Friday, May 5, 2017

Hoofpyn of hartseer?



Hierin lê soveel waarheid.

Na jare, wel, dit voel soms soos 'n ewigheid,, van kinders lei na volwassenheid - en dikwels faal en val, het ek dit soveel kere gesien.


Die hartseer wat ouers in later jare ervaar is meerendeels hul eie skade... Toe hulle moes optree, toe daardie twee-jarige die vloermoer gegooi het, die drie-jarige die gilkompetisie in die supermark gewen het, die tiener huisvensters laat ratel het, deurkosyne uitgegooi en in woede die huis uitgestorm het.... Toe het hulle moedeloos hul skouers opgetrek en verwys na "die stadium" en hul oë gerol, so asof ék moes verstaan waarvan hulle praat.


Wel, ek het nie.

Want in ons huis is ek en Andries die ouers. Hier lê ons die reëls neer, is die gesag in ons gesentreer en moet die kinders daarby aanpas en inval. As hulle nie wil nie, moet hulle die gevolge dra.

As jong kinders, kleuters ("haai siestog, die arme bloedjies!"), het hulle baie kere elke dag van die week pak gekry. Ons het van die heel begin af gesê: Ons praat een keer, net een keer.


Maar, dan moet ek as ouer seker wéét die kind het my gehoor en verstaan wat ek gesê het. Ek moet grond toe sak, na sy hoogte toe, hom in die oë kyk en die opdrag duidelik gee: "Henry, gaan bad." "Leticia bêre jou speelgoed." "Johan eet jou pap." "André trek jou klere aan."


Die opdrag is duidelik, nie verwarrend nie. Een opdrag op 'n slag. Oogkontak. En onmiddellike gehoorsaamheid word verwag. - Ek praat van kleuters en jong kinders, ouderdom 2 tot seker so 8-9 jaar.


'n Vloermoer het ons seker twee keer beleef, kom ons maak dit maar drie keer... Leticia het een keer haar lyfie op die grond gegooi en gegil. Ek het haar opgetel en haar 'n "oor-dentelike" loesing gegee. Haar daarna vasgehou en gesê: "As jy dit ooit weer doen, gaan ek saam met jou skree." Die tweede keer wat dit gebeur het, het ek ook op die grond gaan lê, gegil, my voete gestamp en lyf rondgegooi. Dit was die allerlaaste keer. Of sy die boeties iets in die oor gefluister het, weet ek nie, maar ons het nooit probleme gehad met tipiese tweejaar-tantrums nie.


Soms het ek so gelag, dat ek myself moes inhou, die kind pak gee en daarna kamer toe hol om te loop lag. Veral wanneer dit my lipstiffie ingesluit het... Foto's van betraande gesiggies besmeer met lipstif getuig daarvan.


Feit is, jy as ouer mag nie afwyk van jou dissiplinêre kode nie. Jy dra die gesag, wat jy van die Koning van die Heelal verkry het, en jy moet dit ten alle tye waardig wees. Jy is uiteindelik die een wat verantwoording aan Hom moet doen oor hierdie gesag wat jou toevertrou was.


Moenie dreig as jy nie jou dreigemente kan deurvoer nie 

"Ek gaan jou vir die wolwe voer" is belaglik, maar "ek gaan jou pak gee as jy nie nou stop nie" is uitvoerbaar.
So het 'n ouer op 'n dag vir my as die "heks in die verhaal" gebruik deur aan haar kind te sê: "Stop dit. Tannie Marelize gaan haar 'belt' haal." Ek het in my enigheid gewonder, gaan dit die kind laat stop...? Toe die kind ten spyte van die dreigement dit vir die derde keer doen, die dreigement vir die derde keer herhaal word, het ek opgestaan en Andries se gordel gaan haal. Ek weet nie wie se oë die grootste gesper was, die ma of die kind s'n nie.... Feit is - jy het vir die kind iets beloof... hoekom sien jy dit nie deur nie?

Moet nooit ooit ooit toegee nie

... As jy dit eenmaal gedoen het, gaan die kind dit elke keer probeer.

O, ek het dit gesien - male sonder tal.


My kinders het nooit in die winkels gekerm en gesanik oor lekkers en roomys, skyfies of koeldrank nie. Ek ken dit eenvoudig nie. As ek nee gesê het, was dit nee -  klaar. Nee het nooit in 'n ja verander nie. Dus was kerm uit. Hoeveel male sien ek ouers, veral in die vakansieseisoen hier op ons dorp, wat spartel met die kinders se gesanik.... en dan maar toegee.


Op 'n dag het 'n pa van drie dogters vir my gesê: "Maar as hulle huil...? Ek kan dit nie oor my hart kry as hulle huil nie. Dan gee ek liewer...."


Wat bereik jy, pappie? Watter boodskap stuur jy uit? Wanneer haar man op 'n dag in geldnood vir haar moet nee sê, gaan sy dan die tranekrane oopdraai? En as hy steeds nee sê....?


Nee, kry nou die hoofpyne, dra nou die moeilikheid, want later se hartseer, later se seerkry is groot, enorm groot...


Verantwoordelikheid - takies

Op 'n heel klein ouderdom kan kinders al heelwat takies doen. Hulleself aantrek, bed opmaak, tafel dek, opruim... Gee hulle daardie verantwoordelikheid en jy lei jong volwassenes op.

Ek het 'n niggie wat net nooit verantwoordelikheid geleer het nie. Nooit haar eie bed opgemaak, haar eie bad gewas, haar eie tas gepak, haar eie toebroodjie gemaak nie. Mammie was altyd daar....Nou is sy self 'n ma - o gonnatjie piet! Dis 'n nagmerrie.


Dissipline - Regverdig, altyd geldend, konsekwent toegepas (nie na jou gevoel nie)

Verantwoordelikheid - vir sekere huistake maar ook vir wat hy sê en doen.


Lyfstraf

Ons kinders het pak gekry. Nie mishandeling nie. Slegs op die boude.
'n Pak slae was die gevolg van direkte ongehoorsaamheid, want Satan is die vader van die leuen.

Toe ons vier elk so ouderdom 4-5 jaar was, het ek altyd gesê hulle kry meer pak as kos. Daar is so 'n jaar of twee wat dit regtig so voel.


Maar ek het nie tieners gehad nie. Die oudste twee is beide in hul twintigerjare en die jongste twee nou 13 en 15. Ek ken nie woedebuie, neerslagtigheid en tipiese tienernukke nie.

Ons kinders is jong volwassenes, omdat hulle as kinders dissipline geken het.


Groetnis