Saturday, March 19, 2016

Onderaktief tot Hashimoto's - die pad van diagnose

Soos ek in die  vorige inskrywing gemeld het, ek is in 2000 al met onderaktiewe skildklier gediagnoseer. Wat dus beteken dat Hashimoto's heelwat langer as wat ek daarvan bewus is, al in my liggaam aktief is.

Maar hoe het ek van die onderaktiewe skildklier bewus geraak?
Wat het my laat dokter toe gaan? Hoekom het hy vir skildklier getoets?

2000 - millenium jaar.
Ons was geseën met twee gesonde kinders, 'n dogter en 'n seun.
Maar ons wou graag meer as net twee kinders gehad het...

en niks gebeur nie.

Ons jongste was toe alreeds 4 jaar oud. Hy was op 4 maande gespeen. En ek het steeds melk in my borste gehad.

Is dit dalk hoekom ek nie swanger raak nie?

Maak 'n afspraak by ons huisdokter.

Hy het gekyk en gesê: Nee. Die melk is gans te min om ovulasie te onderdruk.
Bloedtoetse.

Toets vir verskeie hormone.

Op daardie stadium het ek nog elke woord wat dokters gesê as wet aanvaar. Ek het nog niks bevraagteken nie. Ek was 29.

'n Dag of wat na die bloed getrek is, het hy gebel. Hy het die uitslae ontvang, maar iets kwel hom en hy het verdere ontleding van die skildklierhormone aangevra.

Nog 'n paar dae verloop, toe die oproep. Jy het 'n onderaktiewe skildklier en moet van nou af elke dag 'n (hormoon)pil drink.

So sê die dokter, so doen die pasiënt - getrou elke dag.

Tot ek op 'n dag agter 'n ouerige dame in die ry by die apteek staan. Sy vra vir Eltroxin en Claas (die voordeel van 'n plattelandse dorp, almal ken mekaar) gee haar voorskrif, draai om om dit te bêre en ek roep om hom te keer. Ek moet ook Eltroxin kry. Waarop hy vriendelik antwoord, ja, maar jou gebruik die swaarder pil.

Rebellie het toe effens ontwaak. Hoekom? Hoekom moet ek op 29 'n hoër dosering as 'n dame meer as dubbeld my ouderdom gebruik? Ek is tog nie vet nie! (Op daardie stadium het ek so 60kg geweeg. 5kg swaarder as my troudag en 3 kg swaarder as my algemene gewig vanaf matriek tot na die jongste se geboorte)

Hierop het Claas my rustig geantwoord. "Daar is heelwat meer simptome as net bloot vetsug. Goed soos koue-intoleransie, geweldige moegheid."

"O," was al wat ek kon antwoord. Moegheid. Oordadige moegheid. Dit ken ek .

Ek moes elke middag na middagete gaan slaap. Vir ten minste twee ure per middag, elke dag. Anders kon ek nie die dag deursien nie. Is dit dan wat die skildklier aan my doen?

Die Eltroxin het beslis daardie simptoom hok geslaan. En ek het tevrede en gesus die pilletjie gedrink - vir 15 jaar.

O, ja, en swanger geraak na presies 'n jaar se behandeling. Ons het nog twee seuns ryker geword, voorwaar geseënd!

Snelrat - 2000 tot 2015.
Ek het nooit die onderaktiewe skildklier bevraagteken nie. Nooit oor die medikasie gewonder nie. Ons huisdokter op Potgietersrus het gesê as ek ooit voel die pilletjie doen nie meer die werk nie, moet ek hom laat weet, dan trek ons weer bloed. Maar solank die dosis vir my werk, dan is dit goed.

Met nabetragting besef ek, ek het nooit gevra hoe sal ek weet nie. Die enigste simptoom wat ek van bewus was, was die moegheid en solank dit wegbly, is ek gesond.

Na ons vierde kind se geboorte het ek stadig maar seker gewig aangesit.
Wel, ek word ouer, ek het vier kinders. Dis normaal... (is dit?)

Dan bereik 'n mens 'n punt waar jy eenvoudig nie meer omgee nie en gemaklik voel met jouself en jou eetpatroon. Uiteindelik het ek die skaal op 76kg getrek. Dit was vir my érg!! Ons het meestal net opgekookte groente of vars slaaie geëet. Sedert 2006/7 het ons koring begin uitsny en rogbrood begin eet. Met my gewig bo 70 het ek ook alle brood begin uitskakel.

Maar suiker.... Koffie in die winter, soet, lekker. Met nog 'n lepel vol "Hot Chocolate" in net vir liefde. Coke, sjokolade (net 'n bederfie na die wiskunde klasse)...

In 2014, na ons kuier in Nieu-Seeland, het ek daadwerklik begin om suiker ook uit te sny, bittermoeilik. Ek het wel so 2 kg in 10 maande verloor.

2015 - diagnose - Hashimoto's (sien inskrywing hier)

Vir die eerste keer doen ek deeglike navorsing (goed, goed.... gebruik en oorbruik ek Google) oor die hele siekte-ding. Presies wat gebeur met my? Wat gaan nog gebeur en hoekom?


Terugskouend kan ek skielik meer as net een simptoom uitlig.

Kroniese moegheid

Letterlik. Jy staan moeg op. Daar is geen, absoluut geen rede voor nie. Jy het 'n goeie nagrus gehad.
Soms kan jy glad nie slaap nie....

Koue hande en voete.

My man moes altyd my hande warm maak. In die kerk het ek my hande binne sy grotes toegevou, net vir daardie hitte.
Wanneer ek die babas se doeke moes ruil, moes ek eers my hande in warm water "ontdooi" voordat ek hul doeke kon losmaak. My hande was eenvoudig net te koud.
In my vorige kuierwerf het ek geskryf oor manlief se reaksie een aand wat ek my koue voete teen sy warm bene gedruk het...
As ek nie net voor ek in die bed klim, veral in die winter, 'n warm bad neem nie, kry ek nie geslaap nie. Ek kan eenvoudig nie my voete warm kry nie. Onmoontlik. Ek sal ure wakker lê en koud kry, selfs onder twee komberse.
Wanneer ek my voete uit kouse en skoene haal, is hulle yskoud - wol, mohair of katoen, om't ewe.

..... Maar ek het aanvaar, dis maar hoe dit is. 
Ander manne kla ook oor hul vroue se koue hande en voete.

Lae Libido (vrieskas)

Daar kon baie redes hiervoor wees, waarvan die vernaamste die seksuele molestering as klein dogtertjie (buurman). 
Of dalk my grootwordjare, die tyd waar daar nooit oor "die s-woord" gepraat is nie. Dit was taboe.
Manlief moes maar met min tevrede wees....
Ek het later selfs 'n hipno-terapeut gaan sien om te help met hierdie aspek van ons huwelik. Want ek het geglo dat dit in my kleintyd lê. Die terapie het gehelp, sommer depressie ook aangespreek.
Maar geleidelik het ek weer teruggeval in 'n "nie-vanaand-nie-skat" groef.
Hoe kon ons raai dat die vlinder-orgaan die skuldige is (al gehoor van bytjies en blommetjies...? vlinders en vruggies?)

....maar soveel vroue word deur mans en media as yskaste, koulik, vrieskaste beskryf.
Soveel grappies, skimpe, liedjies selfs, is daar al oor geskryf.
Wie beskou dit as 'n simptoom van 'n siekte?

Pynlike menstruasiekrampe, PMS, Siklus en vloei

Ag, nee, regtig! Almal het mos maar seer.
Ja, dit is so. Maar die Skrif sê met pyn sal ons geboorte gee, nie menstrueer nie!
Pyn, so erg dat ek elke maand die eerste twee dae moes klasse bank op universiteit.
So erg, dat ek flou geword het op kampus.
So erg dat ek nie sonder pynpille, warm baddens en warmwatersakke kon deurkom nie.
Daar was 'n tyd, na my kinders se geboortes, waar hierdie pyn verdwyn het! Waarlik, dit was weg. Ek kon leef en asemhaal.
Maar die laaste 3-4 jaar het dit met felheid weer toegeneem. Ander vroue kon nie glo dat ek na vier swangerskappe en geboortes steeds met soveel pyn sit nie. Dit was my realiteit.
My siklus was op 23 dae maksimum. Waarvan ek 3 dae hewige vloei ondervind het en vir 6 dae volle beskerming moes dra.
PMS - o genade! Vra my geliefdes. Irritasie, vinnige humeur, geïrriteerdheid.
Hoe moes ek weet dit alles is simptome van 'n onderaktiewe skildklier?

....want almal het mos maar seer, niemand praat regtig hieroor nie
Dis mos normaal, die media skryf dan soms daaroor,

Depressie

Na ons oudste se geboorte, het die suster gesê ek het nageboortelike depressie en moet daarna laat kyk. Manlief wou nie byt nie en het geglo ek moet my regruk.
In die tyd by die hipnoterapeut het hy depressie diagnoseer en my deur hipnoterapie gehelp.
'n Paar jaar daarna, stap ek die dokter se spreekkamer binne met vier siek kindertjies. Sy woorde was: "Vergeet die kinders, daar is fout met jou" en het ek my eerste dosis anti-depressante gekry. Vir ses maande...
Net om 2 jaar later weer deur 'n kursus te werk.

....Wie sou glo dis die skildklier se skuld? 
Ek het genoeg rede om andersins ook depressielyer te wees.
En daar is mos baie sulke pasiënte.

Kroniese sinus, nasale drup

Die liewe Bosveld. Die ding maak my behoorlik siek. Ek het permanent sinus, snuif-snuif aan 'n loop neus, sluk-sluk aan post-nasale drup.
Dis die stuifmeel, die grassade, die gifstowwe wat die saaiboere spuit, die stof...
Wanneer ek by my ouers kuier of by die see is, dan verdwyn dit, maar in die wildtuin is dit eens so erg.

.... dit was die eerste simptoom wat onder die nuwe behandeling
verdwyn het. My stem het herstel en my slymkeel is weg.
Dit was nie die Bosveld nie....



Die volgende klompie simptome het ek nie eens geweet ek het dit nie, nie voor dit verdwyn het nie.:

Geswolle gesig

Ek was mos maar oorgewig, dus is die swelling mos maar as gevolg van dit.

Pikswart kringe onder die oë

Ons predikantsvrou het keer op keer gevra: Is jy siek? Jy het hierdie donker kringe.
En ek het keer op keer geantwoord: Dis die sinus.
Of: Ek het nie goed geslaap nie.

Rustelose bene, hardlywigheid, boepens, die feit dat ek na die laaste twee kinders ook nie swanger geraak het nie...


Hier en nou - waar staan ek vandag?

Ek moet vertel.
Ek het die AIP (autoimmune protocol) begin volg en was werklik hondbang vir die eerste menstruasie na ek met die dieet begin het. Want ek mag geen pynpille nou drink nie. Niks. Ek het gebid en angstig gewag.

D-dag het aangebreek en .... voorwaar, geen pyn nie!  Dit was ongelooflik.
Daarna, maand vir maand, net 'n bewussyn van 'n dowwe kramp, maar geen pyn nie.

Ek het gewig verloor, verloor steeds... Ek weeg nou 58kg. En my klere hang soos sakke aan my.
My swart kringe onder die oë is weg.
My gesig is nie meer geswel nie.
My pa merk keer op keer op hoe mooi my vel geword het (ek het nie eens agtergekom dat daar agteruitgang was nie)
Die PMS is beter.

Maar dis nog 'n lang-lang pad. Daar is nog baie dinge wat moet regkom. Waarvan die teenliggaampie-telling die absoluut belangrikste is.

Daar is dinge wat verkeerd geloop het, na ek die dieet en die medikasie begin neem het. My hare het begin uitval, ek kry gewrigs- en spierpyne. Dit maak my bang... My ouma het rumatoïede artritis gehad. 

Tog het ek soveel MOED. Want ek weet, die koers wat ek nou ingeslaan het, sal werk. Die getuienisse lê die internet vol.

Manlief kan nie wag dat ál die simptome verdwyn nie.... :-)

Groetnis