volledig nie, lees asb verder op, doen navorsing en bemagtig jouself.

Is die AIP die wonderkuur?

Ek wens ek kon sê: "Ja!"... maar ek kan nie. Nee, die AIP is nie 'n wonderkuur nie. Dit is slegs maar die eerste stap in 'n lang proses om lewensgehalte te verbeter.

Sunday, July 23, 2017

Hoe gaan dit met jou...?

Vanoggend se skermpreek (dis nou wanneer ons nie 'n aflos-predikant kon kry nie en na 'n opgeneemde video van 'n erediens kyk. Soveel beter as vroeër jare se leespreke, waar 'n ouderling 'n geskrewe preek voorgelees het.) het gehandel oor omgee. Die verbond wat God met ons gesluit het, sluit onder meer in dat ons as gelowiges vir mekaar moet omgee, vreugde, hartseer, laste, pyne, alles moet deel.

Friday, July 14, 2017

E-pos-etiket

Is daar só iets?

E-pos-etiket.

Veral in 'n besigheidsituasie.

Jy kan mos nie, wanneer jy namens 'n firma, onderneming, maatskappy 'n e-pos stuur dit hanteer soos jy 'n brief aan 'n kollega, vriend of familielid sou stuur nie?

Sekere beginsels kan eenvoudig nie prysgegee word nie.

So ontvang ons onderneming 'n e-pos.

Die naam van die versender is bloot 'n naam en van, kom ons sê maar Erna Groen. Die e-posadres vanwaar die brief kom is bloot 'n algemene e-posverskaffer, sê maar gmail.

Dus 'n brief van ene Erna Groen met adres ernagroen@gmail.com.

Die onderwerp lui bloot: Nuwe bankbesonderhede.

Die briefinhoud het geen verwysing na watter maatskappy dit gestuur het nie. Daar is ook geen briefhoof, maatskappy-embleem of enige prentjie wat mens leiding kan gee nie. Dit word bloot onderteken deur die Erna.

Die nuwe bankbesonderhede is per aanhangsel by die brief aangeheg.

Ek moet dus 'n aanhangsel oopmaak (waarteen antivirusprogramme waarsku) om uit te vind watter maatskappy se bankbesonderhede verander het en of dit enige invloed op ons onderneming het.

*********************************************

Wat sou dan 'n beter, meer korrekte voorstel vir so 'n brief wees?

1) Maak baie seker dat die "naam van versender" wat by die kliënt verskyn DUIDELIK en BESKRYWEND is. Groter maatskappye het hul eie webwerwe met 'n hul eie e-posopsie waaruit die naam afgelei kan word, bv navrae@telkom.co.za of ernagroen@sasol.co.za. Indien jou maatskappy van 'n gratis e-posdiens soos gmail gebruik maak, verander dan die versender naam na die maatskappy naam.

Dus - al is jou e-posadres ernagroen@gmail.com, is die versendernaam byvoorbeeld XYZ.


2) Skep 'n eenvoudige handtekening - dit hoef nie eens 'n prentjie te bevat nie - om die maatskappy te identifiseer. In gmail is die opsie beskikbaar onder die verstellings. Tik bloot die maatskappy se gegewens in. Byvoorbeeld: XYZ (Pty) Ltd, Posbus 123456, Lyttleton, 0154. BTW nr 456123789. Tel nr 015 248 5556. Jy hoef nie tierlantyntjies by te voeg as jy nie weet hoe nie. Die inligting is voldoende.


3) Indien bogenoemde twee punte nie vir jou moontlik lyk nie.... Asseblief, maak dan gebruik van die onderwerpveld om meer verduidelikende inligting te gee. Byvoorbeeld: XYZ (Pty) Ltd - Nuwe bankbesonderhede.


4) Moet onder geen omstandighede 'n e-pos stuur met bloot 'n aanhangsel sonder enige briefinhoud nie. Dit is darem baie swak... Selfs groot maatskappye doen dit.

Tik bloot iets soos: 
Goeie dag
Vind asseblief aangeheg u rekeningstaat vir Oktober.
Met dank

En laastens:
5) Moet nie té familiêr raaknie. Behou professionaliteit - jy tree namens die onderneming op. Selfs al ken jy die kliënt persoonlik, is dit nie nou 'n briefwisseling tussen julle persoonlik nie, maar tussen twee besigheidsentiteite.


Groetnis


Monday, June 5, 2017

Beste mamma van dogters

Hierdie brief skryf ek aan jou, mamma van dogters, as 'n mamma van seuns.

Jy sien, my seuns raak nou mooi groot (gans te vinnig na my sin) en dit lyk of die meisies nou sinnigheid in my jong manne kry. Wat natuurlik en reg is ook.

Ek het hulle immers grootgemaak met die een doel, wees 'n waardige man en pa wat jou eie huishouding goed kan regeer, jou kinders kan dissiplineer, na wie die samelewing kan opkyk. 'n Man met verantwoordelikheidsbesef, nie 'n drinker en 'n vloeker nie, opreg, eerlik, hardwerkend.

En, met die genade van die Here alleen, het hierdie jongmanne hierdie dinge ter harte geneem. Hier het een bietjie meer as daar. Maar alles in ag geneem, goeie manne. Maar, mánne. In die tradisionele sin van die woord. 'n Man wat alles vir sy vrou sal feil hê, sonder om verfynd te wees. 'n Man wat sal vasstaan in dit wat hy glo en sy gesin daarin sal lei.

'n Man.

Die een wat sal jag, die jong bokkie sal sien wat God na hom stuur en haar met taktiek die hof maak.

Maar nou, mamma van dogters, is dit opvallend dat jou dogters graag jagters wil wees. Sy vra na my seuns se nommers....? Sy reik uit, wil kontak maak, wil hom vang....?

en die reaksie is presies wat sy nié wou gehad het nie. Sy laat die seuns vlug. Letterlik vlug.

God het ons kinders verskillend gemaak. My seuns en jou dogters. Verskillend, met 'n baie spesifieke doel. Verskillend, om in die Godgegewe rolle in te pas.

Dit is wanneer ons as ouers, ons kinders buite hierdie natuurlike geskape rolle wil dwing, dat dinge skeefloop...

En daarom wil ek jou vandag vra, asseblief. Leer jou dogters om vroue te wees. Om hul vroulikheid te omhels. Om sag te wees, moeders te wees, die roeping wat God aan hulle gee ten volle uit te leef en, jammer, maar dit is nie 'n beroepsroeping nie. Die vrou is geskape as die man se hulp. Haar roeping is om hóm te ondersteun sodat hy in sy beroep kan uitstyg, man kan wees, volledig kan wees. Leer haar om hom te dra, sodat sy die volle vreugde daarvan kan pluk.

O, en leer haar dat sy nie agter hom aan moet bel, whatsapp boodskappies stuur of (goeie genade tog!) sy ma moet kontak om hom in die hande te probeer kry nie. Al wat ek vir hom sê is: Hardloop, boetie, hardloop!!!

Groete
Mamma van seuns


Monday, May 29, 2017

Om terug te staan ...

... en stil te bly.

Ek kon dit geredelik regkry om die kinders toe te laat om self besluite te neem.
Klein-kleintyd het ek bloot keuses aan hulle gegee ("wil jy die groen of die rooi hemp aantrek?") wat aan die kleinding die gevoel gee - ek het self besluit wat ek gaan aantrek.

Met grootword het dit relatief maklik gegaan, omdat ek glo dat elke mens deur eie ervaring beter en meer leer as deur waarneming of ouerlike "preke". Dus het ek die kinders sekere verantwoordelikhede gegee en tot 'n mate toegelaat om self keuses te maak.

In my eie lewe het die pad maar op- en afdraand geloop, wie van ons draf heelpad gelykpad? Tradisioneel swem ek stroomop. Rebels in byna alles, tog ook tradisievas in ander opsigte.

Soveel so dat ek nou onlangs in 'n Facebook-groep só daaroor skryf:
Eers was dit tuisonderwys....
Toe raak God my hart oor voorbehoeding, oor oorgawe, oor beheer... deur die tuisonderwys e-posgroep.
Daarna volg evolusie en skepping.
En nog later inentings, vroedvroue, organiese kos....
Ons elkeen se pad sal verskil, elkeen het ander plekke waar Vader aan ons snoei, timmer, beitel. Maar Hy is voortdurend met ons besig.
Oor sommige goed was ek al bitterspyt, hoekom het Hy my nie vroeër al hierdie dinge gewys nie, dan kon ek ook mos...?? Waarop my dierbare ander helfte antwoord: "Jy sou nie toe geluister het nie." Eina! Dis so waar!!!
Dan wens ek, hoop ek, bid ek dat my kinders vroeër oopkop sal wees, gouer sal luister en gehoorsaam.
Maar, meteens staan ek voor 'n struikelblok, 'n groot rots, 'n berg...
Iets wat ek nooit in my dag des lewens gedink het vir my so moeilik sou wees nie.
Om my kinders toe te laat om hul eie besluite te neem, hul eie lewe te leef, hul eie foute te maak en bowenal hul eie drome te realiseer.

Dikwels lees mens en hoor mens dat ouers hul drome deur hul kinders probeer verwesenlik. Ek het my bes probeer om dit nie in my kinders se kinderjare te doen nie.

Ek vermoed die feit dat my kinders tuisopvoeding gehad het en nie in 'n hoofstroomskool was nie, dalk veroorsaak het dat ek in elk geval nie my drome op hulle kon afdruk nie.

Maar, daar is grootmensdrome, goed wat ek, sou ek my lewe kon oorleef, anders sou doen...

Is ek dan nou besig om dáárdie drome, daardie "spytwees" op hulle af te dwing....?
Mag ek daarvan behoed word, maar ek vang myself dat ek nie wil toesien dat hulle dieselfde foute as ek maak nie, nie met dieselfde spyt en letsels loop nie...

Wees tog oopkop, my kind. Lees oor alles en bedink alles wat jy lees. Moenie net volg waar ander getrap het nie, trap jou eie spore...

Groetnis

Sunday, May 14, 2017

Vandat ek haar geken het, was sy in die rolstoel.

Dit was deel van wie sy was.

Ons was lief vir haar - baie.

Wanneer sy bietjie laat gelê het die dag, het ons mekaar in haar rolstoel rondgestoot.

Haar hande... reguit vingers wat nie meer 'n breinaald kon hanteer nie.

Min kon ek verstaan, wie as kind dink tog ooit daaraan, hoe en hoekom dit gebeur het. Dit was maar net só, ouma Frieda was in die rolstoel.

Ouma Frieda het altyd Wilson's Cream Caramels in die laai langs haar bed gehad. En pakke vol van daardie deurmekaar lekkers wat jy per kg by die kiosk in die groot winkels kon koop. O lekkerte wanneer sy sê:  "Trek gou oop die laai."

My herinneringe aan ouma begin op die plaas, ons grootwordplaas, in die Memel distrik. Ouma het tussen haar sewe kinders geswerf, dan drie maande by die een dan by die ander gebly. Dit was vir ons kinders lekker om ouma sulke tydjies by ons te hê. Maar ons gaan skool, ons weet nie van skoonfamilie en allerhande sulke dinge nie.

Op 'n dag, ek weet nie wie die besluit geneem het nie, het ouma 'n woonstel in Pretoria gekoop. Naby Burgerspark - dit onthou ek. Ons kon park toe stap en ons kon by die museum ook gaan draai - daar was 'n groot dinosourusgeraamte in die tuin van die museum.

Ouma het gemaklik en regtig gelukkig in haar woonstel gewoon. Sy was op die derde (as ek reg onthou) vloer en die hysbak het twee stelle deure gehad. So 'n traliegedoente en die eintlike glasdeure. Ek dink dit was dalk die tyd wat sy op haar gelukkigste was - totaal onafhanklik.

Maar, soos die jare aanstap, het ook die ouderdom haar gevang en kon die kinders haar nie meer alleen in die stad laat bly nie. My oom-hulle het 'n woonstel aan hul plaashuis gebou en ouma het 'n hele ruk by hulle op die plaas gewoon.

Kort daarna het Memel 'n eie dienssentrum vir bejaardes gekry. Ouma het 'n woonstelletjie daar gekry. Selfversorgend en gelukkig. Sy het die Bybelstudiegroep gelei. Memel se NG Kerk gemeente het 'n direkte uitsending van hul Sondageredienste na die ouetehuis en so kon hulle die erediens op hul televisieskerms sien. Ek was as getroude vrou ook by ouma in dié woonstel. Hier het sy die suiker in die yskas gebêre omdat die miere dit betrek. Ons het elke liewe keer wanneer na my ouers in Newcastle is, by ouma gaan koffie drink. Goeie en lekker tye.

Een dag kry ek die oproep. Ouma het uit haar bed geval. Hulle vermoed sy het 'n beroerte gehad. Sy gaan na Avondvrede op Vrede. Hier het ouma versorging gehad en tot met haar afsterwe in 2000 daar gewoon - sy was 80.


Maar, waar ek vandag by ouma ronddwaal.
Gewrigspyne.
Polse, enkels.
Elmboë, heupe, skouers.
Ja, selfs my rug....

'n Groot deel van die vrees rondom outo-immuniteitsiektes is dat 'n tweede en 'n derde siekte jou kan beetvat. Dis asof jou immuniteitstelsel 'n vernietigingspad vat en nie van koers af gaan nie.

Rumatoïede Artritis.
Anders as osteoartritis, anders as gewone rumatiek.
Die immuniteitstelsel val die gewrigte aan.

En dit was wat ouma Frieda in haar rolstoel geknel het.

Hierdie pyne wat my vasvat, maak my soms bang... ek sien vir ouma.

Hoeveel seer het sy gehad wat ons niks van geweet het nie? Hoeveel?

Sy was maar 44 toe haar man aan 'n hartaanval gesterf het.
Sy was meteens alleen met 'n skuldlas groter as wat hul eiendomme kon delg.
Alleen met sewe kinders, waarvan die oudste 24 en die jongste 11.
Alleen met 'n seun as tokkelok-student op Maties, die jongste drie nog op skool...


Die liggaam se immuniteitstelsel val nie net sommer die liggaam aan nie. Daar is eerstens 'n paar faktore wat teenwoordig moet wees (genetiese komponent, spanning en uitwendige faktore - voeding en blootstelling aan gif) en tweedens 'n sneller. Die sneller kan trauma, skok of langdurige (kroniese) stres wees.

Die sneller in ouma se geval was haar man se afsterwe.

Ek is 45.
Die enigste iets wat ek as sneller kan sien is kroniese stres...

Maar, wanneer ek in die bed lê en my gewrigte so seer is. Wanneer ek iets wil optel en my hand rebelleer, dan dink ek aan ouma... vir 35 jaar het sy met soveel pyn saamgeleef, en ons het nooit daarvan gehoor nie.

Gewrig- en spierpyne is deel van Hashimoto's, alhoewel Rumatoïede Atritis dikwels ook op Hashimoto's se spore volg.

Daarom is dit so belangrik om reg te eet, om die immuniteitstelsel se vernietigingspad te stuit.

Saturday, May 6, 2017

Oor 'n pad en 'n kruis....

Uiteindelik probeer ons elkeen om met die realiteite van ons lewe te oorleef.

Ek het my kwota moeilikheid en probleme, met dit in my agterkop kyk ek rond en sien 'n ander wat klaarblyklik nie dieselfde probleme as ek deurworstel nie. Dan dink ek, wat weet jy? Jy wat gemaklik deur die lewe sweef? Wat weet jy van my pyn, my swaarkry, my worstelstryd?

Maar ek sien nie dat die ander ook maar sy eie worsteling en wroeging deurwerk nie...

Finansies is seker elke enkele persoon in hierdie land of straks nog op hierdie ondermaanse, se grootste hoofpyn en nagmerrie. Daardie nagte se wakkerlê en rondrol... hoe gaan ek al die punte bymekaar bring...?

So bekla ek my lot op 'n dag by my dokter. "Lyk my 'n mens moet skatryk wees om siekte te kan bekostig!" Sy het lekker gelag. Maar dis so waar... Veral vir ons wat nie van doktersbesoeke gewoonte maak nie. Inteendeel - daar gaan maklik twee tot drie jaar verby voor die huisdokter een van ons sien. Miskien het die feit dat ons privaatpasiënte is iets daarmee te doen.

Maar sedert die Hashimoto's diagnose het dinge verander en is my maandelikse medisynerekening astronomies! Ek is dit glad nie gewoond nie en word letterlik siek elke keer wanneer die rekening kom. Hoe kan ek my man se swaarverdiende geld so uitmors?

Tydens 'n ander doktersbesoek, 'n funksionele dokter wat 'n hele uur lank konsulteer en meer bloedtoetse as fisiese ondersoeke doen, gesels ek met hom oor die koste van hul medisyne (als ingevoer want in SA is die "alternatiewe praktisyns" mos byna uit die bose). Die gesprek het uiteindelik 'n heel ander wending geneem. Hy het vertel van sy ondervinding en bankrotskap... hoe God hom deur dit gedra en laat groei het.

En ek het gedink hy het dit gemaklik. Mos 'n dokter.... konsultasie van R1000 / uur. (Wat egter baie goedkoper uitwerk as die huisdokter se R350 / kwartier!) Hoe sou ek ooit kon raai?

Mense kyk na die plaas, die trekkers, die implemente en dink: julle sit daar goed in....
Helaas nie.
Want sien, dis soos die dokter se spreekkamer, sy instrumente, die kardiomasjien, die sonarmasjien en al die ander doktorsgereedskap. Of soos die ingenieur se draaibank, freesmasjien, bore. Of soos die padbouer se padskraper, vragmotors, teervretermasjien en andere. "Tools of the trade" sê die rooitaal.

Dis alles masjienerie, gereedskap wat in stand gehou moet word, gebruik moet word in die alledaagse werksaamhede om geld te genereer. Peperduur masjinerie daarby, meestal op skuld gekoop.

Dit beteken nie dat die dokter, ingenieur of padbouer superryk is nie. Inteendeel... soms vreet daardie skuld al jou leef en asemhaalgeld ook op. Want masjiene het die geneigdheid om te breek juis wanneer die bankbestuurder knaend bel.

Wanneer mense dan vir my kwalik neem omdat my kinders nie  deelneem aan  buitemuurse aktiwiteite nie, nie universiteit toe gaan nie, omdat ek sommer 'n gewone kerkrok bietjie opdollie vir my enigste dogter se troue, ons die troue sovêr moontlik self gereël en hanteer het, omdat my huis in 25 jaar nog net een lagie verf gehad het, ek dankbaar bid vir elke tweedehandse kledingstuk wat ek en my kinders ontvang....
Dan wil ek uitroep - kom loop my pad!

Leef my lewe, nie net een dag nie, maar ten minste 'n jaar.

En dan, ja dan, dan kan jy kritiek lewer.

Wanneer my kruis te swaar raak
en ek om my kyk
na ander kruisdraers wat
selfs met 'n glimlag hul kruise dra,
dan wil ek na die Uitgewer van kruise gaan
en vra: Hoekom is my kruis so swaar?

Maar wanneer Hy dan ander
op die oog af ligter, gemakliker
gladgeskuurde kruise aan my uitwys
en uitnooi: Neem enigeen.

Dan kyk ek met nuwe oë...
Sien die kruis wat San, Jan en Gert
so gemaklik dra, sal my skouers
stukkend vreet,
Sien die kruis wat Piet, Linda en Marie
glimlaggend kon dra,
sal my rug breek
Sien dan 'n kruis, oud, versplinterd
maar bekend... so bekend...
dan lig ek my kruis met sy splinterlyf
en dra dit met nuwe krag,
met 'n glimlag en
dankbaarheid.