Tuesday, January 28, 2014

Bybelstudie Joh 2:1-12

Ek het vasgevang geraak in Facebook, ek wil dit sommer vuisboek noem. Want dit hou jou in sy vuis met 'n ystergreep. Dit maak jou vuisvoos voel.

Dit is hoe ek vanoggend voel.

Soggens vroeg doen ek Bybelstudie en deel graag los gedagtes oor wat vir my geraak het tydens hierdie kosbare uur met my Vader. Ek wil dit voortaan hier, op my eie kuierwerf doen, hier waar ek tuis voel...

So, sommer nog voor ek begin lees het in die Woord, sien ek die volgende in die dagstukkie:  "Dit is goed om in ons oordenking van hierdie verhaal te onthou waartoe Jesus hier was en waarom Hy die teken gedoen het. Dit lees ons in vers 11: '...en Hy het sy heerlikheid geopenbaar, en sy dissipels het in Hom geglo.' Dáárom gaan dit en daarom was Jesus by die bruilof. Hier was die bruid nie die belangrikste nie, maar Jesus Christus wat sy heerlikheid geopenbaar het.'"

Met uitnodigings na twee troues binnekort, tref hierdie enkele paragraaf uit ds MJ Booyens se boek, Elke dag in die Lig, my vanoggend weer.

Nie die bruid nie, nie die bruidegom nie, maar 'n Eregas, Hy is die Een om wie die dag en die seremonie moet wentel. Sy eer, Sy heerlikheid en, wat my betref, Sy heiligheid moet op 'n huweliksdag uitgelig word.

In my kinderdae was huwelike in kerkgeboue voltrek. Dit was, meer as vandag, as heilig en onverbreekbaar beskou. Ek dink daar is tog, miskien baie fyn en min, maar tog 'n onderlinge verband. Die kerkgebou gee 'n baie groter bewussyn van Goddelike teenwoordigheid, veral as jyself 'n gereelde kerkganger is, as wat 'n kapel, wat deur enige geloof gebruik word, by een of ander venue kan gee.

Maar, word Christus se heerlikheid nog geopenbaar by moderne huwelikseremonies? My ondervinding is dat die fokus eerder op die venue, die spyskaart, die bruidsrok, maar veral die kontantkroeg is. Dit maak my hartseer.

Juis daaroor het ek geweier om op 'n ander plek as my eie tuisdorp te trou. In ons eie gemeente. 'n Oggendtroue spesifiek, sodat daar geen sterk drank hoef te wees nie, 'n Kerk-troue met al ons familie en vriende én hul kinders.

Want, as die gemeente die onthaal se spyseniering doen, is dit heelwat goedkoper, die susters gebruik die kerk se breekgoed. Die kerksaal dien as eet- en kuierplek en musiek is bloot agtergrond, nie oorverdowende gedreun nie.

Dan kan Christus as Eregas ontvang word, kan Hy geëer word en is dit nie 'n dronknes nie.

Verder in die studie word gelees uit Ef 5:22-33, die vrou onderdanig, vol eerbied en respek aan haar man, die man liefdevol en versorgend, die voorsiener en beskermer.

En uiteindelik, die doel van die huwelik: kinders. Om 'n nageslag te hê wat God ken en vrees. (Mal 2:15)